Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Vertrou op wetenskap en nie gode’

Deel van sy werk is om mites te probeer beveg wat vir die mens dodelik is, sê prof. George Claassen, wat pas vereer is vir sy rol as die “vader van wetenskapskommunikasie in Afrika”, aan Murray La Vita.

Prof. George Claassen gesels vandeesweek in die Botaniese Tuin in Stellenbosch oor sy werk en lewe. Foto: Jaco Marais

Die man met die hoë voorkop wat hier onder ’n boom in Stellenbosch se Botaniese Tuin sit, is ’n rasionele mens, iemand wat die wetenskap bo geloof gekies het.

George Claassen is geklee in jeans en ’n gestreepte kortmoulinnehemp. Hy is 70, maar lyk heelwat jonger. Sy lenige gestalte herinner jou daaraan dat sy agtergrond een is van intellektuele én fisieke uitnemendheid. Sy pa, George, ’n skoolhoof, het op sy dag die Comrades-marathon gewen; sy jonger broer Wynand, ’n argitek, was ’n Springbokrugbyspeler, en hy wat George is, was tussen 1970 en 1972 ’n Noord-Transvaalse landloopatleet.

Die gesprek met Claassen vind plaas teen die agtergrond van ’n groot eer wat hom pas te beurt geval het – hy het verlede week die eerste ontvanger van die Universiteit Stellenbosch se Media Lewenslange Prestasieprys geword.

“Claassen het die denke van ’n hele generasie joernaliste wat in Suid-Afrika en oorsee werksaam is, gevorm deur sy kennis van wetenskapskommunikasie oor te dra en joernaliste die vaardigheid aan te leer om vals nuus en pseudowetenskap te identifiseer,” het Martin Viljoen, bestuurder van media aan die US, in ’n commendatio gesê en hom as die “vader van wetenskapskommunikasie in Afrika” beskryf.

Darwin om die etenstafel

Prof. Hester Klopper, viserektor van strategie en internasionalisering aan die US, oorhandig die US se Media Lewenslange Prestasieprys aan Claasen. Foto: Anton Jordaan

“My eerste stimulus met betrekking tot wetenskapsjoernalistiek was waarskynlik die astronomierubriek van die fisikus prof. Arthur Bleksley in The Star.

“My pa was ook ’n wiskunde-onderwyser, hoewel hy ’n M-graad in Afrikaans gehad het. En my ouer broer Danie was ’n chemiese ingenieur, so daar was baie wetenskapsgesprekke rondom ons etenstafel, oor Darwin en oor evolusie. Danie is uit die Bybelkundeklas gejaag omdat hy durf vra het hoe gaan jy natuurlikse seleksie verduidelik aan die hand van wat hulle in die Ou Testament geleer word.

“Toe vertel hy die middag aan die etenstafel vir my pa daarvan en toe sê my pa: ‘Jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie.’”

Claassen het ’n “onwankelbare geloof in die mag van die wetenskap om die mens se kennis te verbreed en die mens van onkunde, godsdienstige aansprake of geloof in enige vorm van godheid en bygeloof te red”.

Dít is hoe ’n resensent in Koers, die bulletin vir Christelike wetenskap, skryf oor sy boek Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite.

‘Jy moet ’n algemene kennis hê’

Claassen het aanvanklik regte aan die US studeer, maar ná twee jaar besluit die regsberoep staan hom nie aan nie.

Hy het daarna aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer waar hy uiteindelik ’n meestersgraad in Afrikaans en Nederlands behaal het en later deur Unisa (en studie in Vlaandere) ook ’n doktorsgraad.

‘Hoekom weet ons so min?’

Claassen het ook die kursus kulturele geletterdheid in die US se joernalistiekdepartement geskep.

“Dit kom eintlik maar neer op algemene kennis. My intreerede as professor was ook daaroor, want dis ’n bee in my bonnet: Hoekom weet ons so min? Ook ons as joernaliste?

“Kyk, ons het inligtingsoorlading. Die ding wat my vreeslik bekommer oor die joernalistiek . . . Die joernalistiek gaan sterf of oorleef op grond van hoe goed ons ons wêreld waarneem.

“Verstaan ons ons wêreld? Kan ons konteks gee? Baie van die beslissings in die ombudskantore is dat mense ’n sinnetjie uit verband uit gryp sonder om die volle konteks te sien wat die joernalis skryf.

“En jy as joernalis kan net dinge behoorlik verduidelik as jy die historiese agtergrond behoorlik gee.”

“Elize Botha was my M-promotor en my PhD-promotor. Sy was ’n wonderlike mens. Sy het vir jou riglyne gegee van waarnatoe jy kan gaan. En sy het altyd in potlood kommentaar geskryf as jy byvoorbeeld vir haar ’n hoofstuk van jou PhD indien. Ek sien ook deesdae al my goed na met ’n potlood.”

In sy honneursjaar was een van sy vakke leksikografie wat deur prof. Louis Eksteen, die woordeboekmaker, aangebied is.

“Hy was ’n wye mens, ’n mens wat baie van die dinge waarin ek vandag nog glo, oorgedra het: dat jy ’n geweldige algemene kennis moet hê om ’n goeie joernalis te wees.”

Hy het weens ’n staatsdiensbeurs vir nege maande vir die Staatsdienskommissie as mediabeampte gewerk voordat hy in 1974 in die Pretoria-kantoor van die nuwe dagblad Beeld begin werk het.

“Ons het drie koerante op ’n dag gekry waar ons in Middelburg in die ou Transvaal gewoon het – in die oggende was dit Die Transvaler en in die middae Die Vaderland en The Star. So, ek het van kleins af daardie stimulering gehad – léés jou koerant; wees blootgestel aan nuus. Ek dink dit moes soort van in my gene geloop het.”

‘Op twee stoele’

“Die media – ons almal – het te lank aandag gegee aan die sogenaamde ontkenners.” Foto: Jaco Marais

Claassen het uiteindelik beland in ’n wêreld waar hy “feitlik op twee stoele sit”.

“Enersyds is ek absoluut meegesleur deur wetenskapsjoernalistiek. Ons is op Stellenbosch nog die enigste universiteit in Afrika wat ’n volwaardige kursus in wetenskapsjoernalistiek aanbied.”

Hy het dié kursus in die universiteit se joernalistiekdepartement gevestig waar hy in 1993 as hoof aangestel is en steeds dié kursus en ’n kursus in media-etiek aanbied.

Claassen het in 2001 ’n adjunkredakteur van Die Burger geword en was ook wetenskapsredakteur wat vir sewe jaar ’n wetenskapsrubriek vir die koerant geskryf het.

Die ander “stoel waarop hy sit”, is dié van ombudsman. Hy het in 2002 Die Burger se ombudsman geword en is in 2008 aangestel as ombudsman vir Media24 se meer as 90 streekskoerante.

Claassen is in 2018 ook aangestel as ombudsman/lesersredakteur van News24 en sedert 2006 is hy ’n raadslid van die internasionale Organisation of Newsombudsmen & Standards Editors (ONO).

‘Geen Damaskus-ervaring’

‘Hulle mening is nie geldig nie’

160 jaar nadat Darwin se The Origin of Species gepubliseer is, is daar nog miljoene mense wat glo die aarde is net 6 000 oud, sê Claassen.

“Hoe is dit moontlik? Wat is ons rol in die media om hierdie goed dood te slaan? Ek het onlangs in ’n rubriek op News24 geskryf nadat ek teruggekom het van die ONO se kongres by Columbia-Universiteit.

“Daar was ’n baie diepgaande bespreking tussen media-ombudsmense van oor die wêreld heen oor hoe ons ontkenners moet hanteer – die mense wat byvoorbeeld sê klimaatsverandering vind nie plaas nie, of die kreasoniste wat evolusie ontken.

“Moet ons hulle die geleentheid bied om repliek te lewer? En die argument daar was: Hulle mening is nie geldig nie. Ons het nie nodig om die audi alteram partem-beginsel, die reg om repliek te lewer, toe te pas nie.

“Jy beoordeel dit op grond van die wetenskaplike bewyse. Die joernalistiek werk op die grondslag van die blinde Lady Justice met haar skaal; die skaal van bewyse:

Aan die een kant die vraag of die storie akkuraat is en aan die ander kant wensdenkery.

Hoe het hy by die punt uitgekom waar geloof deur rasionele denke vervang is?

“Ek dink ons het almal as gelowiges grootgeword. Vir my was daar nie ’n Damaskus-ervaring nie. Dit was ’n geleidelike groei juis omdat ons so blootgestel was aan boeke. Ek dink hoe meer jy lees hoe meer begin jy twyfel aan dinge en bevraagteken jy alles.

“Ek beskou myself as ’n rasionele mens. Ek dink die wetenskap, met al sy gebreke, het die meeste waarhede vir ons. Ek dink die filosofie is belangrik; die mens filosofeer al van antieke tye af.

“Die feit bly staan – vir my om die waarheid perfek vas te stel, om seker te wees, is die wetenskap die beste manier om uit te vind.”

Dit is egter nie absolute waarhede nie; die wetenskap is bereid om “reggestel te word”.

“En dit is ook my rol as ombudsman. Ons moet kan sê: Jô, ek het ’n fout gemaak.”

Baie ombudstelsels, soos ook in die bank- en versekeringswese en die motornywerheid, het tot stand gekom om lede van die publiek wat nie kan bekostig om na ’n hof te gaan nie, te help.

“Jy kan nie glo hoeveel mense word in Suid-Afrika verneuk nie of kry swak diens nie,” sê hy.

‘Waar is jou bewyse?’

“Enersyds is ek absoluut meegesleur deur wetenskapsjoernalistiek.”Foto: Jaco Marais

Die grondslag en die krag van die wetenskap is bewyse – waar is jou bewyse?

“En joernalistiek doen dieselfde. My rol as ombud sluit baie nou aan by die wetenskapsjoernalistiek, want die wetenskap soek bewyse en in die joernalistiek moet dit waaroor ek skryf akkuraat wees. Die Suid-Afrikaanse Perskode sê baie duidelik in sy eerste sinnetjie: Ons moet nuus so akkuraat, so waarheidsgetrou en so regverdig as moontlik rapporteer.

“Nou sit jy in hierdie wêreld . . . Ek as ombudsman kry klagtes oor kwaksalwer-advertensies, oor mense wat bedrieg word . . . Kom ons neem twee voorbeelde uit ons wetenskapswêreld vandag waar die media ’n baie kardinale rol gespeel het om die verkeerde boodskap uit te stuur.

“Dit is klimaatsverandering en die anti-inentingsveldtog. Kyk wat is die gevolge daarvan. Die media – ons almal – het te lank aandag gegee aan die sogenaamde ontkenners – klimaatsontkenners.

“Neem die anti-inentingsveldtog; ons het nou die ding wat in Samoa gebeur het [maselsepidemie] omdat anti-inentingsveldtog-mense soontoe gegaan het – onder andere Joseph Kennedy, voormalige kongreslid en lid van die beroemde Kennedy-familie, wat een van die groot ontkenners is saam met Oprah Winfrey en ’n klomp van hierdie glanspersoonlikhede. En hulle speel ’n geweldige rol om verkeerde feite te versprei.”

‘ ’n Klomp twak’

Baie van die klagtes wat hy as ombudsman kry, is van mense wat mislei is deur advertensies in die media.

“Byvoorbeeld die Bio-Strath-advertensie op RSG hier in die eksamentyd wat verkondig dit kan jou kind se punte met tot 30% verbeter. Ons het al voorheen by RSG hieroor gekla – ek is ook hulle wetenskapskorrespondent – en toe is daar nou teen Bio-Strath bevind. Hulle moes die advertensie onttrek; dis ’n klomp twak.

Kwaksalwery maak mense dood.

“So, baie mense word mislei. Jy sit met ’n dilemma dat mense broos is. Die gemiddelde mens is in die eerste plek nie wetenskaplik-geletterd nie, in die sin daarvan dat ons nie ons wêreld verstaan nie . . . En besef dat die bewyslas alles is nie – in die reg, maar ook in die wetenskap: Jy het wetenskaplike bewyse nodig voordat jy enige aanspraak kan maak.”

Kwaksalwery maak mense dood, sê hy en verwys na ekstreme voorbeelde soos die geloof wat ontstaan het dat MIV/vigs genees kan word indien ’n man ’n maagd verkrag, of die Marikana-mynwerkers wat geglo het die moeti wat ’n sangoma aan hulle verskaf het, sal hulle bestand maak teen koeëls.

Daar is ook die voorbeelde van kankerpasiënte wat ander behandelings kies bo byvoorbeeld chemoterapie of bestraling.

Onsinverklikkers

Claassen het die woord “onsinverklikker” geskep – iets wat ons almal het, maar wat dikwels nie “aangeskakel” is nie en ons daarom deur kwaksalwers en wolhaarstories om die bos gelei word. Hy skryf breedvoerig daaroor in sy boek Kwakke, kwinte & kwale – hoe ’n onsinverklikker jóú lewe kan red.

“Deel van my werk is om mites te probeer beveg wat vir die mens dodelik is. Ek dink waar ons ons grootste foute maak, is wanneer ons onsinverklikkers nie aangeskakel is nie en ons gló wat mense vir ons vertel.”

Ons is in ons glory in en ek weet nie hoe ons dit gaan regmaak nie.

Hy praat weer oor die skade wat ontkenning oor klimaatsverandering veroorsaak het.

“Regerings het vir jare nie opgetree nie; nou begin hulle optree en dis te laat. Al die verslae wat ek lees, maak dit duidelik: Ons is in ons glory in en ek weet nie hoe ons dit gaan regmaak nie. Ek het vier kleinkinders en as ek in hulle oë kyk dan dink ek: Ek is oor 20, 30 jaar, môre miskien, nie hier nie; wat gaan hulle kinders doen? Hoe gaan hulle hierdie ernstige droogtes, die vloede, die feit dat daar – soos al die klimatoloë voorspel – wateroorloë gaan kom; hoe gaan hulle dit trotseer?"

'Nie alleen of bang’

“Ek het nog nooit alleen gevoel nie.” Foto: Jaco Marais

Kan die wêreld nie ’n baie eensame en onverbiddelike plek wees sonder geloof nie?

“Ek weet nie . . . Ek het nog nooit alleen gevoel nie. Ek het nie nodig om in ’n buitegeskepte wêreld, ’n wêreld wat mense vir hulself geskep het, te gaan glo om te voel nou is ek skielik nie meer alleen nie.

“Ek het baie boeke om te lees en ek het baie vriende en wonderlike familie . . . Ons het almal ons stiltes en ons alleenheid nodig. Lina Spies het iewers geskryf ons onderskat die waarde van stilte.

“Nee, ek voel nie alleen nie, en ek het ook nie vrese daaroor nie. Ek kruis nie swaarde met mense daaroor nie. Die kerke nooi my nogal baie uit om te kom praat by geleenthede waar ons dan oor baie goed praat en filosofeer.

“Jy kry baie mense wat absoluut oop is vir oortuiging, maar jy wil hulle nie oortuig nie; jy vertel hulle net van die wêreld waaruit jy kom, sodat hulle ook net beter begrip het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.