Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Verjaardagkaartjie die begin van dansdroom . . .

’n Verjaardagkaartjie was vir die vyfjarige Georgina Thomson ’n bepalende rigtingwyser na ’n passievolle lewe en onmiskenbare bydrae tot dans in Suid-Afrika.

Min het sy toe geweet dat sy eendag een van die mees invloedryke sleutelspelers in die land se kontemporêre danswêreld sou word met ’n leeftyd wat aan dié kunsvorm gewy is.

Hierdie dinamiese kunspraktisyn speel al meer as 30 jaar lank ’n belangrike rol in die ontwikkeling van kontemporêre dans in Suid-Afrika en het haar onlangs by die Vrystaat Kunstefees-span aangesluit.

Georgina Thomson, die Vrystaat Kunstefees se nuwe bemarking- en ontwikkelingsbestuurder. Foto: Muntu Vilakazi
Thomson se loopbaan het begin as danser, waarna sy as administrateur en tot onlangs as hoof van die Johannesburgse Danssambreel gewerk het.

Groot liefde vir dans

Thomson is in Nederland gebore en was nog klein toe haar ouers na Suid-Afrika geïmmigreer het. Die gesin het hulle aanvanklik in Johannesburg gevestig, maar het later na Lesotho en Thaba Nchu verhuis waar Thomson haar skoolloopbaan begin het.

Toe sy agt jaar oud was, het die gesin Bloemfontein toe getrek waar sy kon skoolgaan.

Sy vertel haar belangstelling in dans is op vyfjarige ouderdom geprikkel toe ’n tannie van haar ’n verjaardagkaartjie met ’n ballerina op gestuur het. “Ek het na die foto gekyk en besluit dit is wat ek eendag wil doen.”

Sy sê sy is nie seker waar haar groot passie vir dans vandaan kom nie, maar sy was nog altyd seker dat dit is wat sy wou doen. Sy het haar aanvanklike opleiding destyds in Bloemfontein by Peggy Morice ontvang terwyl sy skoolgegaan het by die eertydse Greenhill Convent. Ná skool is sy Europa toe en het sy onder meer by die Le Lido in Parys gedans.

Sonia Radebe en Vincent Mantsoe in Hanano Blessing of the Earth, wat in 2008 op die FNB Danssambreel uitgevoer is.Foto: John Hogg
Toe sy destyds opgehou het om professioneel te dans, het sy nie geweet wat om te doen nie, dus het sy ná ’n paar jaar se “rondswerf” besluit om by ’n kunsteraad as administrateur te begin werk. “Ek het by Pacofs begin en het jare lank by The Playhouse in Durban gewerk, waar ek kan sê dat my opleiding in kunsadministrasie regtig vorm aangeneem het. Toe verhuis ek na Johannesburg en begin vir Wits Theatre werk, voordat ek my by Vita Promotions aangesluit het wat die oorspronklike meesterbrein agter die Danssambreel was.”

Thomson het sedert sy die bestuur en administrasie van die Danssambreel in 1997 oorgeneem het, die fees suksesvol ontwikkel van ’n plaaslike Gauteng-gebaseerde fees tot ’n inisiatief wat internasionale bekendheid verwerf het. Die Danssambreel het oor die jare ’n internasionale platform geword en ’n toonaangewende fees vir dans in Suider-Afrika.

“Ek geniet die administrasie-gedeelte van dans regtig baie, omdat dit so oop is om opwindende en verskillende projekte te skep wat kunstenaars sal help met wat hulle doen. Ek was baie gelukkig omdat ek met mense gewerk het wat my toegelaat het om te skep en te ontwikkel soos ek wou. Die Danssambreel was ’n wonderlike avontuur waarmee ek ’n dansplatform van ’n klein geleentheid tot ’n 14 dae lange internasionale dansfees ontwikkel het,” vertel sy.

Rol by Vrystaat Kunstefees

Thomson het verlede jaar aan dr. Ricardo Peach, die direkteur van die Vrystaat Kunstefees, genoem dat sy graag na Bloemfontein sal wil terugkeer. Toe die pos van bemarking- en ontwikkelingsbestuurder van die Vrystaat Kunstefees onlangs beskikbaar word, het sy die geleentheid aangegryp. Sy is sedert Junie heeltyds in die pos aangestel en sê sy sien uit daarna om ’n lang pad saam met die fees te stap.

“Ek weet al baie jare van die fees, maar in die laaste twee jaar het ek opgemerk dat dit ál meer uitbrei en ál meer dissiplines en kulture omarm. Dit is so belangrik dat feeste in Suid-Afrika oopmaak vir samewerking en geleenthede vir kunstenaars skep om werk te lewer. Sodoende word netwerkgeleenthede geskep en help dit om ’n bedryf gesond te hou wat ingelig en gebind is.”

Sy meen ongelukkig is dans aan die onderkant van die lys wanneer dit by feeste kom. “Die Danssambreel wat ek jare lank bestuur het, was langer as 30 jaar die hoofplatform vir dans in Suid-Afrika. Die Danssambreel sal voortgaan, maar onder nuwe artistieke leiding en hopelik sal ander platforms saam met die sambreel werk om dansers weer ’n sterk platform te gee.

“Ek is wel van plan om die geleentheid en platforms vir dans in die Vrystaat te ontwikkel en vir dit om meer sigbaar en volhoubaar te word,” vertel sy.

Volgens haar was dans in die Vrystaat die laaste jare ’n bietjie geïsoleer en hoop sy om meer aktiwiteit hier vir dans te skep.

Georgina ThomsonFoto: Muntu Vilakazi

Stand van dans in Suid-Afrika

Dans in Suid-Afrika is beslis van ’n internasionale standaard, maar finansiers en vervaardigers kyk ongelukkig nie so na plaaslike talent nie, meen Thomson. Sommige Suid-Afrikaanse choreograwe en dansers bestee as gevolg hiervan meer tyd op internasionale verhoë as hier, vertel sy. “Naas jazz en kontemporêre musiek, dink ek dat kontemporêre dans die mees uitgenooi-de werk aan internasionale feeste is.”

As sy uitgevra word oor van die mees onvergeetlike dansmomente in haar loopbaan, dink Thomson hard.

“Sjoe, daar is so baie! Beslis Robyn Orlin, die Suid-Afrikaanse choreograaf wat altyd een stap voor almal is wat nou ’n internasionale loopbaan geniet. Ek het haar jaar ná jaar gesien dans en net geweet sy was op ’n ander vlak. Dan is daar Akram Khan, ’n Britse choreograaf wat ek aan die begin van sy loopbaan na die Danssambreel genooi het. Vandag is hy so bekend ons sal hom waarskynlik nie sommer gou weer in Suid-Afrika sien dans nie. Sy werk is verstommend.

“Salia ni Seydou van Burkina Faso was wonderlik en ons sien net nie meer die soort werk soos wat hulle hier in Suid-Afrika gedoen het nie. Mamela Nyamza, wat van ’n klassieke balletdanser tot ’n internasionaal bekende kunstenaar en choreograaf ontwikkel het. Daar is baie, baie meer en ek moet sê dat een van die beste dinge van die Danssambreel die vermoë was om werk van die jong Suid-Afrikaanse choreograwe te vervaardig en te kyk hoe hulle ontwikkel.”

Van die jong, opkomende dansers en choreograwe wat ons volgens haar beslis moet dophou, is – om net ’n paar te noem – The-mba Mbuli, Musa Hlatshwayo, Sonnyboy Motau, Kristi-Lee Gresse, Adrianne Jamisse en Sonia Radebe.

Gevierde loopbaan

Thomson het oor die jare verskeie erkennings vir haar bydrae tot dans ontvang, maar vertel dat die een eerbewys wat beslis bo die res uitstaan, is die Offisier de l’Ordre des Arts et des Lettres (Beampte van die Orde van die Lettere en Letterkunde) wat sy van Frankryk ontvang het.

“Ek waardeer al die eerbewyse wat ek ontvang het, maar ek moet sê boaan die lys is Offisier de l’Ordre des Arts et des Lettres. Dit is beslis die mees gesogte eerbewys en een waarop ek baie trots is.” Sy het dit ontvang vir die samewerkingsgeleenthede wat sy oor die jare tussen Suid-Afrika en Frankryk bewerkstellig het.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.