Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tweede kans vir ’n Afrikaanse ikoon

Elmari Rautenbach praat met Murray La Vita oor ’n opwindende gebeurtenis in die Afrikaanse joernalistiek; iets wat haar aan die fliek Bohemian Rhapsody herinner.

Elmari Rautenbach in die sitkamer in haar huis met die herrese Insig in haar arms. Foto: Jaco Marais

Die gesprek met Elmari is een oor tweede kanse.

Sy het haar wit tekkies uitgeskop en sit met haar bene onder haar ingetrek op ’n stoel in die sitkamer van die lieflike Victoriaanse huis wat sy met haar man, Frans, in die Kaapse voorstad Kenilworth deel.

Die huis spreek van verfyndheid: ’n wonderlike kunsversameling, blomme oral, aantreklike meubels. En natuurlik boeke.

Die versugting is dat Insig kan voortleef afhangend van hoe dié uitgawe verkoop – hetsy jaarliks of sesmaandeliks.

Elmari is sinoniem met van die keurigste joernalistiek wat in die afgelope dekades in Afrikaans verskyn het. En met die wêreld van die letterkunde wat sy in haar talle poste as boekeredakteur van koerante en tydskrifte – en as huidige hoof van die Woordfees se Skrywersfees – laat floreer het.

Die tweede kans wat ter sprake is, is die herlewing van die – nou amper ikoniese – tydskrif Insig, waarvan sy een van die redakteurs was. Dit het pas weer die lig gesien as ’n “reünie”-uitgawe; ’n “pop-up”.

Sy en ’n Gideonsbende het gestalte gegee aan die droom van Minette Ferreira, hoof van Media24 se gedrukte leefstylpublikasies: “Ek sien ’n fantástiese, lieflike, mooi, dík Insig wat sê: Dít is waaroor hierdie tydskrif gaan.” En oor die visie van Charl Edwards, die nuwe Insig se jong kunshoof, van ’n tydskrif “wat tegelykertyd tydig én tydloos” is.

Die reünie-uitgawe van Insig.

“Die versugting is dat Insig kan voortleef afhangend van hoe dié uitgawe verkoop – hetsy jaarliks of sesmaandeliks – maar as dit ’n beeldskone verskyn en verdwyn is, is ek steeds verskríklik bly dat ek die kans gekry het,” sê Elmari.

“Ek skryf in my redakteursbrief oor tweede kanse; ek kon nie help nie, dit het die hele tyd in my kop gebly . . . Ek het gedink: Hoekom stroom die mense so na die rolprent Bohemian Rhapsody toe? Hoekom voel jy so góéd as jy dit sien? Dit het gegaan oor ’n tweede kans.

“Queen het gedink hulle is oor die muur – al die jonger mense kom op; Freddy [Mercury] het ’n solo-album uitgehad wat blykbaar nie baie goed verkoop het nie en hulle kry hierdie uitnodiging [na die Live Aid-konsert in 1985].

“En hy sê dis nie die liefdadigheid wat gemaak het dat hy ja gesê het nie, dit was tróts; trots op die feit dat hy eintlik gevra word vir hierdie ding. En toe sê hulle ook in hierdie Rolling Stone-artikel dat anders as die meeste van hulle peers, het hulle die opdrag baie ernstig opgeneem.

Nou het jy ’n twééde kans; ’n tweede kans om te doen waarop jy trots is, maar nóg beter.

“En hulle het drie dae lank áánmekaar – dág en nág – gerepeteer. En hulle was ábsoluut voorbereid; hulle moes 20 minute optree en hulle het 21 minute opgetree. Almal het gedink Queen gaan vra vir die afsluitingstydgleuf, maar toe vra hulle vir 18:41, vroegaand.

“En hulle het daar ópgestap en hulle was súper-gerehearse; hulle het presiés geweet wat hulle moet doen . . . 72 000 mense was op hulle voete! 1,4 miljárd mense wat regstreeks ingeskakel was! En toe hulle by hul kleedkamer kom, het Elton John blykbaar vir hulle gewag, sy arms oopgegooi en gesê: ‘You bastards! You stole the show!’

“En toe sê ek dít is vir my wat Insig is. Dis daai kans . . . Jy wéét jy’t iets goeds gedoen, maar nou het jy ’n twééde kans; ’n tweede kans om te doen waarop jy trots is, maar nóg beter.

“En vir my spesifiek met hierdie een was die feit dat ek dit met jónger mense kon doen – ’n jóng span en báie jong medewerkers.”

‘Maar hoekom?’

“Jy wéét jy’t iets goeds gedoen, maar nou het jy ’n twééde kans; ’n tweede kans om te doen waarop jy trots is, maar nóg beter.” Foto: Jaco Marais

Die tweede kans het gekom toe Elmari verlede jaar ’n oproep van Minette ontvang het.

“Sy het gesê sy wil graag met my praat oor ’n interessante projek. Toe sy sê sy wil hê ek moet Insig laat herleef, het my mond oopgehang. My eerste vraag aan haar was: ‘Maar hoekom?’ Dit is in 2007 toegemaak. My pa [oud-joernalis en uitgewer Danie van Niekerk] se reaksie was ook: Hoekom iets laat herleef wat 12 jaar gelede toegemaak is?

“Ons het toe so breedweg begin praat en toe het sy gesê sedert Insig toegemaak het, het mense bly vra: ‘Wat het van Insig geword? Kan Insig nie terugkom nie? Wil julle nie Insig laat herleef nie?’

“Sy sê sy het skielik begin kyk na die tydskrif-landskap en gedink: Iets is besig om te verander. Nistydskrifte, en veral mooi tydskrifte wat ’n taktiele ervaring is, is besig om beter te vaar.

“Haar idee was die beste van wat Insig gehad het. Ek het toe gedink daar gaan nóú so baie aan; daar is soveel druk op Afrikaanse joernalistiek . . . Dit sou dus onregverdig wees om jongmense nie ’n kans te gee om te wys hoe goed hulle kán skryf nie; om aan hulle vrye teuels te gee soos destyds met Insig: Skrýf so lank as wat die storie is en skryf in die styl wat jy wil.

Insig het in 1987 begin; daai tyd was dit ’n Newsweek-tipe kloon, so ’n nuuserige tydskrif. Ek het deel geword van daardie tydskrif in Willem Wepener se tyd. Ek het klaargemaak by Kalender [Beeld se destydse kuns-en-vermaakbylae]; ek het my tweede kind gekry – ek het mos drie kinders in drie jaar gehad – en toe sê hy vir my: ‘Kom Insig toe; ek wil hê Insig moet ’n boekebylae hê.’ Dis weird – by elke tydskrif waar ek nog was, was ek eers die boekeredakteur.

“Rondom 1999 het Insig onder Irna van Zyl begin verander in ’n leefstyltydskrif. Toe besluit ons: Oukei 1999 tot 2019 – 20 jaar; so ons kyk na ’n leefstyl-Insig.”

Waar begin jy?

“Hoe meer ons stories begin identifiseer het uit die verlede uit wat ons wil gebruik, hoe meer het ons gedink aan stories wat onmíddellik daarby aansluit.” Foto: Jaco Marais

“Dis gaaf, nou het jy so ’n idee, maar waar begin jy nou; want nou’s ek op my eie en ek sit met Woordfees.”

Sy het begin praat met mense soos Jo Prins, Jean Meiring, Loftus Marais, Annie Olivier, Bibi Slippers, Gielie Hoffmann, Ivor Price, Heindrich Wyngaard en Toast Coetzer.

“So ek het probeer om by daai thirty- en fourty-somethings te hoor wat dink hulle van Insig wat weer begin. En hulle het ontséttende lekker idees gegee.

“Iets wat iemand soos Gielie byvoorbeeld gesê het, het my nogal baie moed gegee. Hy het gesê jongmense van sy ouderdom, daai begin-dertigs, jong professionele, het goeie werke en het waarskynlik nog nie kinders nie en hulle is bereid om geld uit te gee op goeie gehalte.

As iemand vir Elmari sê Insig, dan onthou sy Frederik van Zyl Slabbert.

“Soos ek met die jongmense begin praat het, het al meer . . . Die eerste ding wat Gielie sê is: ‘Ek onthou ek was ’n seun op die plaas; ek was in gr. 10; my ma het gesê ek kan iets kry vir my verjaardag, ek het gesê: Assebliéf, teken my in op Insig.

“En hy sê hy het élke maand gesit en wag dat sy ma van die dorp af kom met sy nuwe Insig wat op die dorp in die posbus afgelewer is.

“Antoinette Louw stuur vir my ’n boodskap op Facebook: ‘Wát?! Ek hoor Insig begin! Ek was ’n skoolkind toe ek my eerste storie vir Insig geskryf het. Jean Meiring sê hy onthou toe hy sy eerste kortverhaal geskryf het vir Insig. Danie Langner van die FAK sê vir my sy pa het vir hulle ingeskryf op Insig en elke maand die tydskrif gebring en hulle drie seuns moes elkeen een artikel lees en dit met hom bespreek.

“So, sulke stories het begin inkom.” Sy klap haar vingers. Begin al vinniger praat. “Ivor Price. Jonk. Skoolseun. Student. Insig ontdek en gedink: ‘Liewe hél! Ek kan nie glo soiets bestaan in Afrikaans nie!’ Dis sulke absoluut héérlike stories.”

’n Faks van Van

“En toe hulle by hul kleedkamer kom, het Elton John blykbaar vir hulle gewag, sy arms oopgegooi en gesê: ‘You bastards! You stole the show!’ ” Foto: Jaco Marais

As iemand vir Elmari sê Insig, dan onthou sy Frederik van Zyl Slabbert.

“Ek bel hom en sê: ‘Asseblief! Asseblief! Skryf vir ons iets oor Dakar; dis ons 200ste uitgawe, ons moet iets besonders hê.’

Van Zyl sê: ‘Jissie, ek weet nie, ek is op pad Londen toe.’

“I kid you not!

"Omtrent so 24 uur later, miskien ’n bietjie langer, kom een van die meisies aangehardloop en sê vir my ’n faks is besig om vir my deur te kom . . . Kom daai faks so deur – lánghand, in pen geskryf op die vlug oor Afrika Londen toe.

"Hy faks dit vir my van Londen af – bládsy ná bládsy ná bládsy kom hierdie storie deur. Ábsoluut, ábsolute persoonlike storie, waarin hy sê: ‘Ek en Breyten speel spioen-spioen. Hy’s daar; ek’s hier, dan wil hy vir my sê George Soros se geld is in en Mitterand se geld is in, dan stuur hy vir my ’n telegram en sê: ‘Die blomme is in die blompot.’”

Sy lag uitbundig.

“Jy kan dit nie opmaak nie!”

Sy onthou ’n gesprek met die oud-uitgewer Frederik de Jager.

“Toe sê ek vir hom: ‘Jy’t eendag gepraat oor as ’n mens jou tweede en derde kindertyd verloor; as ’n mens jou onskuld verloor.’ En ons praat toe oor hoe om ouer te word ’n proses is waardeur jy jou onskuld verloor.

Ons kom agter hoe relevant baie van die vorige skrywes was; watter brûe na die nuwes gebou word oor ras heen.

“En ek vra hom: ‘Wil jy nie vir my iets daaroor skryf nie?’ En hy skryf hierdie óngelooflike besinning oor ons kindertyd wat deur al hierdie goed soos staatskaping van ons weggevat word.

“En dít is waar die vonk begin het vir die nuwe Insig. Hoe meer ons stories begin identifiseer het uit die verlede uit wat ons wil gebruik, hoe meer het ons gedink aan stories wat onmíddellik daarby aansluit.”

Sy skryf in haar redakteursbrief: “Ons kom agter hoe relevant baie van die vorige skrywes was; watter brûe na die nuwes gebou word oor ras heen, oor kleurgrense, generasies, selfs landsgrense.” En: “ . . . die stukkende pa tóé en vandag se stukkende mans; Brett Kebble destyds en staatskaping en Steinhoff vandag.”

Breyten vertel eksklusief

Waarna lesers kan uitsien
*Die vlieënde Oscar (argief); Stil broers, daar gaan ’n man verby (argief, en nuut).
Die “toksiese” plek waarin so baie mans hulle vandag bevind, word ondersoek met op die agtergrond twee stemme van destyds: Oscar Pistorius as ’n oopgesig matriekseun, en Fred van der Vyver se pa, wat ondanks ’n moordklag teen sy seun sy hande tot die been toe sou baklei vir hom. ­- Christine van Deemter (2005)  en Karin Brynard (2005, en nuut).
*Meisies, ma’s & #MeTooPowerpuffs en pentagrams (nuut); ’n Brief aan Finn vir wanneer sy 20 word (nuut). 
Twee jong ma’s, wat albei hul eie ma verloor het, verwonder hulle aan hul dogters en die lesse wat hulle vandag by dié meisies leer.  – Ronelda S. Kamfer en Jackie Nagtegaal

 

Elmari het aan die begin van ons gesprek die bladproewe van die nuwe Insig gaan haal: Twee dik bundels blaaie in plastiekskedes; blaaie waarop wonderskoon en elegant uitgelê is boeiende onderhoude, ondersoeke, rubrieke, essays en besinnings – sommige uit die argief, sommige nuut en eksklusief, soos Breyten Breytenbach wat sy weergawe van sy geheime vrylating uit Pollsmoor “en sy vreemde reise in die daaropvolgende 48 uur” deel. Ook ’n 32-blad-fiksiebylae wat die werk van talle van die opwindende nuwe stemme in Afrikaans insluit. En die jong ster Schalk Bezuidenhout, wat van die voorblad af vir ons kyk.

Nadat ons deur die tydskrif geblaai het, het Elmari dit nog ’n rukkie op haar skoot vasgehou en dit toe, asof teësinnig, op die houtvloer langs haar stoel neergesit.

* Insig is nou in supermarkte teen R160 te koop.

Die storie van Hannelie

'n Storie wat Elmari na aan die hart lê, is die een waarin die joernalis Hannelie Booyens geskryf het oor haar diagnose met motorneuronsiekte. 

“Ek het vir jou vertel hoe ou stories 'n vonk was vir nuwes. Die vonk hier was 'n ou storie wat MC Botha 13 jaar gelede geskryf het  - hoe hy deur die Karoo ry en op die ingewing van die oomblik besluit om in te ry in Trompsburg in en te kyk of hy Karel Schoeman kan opspoor. Al wat hy kon vind, was gerugte. Bure wat (rokend) vertel hoe hy sigaretrook haat, die dorp se bibmeisie wat bloos en sê sy weet nie waar hy woon nie, iemand wat vertel hy het hom een keer deur 'n venster in sy huis gesien het met sy voete op die lessenaar . . .

“Die nuwe storie wat hierby gepas het, is deur Willem Landman geskryf oor bystandsdood en die twee belangrike hofsake wat vanjaar plaasvind. En toe bel Hannelie. En ek vra of sy kans sien om te skryf oor die aanloop tot, die aanhoor van en haar lewe met so 'n diagnose - dieselfde siekte waaraan een van die mense gely het wat - na bewering - deur Dignity SA se prof Sean Davison "vermoor" is (die hofsaak hervat vanjaar), en dieselfde siekte waaraan een van die mense ly wat die aansoek bring op die reg om wettiglik met selfdood bygestaan te word. In albei gevalle was en is die mense se wens om te kan sterf, terwyl al wat Hannelie wil doen, is om "voluit" te lewe.

Belangriker, ons wou van die begin af iets vir haar terugdoen. Toe skakel ek met haar sus Susan (met Hannelie en Susan kom ek al vele, vele jare saam) en sy vertel 'n baie goeie vriendin van Hannelie speel met dieselfde idee. En toe span ons kragte saam - Anina Warricker ('n prokureur) en haar man ('n belastingekspert) het 'n trust vir Hannelie begin waarvan ons die besonderhede in Insig publiseer sodat as mense wil hulle kan bydra tot haar toekomstige mediese koste . Dat ons dit kon doen met hierdie tydskrif is iets waarop ek baie, baie trots is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.