Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Veglustige fietas en punk op die platteland

’n Skermutseling in die “hoofstad van al die fietas in Suid-Afrika”; punk op die platteland; en die “vrot wortels” van Afrikaans kom ter sprake in ’n onderhoud met ’n middeljarige rebel, skryf Murray La Vita.

Carsten Rasch, skrywer van Between Rock & A Hard Place, ’n memoire oor die musiekmakers wat hulle in die vroeë jare tagtig, voor die Voëlvry-beweging, teen die NP-regering verset het. Foto: Jaco Marais

In die motto aan die begin van Between Rock & A Hard Place – A Memoir stel Carsten Rasch die legendariese Keith Richards van die Rolling Stones aan die woord: “If you’re going to kick authority in the teeth you might as well use both feet.”

Ek pols Rasch daaroor. Hy sit op die oggend van 1 April oorkant my in ’n restaurant in sy tuisstad Kaapstad met op die tafel tussen ons sy memoire oor onder andere die musiekmakers wat hulle in die vroeë jare tagtigs, voor die Voëlvry-beweging, teen die NP-regering verset het – mense wat deur Rian Malan beskryf word as “beautiful losers struggling to make a buck and topple apartheid in the days when that shit really mattered”.

“Ja, dit is van toepassing op my lewe. As jy die boek lees, dan kom jy agter dat ek van ’n redelike jong ouderdom af, op skool al, gerebelleer het teen gesag en dit is ’n ding wat actually tot vandag by my is. Dis net ’n reaksie teen authority; mense wat vir my sê wát ek moet doen en hóé ek dit moet doen . . . ek strip onmiddellik my moer en reageer. Deesdae is my reaksies ’n bietjie meer gematig as toe ek jonger was, maar ek het nog vandat ek kan onthou hierdie reaksie teen authority gehad.”

Daar is baie mense wat geen idee het van die politiek van daai tyd nie en hoe baie wit mense actually nogal betrokke was by anti-apartheidswerk nie . . .

Hoekom het hy die boek geskryf?

“Ek het [tot ’n paar maande gelede] die Blah Blah Bar [in Kaapstad] gehad en ek het net agtergekom dat al die ouens wat daar kom speel – jong laaities in hulle twintigs en dertigs – nie één van hulle het iets geweet van ons musiekgeskiedenis nie.

“Dié wat bietjie ouer is – so middel-dertigs – het geweet van Voëlvry, en dís al. En dit het my net laat besef daar is so min geskryf oor die musiek van daai tyd dat ek gedink het ek moet iets begin skryf.

“Dit het nie begin as ’n memoire nie; dit het begin as ek wat gaan skryf oor die musiek. En wat my ook begin irriteer het deesdae, is hierdie politieke divide, hierdie polarisering wat so ’n paar jaar gelede al begin ontwikkel het tussen wit en swart.

“Dit het my net laat dink daar is baie mense wat geen idee het van die politiek van daai tyd nie en hoe baie wit mense actually nogal betrokke was by anti-apartheidswerk nie . . . Dit was nie ’n politieke keuse amper nie; dis nie asof ons agter die ANC gestaan het nie; ons was net teen die f**** Natte . . . Ons was teen apartheid en dit was nogal duidelik met die hele musiekbeweging daai tyd. Dit was ’n organiese, instinktiewe anti-apartheidsding.”

’n ‘Verskeidenheidskonsert’

Rasch en Johnny Clegg van Juluka, wat vir die eerste keer in Kaapstad opgetree het op ’n musiekfees wat Rasch gereël het. Foto: Steve Gordon

Theunis Engelbrecht begin sy Rapport-resensie van Between Rock & A Hard Place só:

“In 1983 besluit die musiekpromotor Carsten Rasch hy gaan die platteland met punkmusiek wakker skud. Hy reël ’n optrede vir die groepe Noggin, No Exit en Da Measles in Klerksdorp, maar besluit dat dit veiliger sal wees om vir die munisipaliteit te sê hy wil die stadsaal huur vir ’n ‘verskeidenheidskonsert’.

“ ‘’n Verskeidenheidskonsert?’ vra die Afrikaanse tannie agter die toonbank. ‘Met towenaars, goëlaars, hipnotiseurs en so aan?’ Rasch het nie die vaagste benul gehad wat ’n goëlaar is nie, maar sê: ‘Juis, mevrou – en musiek natuurlik.’”

En daar was ook so ’n ding gewees van kom ons vat hulle ’n bietjie aan.

Rasch lag wanneer ek dit aan hom voorlees en vra wat destyds in sy kop aangegaan het.

“Dit was ’n totally misguided idee. Dit was glad nie iets wat ons eintlik moes aangepak het nie. Maar dit was nie eintlik mý idee nie; dit was Paul Rapley se idee, hierdie ou met wie ek ’n alliansie aangegaan het.

“Sy idee was om nie net in Johannesburg nie maar in die areas rondom Johannesburg ook iets te probeer doen met die musiek, want hy’t besef – en ék het ook besef – al die musiek is net in die stede. Dit was basies Joburg, Kaapstad en Durban; dit is waar die subkultuur was en dit is waar daardie bands was en buiten dit was daar niks nie.

“Ek hoef nie in hierdie stadium meer te deal met my issues nie want ek is amper 62 jaar oud.” Foto: Jaco Marais

“So ons het vanuit ’n totale sake-oogpunt af besluit dat ons die ding moet groei, en hoe groei jy dit? Ons kon nie radio gebruik nie want radio was totaal toe vir ons. TV kon ons nie gebruik nie; TV was toe vir ons. So, ons kon dit net doen met toere en gigs.

“En daar was ook so ’n ding gewees van kom ons vat hulle ’n bietjie aan. Daar was definitief ’n ding van kom ons freak hierdie mense so ’n bietjie uit; skud hulle wakker.

“Maar toe het hulle die laaste gelag in Klerksdorp,” sê hy laggend. “Nee, hulle het definitief gesuss wat ons wou doen en net eenvoudig nie vir ons die sleutels tot die saal gegee nie.”

’n Ruk later het hulle besluit om in ’n hotel in Trichardt te gaan musiek maak met Noggin en The Elementals (later Ella Mental).

“Ons het nie geweet wie hierdie mense is nie . . . Hulle was ook nie jou gewone kleindorpse Afrikanerbevolking nie. Dit was like die hoofstad van al die fietas in Suid-Afrika. Dit was ’n ongelooflike aand; ek sal dit nooit vergeet nie.”

’n Chaos het ontstaan met die musikante wat uiteindelik van die verhoog af gevlug het.

“Toe die mense begin inkom, het ek net gedink: ‘Waarvoor het ons onsself ingelaat, hierso? Jy kry daai sinkende gevoel waar jy dink: Nou het ek my begeef in ’n ding waaruit dit baie moeilik gaan wees om te ontsnap”.

Ons wou redeneer. Hulle wou moer.

Twee subkulture het daardie aand teen mekaar te staan gekom toe ’n groep motorfietsryers die kroeg binnestap.

“En ons subkultuur . . . Ons was essentially pasifiste. Die meeste van ons het die army gehaat of wou nie army toe gaan nie of kruip weg van die army af. En die ander klomp se eerste reaksie was ’n violent reaksie. Jy kon nie met hulle praat nie. Ons wou redeneer. Hulle wou moer.”

Weersin in Afrikaans

Rasch het Afrikaans grootgeword – hy was in ’n Afrikaanse hoërskool; het vir ’n rukkie aan die Universiteit Stellenbosch studeer en as kameraman vir die SAUK gewerk – maar het Afrikaans in die jare tagtig die rug toegekeer.

“Ek wou daai tyd sover as moontlik van Afrikaans af ontsnap. Ek en my Afrikaanssprekende vriende het hoofsaaklik Engels met mekaar gepraat. Daar was hierdie klein, klein groepie Afrikaners wat – of kom ons noem hulle liewer Afrikane, want die Afrikanér-ding, is nog steeds ’n ding wat besoedel is op ’n manier – almal net sover as moontlik probeer wegkom het van ons roots af, want ons roots, volgens my, was vrot; ons wou dit nie gehad het nie.

“En die enigste manier hoe jy dít kon doen, was om jouself te vereenselwig met die ander klomp, die Engelssprekendes. So ons het onsself daar ingewurm en wou nie eers hê mense moet weet dat ons Afrikaans is nie.”

‘Ons was vreesloos’

Rasch agter die tromme saam met die groep Nude Red. Foto: Mojo

Waarop is hy trots wanneer hy terugkyk op daardie onstuimige tydperk van 1980 tot 1984 waaroor hy skryf?

“As ek dink aan myself en daai tye . . . Een ding wat met tyd al moeiliker geword het om te behaal is die vreesloosheid. Ons was vreesloos. Ons het nie gedink aan die gevolge nie. Ons het nie geworry oor ’n toekoms nie. Ons het eenvoudig net ingeneuk in ’n ding in. Ek sê ‘ons’, maar ek het die meeste van die tyd goed op my eie gedoen.

“Dis soos ’n jong kind wat nog nie geval het nie; wat nog nie ’n been gebreek het nie; wat nog nie seergekry het nie. En dis ’n ouderdomsding . . . Hoe ouer jy raak, hoe moeiliker raak dit om sekere keuses te doen, juis omdat ’n mens daardie vrees het dat iets sal verkeerd loop: Jy gaan geld verloor of jy gaan in die moeilikheid kom of die regering gaan jou uitcheck, of wat ook al. Al dié dinge inhibeer jou.

“So vir my is die hoogtepunt dat ons dinge bereik het sonder enige steun of geld – ons het iets uit niks gemaak . . .

“Daar was definitief ’n ding van kom ons freak hierdie mense so ’n bietjie uit; skud hulle wakker.” Foto: Jaco Marais

“Wat vir my nogal opval, is dat ek ’n hele bóék kon skryf oor vier jaar in my lewe. Ek is nou besig met ’n tweede memoire; dit gaan oor die twee of drie jaar wat daarop volg, waar ek die musiek los en ek raak meer betrokke by movies [as onder meer vervaardiger] en ek gaan Holland toe met ’n anti-apartheidsfilmfees. Dit strek dan oor die jaar voordat ek oorsee gegaan het en dan die jaar of wat in Amsterdam en dan so ’n bietjie tyd in Engeland waar ek totaal en betrokke raak by ’n new age-ding; ek raak rêrig ’n total, diép hippie.

“Daarna het ek baie ander goed gedoen. My lewe het verander toe Heidi [sy vrou] pregnant raak met ons laaitie. Toe moes ek grootword en besluite neem wat ek nie voorheen hoef te geneem het nie. Dit het ’n moerse impak gehad op my lewe.

“Ek was toe nog steeds betrokke by movies, maar daar was baie druk op my om geld te maak, so ek het basies meer konvensioneel begin raak . . . Ek móés . . . Maar nooit heeltemal nie.

“Ek het later ook ’n bouer geraak en bietjie geld gemaak. En nou is ek weer terug waar ek begin het. Nou is ek weer betrokke by musiek.” Hy speel onder meer tromme. “Daar was The Time Flies en nou is dit The Hearts of Darkness. Musiek is my terapie. Jy gaan daar in ’n kamer in en daar is ’n klomp like-minded mense daar. Jy tel jou instrumente op en vir twee of drie ure verloor jy jouself en jy kom daar uit en die lewe is weer gebalanseerd. As ek ooit ophou daarmee sal ek baie siek raak, dink ek.”

Anargistiese neigings

Jong Carsten. Foto: Verskaf

Aan die einde van die onderhoud sê Rasch sy chroniese weerstand teen gesag het hom soms duur te staan gekom deurdat hy byvoorbeeld herhaaldelik afgedank is. Ek vra hoe sy anargisme in dié stadium van sy lewe tot uiting kom. Hy lag.

“Wel, ek is absoluut unemployable. Ek sal net nooit vir enigiemand anders kan werk nie. Ek is net heeltemal te veel geneig om my eie kop te volg – soos ’n bachelor wat nie kan trou nie omdat hy al te lank op sy eie gebly het.”

Die politiek in Suid-Afrika laat deesdae sy weersin in gesag weer sterk opvlam. Hy kry ’n beduiwelde kyk in sy grysblou oë.

“Al hierdie jare wat ek hierdie anargistiese neigings gehad het – dit was die regte ingesteldheid, I’m vindicated by the absolute scumbags that rise to the top of our leadership. Dis skrikwékkend; ons het nie leiers nie . . . Selfs Ramaphosa; ek sien hom as die man wat in mure vasloop. En dis nie net die ANC nie – dis die DA, dis die EFF . . . Dis ’n gemorsspul; ons het nie leiers nie.

“Ja, dis die politiek wat my vandag onderkry . . . Ek hoef nie in hierdie stadium meer te deal met my issues nie want ek is amper 62 jaar oud. Al wat nou vir my oorbly, is om te doen wat ek geniet om te doen.”

Meer oor:  Carsten Rasch  |  Afrikaners  |  Musiek  |  Afrikaans  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.