Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tracey straal ‘soos iemand wat die son ingesluk het’

Haar sprankelende persoonlikheid het ’n vrou al laat opmerk dat sy soos iemand is wat die son ingesluk het, maar sy dink eerder aan haarself as sement, het Tracey Lange aan Murray La Vita gesê.

Tracey Lange gedurende die onderhoud in Atlantic Studios in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

’n Vrou wat die son ingesluk het – wat ’n gepaste beskrywing vir die mens met die geel jas en stralende glimlag wat hier oorkant my sit.

Ons ontmoet Tracey Lange op ’n grou Kaapse dag in die ateljee buite Kaapstad waar Tussen Ons vervaardig word. Sy is die ankeraanbieder van dié nuwe geselsprogram van kykNET. Zelda la Grange, Kay Karriem, Ingrid Jones en Succes Lekabe bied die program saam met haar aan.

Waarom nog ’n geselsprogram?

“Ek dink in dié geval is dit ’n eerste vir Suid-Afrika want dis ’n groep vroue wat bymekaarkom en ons is uiters uiteenlopend. Almal met baie sterk opinies, of opinies wat baie maklik geswaai kan word,” sê Tracey.

Glo my, daar gáán iemand wees wat namens jou gaan praat. Daar gaan iemand wees wat iets gaan sê wat jý eintlik dink.

“Ekself is iemand wat oor sekere dinge baie sterk opinies het en oor ander dinge kan jy my arm ’n bietjie draai. Ek kan verstaan wat jý sê en ek kan verstaan wat daai een sê, maar dit raak my nou nie eintlik so sterk aan nie. En dít is wat so lekker is.

“So, wat so lekker is, is die verskillende opinies. As iemand na my kyk en dink: ‘Daar is nie ’n káns dat ek met Tracey gaan saamstem nie . . . Glo my, daar gáán iemand wees wat namens jou gaan praat. Daar gaan iemand wees wat iets gaan sê wat jý eintlik dink.

“Dit gaan ook net gemaklik wees. Ons wil seker wees niemand gaan daar inkom met die hoogste hakskoene en ’n aandrok nie,” sê sy laggend. “Jy moet net kan kyk en dink: ‘Ek is oukei met my pajamas by die huis.’ ”

Tussen Ons gaan “vrouekwessies” aanroer.

Die aanbieders van Tussen Ons is van links Ingrid Jones, Tracey Lange, Zelda la Grange, Success Lekabe en Kay Karriem. Foto: Robert A. Hamblin

“Daar is soveel vrouekwessies, ons wil dit so máklik as moontlik vir mense maak om te verstaan waarheen ons gaan en ons verskillende opinies daaroor te hoor. So in die eerste episode gaan ons ’n bietjie kyk na hoekom glo sekere vroue hulle moet opdollie vir werk terwyl mans kan gaan net soos wat hulle wil. Baie vroue glo as hulle dit nie doen nie sal hulle net nie ernstig opgeneem word nie. Moet dit gedoen word? Moet dit nié gedoen word nie? Waar is ons in daardie opsig?

“En dan gaan ons ’n bietjie gesels oor pruike, want pruike word deesdae deur álmal gedra en dikwels is dit nie om mediese redes nie maar omdat iemand net haar haarstyl wil verander.

“Ons gaan pret ook hê! Ons gaan die pruike aanpas. Ons gaan lekker gaste hê; ons het mense soos Amy Kleinhans, Mej. Suid-Afrika (van 1992), Evita Bezuidenhout.

Feminisme is jy wat die keuse het om te kies. Baie vroue het lank nie daardie keuse gehad nie.

“Dan het ons vroue wat op grondvlak ’n verskil maak. Ons het ’n vrou soos Lucinda Evans van Lavender Hill en dan tannie Magda van die Paarl, wat onder meer ’n sopkombuis bedryf.”

Hulle wil met die program “mense se koppe net ’n bietjie meer oor sekere dinge oopmaak”.

Waar pas feminisme in die program in?

“Een van ons onderwerpe is: Wat is ’n fenomenale vrou? Is dit ’n feminis? Is dit ’n vroueregtevegter? Dikwels as jy die woord feminis gebruik, dan is daar mense wat dink dit is ’n lesbiër. So ons wil daardie soort stereotipes afbreek en dinge net ’n bietjie beter verduidelik, want wat is feminisme tog? Feminisme is jy wat die keuse het om te kies. Baie vroue het lank nie daardie keuse gehad nie.”

Sy wou weghardloop

Ons gesels oor haar rol as aanbieder van Dancing with the StarsSA.

“Kyk, live TV is vréésaanjaend! Ek wou party dae weghárdloop nét voor ons live gaan. En dan boonop het ek uit my pad uit gegaan om daai tágtig bladsye teks uit my kop uit te leer, al was auto cue daar . . . Ek is ’n uiters voorbereide mens. Tégniese goed vertrou ek oor die algemeen nie; nie eers my foon nie.” Sy lag. “Ek wil hê as iets verkeerd gaan, móét jy weet jy kan op my staatmaak; al hóéf jy nie, moet jy weet dit is moontlik. Ek hou daarvan om daai sement te wees. Dís eintlik jou werk as aanbieder – jý is die sement tussen ál die ander bakstene. Die bakstene is wat alles goed laat lyk en wat belángrik is en wat eintlik die fondament is, maar die sement moet daar wees om dit bymekaar te hou en dis hoekom ek moet weet jy moet op my kan staatmaak.”

“Wat vir my ook lekker was, was dat baie van daardie sterre uit hul gemaksone was.” .Foto: Jaco Marais

Sy sou die ervaring vir niks verruil nie en indien sy gevra word om in die volgende seisoen weer as aanbieder op te tree, sal sy dit doen.

“Wat vir my ook lekker was, was dat baie van daardie sterre uit hul gemaksones was. So die eerste ruk was hulle baie voorbereid en baie fabulous en baie glamorous, en toe ná daai tweede week al reeds sien jy hoe die emosies uitkom want dis moegheid en dis ’n geval van ‘Ek kan net nie verstaan wat hier aangaan nie. Ek is so goed in wat ek daagliks doen, maar nou skielik gee jy vir my iets anders . . .’ En hulle is almal perfeksioniste. En dít was vir my weer ’n ánder kykie.

“Die mense wat die oopste en die eerlikste was, is die mense wat die meeste stemme gekry het. Hulle het nie ’n duiwel omgegee oor wat mense dink hoe hulle dans nie. Frank Opperman was een van hulle.

Ek sou minstens drie of vier keer per week met álmal van hulle op die foon gesels. Net om te hoor hoe gaan die rehearsals. En dan huil hulle.

“Dit het my oë oopgemaak . . . En hoe hulle iemand wou hê wat net kan luister. Ek sou minstens drie of vier keer per week met álmal van hulle op die foon gesels. Net om te hoor hoe gaan die rehearsals. En dan huil hulle.”

Dit het haar laat besef dit is hoe mense in die algemeen is – hulle het dikwels net iemand nodig wat luister en wat rêrig belang stel.

“Maar dan kom ek by Frank uit . . . Kyk, en dan vloek Frank van die oomblik wat ek die foon optel tot hy bye sê. En dan sê hy ook vir my: ‘Haai, Tracey, ek is nou so jammer, maar weet jy, dis nou maar een van daai dinge. Maar oukei, ek is orraait, dankie dat jy gevra het.’ ”

Sy lag weer uit haar maag uit.

‘Oppas vir dié man!’

Tracey het naam gemaak as die Bravo!-aanbieder op kykNET en as radio-omroeper. Sy het haar onlangs weer by Kfm aangesluit om die tydgleuf van 09:00 tot 12:00 aan te bied.

Tracey Lange saam met Chris Jaftha, haar mede-aanbieder van Dancing with the Stars SA. Foto: Sean Brand

Ek vra haar uit oor haar aanvanklike blootstelling aan die vermaakwêreld by Bravo!

“Ek gaan nou David Kramer as ’n voorbeeld gebruik. Ons het almal met David Kramer grootgeword. En ek kom daar vir die onderhoud en hulle almal sê vir my: ‘Tracey, oppas net, dié man kan baie, baie moeilik wees.’ En nou dink ek: O, Griet!

“Oor die algemeen is ek uiters goed voorberei as dit kom by onderhoude, maar as iemand mos nou vir jou so iets sê, is jy op jou senuwees. En ek stap in en hy was presies soos wat ek gedink het. Ek het nie iemand verwag wat heeltemal uit sy dop is en net lekker wil gesels nie. Hy sit toe daar in ’n hoek met sy kitaar en hy praat met niemand nie. En toe begin ons onderhoud en terwyl ons sit, toe sê ek net vir hom [In ’n sagte stem]: ‘David, ek moet net vir jou sê ek is só bang vir dié onderhoud.’ Toe vra hy vir my: ‘Hoekom?’ Toe sê ek vir hom: ‘My ouers is sulke groot fans, as ek dit opmors, word ek afgeskryf.’”

Sy bars uit van die lag.

Jy sien dit wat ons almal sien op die televisie en wat ons hoor en sien in konserte, maar dan sien jy ook die mens ágter dit; die mens wat jy weet daar is, maar nie altyd sien nie.

“En, weet jy, hy het begin bloos en toe lag hy; en toe kry ons hierdie wonderlike onderhoud uit hom uit. Maar toe sien ons hom in aksie op die verhoog en hóé hy die regie van Kat and the Kings behartig.

“En ek verstaan dit; ek dink mense soos hy raak moeilik, as iemand soos hy nou sit in ’n hoek en hy is op sy kitaar. Ons móét verstaan hy operate op ’n ander level; hy is net op ’n ander vlak. Kreatiewe mense oor die algemeen dink net op ’n ander manier en baiekeer wíl hulle net nie gesels nie en voel: ‘Moenie my tyd mors met goed nie! Ek wil net hier wees en ek wil net vóél; laat my net toe om dít te doen.’

“Ek het verskriklik baie respek daarvoor. So, dít was vir my wonderlik om dít te kan sien. Dis lekker om hulle in aksie te sien en nou kom jy daar en dan sit jy en jy doen pérsóónlike onderhoude.

“Ek het vir Pieter-Dirk Uys gevra: ‘Hoevéél kan ek jou vra oor jou familie? Waarmee is jy gemaklik?’ En hy draai na my en hy kyk na my en sê: ‘Tracey, ek weet ek kan jou vertrou; gaan net waar jy wil.’

“Dis dáárdie oomblikke! Jy sien hulle in aksie. Jy sien dit wat ons almal sien op die televisie en wat ons hoor en sien in konserte, maar dan sien jy ook die mens ágter dit; die mens wat jy weet daar is, maar nie altyd sien nie. Dit was dít wat ek die meeste geniet het.”

‘Jy moet soos ’n dame lag’

Hoe hanteer sy as openbare figuur kritiek op sosiale media?

“Ek is die laaste ruk so besig dat ek nie týd het om daaroor te tob nie. Maar daar was ’n tyd, so ’n paar jaar terug, toe ek net in die bedryf begin het . . . Party mense kla verskriklik oor hoe ek lag, maar my lag is nie iets wat ek beheer nie. Nou sê hulle vir my: ‘Jy móét dit verander! Jy moet soos ’n dáme lag.’ Maar as ek nou soos ’n dame gaan lag – hoe dit ook al mag wees – dan is ek mos eintlik vals.

“My lag klink miskien geforseerd, maar dit is nie. Dit is ’n baie natuurlike ding. Dit ís nou hard . . . Dis uit my maag uit. Maar ek dink ek vind oor die algemeen baie goed om oor gelukkig te wees.

Daar was een keer op Bravo! se Facebook-blad iemand wat gesê het hulle moet rêrig vir Tracey beter klere aantrek want sy’s heeltemal te vet vir die klere wat sy dra.

“Deesdae as iemand wel iets sê, is dit tog vir my lekker om hulle te antwoord. En ek het begin besef as jy hulle antwoord op sosiale media is dit asof hulle skrik want hulle dink om een of ander rede ek kan dit nie sien nie. En dis asof hulle hulle boeglam skrik wanneer ek reageer.

“Toe ek Dancing with the Stars gedoen het, het iemand op Twitter gesê: ‘Og! Ek hoop net haar rok is baie mooier as dié een!’ En toe antwoord ek en ek sê vir hom: ‘Ai, weet jy, ons het mos almal verskillende smake, maar ek hoop jy hou van hiérdie week se rok – dít gaan ’n prágtige blou wees!’ Dit het hom drie dae gevat om te antwoord en toe sê hy: ‘Maar ek moet tog vir jou sê, ek is mal oor jóú.’ En die volgende oomblik toe follow hy my en toe’s dit nog konstant: ‘Ek is mál oor jou.’ Hy twiet my nóú nog en Dancing with the Stars is al máánde klaar.

“Daar was een keer op Bravo! se Facebook-blad iemand wat gesê het hulle moet rêrig vir Tracey beter klere aantrek want sy’s heeltemal te vet vir die klere wat sy dra. en toe antwoord ek net: ‘My ma gaan so bly wees om dít te hoor want sy bly kla dat ek gewig moet optel.’ En toe sê ek: ‘Ag, weet jy, ek weeg maar net soveel, maar baie dankie, dis altyd lekker om van jou te hoor.’

“Die volgende oomblik kom dié reaksie: ‘Maar, Tracey, ek moet vir jou sê jy is ’n wonderlike mens, maar dis snaaks, jy lyk soveel gróter op die televisie.’

“Ek vat hulle nooit aan nie, ek maak hulle net daarvan bewus dat die persoon van wie hulle praat, kán dit ook sien.”

‘Jy is te verantwoordelik’

“My lag klink miskien geforseerd, maar dit is nie. Dit is ’n baie natuurlike ding.” Foto: Jaco Marais

Terwyl Tracey besig was met haar LLB.-graad het ’n baas vir haar gesê sy “gaan haar persoonlikheid mors” in ’n regsberoep.

“Sy naam was Warwick Chester, ’n eiendomsontwikkelaar vir wie ek gewerk het. Hy het dikwels vir my gesê: ‘Tracey, jy’s heeltemal te verantwoordelik.’ Dan sê ek vir hom: ‘Warrick, dis die lewe. Ons kan nie net deur die lewe gaan en nie ’n duiwel omgee nie.’ Dan sê hy: ‘Ja, ek verstaan wat jy vir my sê, maar jy is té verantwoordelik. Jy doen alles net té reg. Jy’s te jonk om heeltemal só verantwoordelik te wees. Jou persoonlikheid gaan jy mors. Hou óp om net te wil veilig wees.’ Dit was die beste raad nog,” sê sy.

Hoewel sy toe nie haar graad voltooi het nie, het sy wel die werk geniet.

“Daar is vir my niks so lekker soos kliënte wat wegstap met ’n groot smile op hul gesigte nie en hulle onthou mý naam want ek het dit vir hulle uitgesorteer. Dít was vir my lekker – as ek dit vir jou kan uitsorteer en net vir jou laat beter voel daarná.”

Tracey se droom is om iewers in die toekoms deel te wees van ’n 'groot media powerhouse wat nie tot die negatiwiteit van die wêreld bydra nie'.

Dit was in hierdie konteks dat ’n klant, wat so beïndruk was met die vriendelike en geesdriftige wyse waarop sy haar van haar taak gekwyt het, vir haar gesê het: “Jy herinner my aan iemand wat die son ingesluk het.”

Tracey se droom is om iewers in die toekoms deel te wees van ’n "groot media powerhouse wat nie tot die negatiwiteit van die wêreld bydra nie”.

“Dit kan radio en televisie en ander mediums insluit, en ek wil kan uitsaai in Europa en Londen en Australië en Suid-Amerika . . . Ek stel nie belang in Amerika nie.

“Dís wat ek wil hê! En dan moet ek met alles wat ek doen nóg meer deure vir mense kan oopmaak, mense wat ek weet uitstékend is in hul werk.

“Miskien klink dit uiters verwaand, maar ek wíl dit so graag hê. Dat ander kan kyk en sê: ‘Ek kan nóg groter droom! My droom is heeltemal te klein!’”

* Tussen Ons is elke Donderdag om 20:00 op kykNET&kie te sien.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Zelda La Grange  |  Tracey Lange  |  Feminisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.