Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wolvaardt moet besluit: Swot of sloeg?

Dit was 13 maande gelede, ná ’n Wêreldbekertoernooi wat aan haar gewys het krieket kan meer as net haar stokperdjie wees, dat Laura Wolvaardt ’n keuse moes maak.

Dit was kort voor dié slimkop se matriek-rekordeksamen en haar kop het universiteit toe gestaan. Sy wou medies studeer.

Maar sy wou ook nie haar krieket laat staan nie.

Laura Wolvaardt trek los in ’n Wêreldbeker-wedstryd teen Engeland in 2017. Foto: getty

Wat toe soos ’n keuse tussen twee deure gevoel het, het Wolvaardt omseil deur begin vanjaar albei te probeer doen. Sy het begin klas loop aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus en haarself wysgemaak sy kan albei balle in die lug hou.

Sy was verkeerd – en nou staan sy voor dieselfde kruispad, met geen ontsnaproete nie.

Einde vanjaar sal sy moet kies.

“Ek het al ná ’n maand gesien dit sou te moeilik wees vir my om albei op dieselfde tyd te doen – veral omdat vanjaar ’n Wêreldbeker-jaar vir die Proteas is,” sê die 19-jarige Wolvaardt die afgelope week.

“Stellenbosch het my (vanjaar) ’n verposing gegee om net op my krieket te fokus, maar dit kom binnekort tot ’n einde.

“Die besluit of ek op krieket gaan fokus of teruggaan universiteit toe is nou een wat ek voor die einde van vanjaar móét maak.”

Dat dit ’n moeilike besluit is, is heeltemal verstaanbaar. Dié jong Kapenaar het verlede jaar aan Parklands College gematrikuleer met sewe onderskeidings – net ’n paar maande nadat sy haarself op die Wêreldbeker-verhoog aangekondig het deur 324 lopies in sewe wedstryde aan te teken (’n gemiddeld van 64.8).

Daardie triomftog het vier vyftigtalle en ’n onoorwonne 48* ingesluit.

Die roepstem van medies was nietemin te sterk om te ignoreer en sy het ’n maand lank haarself gaan inwerp in haar studie en die studentelewe voordat ’n oproep van die Proteas alles verander het.

Dis te moeilik om albei balle in die lug te hou, het sy besef. Professionele krieket neem jou vir lang tye weg van die huis – en medies is nie matriek, waar jy jou take en opvangwerk in gesteelde ure tussen wedstryde uit die pad kan kry nie.

Sy het vir grasie by die universiteit gaan vra, en terug op die krieket-mallemeule gaan klim, met uitstekende gevolge.

Die een ding wat almal wel sê, is dat hulle bly is hulle staan nie in my skoene nie.

Eers was Indië se vrouespan hier in Suid-Afrika. Wolvaardt het daardie reeks met ’n onoorwonne 59* afgesluit.

Toe is Bangladesj hier op toer, en loop hulle in Bloemfontein vas teen die kanonkolf van die SA span se jongste speler. Sy het haar stem dik gemaak met ’n 70* wat die besoekers se wind uitgeslaan het.

Teen Engeland (in Engeland) was die hoogtepunt in Junie ’n beurt van 64.

En tussen dit alles deur was sy in Maart een van 14 vroue wat nasionale kontrakte by Krieket Suid-Afrika gekry het.

Dít is waarop sy moontlik nou haar rug sal moet keer.

Wolvaardt sê sy praat met soveel as moontlik mense oor die taai besluit wat voor haar lê.

Haar krieketafrigters, mense by die gimnasium, vriende en familie het almal al geduldig na dié dilemma van haar geluister.

By die huis gee haar ouers ook raad, maar die besluit, het hulle gesê, is haar eie.

“My ouers wil hê wat die beste vir my is en wat my gelukkig maak. Niemand skryf vir my voor wat ek moet doen nie.

“Die een ding wat almal wel sê, is dat hulle bly is hulle staan nie in my skoene nie,” voeg sy skertsend by.

Wolvaardt sê sy gaan haar besluit nie oorhaastig neem nie. “Ek wil vir eers fokus op die krieket wat voorlê,” sê sy.

Laura Wolvaardt

Sy hoop om haar in November weer op ’n gróót krieketverhoog te bevind wanneer die T20-Wêreldtoernooi in die Wes-Indiese Eilande plaasvind.

Sy en haar spanmaats vertrek juis vandag na die Karibiese Eilande, waar hulle in ’n reeks teen die Windies se vrouespan gaan gewoond raak aan die toestande daar. Daar wag drie eendag- en vyf T20-wedstryde op hulle.

Vir Wolvaardt is dit ’n geleentheid om haar plek in die T20-beginspan vas te messel.

Terwyl sy ’n baie skaflike gemiddeld van 46.89 in eendagkrieket het, kon sy in sewe T20-wedstryde nog net 109 lopies aanteken. Sy kan dus nie net in die blitsspan instap nie.

“Dit is elke speler se mikpunt om haarself in die beginspan te kry. En dit is nie anders vir my nie,” sê sy.

Wolvaardt sê die span wil baie graag wys die uitmuntende spelpeil by verlede jaar se Wêreldbekertoernooi – wat hulle in die halfeindronde gekry het – was geen vloekskoot nie.

Hulle verwag stadiger kolfblaaie as waaraan hulle gewoond is in die Karibiese Eilande en sien uit na die uitdaging.

“Ek verkies dat die bal met spoed na my toe kom, maar dis net nog iets waaraan ek gewoond sal moet raak,” sê sy.

“Normaalweg is die Windies se boulers lank, sterk en vinnig, maar ek is nie te seker dat die kolfblaaie soveel spoed in hulle gaan hê nie. Ons verwag om teen meer draaiboulers te staan te kom.

“Dit gaan ’n goeie uitdaging wees om op stadiger blaaie te speel. Gelukkig het ons ook ’n paar dae daardie kant om op te warm en aan die toestande gewoond te raak.”

Meer oor:  Laura Wolvaardt  |  Krieket  |  Vrouekrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.