Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Uitsigloosheid van ’n lewe op straat

Ná die reeks moorde op haweloses in Pretoria het Jo Prins met ’n man sonder heenkome gesels om meer uit te vind van die uitsigloosheid van ’n lewe op straat.

Thabo Makae op sy krukke by die kruising waar hy daagliks ’n bestaan probeer maak deur by motoriste te bedel. Foto: Felix Dlangamandla

Dis snerpend koud in Johannesburg.

Wanneer die kwik by tye tot hier by 3 °C, 4 °C daal, kan jy jouself maar regmaak dat die Hoëveld die stad vir die volgende maand of wat in haar ysige witblouvars-greep gaan vasklem.

Op die sypaadjie in Mainstraat, Melville, vlak voor die eens ikoniese Roxy’s Rhythm Bar lê ’n paar hopies styf teen mekaar ingewikkel.

Een van daardie hopies is Thabo Makae (27) en dan langs hom gewoonlik sy jonger broer, “Seun”, en dan van die ander uitverkorenes wat in dié warmte mag deel.

Eers ’n laag of wat karton om die ergste koue van onder uit jou niere te hou, en dan laag op laag komberse en hoop dat daar nie wind is nie. Gelukkig is reën dié tyd van die jaar nie veel van ’n probleem nie.

’n Hawelose man slaap op ’n sypaadjie in Melville. Foto: Felix Dlangamandla

Daar is ánder dinge ook, ja, wat Thabo-hulle teen die koue (en soms die verveling) neem, maar vir dié jong man is dit selde meer as ’n dampie dagga of twee.

By die sirkel voor Mays Apteek oorkant die Spar in Melville het Thabo die laaste sowat agt jaar ’n instelling geword: hy’s die kêrel met die motorfietshandskoene en krukke wat hop-hop tussen die karre rondloop en bedel.

Kyk jy mooi, sal jy sien Thabo se linkerbeen is net-net onder die knie morsaf . . . ’n ongeluk wat sy koms na die groot stad, Johannesburg, vir hom met trompetgeskal aangekondig het.

“Big man,” groet Thabo my as ek hom dan en wan iets gee, maar dis gewoonlik hier Desember-rond wanneer ek hom ’n blou Mandela of twee in die hand stop.

Ons ooreenkoms in die stille, blyk dit in die volgende maande en jare, is dat Thabo die ander bedelaars van my motor af weghou en in ruil daarvoor kry hy jaarliks ’n “bonus”.

Só het dit gekom dat ons twee met mekaar praat . . . . ek sal Thabo iets gee, ons praat twee woorde, dan hop die ou verder aan.

Hoe Thabo op straat beland het

“Dis verskriklik moeilik op die straat,” sê Thabo Makae. Foto: Felix Dlangamandla

Maar hoe op aarde het dit gekom dat dié vriendelike jong man op die straat beland het? Iemand met op die oog af potensiaal – die been ten spyt – om méér te wees as ’n armoede-statistiek?

Dié keer kom Thabo se “big man” wanneer ek hom een oggend oplaai vir ons onderhoud wat ek die vorige dag met hom vasgemaak het.

Wanneer hy effe verleë aan die passasierskant van die kar insukkel, kom daar ’n walm van die nag saam met hom. Konkavuur en van daardie ander dinge wat hom warm hou, dink ek.

Haweloses in Johannesburg

Volgens die Johannesburg Homeless Network is daar tussen 8 000 en 20 000 haweloses in die stad (uit ’n bevolking van vier miljoen).

Wat sake verder bemoeilik is dat daar maandeliks by die 3 000 mense vanuit die platteland en ander Afrika-lande die stad binnestroom op soek na ’n beter lewe.

Hoewel heelwat kerke, sopkombuise en skuilings broodnodige hulp bied, blyk dit dat amptelike beleid en hulpbronne ver te kort skiet.

Waar heelwat inwoners en sakeondernemings probeer wal gooi teen haweloses en die potensiële (misdaad)gevaar wat hulle inhou, word dikwels vergeet dat dit juis dié mense is wat ons “wastepreneurs” is – die mense wat die informele herwinning doen.

By Reserved Cafe, een van die min plekke wat vroegdag oop is by Melville se 27 Boxes, val ek en Thabo in vir koffie.

Terwyl ons vir Felix Dlangamandla, die fotograaf, wag, begin Thabo solank suiker in sy koffie laai, by vyf hou ek op met tel.

Dan vra ek hom: Hoe het dit gebeur? Hoe het hy op die straat beland?

“Dit was hier in Desember rond in 2011 toe ek met die trein uit Sebokeng in Johannesburg aangekom het, toe hulle my van die trein afgestoot het,” verduidelik ’n koponderstebo Thabo oor sy groot aankoms in die stad van melk en heuning.

Voor dit, as 19-jarige, het hy fisiek niks makeer nie, en is hy met groot planne na die grootstad met liggies en geleenthede op soek na ’n beter lewe.

Maar ’n té vol trein en ’n onderonsie tussen hom en ’n paar kwaaijongens, het toe die gevolg dat die jong Thabo by Randfontein van die trein geslinger word. Hy breek sy linkerbeen só sleg dat ’n deel daarvan onder die knie geamputeer word.

Vier maande later en Thabo word uit die hospitaal ontslaan, sonder ’n been en sonder veel hoop vir ’n werk.

“Dis verskriklik moeilik op die straat, maar gelukkig is Seun daar om na my te kyk. Die ouens sukkel nie sommer met my nie, want Seun is sterk,” lag Thabo.

Wat gaan in Pretoria aan?

“Ek probeer om eenkeer ’n maand, of elke tweede maand huis toe te gaan . . . na my susters toe, hulle is nog op skool.” Foto: Felix Dlangamandla

Hoewel sy ma ’n paar jaar gelede in Sebokeng dood is, werk sy pa gelukkig die laaste ruk by ’n paneelklopper in Johannesburg. “En dan, party Vrydae, kom gee hy vir ons geld.”

Ek vra vir Thabo oor sy been. Hoe sal sy dinge anders daaruit sien as hy dalk ’n prostese kon kry? Sal hy daarvan hou om van die straat af te kom en dalk, soos hy aanvanklik beplan het, ’n werk as verwer êrens te kry?

“Ja, dit sal fantasties wees, om net iets te hê wat my weer op die been sal kry.”

Felix daag op en Thabo slaan oor na Suid-Sotho. Die twee praat binne ’n minuut oor die vlaag moorde op haweloses in Pretoria.

Thabo in sy verbleikte pienk Polo-bofbalkeps en blou Adidas-sweetpaktop met ’n hoodie is ’n pasgemaakte prentjie vir dié buurt se gemoedelike verval.

“Op die straat droom jy nie . . . ”Foto: Felix Dlangamandla

Wat dink Thabo gaan daar in Pretoria aan? Is dit vigilante of is daar sprake van Waterkloof 4 vibes wat weer oor ons susterstad anderkant die Jukskei waai?

“Nee,” sê Thabo, hy vermoed dit hou verband met dwelms. “Dis waarskynlik ’n turf-ding oor wie wat van die hand verwissel, ek dink dit gaan oor dwelms.”

Dan por ek Thabo vlugtig oor sy naam. Die voormalige presidensiële verwysing gaan maar mor-mor verby, en dan is ons binne ’n japtrap by die jongste inkarnasie: Cyril Ramaphosa.

Hoe om te help

Johan Krige, waarnemende uitvoerende hoof van MES (Mould, Empower, Serve), meen die beste manier om haweloses te help en om mense van die straat af te kry, is om met organisasies soos hulle s’n en ander niewinsgewende groepe saam te span.

“MES het byvoorbeed ’n ‘grow’-program, wat eintlik ’n rehabilitasie-program is. Dan gee hulle vir die ouens werk en betaal hulle R50 vir ’n skof van vier uur.”

Hierdie stap-vir-stap werk en dan ’n bietjie meer verantwoordelikheid soos mense vorder, is volgens Krige ’n manier om mense dan weer in ’n werkomgewing te kry.

“Een van die groot dinge wat met dié mense gebeur is houding, oftewel, attitude. Hulle het nie meer ’n gerigtheid of ’n fokus nie, hulle leef van dag tot dag.

“Net om dít weer vir die ou terug te bring, om die persoon se gesindheid te probeer verander.”

Wat dink hy van Cyril en die droom waarvan die president gepraat het? Dié stiksplinternuwe stad wat op die horison gaan skitter?

Thabo huiwer ’n oomblik, neem ’n slukkie van sy koffie, sê dan: “Nee, ek weet nie . . . ek droom nie.

“Op die straat droom jy nie . . .

“Maar as ek kan sal ek vir Cyril vir ’n huis vra. Dis swaar om só te lewe, in ’n shack (in Sebokeng) te lewe.”

Dié droomlose bestaan is vir Thabo ver verwyderd van die politiek van die dag en van ’n president wat die luukse van drome het.

Op die straat gaan dit oor oorlewing, dag ná dag. Om die bietjie wat jy het en jou bykomende aalmoese só te versteek dat jy aan die einde van die dag iets het om na toe terug te kom.

Daar is nie sprake van drome nie; net die koue sement voor Roxy’s.

Maar Thabo sê daar ís goeie mense. Mense wat vir hom klere en geld gee, mense wat sonder om te huiwer uitreik.

Wat wil hy die graagste doen as hy ’n kans kry? Wat se werk sou hy wou doen?

“Ek sal daarvan hou om goed te verkoop, maar dit sal lekker wees om te kan verf,” aarsel hy.

“ ’n Kans om ’n apprentice te wees, om iets te leer. Om van die straat af te kom.”

Wors is sy gunsteling

’n Koppie koffie met meer as vyf lepels suiker . . . Foto: Felix Dlangamandla

Dan praat ons oor kos en Thabo sê wanneer hulle genoeg geblikte kos versteek het doen hulle iets spesiaal daarmee.

“Ons maak wors, my gunsteling, met van die geblikte goed . . . met ’n gravy. Maar dis maar dit.”

Daar is nie tyd vir dink oor dinge soos meisies of ’n girlfriend nie, maar sokker is darem daar, so met die afvoet en al is hy ’n vurige Kaizer Chiefs-man.

“Net nie Pirates nie.”

Reserved Cafe het intussen meer lewe begin kry.

Dis skuins voor 11:00, mense met vuiste gefrommel teen die koue kom sit aan, bestel koffie by die tafel langs ons s’n.

Ons tafel is dalk vir hulle ’n vreemde gesig: ’n 50-jarige Afrikaanse wit man, ’n jong(erige) professionele Zoeloe-man en ’n jong Sotho-man, op die oog af duidelik down and out.

“Maar as ek kan sal ek vir Cyril vir ’n huis vra.” Foto: Felix Dlangamandla

Dis skreiend, dink ek, dat daar soveel dinge is, soveel prosesse en stelsels is wat jong Thabo tot dusver in die steek gelaat het.

Op 27 behoort die nuwe, nuwe Suid-Afrika aan hom en mense soos hy, maar hy kon nie skool klaar maak nie, en sy gesin moet sien kom klaar in ’n shack in Sebokeng.

Die siklus van armoede is soos ’n slang wat sy eie stert vreet.

Ek wonder hardop waar die lyn tussen my en Thabo lê, watter omstandighede, die rol van ’n dobbelsteen, die ry van ’n trein, my van hier uit my gerieflike bestaan tot daar by die straat by die sirkel sal neem.

En waar in dié mengsel bevind Felix hom? ’n Man wat self sy gesondheid, ook ’n been, al op die spel moes plaas vir ’n beroep wat oor die jare heen waarskynlik meer geëis het as wat dit moes.

Ek vat van die geld wat ek kon spaar en gaan huis toe, kom ’n bietjie uit die stad uit.

Thabo trek sy skouers op, voel-voel of sy krukke nog daar is.

“Weet jy,” sê hy, “ek probeer om eenkeer ’n maand, of elke tweede maand huis toe te gaan . . . na my susters toe, hulle is nog op skool.

“Ek vat van die geld wat ek kon spaar en gaan huis toe, kom ’n bietjie uit die stad uit.”

Thabo sê hy spring gewoonlik in ’n taxi, of ’n bus, “maar net nie ’n trein nie”.

Só ry dié trein, ons president se splinternuwe trein, op sy spoor na ’n droomstad-bestemming.

En op die perron staan Thabo en Seun.

* Jo Prins is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Johannesburg  |  Haweloses  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.