Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
KYK: Ton Vosloo, die ‘vader van Naspers’

Ton Vosloo het sonder ’n pa grootgeword, maar ’n vaderfiguur vir ander geword, ’n man wat al beskryf is as die paterfamilias van die magtige Naspers, skryf Murray La Vita.

Vosloo in die studeerkamer waar hy Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering geskryf het. Foto: Jaco Marais

Die gesprek met Vosloo, wat in 2015 uitgetree het as nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, vind plaas in die Victoriaanse herehuis in die Kaapstadse voorstad Oranjezicht wat hy met sy vrou, Anet, deel.

Die fokus is sy memoire Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, wat pas by Jonathan Ball verskyn het.

Dit is ’n boeiende blik op ’n lewe waarvan bykans ses dekades in die mediawêreld deurgebring is. Maar dit is ook ’n belangrike tydsdokument waarin besin word oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat hy meegemaak het, dikwels van baie naby en as belangrike rolspeler. Hy skryf onder meer oor sy verhouding met Nelson Mandela en die rol wat hy en Naspers se Afrikaanse koerante agter die skerms in die val van PW Botha gespeel het.

Die gesprek begin by sy kinderdae en die dood van sy pa toe hy vyf was en kort daarna ook sy ouer broer.

“Ek het in ’n matriargale familie grootgeword. Ek het nie ’n jagter geword nie; my pa was ’n jagter. Vanoggend was daar ’n onderhoud met die nuwe Nieu-Seelandse premier wat met haar babatjie in die VN gesit het. Sy sê toe die era van die mans wat oor alles besluit, is verby. En sy maak ’n fantastiese goeie saak daarvoor uit dat daar tussen die twee geslagte ’n vennootskap moet ontstaan; dinge moenie gedomineer word deur mans in pakke nie.

“Hier kom ’n nuwe ding dat vroue toenemend ’n baie groter rol in die wêreld gaan speel . . . So vir my is dit eintlik ’n baie interessante wending in die wêreld dat die vrou as ’n vennoot nou na vore kom, en ek as ’n sakeman en redakteur en joernalis dink dit is ten goede vir die mensdom.

“Ek word Saterdag 81 en ek dink nou aan die invloed van my ma in ’n klein gesinnetjie want sy het die seun verloor ná die pa se dood en sy was swanger met Joan en toe was dit net ons drie. In daardie atmosfeer het my ma die toon aangegee wat my beïnvloed het in terme van byvoorbeeld ’n liefde vir lees.”

Vosloo beskryf in Oor grense hoe sy oom Bunny Pienaar hom en sy vyf nefies, kort nadat sy ouer broer, Freddie, aan ’n breingewas gesterf het, na die bioskoop op Uitenhage geneem het vir ’n matinee waar King Kong gewys het.

“Maar droefheid oor my broer oorval my en ek huil deur die fliek. Tot vandag toe het ek nog nooit weer na ’n King Kong-prent gaan kyk nie.”

As redakteur van Beeld wou hy hê hulle moet die 'mampoerdriehoek' laat val.

As kind op Uitenhage was sy “Afrikanergevoelens maar redelik lou”.

“Ons dorp het eers in 1948 Nasionaal geword, so tot dan toe was dit baie Engelsgesind en my ma se vriendekring was ook baie Engelsgesind; my pa was in die oorlog. ’n Mens het eers met Afrikanernasionalisme te doen gekry in die hoërskool.

“Ek het ’n Afrikaans-nasionale koerantman geword, maar ek was nooit ’n vaandeldraer nie. My baie gewaardeerde kollega Alf Ries was ’n baie oortuigde Afrikanernasionalis en ek nié. John Vorster het byvoorbeeld nooit van my gehou nie, hy het gedink ek is te liberaal. Sy groot buddy was Alf; hy kon Alf vertrou. Ek het altyd daardie losser verhouding daarmee [Afrikanernasionalisme] gehad. Die dag toe ons die dagblad Beeld stig, was ons die eerste Afrikaansnasionale koerant vrý van die amptelike partyband; ons was nie ’n spreekbuis vir die party nie. En dit het ons verligtheid natuurlik stukrag gegee.”

As redakteur van Beeld wou hy hê hulle moet die “mampoerdriehoek” laat val.

“Die driehoek was die SAUK onder Piet Meyer, Inligting onder Connie Mulder en Eschel Rhoodie, en Perskor onder Marius Jooste. En die mampoerdriehoek hét geval.”

‘Eensaam, maar selfstandig’

Vosloo langs ’n horlosie wat aan sy pa behoort het. Foto: Jaco Marais

Terwyl Vosloo aan sy memoires geskryf het, het hy afgekom op ’n berig “wat iets weerspieël van my gretigheid om joernalis te word en daarmee tot my reg te kom”.

Dit was ’n verslag van pres. Bill Clinton se huldeblyk op die legendariese bokser Muhammad Ali se roudiens. Clinton sê onder meer: “He decided that not his race nor his place nor the expectation of others, positive or negative or otherwise, would strip from him the power to write his own story.”

Dit het sterk aanklank by hom gevind, skryf Vosloo.

“Dit het my teruggevat na die 17-jarige Ton, eensaam maar selfstandig, wat baie sterk die gevoel in hom gehad het dat hy iets van sy lewe moet maak, wat ook al die berge voor hom.”

Ek pols hom daaroor.

Ek het my as bestuurshoof nie maklik aan selfvoldaanheid oorgegee nie.

“Ek wou nooit die baas word of uitstyg nie, maar ek wou joernalis word en toe ek eers daar kom, wou ek darem net altyd goeie werk doen of werk wat my bevredig, soos politieke beriggewing – dit was vir my ongelooflik. Eers sport en politiek en toe ek nou meer verantwoordelikheid kry . . . Ek het altyd net probeer om so goed te doen as wat ek kan. Ek wou nooit reik na poste nie.

“En, terloops, ek het, tot aan die einde van my voorsitterskap van Naspers, nooit vir ’n pos aansoek gedoen nie. Ek is bevorder omdat mense miskien vertroue in my gehad het.

“Maar daai ding van Ali . . . Toe ek in Johannesburg gewoon het en redakteur van Beeld was, het ek daai Melville-koppies op ’n Sondagmiddag platgeloop. Alleen. Om te dink . . . Hoe kan ons koerant voor kom? Koos van der Merwe, ’n goeie vriend van my en ook ’n joernalis, het altyd gesê: ‘Dis daai vlokkie skuim op die perd se neus wat hom die wedren laat wen.’

“Dit sluit aan by Arthur Christiansen, voormalige redakteur van die Britse Daily Express, wat ek in my boek aanhaal. Hy het gesê: ‘Show me a contented editor and I’ll show you a bad newspaper.’

“Dié uitspraak het ek aan my maspaal as redakteur en ook as bestuurshoof van Naspers gehang. Ek het my as bestuurshoof nie maklik aan selfvoldaanheid oorgegee nie.”

Ton en Koos

Hendrik du Toit, hoof van beleggings van Investec in Londen en ’n nie-uitvoerende direkteur van Naspers, skryf in die voorwoord tot Oor grense:

“Toe Ton Vosloo in 2015 uittree ná 59 jaar se verbintenis met Naspers, het die suksesvolste kombinasie van voorsitter en uitvoerende hoof wat Suid-Afrika nog gesien het, tot ’n einde gekom. Kort ná sy aanstelling as uitvoerende hoof van Nasionale Pers in 1984 – voor die groep se naamsverandering na Naspers in 1998 – het Ton en Koos Bekker se idee vir ’n betaaltelevisiekanaal in SA werklikheid geword [. . . ]

“Ton was nie net ’n uitvoerende hoof wat transformerende talent aangemoedig het nie, maar ook uiteindelik ’n wyse voorsitter wat ’n visioenêre uitvoerende hoof ondersteun het – en sodoende tussen 1984 en 2015 R905 miljard se waarde vir Naspers se aandeelhouers geskep het.”

Vosloo het hoë lof vir Bekker in sy boek. Hy beskryf hom onder meer as briljant en geweldig hardwerkend; ’n talisman en enigma wat ’n “verfynde afgetrokkenheid” handhaaf. Hy staan ’n hoofstuk aan Bekker af: “Koos Bekker, die talisman.”

Hy (Koos Bekker) is uitstekend toegerus wat sy verstand betref en sy insigte en sy kennis en sy agtergrond, selfs op die ouderdom van 31 was hy baie ryper as die meeste kollegas met wie ek te doen gehad het tot in daardie stadium.

Hoekom het die verhouding, die simbiose, tussen hulle so goed gewerk?

“Nommer een: Hy is uitstekend toegerus wat sy verstand betref en sy insigte en sy kennis en sy agtergrond, selfs op die ouderdom van 31 was hy baie ryper as die meeste kollegas met wie ek te doen gehad het tot in daardie stadium. En hy het natuurlik daardie kennis gebring na die projek wat ons aangepak het. Hy het gaan studeer vir ’n M aan Columbia en toe het hy dit raakgesien.

“Ek kon dit snap, maar die punt is toe ons op daardie trajek gaan, het hy my nooit teleurgestel nie met sy insigte en sy werkywer en kennis, en sy vermoë om mense te oorreed. En sy vooruitdenke ook in terme van die Suid-Afrika wat voorgelê het; hy het dit baie meer as ander besef.”

Vosloo het voorgestel dat Bekker hom opvolg as uitvoerende hoof van Naspers toe hy voorsitter van die direksie word.

“En ek kon hom as voorsitter steun, maar hy het nooit ’n ding op sy eie gedoen sonder dat hy nie sy prosesse baie goed deurdink en deurpraat het en sy huiswerk gedoen het nie.”

Paterfamilias van Naspers

“Ek het my as bestuurshoof nie maklik aan selfvoldaanheid oorgegee nie.” Foto: Jaco Marais

Prof. Anton Harber, professor in die joernalistiek aan Wits, het in sy boek Gorilla in the Room: Koos Bekker and the Rise and Rise of Naspers geskryf: “Bekker had made all these moves with Ton Vosloo right behind him . . . But a big part of the credit belongs with Vosloo, the corporate paterfamilias who spotted Bekker at the age of 31 and has backed him ever since, even when things looked dire.”

Hoe voel Vosloo oor die titel paterfamilias?

“Ek dink dit pas in by my hele aanslag toe ek voorsitter geword het. Ek dink ek was nogal ’n redelike voorsitter – jy gee mense kans om hul sê te sê en jy luister na argumente en jy probeer ’n konsensus kry. Wat Koos betref, hy het vrye teuels gehad en hy het dit nooit misbruik nie.

“Hendrik du Toit skryf die verhouding tussen die voorsitter en die uitvoerende hoof is deesdae soms skrynend, die ambisies bots met mekaar. Daar was nooit by my ’n gevoel van enige ambisie wat ek onderdruk of dat ek ’n goeie saak nie laat voortgaan nie. So in daardie opsig was ek miskien dan nou die vaderfiguur.”

Ons praat oor die Chinese maatskappy Tencent, waarvan Naspers ’n groot deel besit en wat ’n enorme bydrae tot die waarde van dié maatskappy lewer; ’n goue gans as’t ware.

“Ja, dit is ’n ongelooflike groot maatskappy en hy sit in ’n mark met 1,5 miljard mense, so dit verdwerg alles wat Naspers gedoen het. Maar ek dink die mark is ’n bietjie wreed op Naspers as jy dink aan alles búite Tencent – die een voorbeeld is MultiChoice wat ontbondel word en daar praat hulle van meer as honderd miljard se waarde. So eintlik is die restant van Naspers se ander besighede meer werd as die gaping van 30% waardes wat jy nou het. Ek dink Bob van Dijk [uitvoerende hoof van Naspers] is besig om dit reg te stel; hy vernou die waardegaping [dat Naspers se aandeelprys nie die waarde van sy onderliggende bates weerspieël nie] deur die ánder bates van Naspers verder uit te bou.”

‘Koerante is verskriklik belangrik’

Hoewel Media24, “eintlik die ou Naspers” wat onder meer uit koerante, tydskrifte en digitale nuuswebwerwe bestaan, deesdae ’n klein deeltjie van Naspers se omset verteenwoordig, is dié maatskappy “verskriklik belangrik” in Suid-Afrika, sê Vosloo.

“Ek dink dit is lewensbelangrik dat jou sterk, onafhanklike joernalistiek uitgebou en behoue moet bly deur middel van al die mediums waarin jy publiseer.”

Vosloo beklemtoon in Oor grense die waarde van spesifiek goeie koerante vir ’n demokrasie en ’n samelewing.

“Die koerant en sy invloed, in watter vorm ook al, met sterk opgeleide, nuuskierige, ondersoekende joernaliste en onverskrokke redakteurs aan die spits, is verskriklik belangrik vir demokrasie en om waardes te behou.

Goeie ondersoekende joernalistiek is absoluut kardinaal en kernbelangrik.

“Ek en Anet is besig met die oprigting van ’n stigting met die naam Waarheid Eerste/Truth First om goeie ondersoekende joernalistiek in stand te hou. Ons het ’n skenking gedoen om dit van stapel te stuur. Ek dink dit is absoluut kardinaal en kernbelangrik.”

Van Dijk het onlangs gesê Media24 is in ’n oorgangsfase van ’n tradisionele mediamaatskappy tot ’n suiwer digitale maatskappy.

Vosloo, die man wat volgens Piet Cillié gevra is om vanweë sy “suksesbeeld” as mede-stigter van Die Beeld, Rapport en Beeld die stuur van die destydse Nasionale Pers oor te neem, het begrip hiervoor, maar sê:

“Ek hoop nie ek beleef daardie dag dat ons samelewing nie meer gedrukte mediums het nie. Ek is maar ’n bietjie outyds in daardie opsig.”

Meer oor:  Naspers  |  Koos Bekker  |  Ton Vosloo  |  Media  |  Koerante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.