Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Krieketspeler kry terug sy waardigheid

“Krom” Hendricks was altyd kwalik meer as ’n voetnoot in die geskiedenisboeke. Nou wil twee skrywers die menswaardigheid herstel van dié eerste krieketspeler wat weens sy velkleur nie vir Suid-Afrika gekies is nie, het Richard Parry aan Gert van der Westhuizen gesê.

Die afbeelding van “Krom” Hendricks links bo is die enigste van dié eens gevreesde snelbouler. Foto: Penguin Books

Sy naam was William Henry Hendricks, maar dié gevreesde snelbouler rondom die einde van die 19de eeu word in die krieket-annale feitlik net op sy bynaam genoem: “Krom”.

Koerante het in 1894 breedvoerig verslag gedoen oor die omstredenheid rondom sy weglating uit die Suid-Afrikaanse krieketspan wat in Engeland getoer het. Hy was ook twee jaar later in die nuus toe hy weer weens sy kleur nie vir Suid-Afrika kon speel nie. Sy stryd om op die hoogste vlak krieket te speel, het tot in die 20ste eeu voortgeduur en ’n spesiale verordening wat bruin spelers uit ligakrieket moes hou, is selfs na Hendricks genoem.

Tog is daar só min oor Hendricks se persoonlike lewe bekend dat Parry en Jonty Winch, skrywers van die boek oor hom met die veelseggende titel, Too Black to Wear Whites: The Remarkable Story of Krom Hendricks, a Cricket Hero who was Rejected by Cecil John Rhodes’s Empire, nie eens kon vasstel hoekom hy dié bynaam gekry het nie.

Selfs nie eens Basil D’Oliveira het van Hendricks geweet nie, hoewel sy gesin in dieselfde straat as Hendricks s’n gebly het.

Foto’s van hom is daar ook nie juis nie. Hulle kon net ’n swak profielfoto van hom op 83-jarige ouderdom opspoor, sê Parry waar ons op die balkon van ’n boetiekhotel in Johannesburg gesels.

“Jy kon darem sien dat hy ’n welige snor gehad het. Ons het ’n kunstenaar gekry om ’n jonger weergawe van Hendricks te teken en dit is die enigste afbeelding wat ons van hom het.”

Dit verskyn op die boek se omslag in die boonste linkerkantste hoek.

“Sommige mense in sy gemeenskap het al van hom gehoor, maar daar is nie baie van hulle nie. Selfs nie eens Basil D’Oliveira (die Kaapse krieketspeler wat weens sy kleur in die 1960’s verbied is om as lid van Engeland se krieketspan na Suid-Afrika te toer) het van Hendricks geweet nie, hoewel sy gesin in dieselfde straat as Hendricks s’n gebly het.”

Richard Parry sê sy en Jonty Winch se boek oor “Krom” Hendricks is maar net die begin en dat nuwe inligting oor dié speler hopelik nog aan die lig sal kom. Foto: Gert van der Westhuizen

Volgens Parry het die Kaapse koerante van destyds ook nie oor al Hendricks se wedstryde verslag gedoen nie. Hy vermoed dat van die amptelike dokumentasie van die Westelike Provinsie se Krieketunie (WPKRU) wat op Hendricks betrekking het, selfs doelbewus vernietig is.

“Dit is verskriklik. Jy ontneem nie net ’n persoon van die glorie wat hom toekom nie, jy ontneem ook sy nageslag daarvan, sy menslikheid, sy reputasie, alles kom in gedrang.”

In Maurice W. Luckin se History of South African Cricket, wat lank as die standaardwerk oor die geskiedenis van dié sportsoort in Suid-Afrika beskou is, is daar een verwysing na Hendricks. Dit handel oor besprekings rondom “the inclusion of the Cape coloured boy, Hendriks (sic)” in die toerspan van 1894.

Parry en Winch kon onder meer vasstel dat Hendricks eers ’n treindrywer en later ’n klerk was. Hy was getroud (sy vrou se naam was Georgina), hy het in 1933 op 75-jarige ouderdom afgetree en is in 1940 dood (hulle het ’n doodsertifikaat opgespoor) en een van sy kleinseuns (Robert Priday) het vir Liverpool en Blackburn Rovers sokker gespeel.

’n Emosionele reis

Die Suid-Afrikaanse krieketspan voor sy wedstryd op 22 Mei 1894 teen Lord Sheffield se elftal. “Krom” Hendricks mag nie vir dié span uitgestap het nie, maar sy afwesigheid was die hele toer lank die grootste besprekingspunt. Foto: Getty Images

“Die doel van ons boek is om aan Hendricks sy menswaardigheid terug te gee,” sê Parry wat al in 1993 die eerste keer oor Hendricks geskryf het.

“Ek was só kwaad toe ek die eerste keer gelees het hoe hy behandel is. Ek wou hom net ’n klein bietjie van die eer teruggee wat hy as ’n Suid-Afrikaanse held verdien. Ek was so emosioneel toe ek oor hom gelees het. Hoe kan enigiemand só behandel word, veral in ’n sportsoort wat daarop aanspraak maak dat dit oor regverdigheid (fair play) gaan? Dit was vir my ’n emosionele reis saam met Hendricks en dit was eerder ’n liefdestaak as ’n blote akademiese poging om hom op te spoor.”

Volgens Parry is boeke soos dié nodig. “Dit pas perfek in by die boodskap van transformasie en die feit dat ons ons krieketgeskiedenis moet ken en moet weet wat gebeur het – al is dit net om te versoen en dit moontlik te maak om vorentoe te beweeg. Jy moet die verlede verstaan, dit inneem en aanbeweeg. Dit is die enigste manier waarop jy vorentoe kan gaan, anders gaan jy steeds daaroor (die verlede) baklei en baklei.”

Hendricks se verhaal bewys byvoorbeeld net hoe lank krieket en politiek al in Suid-Afrika verweef is.

Parry het in Kaapstad grootgeword, maar het in 1979 na Brittanje verhuis waar hy steeds woon. Hy het nege jaar later ’n doktorsgraad in Afrika-geskiedenis aan die Queen’s University in Kanada verwerf. Hy kom tot soveel as drie of vier keer per jaar na Suid-Afrika as deel van sy werk om Afrika-regerings oor die doeltreffende invordering van belasting te adviseer.

“Hoewel ek in Brittanje woon en werk, voel ek steeds soos ’n Suid-Afrikaner,” sê Parry.

Hy het die dag voor ons gesprek die eendagwedstryd tussen die Proteas en Engeland op die Wanderers bygewoon en, verseker hy my, die span in pienk ondersteun. En, getrou aan die ironiese draaie wat die geskiedenis soms maak, het twee van die Proteas (Reeza en Beuran) dieselfde velkleur en van as Hendricks.

Die mynmagnaat Abe Bailey wou in 1894 die beste span na Engeland stuur. Foto: Getty Images

Parry is sy hele lewe lank al fanaties oor krieket en het tot ’n klompie jare gelede nog self gespeel. Dit is ’n fassinerende spel wat ’n aanduiding gee van heelparty dinge wat verder as die krieketveld strek, sê Parry.

Hendricks se verhaal bewys byvoorbeeld net hoe lank krieket en politiek al in Suid-Afrika verweef is. Cecil John Rhodes, destydse premier van die Kaap, het immers persoonlik ingegryp om Hendricks uit die toerspan na Engeland te hou.

Hy het die “patetiese en skynheilige” verskoning gebruik dat daar, soos op die toer van inheemse Australiërs in Engeland in 1868, tussen beurte van Hendricks verwag sou word om ’n boemerang rond te gooi om die toeskouers te vermaak.

Die ware rede agter die besluit was dat Rhodes ’n bondgenootskap met “Onze” Jan Hofmeyr van die Afrikanerbond aangegaan het en dat Hendricks se insluiting by die span nie in ooreenstemming sou wees met hul planne om strukture van segregasie te vestig nie. Dít ondanks die sogenaamde Kaapse Liberalisme wat glo individuele vordering ongeag ’n persoon se ras voorgestaan het.

William Milton, voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein en hoofkeurder sowel as Rhodes se private sekretaris, het toegesien dat Hendricks tuisbly.

Transvaal wou beste span gehad het

Buck Llewellyn, wat vandag allerweë as die eerste sogenaamde speler van kleur beskou word wat Suid-Afrika op die krieketveld verteenwoordig het, sit links voor op die grond op dié spanfoto van die graafskap Hampshire in omstreeks 1901. Foto: Getty Images

Dit is nogal interessant om daarop te let dat anders as wat almal altyd gedink het, was dit die Transvaal, eerder as die meer liberale Kapenaars, wat graag wou hê dat Hendricks moet saamtoer.

“Hulle wou die beste span Engeland toe stuur en Hendricks was die beste bouler in Suid-Afrika. Abe Bailey (’n bekende Transvaalse mynmagnaat van destyds) wou die beste span gehad het omdat hulle die beste van Suid-Afrika in Engeland ten toon wou stel om beleggings in die myne aan te moedig.”

Die Kapenaars het egter vasgeskop. Charles Johnson, ’n Ier wat in daardie stadium slegs vier maande in Suid-Afrika gebly het, is in Hendricks se plek gekies. Hy was ook nie naastenby so vinnig soos Hendricks nie.

Die situasie was só belaglik dat Suid-Afrika die oggend van die toets net nege spelers bymekaar kon skraap.

Twee jaar later wou die Transvalers Hendricks vir die tweede toets teen die Engelse toerspan in Johannesburg kies. Die WPKRU het wéér vasgeskop.

Die situasie was só belaglik dat Suid-Afrika die oggend van die toets net nege spelers bymekaar kon skraap en toe inderhaas twee moes inspan wat nie eens aan die provinsiale standaard voldoen het nie.

Dit is ook ironies dat Charles Bennett (“Buck”) Llewellyn van Natal sy buiging in dié toets gemaak het. Hy word vandag allerweë beskou as die eerste sogenaamde speler van kleur wat Suid-Afrika op die krieketveld verteenwoordig het.

Hy het nes Hendricks ’n ma van St. Helena en ’n pa van Nederlandse afkoms gehad en het in sy loopbaan gereeld met rassisme te doen gekry. Volgens Parry dui sy insluiting daarop dat die sogenaamde bruin-kwessie nie juis iets was waaraan die Transvalers en Natallers hulle gesteur het nie.

Hoe goed was Hendricks?

Buck Llewellyn het sy buiging vir Suid-Afrika in die tweede toets van die reeks in 1896 teen Engeland gemaak. Foto: Getty Images

Van die statistiek wat Parry en Winch in die hande kon kry, dui daarop dat Hendricks ’n “verstommende krieketspeler” was: 5/21 in 20 boulbeurte, 6/31 in 24 boulbeurte, 9/46 (al sy slagoffers is skoongeboul), 8/31, 7/6, 5/8, 8/32 (sewe slagoffers skoongeboul), 6/6.

Hy het in ’n wedstryd vir Metropolitan teen Claremont 9 leë boulbeurte afgestuur en 9 paaltjies platgetrek (7 slagoffers is skoongeboul) – dit was vir 50 jaar ’n Suid-Afrikaanse rekord.

In sy enigste verteenwoordigende wedstryd het hy syfers van 6/20 behaal met verskeie kolwers wat vir Suid-Afrika gespeel het onder sy slagoffers.

Hendricks het 40 jaar lank krieket gespeel en toe hy al in sy 60’s was, het ’n koerant nog opgemerk hoe flink sy veldwerk op vlakby was.

“Hy was vinniger as enige ander bouler van sy tyd. Ek sou hom as ’n regterhandse Wasim Akram bestempel. Sy spesialiteit was vinnige streepballe, hy het seker goed 80% van sy slagoffers skoongeboul,” sê Parry. “Hier moet ons in gedagte hou dat die paaltjies destyds kleiner was as wat dit vandag is. Dit maak sy vertonings nog merkwaardiger.”

Parry sê Hendricks se verhaal is eenvoudig een wat vertel móés word. Hul boek is maar net ’n eerste stap.

“Ek hoop regtig iemand sal na vore kom as hulle van die boek hoor. Dalk kry iemand nog ’n boks êrens op ’n solder met nuwe inligting.

"Jy weet nooit nie, jy weet nooit nie . . . ”

* Too Black to Wear Whites word deur Penguin Books uitgegee en kos R260.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.