Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
UITTREKSEL: Die dag toe beroerte rateltaai Ethienne plattrek

Die jaar 2018 was nie ’n goeie een vir die oud-rugbyspeler Ethienne Reynecke nie. Dit het met die pyn van ’n geskeurde milt begin, maar erger dinge het nog voorgelê, skryf Tinus van Staden in dié uittreksel uit Rateltaai.

Ethienne staan Donderdagoggend op en vat Avé en Layla [sy dogters] skool toe. Sedert hulle ’n paar maande gelede Durban toe getrek het, is albei in die Glenwood Preparatory School.

Van die skool af ry hy gimnasium toe om stoei te gaan oefen. Stoei is ’n belangrike element van MMA [gemengde gevegkuns] en dit is een van Ethienne se sterkste punte in die agthoek. Hy stoei al van jongs af. Soos enige goeie haker het hy sterk maag- en bolyfspiere wat hom help om teenstanders op die stoei- of MMA-mat in ’n luislanggreep beet te kry.

Terug by Candice se huis werk hy vir ’n tydjie aan sy eiehandelfonds. Hy het besluit om ’n ekstra pos te vul.

Dít is sy dogters reeds en hy kan nie wag om te sien hoe hulle verder gaan groei nie.

Twee minute voor twaalf plaas hy gou iets oor hom en sy twee hoofmeisies op Facebook. Ethienne kyk na die foto en glimlag.

Hulle al drie sit voor ’n pienk pophuis. Die sesjarige Avé, in ’n seegroen pajamapakkie met eenhorings op, plaas ’n pop op die tweede verdieping van die speelgoedhuis. Haar pa se groot hand is rondom hare gevou en lei haar in die regte rigting.

Die negejarige Layla klou aan haar pa se nek. Haar kop rus in die holte van sy skouer. Ethienne wil ’n betekenisvolle inskrywing bysit. Hy besluit op ’n aanhaling deur die vroueregte-kampvegter Kavita Ramdas: “We need women who are so strong they can be gentle, so educated they can be humble, so fierce they can be compassionate, so passionate they can be rational, and so disciplined they can be free.”

Dít is sy dogters reeds en hy kan nie wag om te sien hoe hulle verder gaan groei nie. Hoe hulle vroue gaan word nie.

Iets is nie reg nie

Ethienne in aksie vir die Leeus teen die Valke in 2008. Foto: Gallo Images

Twaalfuur gaan stort Ethienne. Hy dink aan die foto, hy dink aan sy fonds, hy dink aan die naweek se rugby wat hy in die Boland gaan uitsaai. Hy het sommer gereël dat hy Saterdag ’n skolerugbywedstryd ook doen. Om skolerugby uit te saai is nie regtig werk nie, dis plesier.

Hy sien dit as sy taak om sommer op te voed terwyl hy uitsaai.

Die water val oor sy natgeswete lyf en spoel die spanning uit sy stywe spiere.

Skielik is alles vir ’n oomblik swart.

Dit voel of hy gaan sit, op sy hurke gaan sit, maar hy bly staan en hy voel sjoe, oukei . . . en hy weet. Hy weet onmiddellik iets in hierdie masjien van ’n liggaam loop skeef.

Ethienne slaap nooit in die dag nie. Hy doen dit eenvoudig nie.

Hy staan in die stort in die huis van die vrou van wie hy besig is om te skei en die wêreld rondom hom verdwyn.

Dan keer dit terug.

Ethienne is verward. Iets is verkeerd. Baie verkeerd.

Hy draai die stortkrane toe. Hy steek sy hand by die stortdeur uit, kry ’n handdoek beet, draai dit om sy lyf en strompel bed toe.

Hy sê vir Candice hy voel nie lekker nie. Sy kop voel dik, hy voel deurmekaar.

Candice los hom alleen.

Ethienne slaap nooit in die dag nie. Hy doen dit eenvoudig nie.

Maar nou gaan lê hy op die bed en sy liggaam skakel af.

Ethienne en Sloane Goosen, die hoofafrigter van die Centurion-stoeigimnasium. Foto: Deon Raath

Hy raak aan die slaap.

Teen vyfuur die middag kom Layla by sy kamer in. Sy maak hom wakker en skrik.

“I think there is something wrong with you, Daddy, you can’t speak,” sê sy.

Wat? Waarvan praat sy?

Hy klink soos Zet, die televisiekarakter vir kinders in die 1980’s en 1990’s. Nes met Zet klink dit of Ethienne deur ’n sakdoek praat.

Met ’n opgeswelde tong.

Die woorde kom nie.

Layla roep haar ma. Hulle moet Pappa dringend hospitaal toe vat.

Iets is beslis nie reg nie.

Hy moet gaan uitsaai . . .

Ethienne was weke lank ná sy beroerte in die hospitaal. Foto: Verskaf

Terwyl Candice met Ethienne hospitaal toe ry, geniet Justin aandete in ’n Durbanse restaurant.

Hy en Ethienne het goeie vriende geword sedert Ethienne drie jaar gelede op Justin se aanbeveling met MMA begin het. Hulle sou mekaar vandag gesien het, maar moes die afspraak herskeduleer.

Justin se dag sou te besig raak.

Terwyl Justin eet, lui sy foon. Ethienne se naam verskyn op die skerm.

“Hi, bru, howzit?” antwoord hy.

Maar dit is nie Ethienne wat praat nie. Dis Candice, en sy is hoogs ontsteld.

“Justin, het jy vandag vir Ethienne gesien?” vra sy.

“Nee, ek het nie kans gekry nie. Wat is fout?”

“Ons het hom hospitaal toe gevat. Hy . . . hy praat nie lekker nie.”

Justin se gedagtes spring rond tussen die moontlikhede. Nie een daarvan is goed nie. Hy jaag hospitaal toe.

Daar aangekom, sien hy die slapende Ethienne in sy hospitaalbed. Hy vrees dat sy vriend gaan sterf.

Net soos in Januarie in die Life Fourways-hospitaal, lê Ethienne in die hoësorgeenheid, dié keer in ’n Durbanse hospitaal.

Dié keer is dit nie ’n geskeurde milt nie.

Ethienne het ’n iskemiese beroerte gehad.

Dit is een van drie soorte beroertes en word veroorsaak deur ’n verstopping in ’n aar wat bloed na die brein vervoer. Die bloed- en suurstoftoevoer na die brein word afgesny.

Dokters merk die bloedklont op wat die aarverstopping veroorsaak en Ethienne se lewe in gevaar stel.

Daarom spring hy op en nael by sy hospitaalkamer uit. In sy onderbroek, met die EKG-plakkers op sy lyf.

Ethienne knip sy oë. Sy kop voel dof. Hy is erg deurmekaar. Hy kyk vas in ’n horlosie teen die muur en die wysters tref hom soos ’n koppie espresso. Hy beur orent.

Ethienne het ’n absolute renons in ’n laatkommery. Hy is eenvoudig nooit laat nie. Dit is swak styl. Om betyds te wees is een van die min dinge waarvoor jy nie talent nodig het nie.

Daarom dat hy nou, op Vrydagoggend 10 Augustus, die dag ná sy beroerte, uit sy hospitaalbed spartel.

Hy het ’n vlug om Kaapstad toe te haal. Hy het ’n verpligting teenoor SuperSport. Hy moet die Suid-Afrikaanse Skolewedstryd teen Wallis by die Hoër Landbouskool Boland buite die Paarl saam

met Marco Botha gaan uitsaai. Hy het mos selfs gereël om môre ’n ander skolewedstryd in die Kaap ook uit te saai.

As Ethienne hom tot iets verbind, kom hy sy verpligtinge na.

Daarom spring hy op en nael by sy hospitaalkamer uit. In sy onderbroek, met die EKG-plakkers op sy lyf. Die verpleegsters sit hom agterna, maar hy is haastig.

Die hospitaal bel Justin: “Meneer Ferrier, meneer Reynecke . . . uh . . . hardloop . . . hy hardloop huis toe.”

“Wag, wat? Waarvan praat jy?” vra Justin. Hy ry dadelik hospitaal toe.

Ethienne word net betyds gekeer en na sy hospitaalbed teruggeneem.

Net voordat hy in ’n geïnduseerde koma geplaas word, dra hy met gebroke taal en handbewegings ’n boodskap aan Candice oor: Laat weet vir SuperSport.

Rateltaai: Ethienne Reynecke se reis van tragedie tot triomf word deur Lapa-uitgewers uitgegee en kos R235. Bestel dit hier.

Meer oor:  Supersport  |  Marco Botha  |  Ethienne Reynecke  |  Tinus Van Staden  |  Beroerte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.