Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Suid-Afrika se vergete leier weer onthou

Suid-Afrika het ’n tekort aan etiese en morele leierskap en daarom is die geskiedenis stadig maar seker besig om aan Robert Sobukwe sy regmatige plek as een van dié land se grootste leiers terug te gee, het Benjamin Pogrund aan Gert van der Westhuizen gesê.

Robert Sobukwe, eerste leier van die PAC, wie se lewe nou herwaardeer word. Foto: Gallo Images

Sobukwe, stigter en eerste president van die Pan Africanist Congress (PAC), was lank een van Suid-Afrika se vergete leiers. Daar is verskeie redes waarom dié voorstander van Afrika-nasionalisme se naam nie altyd genoem word wanneer daar van die leiers in die stryd teen apartheid gepraat word nie.

Hy is kort ná die Sharpeville-slagting van 1960, skaars ’n jaar nadat sy party gestig is, in hegtenis geneem en op Robbeneiland aangehou. Die sogenaamde “Sobukwe-klousule” is deur die apartheidsregering gebruik om sy aanhouding keer op keer te verleng. Hy is alleen in ’n klein huisie op dié eiland aangehou, apart van ander gevangenes en só eensaam dat hy naderhand amper verleer het om te praat.

Hy is ná sy vrylating Kimberley toe gestuur waar hy in ’n soort van interne ballingskap gebly het. Sobukwe is in 1978 aan longkanker dood.

Latere geslagte het dus min van hom geweet en daar bestaan vreemd genoeg nie eens ’n klankopname van een van sy toesprake nie. Hy is ook uit die struggle-geskiedenis geskryf deur ’n ANC wat die oorwinning oor apartheid vir homself wil toe-eien.

Boonop het die PAC ná 1994 weinig impak op die Suid-Afrikaanse politiek gemaak en is dit deur interne struwelinge bykans heeltemal verlam.

Maar die naam van Sobukwe word deesdae al hoe meer in Suid-Afrika gehoor.

Die eerste volume van Thami ka Plaatjie se biografie van Sobukwe het verlede jaar verskyn. Wits University Press het ook ’n aangrypende versameling van Sobukwe se briewe uit aanhouding (Lie on Your Wounds) die lig laat sien en Pogrund was redakteur van ’n versameling essays waarin die lewe, gedagtes en erflating van Sobukwe herwaardeer word: Robert Mangaliso Sobukwe: New Reflections (Jonathan Ball).

Daarin vertel joernaliste, politieke leiers, kerkmense, gesinslede en selfs ’n Afrikaanse dominee watter lesse die lewe van Sobukwe vir die Suid-Afrika van vandag kan inhou.

Bob en Benjie

Hoewel hy al sedert die middel van die jare 80 in die buiteland bly, laat Benjamin Pogrund nie ’n kans verbygaan om Suid-Afrika te besoek nie. Dié foto is in 2015 geneem. Foto: Gallo Images

Vanwaar dié skielike belangstelling in Sobukwe? wil ek by Pogrund weet waar ons in die huis van sy rabbi-seun, Gideon, in ’n Johannesburgse voorstad gesels. Ons sit in ’n vertrek waar die boekrakke swaar aan dik godsdienstige boeke dra. Iewers op een van die rakke staan Pogrund se biografie oor Sobukwe, How Can Man Die Better, ook.

Daar is vandag min mense wat met meer gesag as Pogrund oor die eerste vier dekades van apartheid kan gesels. In sy swart hemp en langbroek met kruisbande en met sandale en sokkies aan, lyk hy nog fiks en viets vir ’n 86-jarige oud-joernalis, anti-apartheidsaktivis en skrywer.

Mense wil deesdae meer van Sobukwe weet omdat daar in Suid-Afrika ’n tekort aan etiese en morele leierskap is.
Benjamin Pogrund

En hy wil graag praat: oor Sobukwe, die geskiedenis, die politiek en die Suid-Afrika van vandag. (G’n wonder “lekker gesels” is een van die Afrikaanse frases wat hy nog kan onthou nie.) ’n Mens wens eintlik dat baie van vandag se jong Suid-Afrikaners ook ’n uur of wat in Pogrund se geselskap kan deurbring sodat hulle daarna die geskiedenis van hul land beter sal verstaan.

“Mense wil deesdae meer van Sobukwe weet omdat daar in Suid-Afrika ’n tekort aan etiese en morele leierskap is. Korrupsie vier hoogty en dit lyk asof leiers net vir hulself omgee. Mense hunker daarom weer na beginselvaste leiers soos Sobukwe,” sê Pogrund.

Min mense het Sobukwe beter geken as Pogrund wat lank ’n joernalis by die Rand Daily Mail was. Hy was Sobukwe se vriend, het hom op Robbeneiland gaan besoek, gereeld met hom briewe gewissel en was uiteindelik die skrywer van sy biografie.

Hulle het mekaar Bob en Benjie genoem.

Robert Sobukwe in die jare 50. Hy was die eerste leier van die PAC nadat dié party in 1959 gestig is. Foto: Gallo Images

“Sobukwe het integriteit gehad. Hy was toegewyd aan die struggle. Dit het vir hom glad nie oor Robert Sobukwe gegaan nie. Dit het vir hom gegaan oor die mense in wie se diens hy was.

“Hy het byvoorbeeld een keer ’n lektorspos by die Rhodes-Universiteit, destyds ’n baie gesogte en amper ongehoorde posisie vir ’n swart man, van die hand gewys omdat hy geglo het hy kan meer vir sy mense op politieke gebied doen as hy in Johannesburg bly.

“Hy het daarom ’n pos met ’n hoër prestige wat baie beter betaal het van die hand gewys en by Wits gebly waar hy bloot die pos van ’n taal-assistent beklee het,” sê Pogrund.

“Waar sal jy vandag sulke toewyding kry?”

Suid-Afrika sou daarna [Sharpeville] nooit weer dieselfde wees nie.
Benjamin Pogrund

Hy was ook glad nie iemand wat soos sommige leiers van vandag die spektakel van die politieke teater sou inspan nie.

Dit is goed dat Sobukwe weer sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis inneem, voeg Pogrund by. Hy het immers op vele vlakke ’n groot invloed op daardie geskiedenis gehad.

Nie net was hy een van die vaders van die swartbewussynsbeweging nie, maar het die PAC se boikot van die paswette in 1960 gelei tot die Sharpeville-slagting – ’n gebeurtenis wat die land onherroeplik verander het.

“Suid-Afrika sou daarna nooit weer dieselfde wees nie.”

Afrika vir Afrikane

Robert Sobukwe is op Robbeneiland aangehou voordat hy tot interne ballingskap in Kimberley verdoem is. Foto: Gallo Images

Een van die ander redes waarom Sobukwe in die dekade of wat ná sy dood in die vergetelheid geraak het, was omdat hy as ’n rassis beskou is. Baie mense, wit én swart, sien hom deesdae steeds as ’n rassis omdat hulle glo dat daar in Sobukwe se politieke filosofie nie plek vir wit mense was nie.

Niks kan verder van die waarheid wees nie, sê Pogrund.

“Hy was glad nie rassisties nie. Hy was werklik iemand wat glad nie die kleur van jou vel raakgesien het nie. Hy het by herhaling gesê as jy van Afrika is en bereid is om onder ’n meerderheidsregering van Afrikane te woon, is daar plek vir jou in Suid-Afrika.”

Die opvatting dat Sobukwe anti-wit was, het volgens Pogrund posgevat danksy hoofopskrifte in die Rand Daily Mail wat die werk van die destydse “regse redakteur” Ivor Benson was.

Sobukwe het ook nie altyd besef dat hy wel met sy optrede en uitlatings omstandighede geskep het waarin rassisme kon gedy nie.

Dít was juis een van sy swak punte. So ook sy politieke naïwiteit. Die veldtog teen die paswette só kort ná die stigting van die PAC in 1959 was agterna beskou strategies nie so ’n wyse besluit nie. Die leierskap van die PAC is in hegtenis geneem en dié leierlose party is later saam met die ANC verbied.

’n Stryd om leierskapposisies het die PAC gedurig in die jare van sy ballingskap verlam en dié party het inderdaad later ’n tuiste vir rassiste en politieke boewe geword.

Pogrund wys ook op ’n ander voorbeeld van Sobukwe se naïwiteit. “Hy het vir my gesê hy hou baie van P.C. Pelser, die (destydse) minister van justisie. ‘Maar Bob, dis die man wat daarvoor verantwoordelik is dat jy steeds aangehou word,’ het ek vir hom gesê. Hy het egter nie sy standpunt oor Pelser verander nie.”

Suid-Afrika se uitdagings

Robert Sobukwe se begrafnis in 1978 in Graaff-Reinet. Foto: Gallo Images

Pogrund het ná Sobukwe se dood nog ’n klompie jare vir die Rand Daily Mail gewerk. Nadat dié koerant in die middel van die 80’s gesluit is, moes hy ’n heenkome in die buiteland gaan soek omdat niemand in Suid-Afrika vir hom ’n werk wou gee nie, onthou hy.

Hy is landuit net toe die rand se waarde teenoor buitelandse geldeenhede weens verskerpte sanksies met sowat 50% gedaal het. “Ek het oornag die helfte van my geld verloor! Ek moes inderhaas goedkoper blyplek soek,” sê Pogrund.

Hy is aanvanklik Brittanje toe, maar bly die afgelope 22 jaar in Jerusalem.

Ek het altyd gesê hoe langer apartheid voortduur, hoe moeiliker gaan dit wees om ’n normale samelewing tot stand te bring.
benjamin pogrund

Hy laat egter nie ’n kans verbygaan om Suid-Afrika te besoek nie (hy was verlede jaar drie keer hier) en hou gebeure aan die suidpunt van Afrika fyn dop. Nes baie ander waarnemers is hy soms bekommerd oor wat in Suid-Afrika aangaan.

“Ek het altyd gesê hoe langer apartheid voortduur, hoe moeiliker gaan dit wees om ’n normale samelewing tot stand te bring.”

Pogrund se woorde het waar geword met ongelykheid, een van die ergste erflatings van apartheid, wat by die dag groter word. Volgens hom is die ANC se beleid van kaderontplooiing een van die grootste foute ná 1994 en kom dit Suid-Afrika duur te staan.

Pres. Cyril Ramaphosa is wat leierskap betref die land se beste hoop, maar daar lê baie uitdagings vir Suid-Afrika voor; uitdagings waarvoor die mense van dié land antwoorde sal moet kry.

Benjamin Pogrund glo dat Robert Sobukwe ’n leier met integriteit was. Foto: Gallo Images

Ons het, sê Pogrund, nog nooit ons verlede behoorlik gekonfronteer deur dit vierkantig in die oë te kyk en moeilike vrae te vra nie. Hy weet egter nie hoe Suid-Afrikaners dit kan doen nie.

Maklike antwoorde op vrae oor grondhervorming is daar ook nie. Pogrund hou ook nie aldag van wat die EFF doen en sê nie. Die oënskynlike rasse-polarisasie krap hom om.

“Ek weet nie of ’n vriendskap soos dié tussen my en Sobukwe vandag moontlik sal wees nie,” sug Pogrund.

Ons moet vir hulle bid dat hul oë oopgaan.
Robert Sobukwe

En dit is so jammer, sê hy terwyl sy huismense hom herinner ’n volgende afspraak wag. Hy wil net gou nog iets van Sobukwe vertel, sê Pogrund, en trek my kopie van How Can Man Die Better nader. Hy maak dit oop op bladsy 364 en lees ’n stuk voor waar die anti-apartheidsaktivis en Metodiste-leraar Alex Boraine vertel van ’n besoek aan Sobukwe kort voor sy dood.

“Hy [Sobukwe] het gesê dat hy verskriklik jammer voel vir die regering omdat hulle ‘blind is vir die werklikheid’. En toe het hy ook hierdie frase gebruik: ‘Ons moet hulle vergewe omdat hulle regtig nie weet wat hulle doen nie. Ons moet vir hulle bid dat hul oë oopgaan.’

“Hy het toe vir my gevra: ‘Sal jy nou vir hulle bid?’

“Ek het langs hom gekniel en gebid. Ek het vir hom gebid, hoewel hy my nie gevra het om dit te doen nie. Ek het ook vir die regering gebid. Toe het hy gebid en weer gesê: ‘Vader, vergewe hulle.’ Hy het ook gesê: 'Neem alle bitterheid weg by ons en help ons om te werk vir ’n land waarin almal vir mekaar lief sal wees en mekaar nie sal haat nie, want haat sal ons almal vernietig.’ ”

Meer oor:  Pac  |  Robert Sobukwe  |  Robbeneiland  |  Sharpeville  |  Graaff-Reinet  |  Kimberley  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.