Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tennis, viole, asters en apartheid

Ronnie Samaai, een van die Paarl se sewe Samaai-broers, vertel aan Murray La Vita hoe tennis en musiek hul lewe in die donker dae van apartheid verryk het.

Ronnie Samaai op die tennisbaan wat hy en sy broers jare gelede in hul oudste broer, David, se agterplaas gebou het. Die baan is nou vervalle aangesien David, wat onlangs gesterf het, die afgelope jare nie daar gewoon het nie en die baan in onbruik verval het. Foto: Jaco Marais

Op die muur agter Ronnie Samaai hang ’n landskappie van Conrad Theys met op die voorgrond ’n enkele kokerboom. En op die kaggelrak staan verskeie pryse, onder meer ’n kykNET-Fiësta waardeur aan Ronnie erkenning gegee is vir die rol wat hy op die gebied van klassieke musiek gespeel het as violis, pedagoog, beoordelaar, entrepreneur, en as inspirasie vir ander.

Ronnie lyk besonder goed vir sy 83 jaar: Hy is lenig, regop en sy bewegings is flink. Hy verklaar dit só: “As jong mense was deel van onse voorbereiding vir tenniskampioenskappe dat jy teen Paarlberg opdraf en dan weer terug.”

Hy en sy vrou, Eileen, woon al jare lank hier in die Paarlse woonbuurt Charleston Hill. Die Paarl is hul albei se heimat.

“Ek en my ses broers kom uit ’n baie geseënde familie, want ons het die wonderlikste ouers gehad. Pappa . . . sowel my pa as my ma het nie kwalifikasies agter hul naam gehad nie. Hulle was dóódgewone mense, maar van ons sewe broers het vyf onderwysers geword.”

Die Samaai-broers in hul fleur. Voor van links is Ivan, David, Ronnie en Victor. Agter van links is Leonard, Gerald en Frank. Foto: Verskaf

Hy praat sag.

“Ons ouerhuis was ’n samekomsplek vir die vriende, die mense in die straat wat daar gewoon het, want almal het aan almal behoort. Mense het daarheen gekom om te praat oor Saterdag se voetbalwedstryd; Saterdag se tenniswedstryd, of ons sou praat oor die De Vos-kêrel wat fietsgery het. Daar was altyd iets om oor te gesels.

“Groot vriendskappe is gesmee. Selfs die [wit] mense wat aan die anderkant van die rivier gewoon het, het hulle besighede daar [in hul buurt] gehad en ons was gereeld daar. Hulle het ons seuns by die naam geken.

“As gevolg van sport was ons miskien, ek sê dit in nederigheid, ’n gesiene familie in dié opsig dat die gemeenskap weet: ‘Die Samaais woon daar. O, hulle is die tennisspelers! Hulle is die musiekmense!’

Ons moes toe daar uit; ons moes in die laat jare sestig ons huis daar in Du Toitstraat ontruim.

“Ons ouers het ons bewus gemaak van die belangrikheid van mededeelsaamheid. As jy geseënd is met ’n talent, of wat ook al, dan moet jy dit deel.

“Ons het in die Paarl se middedorp grootgeword in ’n gebied wat bekend staan as die Ou Tuin. Maar jy ken die geskiedenis van die land . . . Ons moes toe daar uit; ons moes in die laat jare sestig ons huis daar in Du Toitstraat ontruim.

“Ek en Eileen, wat pas getroud was, het by haar ouers in Noorder-Paarl gaan inwoon en daarvandaan het ons ’n erf hier bekom en vir ons ’n huis gebou. Die tweede oudste broer het toe al vir hom ’n huis gebou hier naby aan waar ons nou bly, en hy het ons ouers ingeneem. Dit nadat hulle báie jare in die Ou Tuin gewoon het. Kyk, ons is almal gebore daar in 19 Du Toitstraat.”

Uitmekaar geskeur

Ronnie en Eileen in die sitkamer van hul huis in die Paarl. Foto: Jaco Marais

Hul gemeenskap is deur die gedwonge verskuiwings uitmekaar geskeur.

“Die letsels is nog altyd daar, in dié opsig dat dit vir ons as ouers moeiliker geword het om dit aan ons kinders te verduidelik. En ons het ’n púnt daarvan gemaak om ons kinders op te voed in Engels, want ons het gesê die kinders moet hul vlerke sprei; hulle kan nie net hier by ons woon en meen hulle gaan ook hier in Suid-Afrika saam met ons sterf nie.

“Ek en Eileen het twee dogters en albei van hulle woon in die buiteland. Desiré, die jongste, woon in Engeland en Michelle is in Australië.

“Ons kon nie sien dat apartheid in ons leeftyd tot ’n val gaan kom nie. Ons het ons kinders so grootgemaak dat hulle moet inpas in die lewe, maak nie saak waar dit is nie.

“As gevolg van ons intense belangstelling in musiek, het ons kinders musiekloopbane gevolg. Michelle het ’n musiekgraad gedoen by Stellenbosch en is ’n musiekonderwyser in Melbourne, en haar dogter, ons kleindogter, het pas haar tweede musiekgraad voltooi in Australië; sy is ook [soos Ronnie] ’n violis.

“Desiré was vir ’n kort rukkie hoofdanser by die Kaapstadse balletgeselskap en toe sê sy net een dag: ‘I’m going to go overseas and audition there, even if I’ve got to start from scratch, because I don’t get the principal roles that know I should get.’

“En sy het gegaan en weer van onder af begin en hoofdanser geword by die Northern Theatre se balletgeselskap; sy het die wêreld gesien op haar tone. En vandag is sy hoof van die Classical Ballet Academy by ’n kunsteskool in Tring buite Londen.”

Davey die tennisster

“Die letsels [van apartheid] is nog altyd daar, in dié opsig dat dit vir ons as ouers moeiliker geword het om dit aan ons kinders te verduidelik. Foto: Jaco Marais

Ronnie se oudste broer David (92), wat verlede maand oorlede is, was die eerste bruin man wat op Wimbledon tennis gespeel het en in die Franse Ope. Hy was ook 50 jaar lank die koorleier van die Paarl Bel Canto en die koorleier van die kerkkoor. Hy het 70 jaar lank die orrel in sy gemeente gespeel.

“Almal praat van Davey wat so goed gespeel het; Davey hét goed gespeel, maar hy het goed gespeel, want daar was sewe broers en hy het almal so op ’n ry gespeel; een ná die ander.

“Die tennisbaan was in die dorp en ons het binne loopafstand daarvan gewoon. Toe kry ons kennis van die munisipaliteit dat dié grond gaan gebruik word vir ek weet nie wat nie, so ons is toe sonder ’n tennisbaan. Toe ons een middag kom om te speel toe is die pale plat en toe is daar nie meer ’n tennisbaan nie.

Weet jy, ons was drie broers binne loopafstand van mekaar. Die vierde broer bly ’n bietjie verder weg. Ons is so geseënd dat ons gereeld met mekaar kan kommunikeer.

“Nou moet daar ’n plan gemaak word. Davey het toe al sy erf gehad, groot genoeg vir ’n tennisbaan in die agterplaas. Pappa het toe gesê: ‘Maar hoekom gebruik jy nie jou grond nie?’ Almal wat leef en beef en aan die familie behoort, bou toe ’n tennisbaan. En toe begin ons te speel. Die klub se mense het toe ook daar kom speel. Die tennisbaan staan nou nog daar. Twee van die broers wat nie onderwysers was nie – die een was ’n bouer en die ander een ’n skrynwerker – was die voormanne op die werk.”

Die huis waarin Davey gewoon het, staan nou leeg, want hy het in die afgelope jare nie daar gewoon nie. En die tennisbaan is vervalle.

“David het hier langsaan gewoon. Weet jy, ons was drie broers binne loopafstand van mekaar. Die vierde broer bly ’n bietjie verder weg. Ons is so geseënd dat ons gereeld met mekaar kan kommunikeer.

“Ek sal vir Eileen sê: ‘Ek stap net gou na Frank toe.’ Dan sal ons miskien ’n wedstryd op TV dophou en dan kan ons lekker daaroor gesels. Of ek sal na David toe gaan en vir hom vra: ‘Sê vir my, hoekom het ons nie hier in Suid-Afrika werklik góéie tennisspelers kon oplewer nie?’

“David was die oudste, hy was ’n onderwysman, en dan die tweede oudste is Frank, óók ’n onderwysman. Victor, die derde oudste, is al oorlede, hy was ’n bouer. Dan het gekom Leonard, ons het hom Lenny genoem . . . Almal was Davey, Frankie, Vicky, Lenny, Ronnie – ek is Ronald. Lenny was ’n skrynwerker en is ook al oorlede. En dan kom ek. En die broer wat net ná my kom, is Gerald; hy was hooftenoor by die Eoan-operagroep. En dan Ivan, die jongste, was ook ’n onderwysman.”

Omring deur ‘mooiheid’

Ronnie met sy eerste viool. Foto: Jaco Marais

Hul pa, John, het met asters geboer.

“Baie maklik tot ’n 100 plante. Wat Pappa gedoen het, is hy het die plantjies in blikke geplant van H. Jones & Company waarin hulle die vrugte ingelê het. Ons moes vroeg in die oggende voor skool die blomme gaan natgooi. En jy moes die blomme geken het: die Bessie Cook en die Melba en die wit pocket en die geel pocket en die Mrs Meas.

“Dan sal Pappa sê: ‘Nou wat is die naam van dié?’ ‘Maar daar is nie ’n blom aan nie.’ ‘Ja, maar jy moet dit mos ken aan die bláár.’

Mense het ’n aanvoeling gehad vir die móóiheid.

“Ons was die heeltyd daarmee omring – Jy’t jou musiek in die namiddag; in die dag speel jy tennis, en vroeg-vroeg in die oggend moet jy die blomme natgooi.”

Hul pa het aan blomskoue deelgeneem.

“Hulle het na mekaar se tuine toe gegaan en gaan kyk hoe lyk die asters en so het hulle van mekaar geleer. Mense het ’n aanvoeling gehad vir die móóiheid. Hoe ouer ons word hoe meer dink ons aan hoe gelúkkig ons was om met hierdie mooihede groot te word te midde van die politieke omstandighede.”

Dan luister die mense

Hy vertel hoe musiek al in sy kinderdae ’n groot rol in hul lewe gespeel het.

“Die ander ding waaroor ek baie bly is, en dankbaar, is die feit dat ons as ’n gesin musiek gemaak het.”

Mense het soms buite hul huis kom staan en luister.

“Dan sing ons gesange, vierstemmig. Ma was sopraan, Pappa die bas en die seuns het alt en tenoor gesing . . . Pappa het homself geleer viool speel op ’n klein viooltjie en hy het vir Davey geleer en David het vir mý geleer – ek het my eerste vioollesse by hom gekry.

“Daarvandaan . . . Ek sal jou sê wat my geweldig geïnteresseer het – die klank van ’n orkes. Dit was my begeerte om in ’n orkes te kan speel; dit was ’n gróót begeerte, maar daardie tyd was daar job reservation – jy mag dít doen; jy mag nie dáái doen nie . . . Ek het toe my vólle gewig in die onderwys gegooi.”

Meester Ronnie

’n Jong Ronnie speel viool in die Paarlse stadsaal. Foto: Verskaf

Hy het hom mettertyd op veral musiekonderrig toegespits nadat hy ’n BMus-graad in musiekwetenskap aan Unisa behaal het.

“Ek het toe met die hulp van beurse in Engeland die eksamens gedoen van die Royal Schools of Music, van die Trinity College. [En uitvoeringslisensiate aan dié prestigeryke instellings behaal.]

“Toe ek in Engeland was, is ek poste aangebied om as musiekonderwyser daar onderwys te gee. Maar my liefde vir my land en my mense en my familie het my teruggebring.”

Maar ek het maar altyd aangehou met speel en speel en speel, en geoefen.

Met sy terugkeer uit Londen het hy musiekonderwysers aan die Bellville-onderwyskollege opgelei waar hy ook later tot sy aftrede in 1996 die viserektor was.

“Ek was vir 40 jaar in die formele onderwys en 30 van die 40 jaar is bestee aan onderwyseropleiding aan verskillende onderwyskolleges.”

Ronnie het ook onder meer die Tygerberg Eisteddfod, die ATKV-musiekkompetisies en die Kunstekaap-jeugmusiekkompetisie beoordeel. Hy ’n aantal jare gelede uitgetree as hoof van die Ronnie Samaai Music Education Project in Kuilsrivier wat hy in 1996 begin het. Saterdagklasse in verskillende instrumente word daar vir sowat 100 studente uit agtergeblewe gemeenskappe aangebied.

‘Sal my stem iets beteken?’

Die afgelope 15 jaar al is Ronnie in die direksie van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

“Ek wou só graag ’n speler geword het in die orkes; ’n lid van die orkes, om dit my professie te maak, maar soos ek vroeër gesê het, as gevolg van die beleid van die land was dit onmoontlik gewees. Maar ek het maar altyd aangehou met speel en speel en speel, en geoefen.

Daar is nog altyd ’n vraagteken in my kop – hoe gaan ek ontvang word? Sal my stem enigiets beteken?

“Toe dink ek ek moet begin vioollesse gee. Ek het dit toe begin doen. Toe is ek genader . . . Ton Vosloo (destyds voorsitter en nou voorsitter van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes Trust) het vir my gesê: ‘Ons het jou nodig by die orkes.’ Ek sê toe: ‘Ton, ek weet nie, daar is nog altyd ’n vraagteken in my kop – hoe gaan ek ontvang word? Sal my stem enigiets beteken?’

“Dit was nie omdat ek gedink het ek kan nie die mense vertrou nie, maar ek het twyfel want jy was altyd ’n slagoffer . . . Dit het lánk gevat, baie lank gevat voordat ek ’n bietjie oopgemaak het.”

Meer oor:  David Samaai  |  Wimbledon  |  Paarl  |  Ballet  |  Tennis  |  Klassieke Musiek  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.