Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Taal is in ’n besige ekologie’

Daar waai ’n vars briesie in die gange van Ziervogelstraat 574 in Pretoria. Johanna van Eeden het met prof. Anne-Marie Beukes, nuwe uitvoerende hoof van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, gesels.

Prof. Anne-Marie Beukes, nuwe uitvoerende hoofbeampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, by die boekrak in haar kantoor. Foto’s: LISA HNATOWICZ

Woensdag was dit presies 110 jaar sedert “de stichting van een Zuid-Afrikaanse Academie voor de beharting van onze taal, letteren, geschiedenis en kunst”.

Die mylpaal is Woensdag onder meer met ’n foto van die verjaardagkoek op die Akademie se nuwe Instagram-blad gevier.

“Ons is 110 jaar oud, maar ons is nie ’n ou organisasie nie. Ons bly jonk deur tred te hou met ’n dinamiese land en in ’n dinamiese taalgemeenskap,” sê prof. Anne-Marie Beukes, wat sedert 1 Junie die nuwe uitvoerende hoofbeampte van die Akademie is. Sy volg prof. Dioné Prinsloo op, wat dié pos twee termyne beklee het.

Beukes wys daarop dat die Akademie destyds gestig is vóórdat Afrikaans ’n amptelike taal was – kort ná die Anglo-Boereoorlog, in ’n tyd toe Engels die botoon gevoer het. Oor die jare het Afrikaans gegroei en geblom, maar meer as ’n eeu later gaan daar opnuut stemme van kommer op oor die taal.

Beukes sê, anders as 110 jaar gelede, het Afrikaans vandag ’n vaste plek.

“Dit is onder druk in sekere domeine van die samelewing, soos in onderwys, op skool en op tersiêre vlak. Ons moet daarmee rekening hou. Afrikaans bestaan in ’n besige ekologie.”

Sy is positief en wil Afrikaans nie verromantiseer nie, maar sê dis ’n energieke taal. Haar doelwit is om die tradisie van die Akademie – die bevordering van wetenskap en kuns in Afrikaans én die bevordering van Afrikaans – in ’n eietydse gedaante voort te sit.

Sy sonder die werk van die Akademie se taalkommissie uit as een van die belangrikste spilpunte hiervan, veral wanneer dit kom by die samestelling van die gesaghebbende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). “Dit is die hoogste normgewende liggaam in Afrikaans,” verduidelik sy.

Hoe versoen ’n mens dan die werk van ’n kommissie wat die norm bepaal in ’n taalgemeenskap waar Standaardafrikaans deur sommige kritici as ’n vasklou aan eksklusiwiteit beskou word?

“Standaardafrikaans is nie ’n aanduiding van eksklusiwiteit nie, maar ’n geskrewe vorm vir kommunikasie op sekere terreine,” verduidelik sy. Die kommissie probeer juis by die groei en ontwikkeling van die taal bybly en doen ook navorsing oor nuwe woorde en streeksvariëteite. Gebruiksfrekwensie is byvoorbeeld ’n aanduiding van neigings in die taalgemeenskap.

En, benadruk Beukes, mense vergeet Standaardafrikaans word ook deur ’n groot deel van die bruin gemeenskap gepraat.

“Prof. Jakes Gerwel (akademikus en taalaktivis) het Standaardafrikaans gepraat.”

En taal is kwiksilwer – dit verander saam met sy sprekers en hul omstandighede. “Ek praat nou in die onderhoud formeel Afrikaans, maar tussen my vriende gaan ek anders klink.”

Afrikaans, sê Beukes, is ’n taal met “wonderlike vitaliteit” – ’n huis met baie kamers. “Maar die politieke broosheid wat binne Afrikaans bestaan, is iets waarmee ons moet rekening hou. Ons moet ons aktiwiteite so inrig dat dit inklusief in die taalgemeenskap is.

“Ons leef nie in ons eie klein borrel nie.”

Ook wanneer dit kom by die debat oor die dekolonisering van tersiêre leerplanne, moet Afrikaans sy plek volstaan. “Ons moet deel van die gesprek wees. As jy kyk na die inheemse status van Afrikaans het ons ’n bydrae te lewer.”

Beukes mág maar met gesag praat oor Afrikaans se plek in die breër Suid-Afrikaanse taalgemeenskap. Sy was immers met die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika ’n dekade lank verbonde aan die departement van kuns en kultuur, waar sy aan die voorpunt van die ontwikkeling van ’n nuwe taalbeleid en die stigting van die Pan-Afrikaanse Taalraad was.

Sy is steeds verwonderd oor die taalskatkis wat sy daar aangetref het.

“Suid-Afrika het van 1936 af ’n staatstaaldiens gehad!”

Sy beskryf die werk wat daar gedoen is – van redigering en vertaling tot die ontwikkeling van vakterminologie – as “verbysterend”.

Haar tyd in die staatsdiens was ’n groot leerkurwe. Afrikaans het toe uit ’n bevoorregte posisie gekom en die uitdaging was om die ander Afrikatale te help om hul plek in die ekologie te vind. “Ek het verskriklik baie geleer, onder meer om jouself in ander taalgemeenskappe se posisies te sit.”

En akademici word mos daarvan beskuldig dat hulle in ivoortorings sit . . . “Hier was ek boots and all op die markplein!” sê sy laggend.

Sy onthou dié tyd in haar loopbaan as “heerlik, met intrinsieke waarde” en sê dat sy in daardie tien jaar baie geleer het wat sy in haar nuwe pos kan toepas.

Prof. Anne-Marie Beukes, wie se ouers by haar van jongs al ’n liefde vir tale gekweek het.

Afrikaans geen eiland

Terwyl sy besig is met die onderhoud werk Prinsloo en nóg ’n voorganger, prof. Jacques van der Elst, aan die finale afrondings vir die 110-jaar-gedenkboek wat in September uitgereik word. Prof. Alex Duffey stel vir die geleentheid ’n bundel oor die Akademie se omvattende kunsversameling saam.

“Die Akademie-gemeenskap het baie om op trots te wees,” sê Beukes. Spogpublikasies word jaarliks deur die organisasie gefinansier, waaronder huldigingsbundels oor Hertzogpryswenners. Die eerste was oor Adam Small, die een oor P.G. du Plessis het pas verskyn.

“Daar is só baie dinge wat in en om Afrikaans gebeur. Taal is ’n léwende ding.” Maar Afrikaans is nie ’n eiland nie. Daar is Afrikaanse mense wat nie eens weet wat ander tale in die land se name is nie en net losweg daarna verwys as “swart tale”. Beukes meen mense moet ’n groter sensitiwiteit vir en bewustheid van ander tale hê.

Sy vertel van die studente in haar linguistiekklas wat so trots op hul Afrika-tale is. Wanneer jy uitvra, ontdek jy dit word net in ’n beperkte domein gepraat – by die huis, in die kerk, wanneer vriende koffie drink of op partytjies. Verder praat hulle Engels, die bindtaal wat onvermydelik ander tale laat krimp. En dis nie ’n situasie wat uniek is aan Suid-Afrika nie. “Ons sien dit ook in Nederland waar daar groot besorgdheid daaroor is.”

Taalsaadjies

Beukes sê sy het “taalbewus” grootgeword. Sy kom van Nigel aan die Oos-Rand. “Die Laerskool Tienie Vorster, Die Hoërskool John Vorster . . . Hier sit ek, kyk hoe lyk ek nou!”

Sy het grootgeword in ’n huis wat “trots Afrikaans was”. Haar ma was ’n huisvrou en haar pa ’n passer-en-draaier. Dis húlle wat taalsaadjies by haar geplant het. “My ma het my laat lees en ’n liefde vir Elisabeth Eybers by my gekweek.” Hulle het haar ook kwartaalliks vir haar goeie skoolwerk met boeke beloon – Afrikaans én Engels.

Ná matriek is sy na die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) – toe pas gestig vir eerstegenerasiestudente. “En UJ is dit nou weer,” merk sy op.

Prinsloo, haar voorganger, se pa, dr. Piet Meyer, was een van die stigterslede van die RAU.

Sy sê die Akademie het nie syfers hieroor nie, maar die onlangse stigting van die eerste buitelandse werkgroep beantwoord dalk die vraag. Die werkgroep is ’n paar maande gelede begin en die lede in die VSA en Europa vergader virtueel.

Sy’t ingeskryf vir ’n BA-graad in tale, klas gehad by prof. F.F. Odendaal, woordeboekmaker, en die saadjies wat in haar ouerhuis gesaai is, het ’n lewenslange blomtuin geword.

“Om jou naels te kon slaan in (Geoffrey) Chaucer, D.H. Law-rence, Jane Austen . . .”

Ná universiteit het sy ’n jaar as vertaler gewerk. Daarna is sy Tukkies toe vir haar honneurs- en meestersgraad in Afrikaans, en later terug na die RAU vir ’n doktorsgraad in toegepaste linguistiek.

Sy het jare lank gedien op die Akademie se raad. Ander mylpale op haar CV sluit in mederedakteur van die woordeboek Veeltalige vertaalterminologie, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut en visepresident van die raad van die Internasionale Federasie van Ver­­talers .

En nou – op 68 – lê nuwe uitdagings voor. Sy skat die gemiddelde ouderdom van Akademie-lede is “waarskynlik middeljare en op” en wil die organisasie graag aantrekliker maak vir jonger mense.

“Dis baie moeilik vir jong akademici om hul voete te vind. Jy moet baie hard werk en het min tyd vir ander aktiwiteite.”

Sy hoop deur meer virtuele aanbiedings kan dié groep bereik word, want dit spreek ook tot die digitale wêreld waarin hulle leef.

Sy wil ook graag die volle spektrum van diversiteit binne Afrikaans by die organisasie betrek. Beukes wys daarop dat lede nie net bestaan uit akademici nie, maar ook uit talle professionele mense wat in die praktyk staan. Om as lid genooi te word moet jy minstens ’n meestersgraad hê. Lede organiseer hulself in verskillende werkgroepe.

Hoe raak die breinkwyn hul ledetal?

Sy sê die Akademie het nie syfers hieroor nie, maar die onlangse stigting van die eerste buitelandse werkgroep beantwoord dalk die vraag. Die werkgroep is ’n paar maande gelede begin en die lede in die VSA en Europa vergader virtueel.

Beukes sê in die digitale era en die kennisekonomie is daar ruimte vir so ’n werkgroep. “Globalisering het die grense laat vervaag. Mense is meer mobiel.”

Toe die fotograaf haar toerusting uithaal, kyk Beukes belangstellend daarna en sê sy neem ook graag foto’s. Sy’t as vyfjarige agter die kamera ingeskuif nadat sy op haar pa se Kerspartytjie by die werk ’n kameratjie gekry het.

Tussen kunswerke

Sy het jare lank tussen Pretoria – waar sy bly – en Johannesburg – waar sy gewerk het – gependel en is steeds in verwondering oor haar nuwe standplaas.

“Die gebou is verskriklik mooi, met wonderlike fasili-teite . . . Dis lekker om tussen mooi kunswerke te kan werk.”

Die eerste dag op kantoor het sy dadelik foto’s geneem en haar vriende laat weet: “Kyk wat is in my kantoor! ’n Gregoire Boonzaier.”

In die hoek baai ’n Eduardo Villa in die son. In die parkeergebied hang drie asemrowende kunswerke van Esias Bosch.

Beukes hou daarvan om omring te wees deur prag.

“My huis moet mooi wees. Ek hou van mooi boeke . . .”

Van haar kosbaarste besittings is leergebinde uitgawes van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat haar “liewe ma en pa” vir haar geskenk gegee het.

Wanneer sy nie werk nie, ontspan sy saam met geliefdes en vriende, en reis.

Toe die fotograaf haar toerusting uithaal, kyk Beukes belangstellend daarna en sê sy neem ook graag foto’s. Sy’t as vyfjarige agter die kamera ingeskuif nadat sy op haar pa se Kerspartytjie by die werk ’n kameratjie gekry het.

Vandag, 63 jaar later, sit sy vóór die kamera, met die Boonzaier wat beeldskoon oor haar skouer loer.

  • Van Eeden is ’n vryskutjoernalis.
Meer oor:  Profiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.