Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Jerusalema-liedjieskrywer: ‘Niemand is meer verbaas as ek’

Nie in sy wildste drome kon Master KG dink dat “Jerusalema” so ’n wegholsukses sou behaal nie. Maar dié liedjie is nou op almal se lippe . . . en heupe. Hanri Wondergem het met die man agter dié aansteeklike lied gepraat.

Die sukses van “Jerusalema” het Master KG verstom.

Sou iemand begin vanjaar gevra­ het wat die temalied van die Covid-19-pandemie kon wees, sou Henry Purcell se “Dido’s Lament”, ’n tranetrekker uit die opera Dido en Aeneas, of Tsjaikowski se Sesde Simfonie dalk die kortlys haal.

Maar daar val die mantel toe op “Jerusalema”, ’n aansteeklike gospelliedjie deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar Master KG.

Dit speel in hospitaalsale in Frankryk en Swede, op dakke in Italië en Roemenië, op openbare byeenkomste in Brittanje en Kanada, op die strande van Kaap Verde, iewers in Jamaika én Tanzanië.

Video’s van mense wat op die maat van “Jerusalema” wikkel, word op Facebook, Instagram, Twitter en TikTok geplaas.

#JerusalemaDanceChallenge het die tonge én die litte los.

Musiek sonder grense

Meer as 126 miljoen mense wêreldwyd het al na die oorspronklike musiekvideo op YouTube gaan kyk. Dit wys jou net, sê Master KG, musiek ken nie ras, geslag, klas, nasionaliteit of ouderdom nie.

Dié musiekvervaardiger, platejoggie, sanger en liriekskrywer het oornag ’n internetsensasie geword en die sukses van “Jerusalema” het ook aan Master KG ’n internasionale kontrak met Warner Music Group – een van die grootste platemaatskappye ter wêreld – besorg.

Maar voordat die wêreld begin het om kennis te neem van dié lied, was Master KG bloot bekend as Kgaogelo Moagi – ’n musiekliefhebber wat sy passie vir ritme in die stofstrate van Calais in Tzaneen, Limpopo, ontdek het.

Dis dalk die mensdom se behoefte aan ’n blaaskans te midde van een van die grootste gesondheidskrisisse in ’n eeu wat mense noop om na iets opbeurends te luister.

Dis dalk die mensdom se behoefte aan ’n blaaskans te midde van een van die grootste gesondheidskrisisse in ’n eeu wat mense noop om na iets opbeurends te luister.

Vier salige minute is statistieke, bedrog met Covid-19-geld, sterftesyfers en pes-simptome vergete en kan jy net fokus op die polsende klanke van “Jerusalema”.

Al dansend hou gesondheidsorgwerkers, kerkleiers, politici, polisiebeamptes, vragmotorbestuurders, sportsterre, sakeondernemings, skoolkinders en Jan en San Alleman moed op die ritme van die lied.

Die verskynsel is vir Master KG ’n reusagtige verrassing.

“Niemand is meer verbaas as ek nie. Ek het dit glad nie verwag nie . . . Ek is stomgeslaan.”

Musiek, verduidelik Master KG, steek alle grense oor.

Deurbraak

Master KG sê “Jerusalema” het sy hartsnare uit die staanspoor geroer. Daarom het hy verlede jaar reeds die sangeres Nomcebo Zikode genader om die lirieke met haar fluweelstem te sing.

“Haar stem is sielvol. Sonder haar sou dit nie dieselfde impak gehad het nie,” sê hy.

Hulle het aanvanklik net die eerste versie opgeneem en dit op Master KG se Facebook-blad geplaas. “My ondersteuners het so goed gereageer. Almal wou weet wanneer die liedjie uitgereik gaan word. Die opwinding het opgebou en ons het besluit om dit volledig op te neem.”

In November verlede jaar is “Jerusalema” op digitale platforms uitgereik en Suid-Afrikaners was gaande daaroor. Maar dit was eers vanjaar dat dit ’n tweede lewe gekry en internasionaal aandag begin trek het toe ’n Angolese dansgroep choreografie uitgewerk het wat sou lei tot die gelyknamige dansuitdaging.

Dit is dié dansgroep se video wat Master KG aanvanklik op sy sosialemediaplatforms gedeel het. “Ek was mal oor die goedvoel­manier waarop hulle op my musiek gedans het.”

Master KG glo vas dié video het ’n reusagtige aandeel in sy treffer se sukses, want van daar af het “Jerusalema” vinniger as die koronavirus versprei. Dit was selfs in ’n stadium vandeesweek die gewildste liedjie wêreldwyd op Apple­ se Shazam-app.

Almal se voete wil dans

“Niemand se verbasing was groter as my eie toe ek sien hoeveel mense die #JerusalemaDanceChal­lenge aanvaar nie,” sê Master KG.

“Die tydsberekening was net reg.” Pleks om mekaar op sosiale media uit te daag om rou eiers te sluk, daag mense mekaar nou uit om die Angolese dansgroep se passies te leer en hul eie weergawe daarvan met ander mense te deel.

“Ek sou my nooit kon indink dat dit sal gebeur nie . . . Dit het net so spontaan, so uit die bloute gebeur.”

“Jerusalema” het gespeel toe Sun City weer sy deure oopmaak, by myne, in fabrieke en winkelsentrums. Selfs ’n groep mense in rolstoele durf die dansie aan.

Ek het al meer as een keer na Ronaldo se Instagram-blad gaan kyk net om seker te maak ek droom nie. Dit voel soos ’n droom.

Master KG het wêreldwyd die heupe aan die wikkel en die musiekwêreld is aan sy voete.

Maar hy kry self nog sterre in die oë wanneer hy oor ander bekendes gesels.

“Hoe ongelooflik is dit as iemand wat jy bewonder, soos die sokkerster Cristiano Ronaldo, jou liedjie op sy Instagram-blad deel? Dis net ongelooflik! Ek is eintlik geskok. Iemand soos Janet Jackson, ’n superster wat oor my musiek praat . . .”

Hy lag verleë. “Ek het al meer as een keer na Ronaldo se Instagram-blad gaan kyk net om seker te maak ek droom nie. Dit voel soos ’n droom.”

Dis wel nie net die internasionale glanspersoonlikhede en sportsterre se reaksie wat hom breëbors laat nie.

Die Angolese dansers wat dit alles begin het ... getwiet deur Janet Jackson.

“Jy weet, daar is sekere teikenmarkte wat ek nooit gedink het ek sal bereik nie. Soos Afrikaanse mense. Wie sou nou ooit kon raai dat ek Afrikaanse mense aan die dans gaan kry? Hier praat ek en jy en die onderhoud word in ’n Afrikaanse koerant geplaas, al is my Afrikaans nie goed nie. Dis net ongelooflik!”

Hy rammel lande af waar sy musiek nou opgang maak. ’n Ellelange lys van ondersteuners om by sy suksesverhaal te voeg. “Ek kry soveel liefde van oor die land, van oor die wêreld heen. In my wildste drome sou ek dit nie kon voorspel nie.”

Sy gunsteling-“Jerusalema”-video is van ’n groep bejaarde mans wat hulle gate uit geniet.

“Ek weet nie eens in watter land hulle bly nie, maar dit voel of hulle almal my oupas is. ’n Mens kan sien hulle is ouer, maar hulle geniet dit steeds so om te dans. Dit laat my so lekker voel.”

’n Droom word verwesenlik

Só doen ’n mens dit. Toks van der Linde en Breyton Paulse aan die wikkel.

Kgaogelo Moagi is op 31 Januarie 1996 gebore.

“Ek het saam met my groot boetie en klein sussie grootgeword. In Calais in Limpopo. My pa was ’n onderwyser en my ma het by ’n hotel gewerk.”

Calais staan ook bekend as Skororo en die Moagi-gesin se huistaal is Pedi. Dis in dié dorpie waar sy liefde vir musiek gebore is en waar Kgaogelo Moagi uiteindelik Master KG geword het.

“Vandat ek kan onthou, is ek al lief vir musiek. Ek het as kind baie radio geluister.”

Hy het in sy tuisdorp plaaslike musiekvervaardigers en platejoggies dopgehou en by hulle geleer.

“As kind het ek nie ’n rekenaar of toerusting gehad om my eie musiek te maak nie. En ek wou so graag.”

In 2012 het dinge verander toe sy oom hom ’n rekenaar present gegee het en die 16-jarige kon aan die werk spring.

“Dit was nie maklik nie, maar ek het aanhou probeer. Ek wou dit op my eie doen. Ek het raad gevra by die ouens in die dorp wat bekend was. Hulle het gehelp.”

Teen 2016 het sy musiek begin aandag trek in sy plaaslike gemeenskap. “Mense het begin om my musiek by die tavernes te speel. Ek het die platejoggies ook gevra om my musiek op speellyste te sit. Maar niemand buite my gemeenskap het eintlik geweet wie ek is nie.”

Toe skryf, sing en vervaardig hy sy eerste groot treffer, “Situa­tion”.

“Die liedjie het verder gegaan as net die dorpsgrense. Die hele Limpopo het daarvan te hore gekom! Mense het begin bel om my te bespreek om oor die provinsie heen op te tree. Ek het begin om te reis.”

Eerste groot sukses

Met sy volgende treffer, “Skeleton Move”, het hy provinsiale grense oorgesteek.

Dit was vir hom ’n hoogtepunt om dié liedjie vir die eerste keer op groot radiostasies te hoor en sy musiekvideo op TV te sien.

“ ‘Skeleton Move’ was my eerste groot sukses.”

Hy het Limpopo daarna vir eers vaarwel toegeroep en na Midrand getrek om seker te maak hy is in die hartjie van die musiekwêreld.

“Mense sê altyd my musiek het ’n gevoel van evangelie; dit bring emosies uit. Dis nie doelbewus nie; dis net wie ek is.”

Mense sê altyd my musiek het ’n gevoel van evangelie; dit bring emosies uit. Dis nie doelbewus nie; dis net wie ek is.

Sy musiek is nie suiwer gospel nie. “Dit gaan meer oor die emosie, oor spiritualiteit as oor net geloof.”

Hy maak keel skoon.

“Die grootste beloning vir my is as mense aan my sê my liedjie gee hulle hoop. Daar is nie ’n groter beloning nie as om te weet ek het iets gemaak wat mense opbou en verenig.”

Hy is veral in sy skik oor gesondheidswerkers wat, in hul stryd teen die pandemie, eienaarskap van die dans geneem het.

“Ek dink dit laat nie net mense dans nie, dit speel ’n belangriker rol in onsekere tye om hoop te bring. Dis ’n reusekompliment, veral omdat baie mense nie eens die woorde verstaan nie. Maar die musiek raak steeds hul harte aan. Jy hoef nie ’n taal te verstaan om in die spreker (of in dié geval, sanger) se emosie te deel nie.”

Nederig en dankbaar

“Ek kan nie genoeg dankie sê aan elke liewe mens wat my ondersteun nie. In Suid-Afrika, Afrika en die res van die wêreld. Dankie aan almal wat dans en musiek saam met my vier! Ek is dankbaar en ek weet hoe geseënd ek is.”

Wanneer die pandemie eers verby is, wil hy konserte oor die wêreld heen hou. Hy wil toer. “So baie mense het reeds gevra of hulle my vir optredes kan bespreek.”

Intussen vier hy sy sukses saam met sy geliefdes en werk aan nog musiek. En hy hoop om in die toekoms mense te kan saamsnoer sodat hulle altyd musiek sal hoor, selfs al is die probleme hóé luidrugtig.

Master KG het begin vanjaar 600 000 volgelinge op Facebook gehad, maar sedert die sukses van “Jerusalema” word hy oorval deur aanhangers.

Hy het nou meer as 1,6 miljoen volgelinge op Facebook.

Master KG bieg dat hy voorheen nog nooit vreeslik baie tyd op Twitter deurgebring het nie, maar ook dié situasie het verander.

Deesdae gebruik hy die platform om met sy meer as 155 000 volgelinge te gesels.

Op Instagram spog hy met meer as ’n halfmiljoen volgelinge.

“Dit is alles te danke aan ‘Jerusalema’ en die dansuitdaging,” sê hy.

Hoewel “Jerusalema” vir die oningeligte lyk na Master KG se eerste groot treffer, het dié kunstenaar al talle pryse ingepalm.

In 2018 het hy ’n prys by die African Muzik Magazine Awards (Afrimma) in Dallas, Texas, vir sy liedjie “Skeleton Move” ontvang.

’n Jaar later het Afrimma hom aangewys as die beste mans­kunstenaar van die jaar.

“Skeleton Move” is in 2018 aangewys as die SAUK se “somer-liedjie van die jaar” en dit is bekroon as die beste dansliedjie by die Limpopo-musiekpryse.

Die “Jerusalema”-dansuitdaging het al verskeie bekendes sover gekry om hul danspassies te vertoon.

Tito Mboweni, minister van finansies, het dit saam met sy twee seuns aangepak en ’n video daarvan op sy Twitter-rekening gedeel.

Tito Mboweni, minister van finansies, het dit saam met sy twee seuns aangepak en ’n video daarvan op sy Twitter-rekening gedeel.

Breyton Paulse en Toks van der Linde, voormalige Springbokke en deesdae TV-aanbieders, het die dansie saam-saam aangepak en dit op TikTok gesit.

Martin Bester, Jacaranda FM-omroeper en musikant, asook die RSG-omroepers Sue Pyler en Amore Bekker het die uitdaging aanvaar.

Shahan Ramkissoon, joernalis en TV-aanbieder van eNCA, en sy kollegas het kykers op ’n regstreekse uitsending gewys hoe hul “Jerusalema”-passies lyk.

Op die internasionale toneel het die sokkerspeler Cristiano Ronaldo “Jerusalema” as agtergrondmusiek op ’n Instagram-video met sy meer as 230 miljoen volgelinge gedeel.

En die Amerikaanse sangeres Janet­ Jackson het twee video’s met “Jerusalema”-danse aan haar meer as 3,6 miljoen Twitter-volgelinge getwiet.

Wondergem is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Master Kg  |  Liedjie  |  Musikant  |  Pandemie  |  Dj  |  Jerusalema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.