Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Vinette: ‘Dít was spyker in my kis by 7de Laan’

Vinette Ebrahim vertel aan Murray La Vita wat agter die skerms by 7de Laan gebeur het en waarom haar kontrak nie hernu is nie.

Vinette Ebrahim: “Ek dink ek is onregverdig behandel deur 7de Laan, en ek sê dit nou soos dit is.”Foto: Jaco Marais

Haar rol in die rolprent Barakat, wat in die Kaapse woonbuurt Lansdowne verfilm is, het haar “seer weer heelgemaak”, sê Vinette Ebrahim.

“Dit het soos barakat vir my gekom . . . Jy weet barakat beteken in Arabies blessing. Ek speel die ma. Dit gaan oor ’n ma met vier seuns en sy is ’n weduwee en sy wil weer trou. En die seuns sê: ‘Nee! Hoekom? Jy het vier groot seuns en ons sal na jou kyk.’

“Vir my was die hele opset, die hele . . . Almal: die crew, die cast . . . Dit was vir my asof al die engele uit die hemel uit net bymekaar gekom het om hierdie movie te maak, want die koestering en die liefde en die omsien na mekaar, die respek . . .

Dit was asof iemand net gekom en gesê het: Hier, ek streel jou weer.

“Dit het my seer weer heelgemaak. Dit was asof iemand net gekom en gesê het: Hier, ek streel jou weer. Ek laat jou weer glo in die bedryf, want ek het ’n baie seer hart gehad oor die bedryf ná wat met 7de Laan gebeur het.”

Vinette het sedert April 2000 die gewilde karakter Charmaine in 7de Laan vertolk en het die sepie aan die einde van Oktober 2019 verlaat nadat haar kontrak nie hernu is nie.

“Dit was vir my asof iemand net vir my gevat het – en ek glo dit was die Man daarbo – en in die middel van hierdie mense geplaas het en gesê het: ‘Hier, hulle gaan jou seer weer regmaak.’

“Ek het met wonderlike mense gewerk – June van Merch, Quanita Adams, Joey Rasdien, Keanu Lee Hector, Danny Ross, Mortimer Williams . . . En vir Mortimer was dit ook, dink ek, ’n plek om weer te herstel, want hy was deel van die verskriklike skietery in Melville. Hy is een van die mense wat raakgeskiet is en dit was nét-nét of hy was die vierde persoon wat gesterf het.

“So, vir ons altwee was dit soos ’n plek om na te kom om weer . . . to heal.

“En Amy Jephta – what a clever person! Sy en Ephraim Gordon het dit geskryf en sy was die regisseur. Sy’s 31, maar sy is hierdie genius vrou . . . Wat vir my fantasties is, is dat hierdie jong mense vir my wil saamneem op hulle reise.”

‘Onregverdig behandel’

Sy vertel van die omstandighede waaronder sy 7de Laan verlaat het.

Dinge het by 7de Laan begin gebeur wat baie onregverdig was teenoor die akteurs.

“Ek dink ek is onregverdig behandel deur 7de Laan, en ek sê dit nou soos dit is. My bedoeling . . . Partykeer help jy mense om op hulle voete te staan want hulle vra vir jou: ‘Wat moet ons doen?’

“Dinge het by 7de Laan begin gebeur wat baie onregverdig was teenoor die akteurs. Hulle het verwag dat ons naweke begin werk om wat hulle genoem het ‘mall activations en school activations’ te doen – sonder betaling.

“Hulle verskoning is dit staan in die kontrak. Ja, ons weet wat in die kontrak staan. Die SABC het gesê ons moet minstens ses van hierdie activations doen ’n jaar vir hulle, SABC, en dan verwag 7de Laan dat ons vir hulle óók ses doen. So, dis 12 ’n jaar, sonder betaling.

Vinette Ebrahim tydens ’n besoek aan die Primêre Skool Despatch.Foto: Melissa Nel

“Fine, oukei, dis in die kontrak, that’s what we signed up for. Skielik word dit 18 – 6 vir die SABC en 12 vir 7de Laan! So dít beteken ná jou werk op ’n Vrydagoggend word jy in ’n Kombi ingelaai en gevat na Heidelberg toe of wherever toe en daar moet jy na ’n skool toe gaan om te perform, want dít is basies wat hulle van jou verwag.

“Óf, sekere mense word op ’n vliegtuig gesit en Kaap toe gevlieg of Durban toe of wherever, en hulle dink dis vet pret want jy word in ’n fantastiese plek – ’n Airbnb of whatever – opgesit. Dáár word vir jou drank gevoer tot dit by jou ore uitkom en dan word jy nou Vrydag, Saterdag én Sondag na malls of skole toe gevat, en dan word daar van jou verwag om Maandag vars by die werk te wees en jou woorde te ken.

En toe weet ek: Ek het ’n spyker in my kis geslaan.

Die jonger akteurs het hieroor begin kla.

“Toe is daar ’n vergadering tussen die akteurs. Ons praat toe onder mekaar. Daar was 16 akteurs uit die 24 en ons stel toe ’n brief op, maar ons noem dit nie eens grievances nie; ons sê dit is concerns, en hulle antwoord glad nie.

“En toe ons wéér vra het hulle die brief gekry, toe sê Frances Maposa [’n vervaardiger van die reeks] vir ons: ‘We don’t deal with groups, we deal with individuals and you will be dealt with at your contract negotiations.’ En toe weet ek: Ek het ’n spyker in my kis geslaan.”

Waar is die geld vir die kunste?

Dit pla Vinette dat daar in Suid-Afrika nie van regeringskant steun vir die kunste is nie.

“As hierdie land . . . As dit ’n normale situasie was; as dit ’n land was waar alles reg was; as daar nie korrupsie was nie, as daar nie leuens was nie, as daar nie uitgevrete politici was nie en ons het net gesukkel omdat ons ’n Afrikaland was, kon ek dit verstaan het dat die kunste nié ’n prioriteit is nie.

“Maar in ’n normale land sou die kunste deel van ons raamwerk gewees het. Dit pla my verskriklik dat daar nie geld is vir kunste nie. Dáár, net anderkant waar die Athlone towers was, is daar hierdie móérse park, the Walk of Heroes, waar elke beeld omtrent R380 000 gekos het.

“Nou waar het daai geld vandaan gekom? Waar? En hier sukkel ons om ’n toneelstuk op die planke te bring.”

Sy ‘soek nie wraak nie’

Hulle het van haar ’n voorbeeld gemaak, meen Vinette.

“Hulle wou vir die jongspan wys: ‘Dís wat gebeur as jy met ons mors.’ En dis wat hulle gedoen het – ná amper 20 jaar.

“Ek het gedink: As dit só moet wees, dan moet dit so wees . . . Ek was kwaad, ek was hartseer, ek was al daai goed, maar ek het nooit wraak gesoek en gedink: Ek gaan julle kry! nie, want dit het vanself gekom.

“Een ná die ander het van die ou 7de Laan-akteurs bedank. Christo Davids het gegaan – wel, hy was ’n regisseur teen daai tyd; Theodore Jantjies het gegaan; Patrick Shai – hy was nie ’n ou 7de Laan-akteur nie, maar hy was deel van die A-span – het gegaan. En daar is ander mense wat ook besig is om te bedank . . .

“So, vir my was dit onnodig om wraak te soek of om lelik te wees in die koerante of whatever, maar nóú kan ek daaroor praat.”

“Ek was kwaad, ek was hartseer, ek was al daai goed.”Foto: Jaco Marais

Deure gaan oop

Skielik was sy sonder ’n inkomste.

“Maar daar het ander deure oopgegaan. Mense soos Hennie van Greunen en Pedro Kruger het my genader en ek het saam met hulle gewerk vir ses weke. Onmiddellik – uit 7de Laan en in saam met hulle. Ek het vir hulle as beoordelaar opgetree by Curro-skole se Curro Create.

“Net daarna het ek Binnelanders toe gegaan vir drie weke, wat ook baie lekker was; en toe begin ek Barakat skiet. En nou is daar nóg iets wonderliks wat met my gaan gebeur – ek gaan saam met Nicola Hanekom werk, en dít is vir my ’n bucket-list geleentheid.

“Sy is mos bekend vir haar plek-spesifieke toneelstukke. En hierdie is weer so een. Die naam is Mirre en aalwyn en dit is by die KKNK in en om ’n huisie op ’n dorre vlakte buite Oudtshoorn. Soos ek dit sien, gaan dit oor waar is daardie fyn lyn tussen madness en sanity.

“Ek speel weer eens ’n ma – die ma van twee dogters. Hulle word gespeel deur Amalia Uys en Kenley Swart. Gretha Brazelle is ook daarin.”

Aktivis en rolmodel

Die Kunste Onbeperk Inspirasie-prys is onlangs aan haar toegeken “vir haar werk op die verhoog en in TV en rolprent, maar ook vir haar rol as aktivis en rolmodel”.

“Ja, op my laagste punt kom hierdie amazing award van die KKNK. Die aand toe die pryse oorhandig is . . . Ek het geen toespraak voorberei nie, en ek het net daar gestaan en gedink: Wat sê ek oor hierdie situasie?”

“Ja, op my laagste punt kom hierdie amazing award van die KKNK.”Foto: Jaco Marais

Die situasie waarna sy verwys is rassistiese aanslae op haar op sosiale media deur mense soos Sunette Bridges en haar volgelinge.

“Toe kom die woord ‘ander’ by my op. Sal ons altyd ander bly; gaan ons vir altyd dié wees wat nie inpas nie? En ek praat nou van mense wat denkende mense is. Is ons daai ander of is hulle daai ander?

En ek sal alles in my vermoë doen om jou nie eers as mens te beskou nie omdat jy nie dieselfde velkleur is as ek nie, omdat jy nie van dieselfde kultuur as ek is nie.

“Want dit freak my heeltemal uit dat daar ’n groepie mense is in hierdie land wat nóú nog nie kan bykom nie. Wat nóú nog daagliks met klappe oor hul oë deur die lewe gaan en sê: ‘Ek sal nie deel wees van die vordering in hierdie land nie. Ek sal alles in my vermoë doen om af te breek waar hulle opbou. En ek sal alles in my vermoë doen om jou nie eers as mens te beskou nie omdat jy nie dieselfde velkleur is as ek nie, omdat jy nie van dieselfde kultuur as ek is nie.’”

Doodsdreigemente

“Ek gaan nie ophou om vir hulle uit te wys en te ontbloot nie. Ek gee nie om wat jy dink of hoe jy jouself beskou nie, maar jy het nie die reg om vir my as mens te sê ék het nie die reg om hier te wees nie of ek verdien witmansgeld of ek mag nie op 7de Laan wees nie want ek praat nie die regte Afrikaans nie of Afrikaans is nie my taal nie . . . Wie de hél!

En dan is daar die doodsdreigemente en die feit dat hulle my die aakligste name noem en vir my sê die enigste werk wat ek eintlik moet doen, is om in die kombuis te werk . . .

“Dít is al wat na my geslinger is. En dan is daar die doodsdreigemente en die feit dat hulle my die aakligste name noem en vir my sê die enigste werk wat ek eintlik moet doen, is om in die kombuis te werk . . .

“Daar is mense wat nog só dink in 2020, en dit kán nie toegelaat word nie. My hele ding is: Ons súkkel só in hierdie land . . . Ons het kragonderbrekings; daar is die waterkwessie; die hele ekonomie van hierdie land is ’n probleem, die politici is ’n probleem.

“Kan ons nie net saamstaan, geestelik en emosioneel en fisies, en sê: ‘Ons gaan mekaar saam deur die drif dra’, nie? Móét ons nog al hierdie klein goedjies . . . Moet dit nog soos swere oopbars elke keer? Waar is ons?”

“Maar daar het ander deure oopgegaan.”Foto: Jaco Marais

‘’n Aktivis is ’n normale mens’

Dit is vir haar ’n beginselsaak om rassisme aan die kaak te stel.

“Ek gee nie om wat met my gebeur nie, solank daar op my grafsteen staan: ‘Sy het iets gedoen om hierdie land ’n bietjie beter te maak om in te leef.’ Ek raak verskriklik emosioneel oor hierdie saak, want dit kan nie toegelaat word nie,” sê sy in trane.

“Dit is die soort mense wat in Amerika en sulke plekke op ’n bus klim en mense sal begin doodskiet.”

Op haar foon wys sy ’n greep uit die commendatio wat ’n goeie vriend, prof. Jacques du Toit, hoogleraar in linguistiek aan Unisa, vir haar Kunste Onbeperk Inspirasie-prys geskryf het:

“Vinette, jy is ’n aktivis. Want ’n aktivis is iemand wat nie anders kan as om vir iets te veg nie. ’n Aktivis word nooit gemotiveer deur ’n lus na mag, geld of roem nie.

“Inteendeel, ’n aktivis is ’n normale mens wat amper tot waansin gedryf word deur een of ander onreg wat hulle beleef het, een of ander wreedheid, ’n onregverdigheid . . . Tot so ’n mate dat hulle deur een of ander interne morele dryfveer of morele kompas beweeg word om dinge beter te maak.”

* 7de Laan is om kommentaar genader, maar het volstaan by die verklaring wat verlede jaar uitgereik is waarin hy onder meer gesê het “nadat vorige en huidige storielyne van 7de Laan geëvalueer is, is daar bevind dat alle potensiële storielyne oor Charmaine en Vivian [haar tweelingsuster] uitgeput is”. 


'Mense wat die lewe vir ons makliker gemaak het'

Du Toit het in sy commendatio waardering uitgespreek vir Vinette se aktivisme.

“Jy het baie van ons kinders grootgemaak en vrygemaak, deur jou werke en aktivisme, maar meer belangrik het volhoubare aktivisme ook later onlosmaaklik deel van ons eie lewe begin geword.

“Ons het, deur die hoop wat ander ons gegee het, die sosiale en politieke ‘ander’ (as die kollektiewe waarbinne ons desjare geklassifiseer was) stadigaan begin oorbrug.

“In die wêreld van die kunste, teater en televisie was dit belangrik dat ons, as daai einste kinders van die factory workers, till packers, bediendes, huisvroue, plaaswerkers en truck drivers, ook met mense en karakters op televisie kon assosieer en kon identifiseer – dit was belangrik in daai tyd (en in vandag se tyd) dat ons mense en situasies moet kan erken, herken en begryp, kan internaliseer en te kon hê as rolmodelle, om ook meer soos hulle te kan word.

“Om mense te sien wat die lewe vir ons makliker gemaak het, en dinge vir ons help doen het was baie groter is as die omstandighede wat ons gevange gehou het.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Vinette Ebrahim  |  Rassisme  |  Sewende Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.