Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘DA was soos drillende jellie’

Die DA was in die afgelope verkiesing ’n bietjie soos ’n groot drillende jellie en moet nou ’n ystervesting word, sê John Steenhuisen, die party se hoofsweep, aan Murray La Vita.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, vandeesweek in sy kantoor in die parlement in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Steenhuisen vind plaas teen die agtergrond van groot skeptisisme oor die DA se toekoms ná sy vertoning in die afgelope verkiesing.

Pieter Labuschagne, emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa, skryf in ’n onlangse meningstuk hy het nie veel hoop vir dié party nie.

“Die verwagtinge was groot dat die DA sy nasionale steun tot bo 30% sou opstoot en die meeste stemme in Gauteng sou kry. Nie een van die twee belangrike mikpunte het gerealiseer nie; inteendeel, die DA se landwye stem het met 1,36 % gedaal. Die kernvraag ná vanjaar se verkiesing is wat die toekoms vir die DA inhou.” En: “Die DA kan selfs tot ’n Wes-Kaapse streekparty gereduseer word; mits hy nog sy meerderheid in dié provinsie kan behou.”

Steenhuisen: “Natuurlik is ons nie gelukkig met die uitslae nie en dit wás ’n terugslag. Ek dink dit is baie belangrik dat ons lúister na die boodskap wat kiesers vir ons gestuur het. Maar, ja, dit wás ’n terugslag; geen party wil ’n paar persentasiepunte verloor nie [. . . ]

So, dit is vir my baie, baie duidelik dat ons in die afsienbare toekoms met die grootste moontlike helderheid moet uitstippel waarvoor ons staan én waarteen ons staan.

“So dit is belangrik om te luister na die boodskap wat kiesers aan ons gestuur het en ons moet baie, baie duidelik wees oor wie ons is en waarvoor ons staan.

“Wanneer jy na die partye kyk wat in hierdie verkiesing gegroei het: Aan ons linkerkant was die EFF; as jy na sy plakkate kyk – of dit nou in Polokwane of Pretoria was – kon jy sien dit is ’n sosialistiese party wat hom op grond en werk toegespits het. Hy was baie duidelik oor wie hy is en waarvoor hy staan.

“Kyk jy na die ander kant van die politieke spektrum, die Vryheidsfront Plus; dit is ’n minderheidsparty wat vir minderheidsregte veg. Dit het nie saak gemaak of jy in Rustenburg of Umhlanga was nie – jy het geweet wie die Vryheidsfront is en jy het geweet waarvoor hy staan.”

Maar die DA het verskillende boodskappe gehad.

“In die Wes-Kaap was dit ‘Hou die ANC en EFF uit’ en in Gauteng was ons in ’n koalisie met die party en het ons ’n verskeidenheid boodskappe gehad: professionele polisie; regverdige toegang tot werk, ensovoorts. En ek dink mense het nie geweet waarvoor ons staan nie.

“So, dit is vir my baie, baie duidelik dat ons in die afsienbare toekoms met die grootste moontlike helderheid moet uitstippel waarvoor ons staan én waarteen ons staan.”

Drie groot foute

“Dit is belangrik om te luister na die boodskap wat kiesers aan ons gestuur het en ons moet baie, baie duidelik wees oor wie ons is en waar ons staan.” Foto: Jaco Marais

Daar is drie groot foute wat die DA nou kan begaan, “olifantvalle” waarin hy kan trap, meen Steenhuisen.

“Een is om niks te verander nie en te doen wat ons altyd gedoen het met die hoop dat ons daardie kiesers sal teruglok, en miskien nuwe kiesers lok; en dan sê: Hierdie verkiesing was ’n anomalie.

“Die tweede fout wat ons kan begaan, is om na regs te swaai in die hoop dat ons van die meer konserwatiewe kiesers wat nie vir ons gestem het nie, sal terugwen. Ek dink as ons dít doen, gaan ons onsself plaas op die terrein van minderheidspartye en dán sal ons nooit weer kan sê ons daag die nasionale regering op ’n outentieke wyse uit nie.

Ek meen as die DA suksesvol wil wees, moet hy die rasionele sentrum van Suid-Afrikaanse politiek oorheers.

“Die derde fout sal wees om na línks te swaai. Daar is diegene wat sê wat die DA nodig het, is om meer sosialisties te word; meer van ’n sosiaal-demokratiese party. As ons dít doen, sal ons deel word van ’n wedloop om wie die grootste welsynstaat kan voorsien.

“Ons moet baie duidelik wees oor die feit dat dít nie is waarvoor ons staan nie. Ek meen as die DA suksesvol wil wees, moet hy die rasionele sentrum van Suid-Afrikaanse politiek oorheers. En ons moet ons saak veel beter stel.

“Ons is die party van gelyke kanse; nie gelyke uitkomste nie. Ons glo in ’n stabiele ekonomie, ’n Ondernemingsekonomie wat aspirasies bevorder; ons beskou opvoeding as die bemiddelaar van aspirasies, en ons glo ons moet die vertroue wen van mense wat nog nooit voorheen vir ons gestem het nie.

“En ons moet ook die vertroue wen van daardie honderd duisende jong Suid-Afrikaners wat glad nie in die laaste verkiesing gestem het nie en eenvoudig ophou hoop het dat die regering vir hulle iets kan doen . . . hulle is heeltemal ontnugter met politiek as middel waardeur verandering teweeggebring kan word.”

‘Kiesers sal terugkeer’

“Ons wil as rasionele sentrum mense in iets soos ’n volksparty byeenbring.” Foto: Jaco Marais

Wit en selfs bruin steun het finaal na die VF Plus beweeg, meen ontleders soos Labuschagne.

“Ek dink glad nie dit is waar nie en ek dink baie van daardie kiesers het straks gevoel ons het hul vertroue in ons geskend in hierdie verkiesing of het nie geweet waarvoor ons staan of nie staan nie.

“Ek dink as ons ons saak beter kan stel en daardie vertroue herwin, sal daardie kiesers na die DA terugkeer. Kiesers gaan besef om in ’n laer van kultuur, taal of een of ander vorm van nasionalisme terug te trek gaan nie hond haaraf maak nie.

“Indien jy werklik ernstig is oor taalregte en kulturele regte sal jy besef daardie regte word beter beskerm in ’n veel groter laer waar ons almal vir mekaar se regte opkom.

Ons [die DA] moet meer moeite doen om vir minderhede te wýs ons is ’n party vir hulle; en ons moet vir swart Suid-Afrikaners wýs ons is ’n party vir hulle.

“So, ons kan hierdie klein partytjies vorm van Afrikaanssprekendes, ’n party vir bruin Suid-Afrikaners, ’n party vir Indiër Suid-Afrikaners, maar dít is die ANC se droom, want daardie partytjies vee jy net uit die pad uit. Sy grootste vrees is dat daardie magte in een groot laer bymekaar gaan kom.

“Daardie kiesers gaan sonder twyfel agterkom as jy ’n kampvegter vir kulturele regte, taalregte, opvoedkundige regte, en so meer wil wees, is dit beter om in ’n gróót kamp ’n kampvegter te wees as wat dit is om in ’n baie, baie klein kamp een te wees.

“Ons [die DA] moet meer moeite doen om vir minderhede te wýs ons is ’n party vir hulle; en ons moet vir swart Suid-Afrikaners wýs ons is ’n party vir hulle. As ons ’n party wil bou onder die vaandel ‘Een Suid-Afrika vir almal’, dan moet ons weerspieël dat ons een Suid-Afrika vir almal is deur vir álmal se regte op te staan op grond van begínsels en nie noodwendig op grond van ras, kultuur of taal nie – so ons staan op vir moedertaalonderrig in Zoeloe in KwaZulu-Natal net soos wat ons vir moedertaalonderrig in Afrikaans in Pretoria sou opstaan.

“As jy konsekwent by jou waardes en beginsels hou, sal mense meer duidelik sien wie en wat jy is en sal hulle sê: ‘Dis ’n party waarin ek tuis voel. Dit is werklik ’n party wat staan vir een Suid-Afrika vir almal; hy veg nie vir net een segment van Suid-Afrika nie. En ek dink dít is wat die meerderheid van Suid-Afrikaners wil hê. As ons in ons rasse- en kulturele laers terugtrek, gaan ons in duie stort; ons moet saamstaan.”

Die boodskap?

“Ons moet meer moeite doen om vir minderhede te wýs ons is ’n party vir hulle. Foto: Jaco Marais

Wat meen hy is die boodskap wat kiesers in die afgelope verkiesing aan die DA gestuur het?

“Wel, aan ons linkerkant het jy ’n mag wat skreeu: ‘Nasionaliseer! Onteien!’ en aan ons regterkant het jy magte wat sê: ‘Veg terug! Staan op vir dít! Staan op vir dát! Ons is onder beleg. Dis nou of nooit.’

“En in die middel was die DA in hierdie verkiesing ’n bietjie soos ’n groot, drillende jellie . . . Dit het ’n bietjie na links gedril en dit het ’n bietjie na regs gedril en niemand het werklik geweet waarvoor dit staan nie.

Ek dink mense wil ’n groter fermheid in die sentrum sien, so ons moet minder van ’n drillende jellie en meer van ’n ystervesting wees wat trots daar staan en verklaar: Hierdie is ’n party vir álle Suid-Afrikaners.

“So, mense het na die DA gekyk en gesê: ‘Ek is nie seker of hierdie die party vir my is nie. Is hierdie ’n party wat vir my gaan opstaan? Is daar ’n plek vir my in die DA?’

“Ek dink ons het nie ons saak duidelik genoeg gestel nie: Wat ons waardes en beginsels is en dat ons onbeskaamd staan vir een Suid-Afrika vir almal.

“Ek dink mense wil ’n groter fermheid in die sentrum sien, so ons moet minder van ’n drillende jellie en meer van ’n ystervesting wees wat trots daar staan en verklaar: Hierdie is ’n party vir álle Suid-Afrikaners. Ons is besig om ’n nuwe meerderheid te bou in die rasionale sentrum van politiek. Ja, ons is vir Afrikaanse Suid-Afrikaners, maar ons in nie nét vir Afrikaanse Suid-Afrikaners nie. Ja, ons is vir swart Suid-Afrikaners, maar ons is nie nét vir swart Suid-Afrikaners nie.

“Ons wil as rasionele sentrum mense byeenbring in iets soos ’n volksparty. Ons wil begin om mense terug te trek van die uiterstes van sowel links as regs, na die rasionale sentrum toe, want dit is nét in die rasionele sentrum waar die verstandige, ernstige byeen kan kom en waar ons in staat sal wees om ’n agenda van hoop en verandering vir die toekoms te skep.”

Nuwe afdeling

Hoofregter Mogoeng Mogoeng huldig Patricia de Lille as minister van openbare werke en infrastruktuur in. Foto: Verskaf

Buiten die proses van nabetragting en “herkalibrering” wat nou in die DA op dreef is en waarmee Ryan Coetzee, die hoogs suksesvolle strateeg wat voorheen in diens van die DA was, gaan help, is Steenhuisen opgewonde oor die nuwe rol wat James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, voortaan gaan speel.

Selfe gaan in Oktober afstaan van dié rol in die partyleierskap en ’n nuwe pos as die DA se hoof van staatsbestuur betree.

“Een van die dinge waarvan ons in die verkiesingsveldtog bewus geword het, is dat hóé jy regeer en welke resultate jy lewer, op grondvlak baie belangrik is.

“Ons moet – veral in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesings – baie, baie seker maak dat wanneer ons sê ons regeer op ’n skoon en verantwoordbare wyse en lewer dienste, moet ons dit dóén.

“So, om die oorsig te versterk oor hoe ons bestuur; die mense wat daarby betrokke is; hoe gekommunikeer word oor die proses en oor wie en wat ons is, is uiters belangrik – en dít is waar die nuwe afdeling ’n deurslaggewende rol gaan speel.”

Faksies binne die parlement kan pres. Cyril Ramaphosa kniehalter, meen Steenhuisen. Foto: Felix Dlangamandla
Gevaarligte vir Cyril

Oor die nuwe kabinet van pres. Cyril Ramaphosa:

“Ek dink ons moet vir die president daarvoor krediet gee dat hy van sekere van die vrot appels ontslae geraak het, maar Newton se Derde Wet van Beweging is hier baie belangrik: Vir elke aksie is daar ’n gelyke en teenoorgestelde reaksie.

“So vir elkeen van hierdie persone waarvan hy ontslae geraak het . . . Daardie magte sál byeenkom – hetsy in Luthuli-huis of in die parlement of op die kantlyn – en hulle sal terugbaklei.

“Om dus te dink dat mense soos Bathabile Dlamini nou van die toneel af verdwyn het, is werklik naïef. Dit is belangrik om te kyk wie nou as komiteevoorsitters in die parlement verkies gaan word. Soos ek dit verstaan, het die [Ace] Magashule-faksie in die ANC vir die president gesê: ‘Reg, die kabinet en die uitvoerende gesag is joune, maar ons gaan die parlement vat.’

“Ek hoor baie ontstellende dinge oor wie komiteevoorsitters gaan word en wie ’n rol in die vorming van die nuwe parlement speel. Dit lyk vir my of die faksies van Magashule [ANC-sekretaris-generaal]en [David] Mabuza [adjunk-president] nou na die parlement teruggetrek het. En dít hou ’n noemenswaardige risiko in vir die president en sy agenda, want welke hervormings, wette of regulasies hy ook al ter tafel lê, moet deur die parlement goedgekeur word.

“Dié faksies kan hom dan kniehalter, veral met betrekking tot kwessies soos onteiening sonder vergoeding, die herstrukturering van staatsbeheerde entiteite, hoe Eskom reggeruk word, en die hervorming van die arbeidsmark en die onderwysstelsel.”

Bly oor minister De Lille

Steenhuisen is baie verlig oor die aanstelling van Patricia de Lille as minister van openbare werke en infrastruktuur..

“Ek dink dit skep vir ons noemenswaardige geleenthede en dit verteenwoordig vir die DA die beste scenario. Die slegste scenario sou gewees het indien sy aangestel is as die voorsitter van die komitee oor openbare rekeninge. Dít sou aan haar die geleentheid gebied het om voort te gaan om haar baie versigtig gekultiveerde rol as vegter teen korrupsie te koester en uit te bou.

“Indien sy in die opposisiebanke was [as LP en leier van Good] en die DA probeer uitstof in sy rol as opposisie, sou [vir die DA] moeilik gewees het. Maar nou is sy deel van die uitvoerende gesag en uitgelewer aan parlementêre vrae en onder die soeklig in die parlement, en sy gaan verplig wees om daardie vrae te beantwoord.

“Maar nog belangriker: Sý gaan nou die minister wees wat die Wet op Onteiening ter tafel moet lê en aanvaar moet kry. En in haar verkiesingsveldtog was sy baie duidelik oor waar sy staan met betrekking tot onteiening sonder vergoeding. So dit gaan baie interessant wees om te sien wat sy ter tafel lê.

“Dit gaan ook vir haar moeilik wees om van haar verkiesingsbeloftes na te kom – byvoorbeeld die beskikbaarstelling van goed geleë staatsgrond.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.