Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Sy woorde word nog in talle skole landwyd gesing

‘Van Kaapland tot bo in die noorde, rys dawerend luid die akkoorde . . .

“En saam sing hul skoollied wat selfs die hemel hoor.”*

Joggie SpiesFoto: VERSKAF

Wanneer niemand meer aan jou dink of van jou praat nie, sterf jy ’n tweede dood.

’n Paar jaar gelede staan ek by Beethoven se graf in Zentralfriedhof, Wene. Die graf is oorlaai met blomme.

Terwyl ek daar staan, plaas ’n Japanner ’n groot ruiker op die graf. Ek weet verseker Beethoven leef steeds – meer as twee eeue ná sy dood.

Die werklike groot geeste, die universele komponiste, skrywers en digters, leef byna vir ewig deur hul werke.

Selfs minder groot geeste leef soms in hul nalatenskap voort. Soos my pa, JF (Joggie) Spies (1911-2000), skrywer van verskeie skoolliedere.

’n Jaar of wat gelede speel Rocco de Villiers op Kwêla die skoollied van die Laer- en Hoërskool Harrismith terwyl hy lustig saamsing.

Kort daarna lui die telefoon: “Het Oupa ook Harrismith se skoollied geskryf? Dit klink darem baie soos Laerskool Eikestad s’n.”

Presies hoeveel skoolliedere my pa geskryf het, weet ek ongelukkig nie.

In die Vrystaat, waarskynlik ’n hele aantal, waarvan die musiekman, Dirkie de Villiers, die meeste van die toonsettings gedoen het.

Op 66-jarige ouderdom het hy op Stellenbosch kom aftree en sy reputasie het hom vooruitgeloop. Skoolliedere uit die pen van dié bejaarde man het soos paddastoele in die Wes-Kaap opgespring: die Laerskool Eikestad, Hoërskool Stellenbosch, Laerskool De Hoop, Hoërskool Gordon en Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes en die Hoërskool Swellendam.

Mnr. Pieter van der Westhuizen en dr. Guurt van der Tas het hier in die Boland die musiek geskryf.

Hy was ’n woordmens, maar totaal en al onmusikaal. Al sy liedere is volgens ’n sekere ritme geskryf. ’n Ritme wat maklik getoonset kon word en wat baie singbaar is.

In die eerste reëls van baie van die liedere word die skool geografies geplaas:

“In die noordhoek van die

Vrystaat

Staan ons skool nou al vir jare

Om vir ons die pad te wys”

(Harrismith)

“In ons land se verre suide

Het ons skool met trots verrys

Eikestad wat seuns en dogters

In geloof die pad wil wys.”

(Laerskool Eikestad)

“Hier op die wye Kaapse

Vlakte

Hier tussen berg en duin en

see

Waar Gordon skool se ligte

flikker

Aan seuns en dogters leiding

gee” (Hoërskool Gordon)

Of die skool is aan die geskiedenis gekoppel:

“Op die trekpad van die Vee

boer

Het ons dorp en skool ontstaan

Hierdie skool wys deur die

jare

Vir die jeug die rigting aan”

(Hoërskool Swellendam)

“Vanaf ons skool kyk ons oor

Valsbaai

Hoor ons hoe die branders rol

Sien ons in die ver verlede

Seile op die skepe bol”

(Laerskool de Hoop)

“Stellenbosch, ’n skone tuiste

En die luister van jou naam

Anker ons aan jou verlede

Bind ons tot eenheid saam”

(Hoërskool Stellenbosch)

Soms skemer bietjie nostalgie en romantiek deur:

“In ons soepel lentejare

Word ons vir ons taak gebrei

Skep ons vir ons ideale

In ons eie Parel Vallei”

(Hoërskool Parel Vallei)

Hy het sy hand aan ’n universiteitslied vir Stellenbosch gewaag, maar die owerhede het dit nooit aanvaar nie.

’n Troosprys was ’n lied vir die ou Universiteit van Port Elizabeth en ’n koshuislied vir Majuba op Stellenbosch.

In 1973 het hy vir Groen Erfenisjaar ’n lied geskryf wat tot die amptelike lied verklaar is, maar wat waarskynlik nooit gesing is nie.

Enkele weke gelede stap ek met my sesjarige kleinkind deur die voorportaal van die Laerskool Eikestad.

Ek neem haar aan die hand en wys haar die foto van haar oupagrootjie wat die skoollied geskryf het.

Haar ma voeg trots by dat hy háár oupa was.

En ek het die laaste sê: “Hy was my pa – die ewige onderwyser.”

Wanneer die woorde uit jou pen weekliks in skoolsale, deur duisende kinderstemme oor die land heen gesing word, kan jy mos nie dood wees nie?

* Samevoeging van Die lied van jong Suid-Afrika (Eitemal) en Die heilige stad (Frederic Weatherly).

Meer oor:  Skrywer  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.