Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tuin en koerant vul sy dag

Deesdae is dié voormalige fotoboekie-akteur ’n afgetredene in Parys en ken Beeld-lesers Johan Strydom as ’n gereelde – en dikwels aweregse – brief- en SMS-skrywer. Dit is nogal Joan Carter, 1966 se Mej. Suid-Afrika, wat destyds vir R50 ’n naweek saam met hom in fotoverhale gespeel het. Barnard Beukman, redakteur van Beeld, het by die Strydoms gaan inloer vir dié aflewering van My wêreld: Lesers vertel.

Johan StrydomFoto: BARNARD BEUKMAN

Vir diegene wat op grond van sy standpunte ’n tipies konserwatiewe plattelandse omie verwag het, sal die amperse kunssinnige en nou spierwit poniestert sekerlik onverhoeds betrap. “En hoe lank is joune,” sal poniestertooms vra as hulle mekaar raakloop, korswel Johan Strydom.

Hul vorige woonplek, vanwaar Strydom ingery het Sandton toe om te werk, was Hartbeespoort. Maar dit was te warm daar vir aftrede. Parys is ’n baie lekker plek om in te bly, die klimaat is beter en die mense “ongelooflik vriendelik”. “Dit is wit en swart, almal knoop graag ’n geselsie aan,” voeg Hazel, vroulief van 40 jaar, by.

“Is maar net die afgelope twee jaar wat dit warmer is in Parys ook”, sê sy op die snikhete Dinsdagmiddag met die waaier wat in die dorpshuis se sitkamer aangeskakel is. Gelukkig het die Strydoms se eenheid sy eie swembad waarin Johan tot vier keer ’n dag afkoel.

Benewens tuinwerk – daar lê spesiale matte buite die voordeur waarop hy sy voete ná tuinwerk moet afvee – is koerantlees ’n belangrike deel van Johan se dag. Met Beeld, wat hy soggens gaan koop, gaan sit hy dan in sy stoel en lees. En word soms kwaad ook: “Julle sien mos van my SMS’e. Dis maar daarom ook goed ek is nie op sosiale media nie.”

Strydom as fotoboekie-akteur saam met Joan Carter.

Terwyl hy koerant lees, kyk Hazel van haar gunsteling- opgeneemde programme, soos Binnelanders, waarna Johan nie saans wil kyk nie.

“Dinge lyk strate beter onder Cyril Ramaphosa as onder Jacob Zuma, maar ’n mens is bekommerd oor die gevolge van die verdeeldheid in die ANC en oor die kinders en kleinkinders se toekoms,” sê Johan.

Hy en Hazel spog al met ’n agterkleinkind en daar is onder andere drie kleindogters in Australië. Hulle het drie kinders uit haar vorige huwelik. Johan en Hazel het as geskeides ontmoet, maar die kinders is so goed soos sy eie.

Uit die koerante knip hy en liasseer artikels waarmee hy saamstem en verskil. Daar is ook leggers van verskeie Afrikaanse redakteurs, onder wie Waldimar Pelser, Adriaan Basson en ja, Barnard Beukman.

Dit is nie al wat hy hou of “opgaar”, om Hazel se woord te gebruik, nie. Letterlik alles. Dié eienskap het hy by sy ma geërf onder wie se goed hy ná haar dood van sy eie liefdesbriefies op laerskool gekry het. Elke denkbare sertifikaat, brief, foto of dokument hét hy en pak dit een vir een uit.

Een item waaroor hy sigbaar gloei van trots is sy 1959-matriekbaadjie van die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth – met die leerlingraadwapentjie en al. ’n Prestasie, want hy het brandarm grootgeword en hulle moes tevrede wees met ’n blyplekkie in die bruin woonbuurt Korsten.

Ook sy uniform as assistent-veldkoronet in die burgermag word gewys.

Ná matriek het hy ’n werk gekry in Port Elizabeth se landdroskantoor en later staatsaanklaer geword terwyl hy regte deur Damelin gestudeer het. In dié hoedanigheid het hy ook in Germiston en Edenvale gewerk.

Die boekie vir die spesiale geleent-heid destyds vir John Vorster.

Daarna is hy in die kredietfinansiering van die motorbedryf en het homself opgewerk tot aandeelhouer, vennoot en direksielid van verskeie maatskappye.

Hy was in sy dae ook die Na­sionale Party se kiesafdeling­sekretaris in Langlaagte. Daar het hulle vir John Vorster, destydse premier, ’n groot geleentheid gehou. En hulle is saam met S.P. Barnard, destydse LP, oor na die Konserwatiewe Party agter Andries Treurnicht aan.

Ná die onderhoud dring hulle daarop aan dat daar agter hulle aangery word na die plaaslike gholfklub vir ’n glasie wyn. Op pad na die klub – wat baan en al op een van die Vaalrivier se grootste eilande lê – sien ’n mens hul aanspraak dat Parys se woonbuurte nog netjies is, is waar. Al ry ’n mens koes-koes vir gate in die pad. Volgens hulle is dit in die nywerheidsgebied waar dit ene papiere is.

En met die wegry later begin ’n mens wonder wat ’n mens gaan uitlaat oor dié interessante karakter waaroor ’n mens bladsye vol sou kon skryf . . .

Meer oor:  Beeld  |  Parys  |  Profiel  |  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.