Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tinarie: ‘Alles gaan vir my oor liefde’

Sy het aanvanklik gesukkel met haar rol in die nuwe dramareeks Nêrens, Noord-Kaap omdat die karakter “net te goed” en “amper soos ’n engel” is, sê Tinarie van Wyk Loots aan Murray La Vita.

‘Ons is mos maar gekompliseerde goedjies.’ Foto: Jaco Marais

Tinarie maak die hek van haar werf op die Swartlandse dorp Riebeek-Kasteel oop en gee ’n speelse buiging. Sy is ’n lenige vrou geklee in ’n geruite broek en (veganistiese) Doc Martens-stewels wat herinner aan die punk-estetika van Vivienne Westwood. Daarby dra sy ’n vintage swart sybloes.

Ons stap verby ’n ekovriendelike swembad omsoom deur ’n waterpoel waarin koi-visse swem: George, Benkei, Spike, Kamina, Toriko, Jaco, Bronwyn, Kosie en Wei Wuxan. Die henne op die werf heet Spikkels, Meraai en Amelia. Haar pastorale leefwêreld word ook bevolk deur die katte Ethel, Snoop en Mia.

In die oopplan-leefvertrek van die ruim, reghoekige dubbelvolume-huis (wat deur haar stiefbroer ontwerp is in die tradisie van Frank Lloyd Wright, maar waaraan sy ’n eie, sonderlinge karakter verleen het deur byvoorbeeld die lieflike ou deure en vensters) knetter ’n vuur in die kaggel. Een van die min dinge waaroor sy “brag”, is dat sy weet hoe om ’n vuur te maak, sê Tinarie.

Tinarie in die leefvertrek van haar huis in Riebeek-Kasteel. Foto: Jaco Marais

Enige Suid-Afrikaanse teaterganger weet egter die veelbekroonde Tinarie kan spog oor baie meer as haar vermoë om vuur te maak. Dink maar aan haar uitmuntende spel in toneelstukke soos Dogma, Katvoet, Hemelruim, Marat/Sade, Valsrivier, Lot, Asem en Die Kersieboord. Daarby het sy bekoor in televisiereekse soos Fynskrif, Vallei van die Sluiers en Dwaalster; en rolprente soos Kanarie, Skoonheid en Gat in die Muur. In die onlangse tyd het sy ook regie begin doen: Swerfgoed, Kompleks, But Baby, I Love You en die rolprent Paardebloem, waarop sy veral trots is.

Private lewe

Die beweegrede vir die onderhoud is haar rol in Nêrens, Noord-Kaap, Nico Scheepers se toneelstuk wat hy vir kykNET omvorm het tot ’n manjifieke dramareeks. Die onderhoud word ’n gesprek waarin sy praat oor trane op ’n treinrit tydens ’n alleenreis na Japan; die waarde van terapie; haar voorliefde vir die werk van eksistensialistiese skrywers; hoe sy van kleins af daarvan hou om snags met ’n teleskoop na hemelliggame te tuur; die bekoring van bye (sy het ’n korf op haar erf); ’n oudisie by Sean Penn, en parfuum. Die toonaard van die gesprek wissel van uitbundig en skertsend tot ingetoë en peinsend.

‘Ons is almal vreeslik weerloos op die oomblik.’ Foto: Jaco Marais

Tinarie het ’n besonder welluidende stem. Sy praat in die loop van die gesprek soms Engels met wat na ’n effense Amerikaanse aksent klink – die rollende uitspraak van die r-klank. Haar slanke hande (korterige, saaklike naels bedek met ’n diep skakering van rooi lak) word dikwels gebruik om iets te beklemtoon. Wanneer sy lag, verskyn plooitjies om haar oë.

Dit is vir haar toenemend belangrik om haar private lewe privaat te hou. Daarom is sy byvoorbeeld iemand wat ’n baie lae profiel op sosiale media handhaaf – sy verslinger haar nie met maniese geesdrif aan projekte om haar “beeld” te bevorder nie.

Hoe Katja onthou word

Tinarie vertolk in Nêrens, Noord-Kaap die rol van Katja, die Nederlandse vrou van die boer en patriarg Lourens Adendorff, en ma van hul drie seuns.

“Dis belangrik om te onthou Katja is ’n herinnering. Daarom die nostalgie en verromantisering van hoe sy gesien en onthou word, veral deur die seuns, wat klein was toe sy gesterf het.” Die verhaal speel hoofsaaklik af 20 jaar ná Katja se dood. “In ’n sin is sy nie ’n volronde karakter nie; so jy sien net hierdie grepe van haar. Veral aan die begin sien ’n mens nie veel van haar nie,” sê Tinarie.

‘Ons is tans beroof van gemeenskaplike ervarings, van gemeensaamheid.’ Foto: Jaco Marais

Sy het aanvanklik ’n bietjie gesukkel met die karakter. 

“Sy was net só góéd! Toe besef ek dit is omdat ons haar nooit sien soos wat sy werklik was nie. Ons sien haar amper uitsluitlik soos wat sy onthou word. En ek dink ons onthou dinge dikwels mos met ’n bietjie meer van ’n silwer randjie; dinge is meer intens en verhewig. 

“Haar teenwoordigheid is daar om te help aantoon wat besig is om in hierdie drie jong mans en hul pa se lewe gebeur, en wat ’n verlies aan mense doen . . . Vir die res van hul lewe. Hoe mense dit hul eie maak en hoe dit uitkring en soveel ander dinge wat jy doen, beïnvloed.

“Ag, ek weet nie . . . Uiteindelik gaan álles vir my mos maar eintlik oor liefde. Ons druk dit uit en leef dit soos ons eie geheime of onsigbare taal, in omgang met die wêreld om ons en so ook met onsself. Dit is hoekom eieliefde ook belangrik is. In daardie opsig bied haar teenwoordigheid in die reeks vir my ’n ondersteunende konteks wat ons help om die ander se stories te verstaan. Konteks is alles.”

Waarom?

Sy glo in stories.

‘Een van my ma se groot bekommernisse was dat ek eendag ’n hawe moet hê wanneer sy nie meer daar is nie, want die akteursbedryf is mos maar wispelturig.’ Foto: Jaco Marais

“Stories is wat ons insig en begrip gee in mekaar. Al daardie draadwerk wat ’n mens nie van mense verstaan nie . . . Ons kyk en luister na stories omdat ons wil weet waarom? Waarom is hy so? Waarom het dít gebeur? Ons wil weet wat die waarom is.

“Die oomblik wat jy ’n kontekstuele storie het of net ’n klein stukkie insig, gee dit jou deernis vir ander mense se situasies en waar hulle vandaan kom en hoekom hulle is soos wat hulle is . . . Ons is mos maar gekompliseerde goedjies.

“Ek dink ’n groot motiveerder vir die mensdom is om te behoort. Of ons dit wil erken of nie, ons word almal beïnvloed deur waar ons vandaan kom. Ek voel altyd jou eerste kennismaking met liefde, hetsy deur ’n moeder of ’n vader of ’n ouma of ’n oupa – die een wat jou grootmaak – het so ’n groot invloed op hoe jy vir die res van jou lewe is en hoe jy jouself liefhet; hoe jy ander mense sien. En ek dink liefde met ’n ander wese, of dit nou ’n plant of jou lover of ’n ouer of ’n dier is, gee inhoud en diepte aan ’n mens se bestaan.

‘Ek dink ons onthou dinge dikwels mos met ’n bietjie meer van ’n silwer randjie.’ Foto: Jaco Marais

“Ek praat nie hier van romantiese liefde of Hollywood-liefde nie. Ek praat van daardie warm ding van veilig voel en dat jy ’n reg het om te bestaan – weet jy wat ek bedoel? Ek dink nie jy het noodwendig ’n ander mens nodig om dit te beleef nie. Soos ek sê: Dit kan jou verhouding met jouself wees . . . ek dink ons almal strewe tog uiteindelik deur al die ander verhoudings wat ons met ander mense het daarna om ’n goeie verhouding met onsself te hê . . . dis amper die moeilikste.

“Dis soos wáter; dis soos die ding wat onder alles lê en help dat ons in slegte tye ons bes probeer om ons medemens te laat beter voel of hoekom ons ’n hand uitsteek as iemand hulp nodig het of waarom ons saam met mense lág en saam met mense róú en saam met mense huil.”

 ‘Doplose slakke’

Weerloosheid is belangrik.

“Ons is almal bietjie soos doplose slakke. Ons is almal vreeslik weerloos op die oomblik. Maar om terug te kom na Nêrens, Noord-Kaap: Ek dink die drie broers se verhouding met mekaar en met hul ma is so gedefinieer deur daai kinderherinneringe. Die gebeure van hul kinderdae het ’n invloed gehad op hoe die res van hul lewe verloop het; en dít is die patos van hierdie reeks . . . Berei julle voor: Julle gáán huil; julle gaan báie huil.”

‘En dít is vir my die gróót verskil tussen teater en televisie en hoekom hulle onvergelykbaar is.’ Foto: Jaco Marais

Met verlies en herinnering is dit dikwels makliker om iemand te onthou as “beter as wat hulle was”. 

“Dit is soort van the service we do to the ones that have departed. Ons vergewe hulle al die dinge wat hulle verkeerd gedoen het en wat sleg was . . . as ons kan . . . en ons verkies om dit wat mooi is te onthou.

“Dis wat ek ook vroeër bedoel het toe ek oor Katja gepraat het . . . sy lyk amper soos ’n éngel. Ek is nie gewoond aan so ’n rol nie; dit was vir my eintlik nogal moeilik.”

‘My Mamma’

Tinarie se ma, Ansie Loots, is in 2013 aan kanker dood.

“In die gastebadkamer is ’n dingetjie wat ek geskryf het toe ek in sub B was . . . oor my ma. En toe dit my ma se begrafnis was, het ek probeer dink wat ek van haar kan sê wat goed genoeg is, en toe kry ek hierdie dingetjie wat altyd teen háár badkamermuur was. Dit was die eerlikste en akkuraatste ding wat ek gevoel het ek as elegie kan lees.

“Ek dink wat dit so spesiaal maak, is dat ek so klein was toe ek dit geskryf het. En dít is wat ook so wonderlik is van Nêrens, Noord-Kaap: Ons sien die broers wanneer hulle nog in hul vormingsjare is . . . voordat jy ’n woedende tiener word en jy allerhande vrae oor jouself en jou identiteit het en jou identiteit nog onlosmaaklik verstrengel is met waar jou tuiste is.”

‘Ek het die rakke self opgesit. Ek vind dit so bevredigend om aan die huis te werk.’ Foto: Jaco Marais

In “My Mamma” skryf die jong Tinarie onder meer: “Sy het my lief. Sy sê dat ek die mooiste ding onder die son is. Sy sê ek is die beste ding wat met haar gebeur het.”

Hoop en heling

Sy mis teater geweldig baie.

“Ek kan nie beskryf hoe ongelooflik baie ek dit mis nie. En ek kan nie help om te dink teater en lewende musiek, en ek gaan sport hierby insluit – geleenthede waar mense byeenkom en dinge saam erváár – sal uiteindelik die dinge wees, hetsy op klein of groot skaal, wat ons as ’n mensdom gaan heel.

“Ons is tans beroof van gemeenskaplike ervarings, van gemeensaamheid. Ons is egter almal besig om saam deur iets te gaan (die pandemie), maar omdat ons genoop word om dit in afsondering te doen, voel dit of ons alleen is en eintlik doen ons dit almal saam.

“En dít is vir my die gróót verskil tussen teater en televisie en hoekom hulle onvergelykbaar is. Die een is nie beter as die ander nie; hulle is net onvergelykbaar. In teater beleef jy iets saam met ander mense en dit het ’n invloed op jou ervaring daarvan. Jy word ook betrek deur dit wat op die verhoog aangaan; jy kan nie (maklik) daarvan ontsnap nie. As jy kies om dit nie meer te ervaar nie, moet jy ’n groot besluit neem soos om uit te loop.

Antoinette Kellerman, Tinarie Van Wyk Loots
Tinarie en Antoinette Kellerman in 'Asem'.

“En daardie ervaring van iets deel, is ánders. Dit is soos toe die Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1995 gewen het – wat dít gedoen het aan die mensdom! Mense wat dit saam ervaar het. Daai óérinstink van storievertelling en iets meemaak met ander mense, en jy was dáár en jy het dit saam met mý en saam met hóm gedoen.

“So, ek dink dít is die ding wat ons weer gaan heel maak. Maar ek dink ons het hervorming in teater nodig; die situasie waarin ons weens die pandemie gedompel is, forseer ons om die hele struktuur te herbedink. Ons probeer nou goeters . . . Dis wonderlik dat mense nou goed aanlyn beskikbaar maak, veral vir mense wat nie voorheen teater kon bywoon nie, maar dít is nie teater nie.

“Wat almal hoofsaaklik nou probeer doen, is om hóóp lewend te hou. So, die geleentheid bestaan nou om die hele ding te herbedink, maar ons voel op die oomblik te paniekerig en gekneus om iets konstruktiefs daaraan te doen.”

’n Blom

Teater is vervlietend.

“Die efemere aard van teater is deel van die bekoring daarvan. Die skoonheid daarvan lê onder meer daarin dat dit bestaan en dan ophou bestaan . . . Dit is so klein en daar is so min mense wat dit ervaar in vergelyking met televisie.

“Dit is soos ’n blom. Dit is daar en dit bot en bloei en dan sterf dit. Maar die saad daarvan sal vir altyd binne jou bly voortbestaan.”

* Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdag om 20:00 uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.