Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Vigs: van beet tot hoop
Prof. Sinead Delany-Moretlwe, navorsingsprofessor- en direkteur by Wits se instituut vir voorplantingsgesondheid en MIV.Foto: Wits

Vandag is Internasionale Wêreldvigsdag. In die afgelope twintig jaar het Suid-Afrika se benadering tot MIV/vigs-behandeling ’n revolusie ondergaan, het een van die land se voorste wetenskaplikes aan Carla Lewis gesê.

Prof. Sinead Delany-Moretlwe het pasiënte met MIV/Vigs twee dekades gelede begin behandel terwyl die destydse minister van gesondheid hoog en laag gesweer het die oplossing is beet.

Nie net het wyle dr. Manto Tshabalala-Msimang geweier om in die openbaar te verklaar dat vigs deur MIV veroorsaak word nie, sy het ook geglo knoffel, Afrika-aartappels en kruie-aanvullings is saam met beet die beste behandeling. Sy was ook bekommerd omdat antiretrovirale middels (ARM) “giftig” sou wees.

Haar benadering het gestrook met oudpres. Thabo Mbeki s’n. Hy het in 2000 die toorn van duisende vigs-wetenskaplikes en dokters op die hals gehaal by die dertiende internasionale vigskonferensie in Durban ook geweier om te erken dat die siekte deur MIV veroorsaak word. Dis eerder ’n oorsaak van armoede, het Mbeki verklaar.

By dieselfde konferensie het ’n brose, uitgeteerde Nkosi Johnson (11), een van die land se bekendste vigs-aktiviste, gepleit dat die Suid-Afrikaanse regering ARM’s geredelik aan MIV-positiewe swanger vroue beskikbaar moet stel – iets wat nie vir sy ma beskore was nie. Dit sou eers in 2004 gebeur, drie jaar na sy dood in 2001, na ’n rits hofsake en druk van vigsaktiviste en die Treatment Action Campaign (TAC).

Luidens ’n studie deur Harvard is sowat 300 000 Suid-Afrikaners tussen 2000 en 2005 dood weens MIV/Vigs. In daardie tydperk is 35 000 MIV-positiewe babas gebore, wat ook luidens die studie voorkom kon word met die regte medikasie

“Vandag lyk die prentjie aansienlik anders,” sê prof. Sinead Delany-Moretlwe, navorsingsprofessor- en direkteur by die Universieit van die Witwatersrand se instituut vir voorplantingsgesondheid en MIV.

Delany-Moretlwe is die leier van ’n nuwe studie wat internasionaal as ’n mediese deurbraak in die voorkoming van MIV/vigs beskou word.

Krediet vir regering

Dit behels ’n nuwe MIV-teenmiddel wat net een keer elke agt weke ingespuit word. Dié middel, Cabotegravir (CAB LA) het weinig newe-effekte en is makliker om te gebruik as die bestaande medisyne wat daagliks as ’n pilvorm geneem moet word. Boonop blyk dit 90% meer effektief te wees as die bestaande middel. Die middel behoort binne twee jaar beskikbaar te wees.

“Twintig jaar gelede het soveel van die vigspasiënte wat ek behandel het, het gesterf. Ons het nie die gesofistikeerde toetsgeriewe van vandag gehad nie, daar was nie toegang tot ARM’s nie,” vertel Delany-Moretlwe tydens ’n Zoom-onderhoud.

Sy meen daar was die afgelope twintig jaar ’n “reuse revolusie” in die benadering tot MIV en vigsbehandeling in die Suid-Afrikaanse openbare gesondheidsektor.

“Dit het jare geneem voordat ons toegang gekry het tot die tipe ARM’s van vandag. Nou kan ’n mens een pil sluk, met drie tipes medikasie in. Daar is min newe-effekte.

“Die regering verdien werklik krediet om die heeltyd toetsgeriewe uit te brei en ARM’s makliker bekombaar te maak, sodat ons soveel mense as moontlik kan toets en sorg dat hulle die regte medikasie kan kry. Basies het dit ’n chroniese toestand geword wat effektief behandel kan word.”

Wees waaksaam

Tog is dit nog geen rede om houtgerus oor MIV/vigs te wees nie, benadruk sy. Ten spyte van navorsing en behandeling wat die afgelope dekade met rasse skrede gevorder het, bly dit een van die grootste gesondheidsuitdagings van ons tyd.

“MIV, tot onlangs, was een van die globale pandemies wat ons nie werklik suksesvol kon beheer nie. Tot nou toe bestaan daar nie ’n entstof of ’n kuur nie. Wanneer ’n jong vrou MIV-positief getoets word, het dit steeds ’n reuse impak op die res van haar lewe.

“Die meerderheid (59%) van nuwe MIV-infeksies in Afrika suid van die Sahara is by jong vroue. Om dit in perspektief te stel: in die ouderdomsgroep 15 tot 24 vind daar weekliks sowat 5 000 nuwe infeksies in die streek toe.

“Nou dink jouself in, ’n 19-jarige vrou met haar hele voor haar hoor sy is MIV-positief. Sy het nog nie eers aan kinders gedink nie. Op die ouderdom gaan jong vroue nog in talle verhoudings wees, voordat hulle hul lewensmaat ontmoet. Nou moet hulle begin dink aan hul status en die implikasies wat dit vir hulle, hul seksmaats en lewensmaats inhou.

“So effektief as wat langtermyn antiretrovirale behandeling is, kan daar steeds ook langtermyn-newe-effekte daarmee gepaard gaan,” verduidelik sy.

Voorkoming is beter

“Ons moet aanhou om dit vir jong mense te beklemtoon: hoewel MIV/vigs nie ’n doodsvonnis is nie, is dit ook nie ’n ideale toestand waarmee jy lewenslank mee wil saamleef nie. Soos die slagspreuk lui, voorkoming is beter as genesing.”

Hoe meer keuses mense het om MIV te voorkom, hoe beter is die kans vir suksesvolle beskerming. Dit sal ook goedkoper wees om hoërisiko-individue toegang tot die inspuiting te gee, as wat dit regerings kos om mense lewenslank op anti-retrovirale te behandeling plaas.

Die doel met die voorkomingsmiddel is om hoërisiko-individue – soos jong mense en sekswerkers – te teiken totdat hulle ’n tydstip in hul lewe bereik het waar hul kans minder is om die virus op te doen.

“Dis ’n koste-effektiewe ingryping. Lande moet besef dis iets waarin hulle moet belê. As ons een ding gesien het met Covid, is dit dat mense net normaal wil voortgaan met hul lewens. Daar is al hierdie praatjies van vigsvoosheid en Covid-kapoet, maar as jy my vra, is die hele wêreld doodgewoon voos. Punt.

“Ons moet onsself bekommer oor MIV, ons moet onsself bekommer oor Covid ...”

Sy glo die inspuiting sal paartjies ook toelaat om ’n gesonde sekslewe te geniet en die angs en vrees uit die besluit neem wanneer hulle besluit om kinders te kry.

Nog ’n lang pad

Alhoewel die middel ’n groot mediese deurbraak is in die stryd teen MIV-vigs, gaan dit nog ’n rukkie neem voordat die inspuiting in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees.

Daar is nog ’n paar studies waarvan die data volgende jaar aan mediese beheerliggame, insluitende die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) voorgelê gaan word.

“Ek het verneem die FDA beskou die middel as ’n baanbrekersbehandeling, wat beteken dat hulle die hersiening daarvan waarskynlik sal bespoedig. Ons kyk na goedkeuring teen einde 2021 en om dit teen 2022 op die mark beskikbaar te hê.”

Delany-Moretlwe waarsku dat die goedkeuringsproses in Sub-Sahara Afrika egter stadiger is, maar sê die navorsers kyk na voorstelle om die proses te versnel.

Maar daar is ook burokratiese rompslomp betrokke. Riglyne moet ontwikkel word oor hoe die middel by lande se bestaande voorkomingsprogramme gaan inskakel en daar moet onderhandel word oor die prys van die medikasie.

“Maar ek glo daar is ’n wereldwye onderneming om seker te maak dat vroue wat in hoërisiko-lande bly, toegang tot die middel gaan kry.”

Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Beet  |  Fda  |  Vigs  |  Behandeling  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.