Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hoe om SA 'n beter plek te maak – dorp vir dorp

Weens Suid-Afrika se geskiedenis is rasseverhoudings die belangrikste element in die land en Suid-Afrikaners moet dit baie mooi bestuur as hulle ’n beter toekoms vir almal wil verseker, het Barend la Grange aan Gert van der Westhuizen gesê.

Rasseverhoudings bly die belangrikste element in Suid-Afrika, meen Barend la Grange. Foto: Felix Dlangamandla

Oor rasseverhoudinge in ’n verdeelde en gepolariseerde land soos Suid-Afrika kan jy La Grange, bedryfshoof van South Africa Day, nie veel vertel nie.

Anders as die meeste van ons, maak hy daagliks werk daarvan om rasseverhoudinge in die land te probeer verbeter – en soms lyk dit of niks in sy pad sal staan om dit reg te kry nie.

La Grange was immers agt jaar gelede midde in die storm rondom Brett Murray se omstrede skildery van oudpres. Jacob Zuma, The Spear. Hy het die skildery agt dae voor sy 59ste verjaardag in die Goodman Gallery in Johannesburg met verf toegetakel omdat hy geglo het sy daad sal iets vir beter rasseverhoudinge in die land beteken.

Sy mense het my agterna gebel en gesê Zuma wil my sien, maar ek het gesê ek stel nie daarin belang om hom te sien nie.

“Die enigste rede waarom ek dit gedoen het, was om ras uit die ding uit te haal. Ek sê nie ek het daarin geslaag nie. Maar omdat dit die werk van ’n wit skilder was, moes dit ook verander of vernietig word deur ’n wit mens sodat ’n boodskap na swart mense gestuur kon word dat wit mense hulle respekteer.

“Dit is glad nie gedoen om Zuma te beskerm nie. Sy mense het my agterna gebel en gesê Zuma wil my sien, maar ek het gesê ek stel nie daarin belang om hom te sien nie. Ek was net so teen Zuma as van sy ander teenstanders as gevolg van die korrupsie, nepotisme en swak regering wat in daai stadium al duidelik was.

“Ek het dit gedoen uit en uit omdat rasseverhoudinge vir my ’n absolute nommer-een-prioriteit is,” sê die 67-jarige La Grange.

Ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma maak in 2012 beswaar teen “The Spear”, Brett Murray se omstrede skildery. Foto: Getty Images

Hy praat sag en beredeneerd waar ons in ’n restaurant ’n paar honderd meter van sy huis aan die Wes-Rand gesels – glad nie in hoofletters soos sommige aktiviste aan albei kante van die politieke spektrum wat jou van hul saak wil oortuig nie.

“Ek het baie verleë gevoel om dit te doen,” sê La Grange in die Kaapse aksent wat sy herkoms verklap. “Ek is nie so ’n soort mens nie.”

Hoewel hy nie noodwendig trots voel oor wat hy gedoen het nie, is hy vandag glad nie spyt daaroor nie.

“Dit was vir my ’n baie moeilike ding om te doen, maar ek het gevoel in daai stadium was dit die regte ding om die situasie te ontlont. Die SAKP se jeugvleuel het gesê hulle gaan daai skildery met geweld verwyder en die skilder en mense van die galery het doodsdreigemente gekry. Dit was ’n geweldige spanningsvolle ding en dit het alles oor ras gegaan: Honderde mense het in Johannesburg se strate gemarsjeer en slagspreuke teen wittes geskree.

“Ná die defacing het dit verander na ’n akademiese debat oor die vryheid van spraak en vryheid van uitdrukking, en die rassestorie is ontlont.”

“The Spear” nadat dit onder Barend la Grange en ander se verfkwasse deurgeloop het. Foto: Getty Images
Barend la Grange met een van sy hofverskynings nadat hy “The Spear” in 2012 gevandaliseer het. Foto: Getty Images

Maar dit was nie al nie.

La Grange moet sluk aan die knop in sy keel as hy vertel van die reaksie van Louis Mabokela, een van die mans wat The Spear onafhanklik van hom ook gevandaliseer het, nadat hulle in hegtenis geneem en opgesluit is.

“Ons het op ons matrasse gelê toe sê hy: ‘Weet jy wat? Ek was op pad na die galery en ek het ’n haat gevoel, ’n háát, teenoor wit mense dat hulle weer die audacity het om ons, nie Zuma nie, ons te verneder. Want ek weet, julle sal John Vorster of FW de Klerk of Piet Retief of wie ook al nooit só uitbeeld nie. Julle doen dit net met swart mense. Maar toe jy dit doen, toe verander my hele persepsie.’ ”

Dit alleen het alles die moeite werd gemaak.

“Al was dit net een ou wat ek oortuig het . . . ”

Afrikaners en apartheid

Barend la Grange sê Suid-Afrikaners moet hulself deurentyd afvra hoe hulle ’n beter toekoms vir die land kan bewerkstellig. Foto: Felix Dlangamandla

Vroeër vanjaar het La Grange ook toegetree tot die debat nadat ’n storm om die kop van oudpres. FW de Klerk losgebars het toe hy gesê het apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie.

La Grange was deel van die Besorgde Suid-Afrikaners (Groep van 10) wat ’n verklaring uitgereik het waarin onder meer gesê word apartheid wás ’n misdaad teen die mensdom én moreel onregverdigbaar.

Hy het dié verklaring saam met die ander nege lede van die groep uitgereik omdat hy meen De Klerk verteenwoordig hom as ’n wit Afrikaanssprekende persoon en dat hy stilswyend sy goedkeuring aan die omstrede stelling oor apartheid gee as hy daaroor stilbly, sê La Grange.

Die ergste wat wit mense deesdae kan doen, is om vir swart mense te sê wanneer hulle oor die pyn van apartheid praat: 'Get over it.'

“Ons moes eintlik al lankal verby daardie deel van ons geskiedenis beweeg het, maar ons het nie. Ons sit met die bagasie van die verlede en die meulsteen om ons nekke en ons kan nie vorentoe gaan nie.

“Ons Afrikaanssprekendes moet besef ons het ’n groter verantwoordelikheid as enige ander groep in hierdie land van ons, want ons was in beheer en ons het ’n stelsel toegepas wat baie mense, die meerderheid van ons mense, minderwaardig gehanteer en benadeel het met al hierdie verskillende dinge waarmee apartheid gepaardgegaan het.

“Sommige mense sê apartheid was nie so erg nie, maar as jy punt vir punt daarop ingaan en kyk na wat apartheid behels het . . . geen stemreg nie, gedwonge verskuiwings, jy kon nie beweeg waar jy wou nie, mense moes pasboeke dra, hulle kon nie op dieselfde mooi strande as ons wees nie . . . ”

En die ergste wat wit mense deesdae kan doen, sê La Grange, is om vir swart mense te sê wanneer hulle oor die pyn van apartheid praat: “Get over it.”

’n Beter SA: dorp vir dorp

Suid-Afrikaners moet probeer om hul dorpe beleggers- en toeristevriendelik te maak, sê Barend la Grange. Foto: Felix Dlangamandla

“Die verklaring het egter nie net oor ’n apologie gegaan nie. Dit gaan in ’n groot mate oor die toekoms. Ons moet alles nou agter die rug kry en verder gaan en onsself vra wat kan ons doen om van hierdie land ’n beter land te maak?”

Suid-Afrika sal net ’n beter plek word as sy mense met mekaar oor die weg kom en nie gedurig in konflik met mekaar is en na “ons” en “hulle” verwys nie, antwoord La Grange sy eie vraag.

En dis waarom rasseverhoudings só belangrik is.

Ons is deesdae dikwels met reg negatief, maar ons klop onsself nie genoeg op die skouers vir wat ons destyds reggekry het nie.

Dit moet deurentyd bestuur word, iets wat nie altyd maklik is nie. Maar Suid-Afrikaners het al in die onlangse verlede tot hul eie verbasing en dié van die wêreld rasseharmonie bewerkstellig, sê La Grange met verwysing na die oorgang na demokrasie in 1994.

“Ons is deesdae dikwels met reg negatief, maar ons klop onsself nie genoeg op die skouers vir wat ons destyds reggekry het nie.”

Suid-Afrikaners moet weer daarna streef om te verenig en soos destyds mekaar te help, sê La Grange. Hy is nie ’n politikus nie – sy opsluiting van sowat 18 uur met The Spear-debakel was té kort vir ’n loopbaan in die politiek, spot hy graag – maar hy is ook nie net ’n koffiekroeg-filosoof wat net mooi planne oor koppies cappuccino uitdink nie.

La Grange, wat ’n lang loopbaan in die werknemersvoordele en beleggingsbedryf gehad het en daarvan hou om in Afrika te reis, glo daaraan om die spreekwoordelike elbow grease mildelik aan te wend en alle groepe betrokke te kry om vir ’n beter Suid-Afrika saam te werk.

Klein suksesse gee mense moed, meen Barend la Grange. Foto: Felix Dlangamandla

As bedryfshoof van South Africa Day, ’n niewinsgewende organisasie wat onder meer daarna streef om Suid-Afrikaners bymekaar te bring, was en is hy oor die land heen betrokke by projekte om mense se omstandighede te probeer verbeter en ’n verskil in hul onmiddellike leefwêreld te maak.

South Africa Day kry verskillende groepe, gemeenskappe en selfs politieke partye bymekaar om projekte aan te pak en werf dan borge om dit te steun.

“Dit is nie ’n korttermyn-ding nie. Dit gaan oor ons land se toekoms en ons wil mense so ver kry om te sê: ‘Ek wil nie in ’n varkhok van ’n dorp en ’n land woon nie. Ek wil trots wees om hier te bly.’

“Dorpe moet skoon wees, dit moet beleggersvriendelik en toeriste-vriendelik lyk. Daarom moet elkeen self verantwoordelikheid en eienaarskap neem. Ons kan dit ongelukkig nie net aan die regering oorlaat nie

As jy ’n foto van ’n pothole wil plaas, plaas ook een langsaan van waar jy besig is om daai pothole reg te maak.

“Ek het al vir mense gesê as hulle weer ’n foto op Facebook of sosiale media plaas, moet hulle nie net ’n foto van potholes in die dorp plaas nie. Dit is ’n refleksie op húlle. Ons weet almal die regering doen nie sy werk nie.

“As jy ’n foto van ’n pothole wil plaas, plaas ook een langsaan van waar jy besig is om daai pothole reg te maak. Dan sal mense van buite kan sê: ‘Het jy gesien wat gaan daar aan? Hulle is besig om dit reg te maak.’

“Dís die attitude. As ons nie daai attitude het nie . . . Dit het gelukkig nou al gebeur in plekke wat ons as ’n voorbeeld kan gebruik: Cradock, Waterval Boven, Coligny, Kuruman, Brits, Oranjeville en ander.

“Dit is ook vir my lekker dat dit oorgespoel het na ander plekke waar ons nie eens betrokke is nie, soos Noupoort, Harrismith en talle ander dorpe.

“Ons kan nie orals betrokke raak nie. Die hele doelwit van hierdie projek is om ’n paar modelle te skep wat ander dorpe kan volg.”

Klein suksesse gee hoop

Mense besig met skoonmaakwerk in Alexandra. Foto: Verskaf

Alexandra buite Johannesburg het nou ook aan die beurt gekom, waar hulle volgens La Grange tans hard aan die werk is. Hy praat met aansteeklike entoesiasme van dié projek.

“Ons volg die CRPP-beginsel: C vir cleaning, R vir repair en die twee P’s vir paint and plant. Ons het vir die burgemeester gesê ons gaan saam met die gemeenskap van Alexandra en die sakesektor van Sandton eers skoonmaak, mooimaak en regmaak.

“Ons het ’n ooreenkoms met die Stad van Johannesburg aangegaan dat ons in samewerking met hulle ons deel wil bydra om reg te maak wat stukkend is om só die lewensomstandighede van Alexandra se inwoners te help verbeter.

“As daar ’n paal is met ’n bordjie wat sê: ‘Welcome in Alexandra’ en dit is stukkend, verwyder ons dit en sit ’n nuwe een op. As die munisipale gebou of ’n kliniek of ’n park daar ‘garra’ lyk, dan gaan ons dit regmaak en ons gaan dit verf. Ander opheffingsprojekte sal op dié eerste fase volg.

Rommel word in Alexandra opgeruim. Foto: Verskaf

“Mense sal sê julle skep nie werk nie en sit nie kos op die tafel nie, maar werkskepping is nie so maklik as jy nie die klein dingetjies in die lewe kan regmaak nie. As jy nie skoonmaak en regmaak nie, gaan jy ook nie by werkskepping uitkom nie.”

Volgens La Grange is skoon en netjiese dorpe beleggers- en toeristevriendelik, en mense sal daar wil belê of gaan uitspan. Hulle kan ook nie hele dorpe regruk nie, maar hoop skoon en netjiese ingange en openbare geboue sal die inwoners aanspoor om in hul eie strate aan die werk te spring.

“Klein bietjies suksesse gee mense moed. Dit gaan nie oornag regkom nie, want dis oor jare deur ’n swak Zuma-regering afgebreek.”

Al die probleme in Suid-Afrika skrik La Grange glad nie af nie. Hy wil nêrens anders bly en werk nie.

“Ons het baie groot uitdagings in Suid-Afrika waarvan armoede, werkloosheid en geweldsmisdaad sekerlik van die grootstes is. Suid Afrikaners het egter al deur ons geskiedenis geweldige groot uitdagings te bowe gekom . . . ek glo ons kan dit weer doen.”

’n Voorbeeld van die klein suksesse waarvan Barend la Grange praat: ’n Deeltjie van Alexandra wat as deel van South Africa Day se projek skoongemaak is. Foto: Verskaf
Meer oor:  Fw De Klerk  |  Jacob Zuma  |  Brett Murray  |  Coligny  |  Alexandra  |  Rasseverhoudings  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.