Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Vat my taal, vat my rugby, vat alles’

Danie du Toit vertel aan Murray La Vita hoe ’n vernedering as kind daartoe gelei het dat hy vandag die leier is van Spoegwolf, ’n Afrikaanse kultuursensasie waaroor duisende mense gaande is.

Danie du Toit tydens ’n onlangse onderhoud in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Ons ontmoet Danie du Toit (26) op ’n koue, reënerige Vrydag in die Kaapstadse restaurant Tribe. Dit voel gepas dat ons in ’n plek met die naam Tribe is om met iemand te praat wat al beskryf is as die “spirituele leier van die kultus Spoegwolf”.

Die rustige blondekopman met die grysblou oë wat hier in die hoek van die restaurant sit, is ver verwyderd van die natgeswete figuur sonder hemp of skoene wat met ’n amper maniese intensiteit met uitgestrekte arms tussen sy duisende aanhangers rondbeweeg en vir hulle sing – diep emosionele (en soms misterieuse) woorde oor liefde, verlies, eensaamheid, God, vertwyfeling, skaduwees of water.

Oor Spoegwolf se onlangse optrede in die Kopanong-Kovsiekerk op die Vrystaat Kunstefees, skryf Charles Smith: “Met die ghoeroe Piet Botha wat gegroet het, is daar ’n nuwe musikale leier vir die volk. Dis pastoor Danie. Danie du Toit, spirituele leier van die kultus Spoegwolf, laat die volk van 16 tot 60 soos ’n pastoor van ’n charismatiese kerk uit sy hande eet.”

Die laaste paar maande as ons op ’n stage kom en dis vol dan is dit ’n ongelooflik emosionele saak vir die vier van ons.

Danie lag.

“Wel, dis obviously nie waar nie. In so ’n kerk moet ’n mens nie die waarde van goeie beligting en harde sound onderskat nie. Mense word nogal meegevoer . . .

“Ek dink musiek oor die algemeen is maar emotief . . . Ek dink dit was maar net regte plek en regte tyd gewees, daai dag. Things just came together, toevallig, by ’n paar van hierdie laaste paar shows. Die band is op die oomblik op ’n ongelooflike emosionele spot.

“Dis sés jaar van onder die broodlyn lewe; nie huur kan betaal nie; rêrige shitty goed moet doen vir geld om nou hiérdie te kan doen.

“Die laaste paar maande as ons op ’n stage kom en dis vol dan is dit ’n ongelooflik emosionele saak vir die vier van ons. En ek dink daardie emosie translate maar net in ’n . . . dit kom inspired oor.”

Koma en ’n wending

In aksie op die Liefde by die Dam-konsert op die Meerendal-wynlandgoed in Durbanville. Foto: Jaco Marais

Die wending was met hul album Koma wat tot bo-aan Apple Music se treffersparade gevorder het nadat dit in Februarie uitgereik is.

Oor Koma het Danie al gesê: “Dit volg iemand wat deur iets verskrikliks gaan – opstaan, val . . . opstaan, val, net om te besef daar is niks meer oor nie behalwe die noodsaaklike droom van liefde en die lig in jou.”

Hy voeg by: “Ook in ons lewens . . . Everything went down, spiralled. Maar dis nie asof ons nou ewe skielik in die hemel is nie of in een of ander Huisgenoot-land nie, maar nou at least kan ons ’n lewe daaruit maak en hoef ons nie . . . Ek het al by elderly ladies se bingo night met ’n cowboyhoed sonder ’n hemp moes kaarte uitdeel. Of ’n stripper Santa speel – sulke goeters; om te kan oorleef. Dit was ’n tawwe tyd. Op ’n stadium het ek en my broer [Moskou du Toit, lid van Spoegwolf saam met wie hy deesdae die restaurant Drum in Stellenbosch besit en bestuur] op die straat gaan musiek maak net om ons huur te kan betaal.

“So, dit was ’n crazy tyd gewees en nou, ná ses jaar daarvan, sien ons hoekom ons dit als gedoen het.”

Bevoorregting

“Die enkele ding in my lewe waaroor ek die meeste spyt is, is my optrede teenoor my pa in my late teens.” Foto: Jaco Marais

Danie, wat in die Paarl grootgeword en skoolgegaan (Paarl Boys High) en daarna aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer het, praat oor bevoorregting.

“Daar is klomp tipes privilege in die lewe. Hulle praat byvoorbeeld van white privilege, maar daar is ’n ander privilege wat ek dink rêrig geïgnoreer word en dit is happy family privilege. Ek het grootgeword in ’n happy family en dit gee vir jou ’n voorsprong like none other.

Die liefde tussen sy ouers, Johan en Tertia du Toit, het ’n groot invloed op hom.

“ ’n Deel daarvan is my ouers se idee en verstandhouding oor liefde en commitment en so aan. Maar, as jy dan nie op 18 dan al klaar daai lewe het soos hulle nie, dan voel jy I’ve not arrived yet. Ek dink dis ’n groter voorsprong as ’n finansiële of ’n klasvoorsprong.”

Die liefde tussen sy ouers, Johan en Tertia du Toit, het ’n groot invloed op hom. Hy idealiseer dit. Dit kom later weer ter sprake wanneer hy sê:

“My pa het my ma een keer by Muizenberg gevra om weer te trou. Ons was almal daar. Toe het ons so ’n klein seremonie; ons gesin. Ek was seker elf of twaalf. There’s something special about it.”

Golwe en wolwe

Danie kyk na die jillende skare in die Kopanong-Kovsiekerk waar Spoegwolf op die Vrystaat Kunstefees opgetree het. Foto: Conrad Bornman

Water is ’n motief in Spoegwolf se musiek, die kunswerke op hul CD-omslae, en die musiekvideo’s.

“Ons albums is in trilogieë. Die eerste trilogie was Swaartekrag, Somer en Donker Toring, en dit het gegaan oor eensaamheid en being human en om nie rêrigwaar te kan transcend nie. Die volgende trilogie gaan oor total desolation. Dis nou Koma, See en Die Rivier. Dit gaan maar net oor totáál lost wees.

“Die see is vir my en my broer Moskou . . . Toe ons klein was, het my pa ons altyd Kogelbaai toe gevat en dan het ons in die golwe gespeel en imagine dat dit wólwe is wat na ons toe aanhardloop en ons het hulle vasgevat. Die wolwe was altyd ’n groot deel van ons lewe en ons het nie geweet hoekom nie.”

Konserwatisme en vrees

Danie beskou homself as ’n anargis.

“Ek dink konserwatisme is gesetel in vrees; dat jy nie vertroue het in jou vermoë om in ’n nuwe, beter wêreld te leef nie. Jy wil dit hou soos wat dit nou is, al is dit nie eintlik great nie.

“Ons kan nie objektief dink dat hierdie ’n nice situasie is waarin ons ons bevind nie of dat dit óóit nice was in die laaste 60 jaar in Suid-Afrika nie.

“ ’n Mens moet daardie gevoel om te bewaar en te behou laat vaar. Soos met standbeelde – om ’n standbeeld te wil bewaar, is letterlik ’n basiese vorm van konserwatisme.

“As ek ’n liberale persoon wil wees – en ek wíl een wees al vind ek dikwels dat ek nié is nie, want ek is ook insecure en bang – dan móét ek sê: Oukei, ek gee my geskiedenis prys . . . vát dit, vát my Afrikaner-erfenis, vát my taal, vát my kultuur, vát my rugbyspan, vat álles.

“Ek gee dit prys en ek glo daarin dat ék en wie ook al dit by my vat, kan bou aan ’n beter nasie en ’n beter plek.”

Hy vertel oor die naam Spoegwolf.

“Ek het op skool die bynaam Moonshadow gehad en een van my pogings om die bynaam af te skud was om myself voor te stel as Wolf.

“Hulle het my Moonshadow genoem omdat dit die eerste song is wat ek ooit gesing het. Ek was seker so agt, nege jaar oud. Die kinders het so vir my gelag dat ek in trane van die stage afgehardloop het. Hulle noem my toe Moonshadow . . . Ek het altyd sakkies onder my oë gehad – heavy.

“Ek het probeer, maar niemand wou my Wolf noem nie. Net Albert [van der Merwe, vriend en Spoegwolf-lid] het my toe Wolf genoem in plaas van Moonshadow.

“Ons het ’n bad onderwyser gehad, ’n rêrige, rêrige slegte mens, wat my voor in die klas aan ’n stoel vasgemaak het en weer ’n keer maak ‘Moonshadow’ sing het.

“Ek kan onthou ek het daar gesit en gedink: ‘Oukei, f*k julle almal. Ek gaan nie ’n dag laat verbygaan sonder dat ek klavier en kitaar speel en sing nie.’ En toe het ek my lewe devote aan musiek. Ek het nooit weer iets anders oorweeg nie.”

En nou noem hy homself Reënwolf.

“Net soos Spoegwolf het die naam my net te binne geskiet. Ek het net besluit dít is wat ek myself gaan noem. Ek het ’n interessante verhouding met reën. Ek het al baie crazy ervaringe gehad in die reënseisoen hier in die Kaap . . . Tawwe tye en goed wat nie noodwendig lekker was nie. Toe besluit ek I’ll take it on, maar op ’n baie corny manier soos wat Batman die bat gekies het omdat bats hom so bang maak.

“Reën is die ding wat my die seerste maak; altyd as dit reën wil ek about . . . ek gooi op; ek kan dit nie hanteer nie. Toe het ek besluit ek gaan dit nou net gebruik.”

Digter en beste vriend

Danie sing tussen die skare in die volgepakte Kopanong-Kovsiekerk. Foto: Conrad Borman

Hoewel van sy gedigte al in versamelbundels gepubliseer is en ’n manuskrip van hom tans by ’n uitgewer is, beskou Danie homself nie as ’n digter nie.

“Net soos ek ’n samurai wil wees, wil ek ook ’n digter wees. Daar is min digters en ek is nie een nie. My pa is wat my betref ’n digter – unpublished, but totally unmatched wat betref intensiteit en insig . . .

“Hy is my beste vriend, rêrig; hy’s ’n incredible persoon. My verhouding met my pa is 100% te danke aan hom en ten spyte van my. Ek was ’n moerse shitty tiener en ek is nog steeds ’n ongelooflike shitty mens meeste van die tyd, maar ek is ’n shitty person in a cage of love . . .

Hierdie ou is baie groter as ek; hierdie ou is ’n real man.

“Die enkele ding in my lewe waaroor ek die meeste spyt is, is my optrede teenoor my pa in my late teens. Ek onthou ná ’n onderonsie het my pa my uit die skool kom haal en hy het my gevat na ’n plek met die naam Noop in die Paarl. Ons het eend geëet en hy het vir my gesê: ‘Van nou af gaan ek en jy nooit ooit weer baklei oor enigiets nie.’

“Ek onthou dit het baie gereën en ons het daar gesit en ek het gedink: Hierdie ou is baie groter as ek; hierdie ou is ’n real man.

“He stuck to it; I didn’t, maar as gevolg van die een party wat daarby gehou het, is hy nou my beste vriend. En dit leer vir my eintlik baie: As jy van jou kant af nie baklei nie, dan is daar nie konflik nie. As jy van jou kant af toegee en opoffer dan is daar ’n oplossing vir die konflik. So het ek en my pa beste vriende geword.”

Kleur en reuk

Danie (links), en sy broers Wadda (middel) en Moskou.

Kleur figureer ook prominent in Spoegwolf se werk. Danie is sterk onder die indruk van hoe kragtig en evokatief dit is; hoe mense assosiasies vorm met kleur. Hy sê hy beleef reuk ook so.

“Ek en my pa praat altyd oor reuk en geheue. Hy sê reuk is amper ’n soort time travelling. Nou nog as hy sy oorlede broer se jacket uit die kas uit haal dan ruik hy hom; dis eintlik ’n beautiful ding.”

'Jesus van die Weskus'

Danie werk tans aan ’n doktorsgraad in geskiedenis oor die Afrikaanse rolprentbedryf ná 1980. Hy het ook al ’n hele paar rolprentdraaiboeke geskryf.

“Die een waarop ek die trotsste is, is Jesus van die Weskus. Dit gaan oor drie kinders wat op ’n hedendaagse kusdorpie te hore kom van ’n swangerskap van ’n 16-jarige meisie in hulle gemeenskap.

“Hulle glo daar is ’n moontlikheid dat hierdie kind se geboorte die koms van Jesus kan wees en dit pla hulle ontsettend baie, want hulle wil nie hê Christus moet in so ’n arm gemeenskap grootword nie.

“ ’n Groot deel van die fliek is hoe hulle dan ’n play skryf en mense in die dorp kry om deel te neem daaraan om geld in te samel sodat die volgende Christus at least ’n bietjie geld kan hê as hy hier is.

“En dan word daar ’n klein dogtertjie gebore en dan gee hulle die geld vir haar.”

Aan Danie kleef subtiel ’n aangename, vaagweg bekende, reuk.

“Dit is Old Spice. My oupagrootjie het dit gedra en my oupa en my pa dra dit. As ek nou in my oupa se badkamer instap, sal daar Old Spice wees; in fact as ek by hulle huis kom dan gaan ek altyd eers na hulle badkamer toe en dan sit ek vir my van sy Old Spice aan.”

Danie is ’n Christen.

“Ek het as ’n Christen grootgeword en my oupa is ’n dominee en ek het ’n baie groot verhouding met hom. En ek het byvoorbeeld ook al die Come to Gospel-album gemaak wat ek nog nie vrygestel het nie.

“So ek ís gelowig en ek baseer beslis die man wat ek wíl wees – nie die man wat ek ís nie, want ek is nie ’n goeie man nie – op die behoefte om ’n volgeling te wees van die christelike manier van doen.

“Die hoofwaarde daarvan is die opoffering van die self; om nie selfbehep te wees nie en nie belangrik te wees nie; om jouself tweede te stel – dís iets wat vir my regtig aantreklik is . . . Ek hou amper op ’n selfsugtige manier daarvan – die feit dat jy nie meer so verantwoordelik hoef te wees vir alles nie, want jy stel jouself tweede en sê: Vat alles.”

Spoegwolf tree binnekort op drie kampusse saam met Die Student en Netwerk24 op. Kaartjies is nou op Quicket beskikbaar teen R50. Die optredes is:

Meer oor:  Moskou Du Toit  |  Albert Van Der Merwe  |  Danie Du Toit  |  Spoegwolf  |  Christenskap  |  Musiek  |  Kultuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.