Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tolla is nog steeds tops!

Tolla van der Merwe se gesin is elke dag nog verbaas dat sy staaltjies 18 jaar ná sy dood steeds leef. Omdat hy hierdie week sy 75ste verjaardag sou vier, dink hulle terug aan hom as gesinsmens, pa en lewensmaat. Sarie Marais-Nell vertel.

Tolla van der Merwe. Hy sou op Dinsdag (21 Augustus) 75 jaar oud geword het. Dis 18 jaar sedert hy in Mpumalanga verongeluk het. Foto: DIE BURGER ARGIEF

Wanneer hierdie komediant se gesin aan hom terugdink, herhaal ’n klompie van sy eienskappe soos ’n refrein.

Tolla se liefde vir sy kinders: “Hy wou ons altyd onder sy dak hê; dit was soms ’n stryd om ’n uitslaap by skoolmaats te reël.”

Sy instelling dat Sondae familietyd was: “Sondae was braaityd saam met sy gesin, broer, suster, neefs en niggies, geen ronddrentelkans in ander rigtings nie.”

Hulle onthou hy kon snobs en aanstellerigheid nie verdra nie.

Die Van der Merwes: Marita (71, links voor), Tolla se vrou, en hul kinders Wicus (46, regs voor), Bouwer (41, links agter) en dogters Anel Horne (44, middel agter) en Cara Smith (35).Foto: VERSKAF

Tolla se vrou, Marita (71), sy seuns Wicus (46, ’n sanger) en Bouwer (41) en dogters Anel Horne (44) en Cara Smith (35) stem saam: Roem het hom geensins verander nie; hy het plat op die aarde gebly. Wanneer hy tussen optredes tuiskom, sou hy sy gesin en vriende eerder nóg meer waardeer.

“Hy was huisvas, maar baie sosiaal; wou altyd tussen sy familie en vriende wees. Wanneer hy uit Gauteng tuis kom, sou hy soggens vroeg opstaan en ons dadelik ‘wakker irriteer’,” onthou Wicus. “Dan klap hy die deure en vensters raserig oop, want hy soek geselstyd met ons.”

Hulle onthou hul pa se mankstappie – ’n besering uit die ongeluk waarin sy broer Hansie gesterf het. Hul pa wat, as hy kwaad of gestres raak, sy hande so druk-vryf, al vinniger stap en harder praat; wat sou vies raak, en vinnig weer goed raak.

Drie van Tolla se vier kinders, Wicus, Bouwer en Anel, lees staaltjies uit boeke wat handel oor hul pa. Foto: Peter Hardcastle
Tolla saam met wyle Andries Krogmann.Foto: DIE BURGER ARGIEF

Kon julle aan sy houding lees “hier kom ’n nuwe lawwigheid?” “Nooit!” keer Wicus. “Hy’t ons altyd gevang met ’n onverwagte kwinkslag!

“En nee – ons het nié meer as die gemiddelde gesin gelag nie.”

Anel glo hulle was ’n doodgewone gesin.

“Ons was geen Sun­shine D-advertensie – ‘als is volmaak in die Van der Merwe-huis’ – nie. Daar was die gewone hoeveelheid stamp en stoot onder mekaar, en as tieners wou ons heeltyd eerder saam met maats kuier.

“Sodra my pa begin glo ons gesin het lanklaas saam iets gedoen, bondel hy en Ma ons in die bussie vir ’n uitstappie; iets soos blomme kyk in die Cederberge.

Anel en Cara saam met hul ma Marita.Foto: verskaf

“Ons was tieners, nie altyd lus hiervoor nie en sou mekaar heeltyd irriteer. Eenkeer begin die seuns ons met lekkers gooi – só dat dit regdeur die ryding vlieg.

“Ek kon vóél hoe die spanning styg. Pa se goedbedoelde plan, wat ons omskep in spanning.

“Toe Smarties weer ’n keer teen die voorruit vas piéng, is ons behóórlik geskel, sodat Wicus opmerk: ‘Hmmm, lekker gesinstyd.’ Dan bars almal uit van die lag, als weer beter. Ek het geglo alle gesinne is soos ons s’n waar albei ouers betrokke is.”

Hul lekkerste gesinstye was kreefduiktyd daar by Platklip en Rooiduin teenaan Lambertsbaai.

Bouwer wat duik soos ’n rob; Pa met sy kortbroek, rugbytrui en tekkies. Hy’t nooit ’n duikpak gedra nie. Daar, weg van alles en saam met neefs en pelle, het hulle later gebraai, die kitaar altyd naby.

En toe raak Tolla in 1988 oornag beroemd, verskyn op TV en in flieks, met Wicus in gr. 10.

“Ons het darem ’n effense aanloop gehad, hieraan gewoond geraak met Kallie May se Koffiehuis-konserte en Pa se liefdadigheidsoptredes.”

Tolla saam met Frank Opperman.Foto: DIE BURGER ARGIEF | GALLO IMAGES

Het julle spoggerig gevoel oor jul pa se eerste TV-optredes?

“Nee,” onthou Wicus. “Ons was eerder senuweeagtig!”

Marita vertel: “Sy lewe het verander van Clanwilliam se hofnar tot optredes oral in die land. Hy was nie voorbereid vir die slaggate daarbuite nie.

“Mens kry mos allerhande soorte mense. Sommige bel, sê hom sleg. Dit slaan hom plat, maak hom swaarmoedig in ’n wêreld sonder mentor. En ek’s nie veel van ’n booster nie!”

Een aand tydens ’n konsert sien Marita iets pla vir Tolla. Pousetyd soek sy hom op en vind hy stres oor die tante in die sesde ry wat nog glad nie gelag het nie. “Kyk eerder na die 700 wat wél lag,” sal sy hom dan aanmoedig.

Tolla was beïndruk met geleerde mense soos Jan Spies en PG du Plessis, maar het soms geïntimideer gevoel.

Dan kom hy tuis en sê vir Marita: “Daai mense het almal Afrikaans gepraat, maar ek kon g’n woord verstaan nie. Dan vertel ek hom hoe veelsydig hy is. Hy bestuur ’n motorhawe én bou ’n nuwe loopbaan, almal hoef nie eenders te wees nie.”

Tolla by ’n fietsrygeleentheid. Dis onbekend waar en wanneer die foto geneem is.

Soms was Marita benoud as Tolla gewaagde grappe vertel.

“Hy het vermaak tot nuwe vlakke geneem, altyd nuwe grense getoets by Spies en Plessis, Maak ’n Las, optredes by manne-aande en feeste. Dis hoe Tolla was. Mense het hom so aanvaar en liefgehad.”

Tolla kon mense wat in die ateljee stres, met ’n opregte kompliment laat ontspan; hy kon mense vinnig lees en daarop reageer. Hy was behoorlik geskúd ná Leon Schuster se poets tydens ’n Carte Blanche-opname. Leon het die gehoor gevra om net strak na Tolla te staar en niks te lag nie. Dit het Tolla geweldig ontstel. Toe Schuster ’n week later bel en na Tolla se welstand uitvra, moes Marita hom ligweg roskam.

“The clown always goes home alone.” Juis ’n Tolla-aanhaling wat Wicus helder onthou.

Cara, wat deesdae Tolla-stories vir haar seuntjies speel, het tydens haar pa se optredes graag op konsertgangers se gesigte en reaksies gefokus – en sodoende sy punchlines gemis.

Sy onthou haar pa se sagte hart, wat gawe goeters vir ander mense doen en nooit weer daaroor praat nie; sy “Moeder Henwees”-naweke wanneer hy tuiskom, hul toutrekkery as sy met ’n langbroek wil kerk toe gaan.

Tolla in ’n toneel uit die fliek Tolla is tops.

Haar spesiale oomblikke met haar pa was die tydjies wat hy gereeld ingeruim het sodat hy vir haar ’n roomys kan koop en hulle saam deur die dorp rondry.

“En Clanwilliam is nie groot nie,” lag Cara.

Marita moes 12 jaar lank dinge aan die tuisfront reghou.

“Dan kom Tolla naweke terug en keer álles om – veral met dissipline. As ek ’n kind vir ’n week hok, buit hulle Vrydagaand sy sagte hart uit. Tolla sou altyd sy kinders stink bederf; het altyd geglo hulle is honger.”

Marita skryf Tolla se sukses toe aan sy fyn waarnemingsvermoë wat hy gekombineer het met daardie tipiese situasies waarin enige mens kan beland.

Soos sy storie van die gesin wat rojaal en vol bederfies met vakansie vertrek en met hul terugkeer net kraanwater drink.

Marita lag: “Dit het régtig gebeur! Ons sien hulle, op pad na die KKNK. Met die terugry stop ons almal sowaar weer op dieselfde tyd en plek, en die pa koop nét ’n polonieskyfie vir elkeen.”

Tolla se kinders het nooit die omvang van sy beroemdheid besef nie.

“Wanneer ons in Tygervallei stap en ondersteuners hom oorval, het hy bedagsaam en vriendelik gebly, ons tienerfrustrasies ten spyt,” vertel Anel.

Wicus onthou: “Die eerste keer dat ek en Bouwer besef het ons pa is gewild, was agter die Nuweland-pawiljoen, toe ’n klomp manne hom toestróóm.

“Ons het spontaan tussen hulle en my pa probeer indrúk. Hy het dit so in his stride gevat, met sy gretige ondersteuners gelag en plesierig aangedui dat hy vinnig op sy sitplek moet kom.”

Cara het ook eers met sy begrafnis (sy was gr. 12) besef hoeveel aandag en buitedorpse vriende hy gehad het.

Vandag onthou hulle dié man wat hulle die eenvoudige dinge leer waardeer het. Daarom is die spesiale oomblikke wat hulle koester, die normale, doodgewone dinge, met Anel wat wens dat sy vyf kleinkinders ook sy menswees kon beleef.

“Eers ná sy dood het ek besef hoe baie het ons op hom gesteun.”

Bouwer se gunstelingstorie is iets wat Tolla gereeld vertel het: ’n Onderwyser het Tolla op skool vasgevat en toegesnou dat ’n mens nie ’n lewe met kafpraatjies kan maak nie.

Tolla het gereeld gewens hy kon dié man raakloop; hom vertel hy maak ’n heel goeie lewe uit nonsens praat.

Vir Pa

As ons moet groet

Bring jou lagplooie, bring jou bol maag

Bring jou slap voetjie en jou baard wat raak aan jou kraag

Bring jou klein tandjies wat uitsteek net as jy lag

Bring jou hop-knie as jy sit en wag

Bring jou kwaad word as daar geen antwoord is op die foon

Bring jou mooi hart wat almal om jou beloon

Bring jou rugby kyk op ’n Saterdag

Bring jou braaivleis en jou hardop lag

Bring jou bont hemp en jou strepiesdas

Bring jare se Vadersdaggeskenke in die kas

Bring jou blikbeker, bring jou bokkoms, bring jou Disprins, bring jou jas . . .

Bring alles wat jy altyd was en hou my nog net een keer vas

  • Anel Horne se gedig vir haar pa

Het sy bekendheid hulle bevoordeel?

“Ek glo so, al het ons dit dalk nie agtergekom nie,” dink Anel. “Ons het onsself nooit voorgestel as Tolla se kinders of dit tot ons voordeel gebruik nie. Ons doen dit steeds nie.”

As Stellenbosse student is Wicus soms saam met Tolla na optredes. Ongemerk het hy baie ondervinding opgedoen vir sy sangloopbaan.

“Pa het altyd gesê: Jy móét butterflies in jou maag voel voor ’n optrede. Daai keer as jy sonder gesonde stres gaan optree, dán kry jy probleme!”

Wicus het eers vier jaar ná sy pa se dood sy eerste sangkontrak gesluit. “Sodat niemand dink ek probeer in Tolla se voetspore stap nie.”

En toe sterf hul pa. “Dit was slég. Ons het laer getrek op Clanwilliam, die noodsaaklike take vir ’n reuse-begrafnis saam aangepak, mekaar ondersteun.

“En die verskrikking van die mediamense met hul kameras deurgesien, soms met humor. Gelukkig was die persmense bedagsaam en oordeelkundig.”

Wat beskou hulle as die erfenis van hul pa?

“Ons het geleer om ons familie en vriende op te pas. Ons vier kinders is goeie vriende, ekstra close. Ons sorg vir mekaar.

“En sy gesegde wat in ons ingedril is, probeer ons uitleef: ‘Met jou hoed in die hand gaan mens deur die land.’ ”

En waarlik, in elkeen van Tolla se kinders is ook sy nederigheid, geselligheid en humorsin te lees.

As julle nog een ding vir jou pa sou kon sê?

Wicus dink diep. “Wat ek sou wou sê? Ons is oukei, Pa.”

  • Bron: Tolla: Konsert van die lewe (Tania du Toit, LAPA)
Dít was Tolla

Tolla van der Merwe van Clanwilliam (21 Augustus 1943 – 7 Augustus 2000)

Hy is Tertius gedoop, as kind Tersie genoem en aan Suid-Afrikaners beter bekend gewees as Tolla. Reeds sedert sy kinderjare het sy uitsonderlike humorsin hom die middelpunt van pouses en geselskappe gemaak.

In sy blou skooltas, wat skoolmiddae eenkant gegooi en eers weer die volgende oggend opgetel is, het Tolla geskryf: Bag of Troubles. Die Clanwilliam-museum huisves die Tolla-uitstalling met onder meer sy Great Book for Boys.

Wat die boek beskrywend van Tolla as tiener maak, is die reghoekige holte uit die boek gekerf – nommerpas vir ’n pakkie sigarette.

Met al sy buiteskoolse bedrywighede moes Tolla vir ’n tweede jaar matriek doen. Sy sleg voel hieroor is heeljaar verberg met kwinkslae, prettigheid en baie planne.

In die konserwatiewe 60’s het Tolla in sy weermagdae ’n swaeltjie op sy linkervoorarm laat tatoeëer – iets wat sy ma sewe dae lank laat huil het.

Later jare was Tolla spyt oor dié impulsiwiteit.

Wanneer hy en sy spanmaats Kaap toe gery het vir rugbywedstryde, is blind 
dates vooraf vir die Saterdagaande gereël. In ’n era sonder selfone arriveer hulle een aand by die Groote Schuur-hospitaal se verpleegsterstehuis waar die verpleegstertjie in haar uniform in die wind staan en wag. “Werk jy hier of spook jy hier?” wou Tolla skertsend weet.

Die Clanwilliam-manne was onmiddellik hul meisies vir die aand kwyt.

Lief vir sy vriende en vinnige motors en weens sy soms robuuste gedrag, is hy selde as skoonseunmateriaal beskou. Hy het sy rooi MG gebruik om die jong onderwyseressie Marita Bouwer te beïndruk; hy wou haar van haar destydse kêrel afvry. Hulle het lekker op die dansbaan gekliek en hul huweliksgebooie het weldra geloop.

Uiteindelik was hulle 30 jaar getroud.

As opgeleide werktuigkundige het Tolla in Clanwilliam gewerk en later sy pa se garage oorgekoop; ’n plek wat bekend was vir sy netheid en goeie menseverhoudinge, stories en vinnige geselsies. Hier het Tolla met sy fyn waarnemingsvermoë baie materiaal en karakterkennis vir sy optredes versamel.

Tolla en sy staaltjies het in 1988 oornag bekend geword.

Sy unieke stemtoon en prettige demonstrasies, die fyn glimlaggie wanneer hy self sy storie geniet en ’n paar kinkels bywerk, die aardsheid daarvan, het tot sy gewildheid bygedra.

“Ek is rof en onbeskof en maak my broek met ’n geelslang vas”, die kano- en mallemeulestories en “Vannag gaan ons swings vat, Pappa!”, bly kenmerkende Tolla-staaltjies.

Tolla, Koos Meyer, Ollie Viljoen en sy vrou, Estelle, was op 7 Augustus 2000 in ’n ernstige motorongeluk naby Belfast in Mpumalanga. Tolla (57), Estelle en Koos (79) sterf, terwyl Ollie oorleef.

Ná Tolla se dood sê ’n vriend, Jakkie Coetzee: “Om die lewe met Tolla te deel, was soos om iewers heen op ’n hoofpad te reis – hoewel jy selde op die hoofpad gebly het, want daar is voortdurend op die afdraaipaaie afgeneuk. Eers later het ’n mens besef dat dié afdraaipaaie eintlik die hoofroetes was. Om die lewe só met Tolla te kon bekyk en bewandel!”

Meer oor:  Herdenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.