Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Voorwaarts die toekoms in
Christo van der Rheede, nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA. Foto’s: CARLA LEWIS

Christo van der Rheede is verlede week aangewys as Agri SA se nuwe uitvoerende direkteur. Hy gesels met Carla Lewis oor rasspanning, die staat se inmenging in die landbousektor en die organisasie se toekomsplanne.

"Hoe minder die staat by ’n skeppende praktyk soos landbou betrokke is hoe beter,” sê Christo van der Rheede (56), nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA.

Van der Rheede is self ’n skeppende mens. Dié bariton het sang aan The Royal School of Music studeer, hy sing opera en komponeer graag operettes vir skoolkonserte.

“Ons kan nie ’n situasie bekostig waar ons deur die staat voorgeskryf word hoe om te boer, waarmee ons mag boer, wanneer om te boer en wie mag boer nie,” gaan hy voort.

As jy hongersnood wil sien, moet die staat nou in hierdie sektor begin inmeng.

“As jy hongersnood wil sien, moet die staat nou in hierdie sektor begin inmeng.”

Wanneer die staat inmeng in landbou is hy geneig om die landboubedryf – wat skep, koester en sy land se inwoners van hul daaglikse brood voorsien – stadig dood te wurg met burokrasie en ideologie.

Hy noem nie voorbeelde nie, maar die geskiedenis se klagstaat is vanselfsprekend.

Daar is die Holodomor-volksmoord in die 1930’s in die Oekraïne toe die kommunistiese diktator Josef Stalin die boere se plase vir die staat gevat het. Hongersnood kom kort daarna.

Die miljoene mense wat as gevolg van politieke inmengery en swak landboupraktyke dood is, meen historici, verteenwoordig eerder ’n massamoord as hongersnood.

Zimbabwe, wat op ’n tyd bekend gestaan het as die “broodmandjie van Afrika”, se gewelddadige grondhervormingsproses het dié land se ekonomie en landboubedryf verlam.

Venezuela, Kambodja . . .

“Agri SA het ’n baie spesifieke rol om meer geleenthede vir boere, veral swart boere, te ontsluit. En wanneer die regering dit vir ons moeilik maak om daardie geleenthede te ontsluit, moet ons die regering daaroor konfronteer,” sê Van der Rheede.

“Om my rol by die organisasie te verstaan, moet jy teruggaan in sy geskiedenis. Dis in 1904 gestig en sy fokus was nog altyd om voorspraak te maak vir die landbougemeenskap. Die Engelse noem dit lobbying.”

As jy kyk na die gesprekke wat deesdae in Suid-Afrika gevoer word oor landbou en grondhervorming is dit soortgelyk aan Zimbabwe in die jare ná sy onafhanklikwording, verduidelik hy.

“Kyk maar na die planne wat die land gehad het ná onafhanklikwording, die Lancaster House-ooreenkoms en al daai dinge.”

In dié ooreenkoms is ’n verbod van tien jaar op gedwonge grondhervorming geplaas.

Daar was ook planne dat Brittanje en Amerika Zimbabwiese boere wat bereid was om hul plase te verkoop, sou vergoed en die plase na die Zimbabwiese regering sou oordra – iets soortgelyks aan Suid-Afrika se mislukte “gewillige koper-verkoper”-ideaal om grondhervorming te versnel.

“Agri SA is ’n klomp denkende, kreatiewe mense met wie ek ’n pad saam wil loop. Ons gaan ’n toekoms vir onsself skep,” sê Van der Rheede.

“Suid-Afrika het ook ná 1994 talle planne op die tafel en ondersteuningsmeganismes daarvoor gehad.

“Maar dit werk net nie. Eerstens is die politieke wil nie daar om dit te maak werk nie. Tweedens is korrupsie besig om al die planne te ondermyn.

“Die hartseerste vir my is egter die staatsamptenare – en laat ek nie veralgemeen nie, daar bestaan goeie staatsamptenare. As jou mense op regeringsvlak nie toegewyd is aan die ideale van grondhervorming en -restitusie op ’n volhoubare manier wat vrede en versoening kan bewerkstellig nie, is ons gesnoeker.

“Ek het die feite, ek weet waaroor dit gaan. Tans sit die staat op 5 200 plase. Ek was op van daardie plase gewees; ek was absoluut geskok om die toestand van verval te sien.

“Eens werkende plase waar daar hordes werkers was, is nou net murasies.”

Boere boer vooruit

Suid-Afrika se landboubedryf is vol suksesverhale, maar dis die landbougemeenskap en die sakeleiers in die sektor wat dit dryf, nie die regering nie, meen hy.

“In die Oos-Kaap is daar ’n groep swart boere wat graag hul wol wou uitvoer, maar die gehalte was nie goed genoeg nie.

“Wat maak hulle?

“Hulle begin ’n ram-projek om die DNS van hul kuddes te verbeter.

“Hulle het hulpbronne gepoel om ramme met goeie gene te verkry.

“Dadelik was daar ’n verbetering in die wol- en vleisgehalte en 4 000 van daardie Oos-Kaapse swart wolboere voer nou hul wol uit.

“Jannie de Villiers-hulle by Graan SA het besef daar is duisende swart boere wie se graanopbrengs bitter swak was as gevolg van hul saadgehalte. Hulle het die boere uitgehelp en vir hulle beter saad gegee om te plant. Dadelik was hul oesopbrengste beter.”

Sukses word op menige skouers gebou.

Sukses, beklemtoon Van der Rheede, is ’n spansport. “Daar is hierdie pragtige sêding: ‘Sukses word op menige skouers gebou.’

“Toe ek as Agri SA se uitvoerende direkteur aangestel is, het wit mense, bruin mense, swart mense my gelukgewens.

“Die boodskap van almal was: Ons wil graag saam met Agri SA ’n pad loop om ’n nuwe toekoms vir ál ons mense te bou.

“Ons wil hande vat en ’n hoofstroom van rasioneel denkende mense bymekaartrek, mense wat ’n groter visie het vir die land. Ons wil hulle mobiliseer om die verandering teweeg te bring wat ons land nodig het.

“Dis ’n klomp denkende, kreatiewe mense met wie ek ’n pad saam wil loop. Ons gaan ’n toekoms vir onsself skep. En hoe skep jy ’n toekoms?”

Hy tik teen sy slaap.

“Deur jou verstand te gebruik.”

’n Lat vir ons bas

Een van sy ander doelwitte is om voorspraak by die regering te maak oor landelike veiligheid en plaasaanvalle.

Hy meen die regering is besig om ’n lat vir sy eie bas te pluk deur van dit ’n raskwessie te maak.

“Almal word geteiken. Ja, in die meeste van die gevalle is dit wit boere.

“Maar ons sien ook toenemend stygings in aanvalle op swart boere,” sê hy.

“In die Wes-Kaap is dit veral bruin boere wat naby stedelike gebiede boer wie se plase doodeenvoudig betree word. Hulle word besteel van hul infrastruktuur, beroof van hul diere.

“Ek sien vandeesweek dat Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal se premier, allerlei redes probeer aanvoer waarom dié goed gebeur.”

Zikalala het op ’n vergadering oor landelike veiligheid wat in die Newcastle-omgewing in KwaZulu-Natal gehou is, plaasaanvalle toegeskryf aan onopgeloste en diep gesetelde kwessies oor grondeienaarskap, armoede en die land se rassistiese verlede.

Dis die probleem in die land. Ons soek alewig verskonings, nie oplossings nie.

Om na verskonings vir wrede geweldsmisdade te soek, meen Van der Rheede, is soos om te sê: “Ek klap my vrou rond, maar sy verdien dit. Dit gee jou steeds nie die reg om enigiemand aan te val nie! Waarmee is ons besig, as ons al hierdie wandade en wreedheid probeer regverdig?

“Dis die probleem in die land.

“Ons soek alewig verskonings, nie oplossings nie.

“Ons maak ’n klug van die Grondwet wanneer ons hierdie wandade probeer regverdig. Dit gee dan vir ons al ons waardes, al ons ideale as Suid-Afrikaners.

“Dis daarin gesetel. Kyk na art. 11 van die Handves van Menseregte.

“Elke mens het die reg op lewe.

“Elke mens het die reg op ’n veilige bestaan. Die staat het ’n grondwetlike verantwoordelikheid om na ons mense se veiligheid om te sien.

“Waarom raak die minister van polisie, Bheki Cele, dan kwaad wanneer ’n boer hom ’n doodeenvoudige vraag vra?” sê Van der Rheede.

“Ons moet ophou om verskonings te maak. Mense moet verantwoording doen vir hul optrede en hul doen en late.”

Cele het vandeesweek op dieselfde vergadering in KwaZulu-Natal vir Roland Collyer, ’n boer van Normandien, ingevlieg toe hy vra of die minister dink dit is reg dat kleinboere se vee kommersiële boere se oeste beskadig.

“Wie dink jy is jy?” het Cele aan Collyer gesê. Hy het die boer daarvan beskuldig dat hy oneerbiedig is.

“Dis onvanpas,” meen Van der Rheede.

“Cele se werk is om dan juis sy ore te spits wanneer die boer sy vrese opper en te sê: ‘My maat, as hier rasspanning is, gaan ek ’n versoenende rol speel om julle bymekaar uit te bring. Want dis ’n grondwetlike verpligting wat op my skouers rus’.”

Van der Rheede se stem is dik van frustrasie.

“Ons moet ophou om verskonings te maak. Mense moet verantwoording doen vir hul optrede en hul doen en late.

“Ons moet ook ophou om te hunker na ’n beter verlede en eerder strewe na ’n beter toekoms. Dit gaan oor wat nou gebeur! Hoe ons ’n beter toekoms vir al ons mense kan skep.

“Ons is dan besig om ’n klomp van daai foute van die verlede te herhaal. Mense word weer op grond van hul ras geklassifiseer en ons weet waar dit ons gebring het,” sê hy.

“Ons ken die gevolge van politieke korrupsie.”

Hy sê dis tyd dat landbouleiers ophou om doekies om te draai.

“Dit gaan nie hier oor politieke korrektheid of inkorrektheid nie, dit gaan daaroor om die probleem op sy naam te noem.”

Of dit nou rassisme, korrupsie of onbeholpenheid is: “Ons moet die probleme kan identifiseer en dit eens en vir altyd regmaak.”

Jy kan altyd uitstyg

Een van Van der Rheede se ander Agri SA-hoofdoelwitte is om geleenthede te skep vir swart opkomende boere en hulle by die hoofstroom-landbousektor te betrek.

Maar mense moet ook bereid wees om verantwoordelikheid te neem vir die geleenthede wat na hul kant toe kom, beklemtoon hy.

“Suid-Afrika het die afgelope 26 jaar ongelooflike geleenthede gekry wat na ons kant toe gekom het.

“Die geleenthede word geskep. Die geleenthede is daar. Maar wat het die regerende party met daardie geleenthede gedoen?

“Somtyds voel dit vir my of ons verlam word deur ons slagofferskap.

“Vir hoe lank gaan ons nog die verlede blameer vir wat verkeerd gaan in die land? Het ons dan nie geleer uit ons verlede nie? Kan ons dan nie put uit die verlede wat wel gewerk het en ook leer uit die foute nie?”

’n Mens mag nooit koud staan teenoor iemand se omstandighede nie, sê hy.

“Daar het dinge in die land gebeur wat mense in omstandighede ingedwing het wat dit vir hulle bitter moeilik gemaak het om net op te staan en ’n tree vorentoe te neem.

“Maar, maggies!

“Ons het nou al vir 26 jaar ook ’n nuwe demokrasie, wat veronderstel is om die mense te help en te bemagtig.

“Niks grief my soveel soos iemand wat sy omstandighede gelate aanvaar nie.”

Hy het grootgeword met apartheid, maar hy kom uit ’n gemeenskap waar daar altyd na voortreflikheid gestrewe en uitmuntendheid gevier is.

“Ek het grootgeword by die Morawiese sendingstasie by Goedverwacht, aan die Weskus.

“My pa, Christof, was ’n onderwyser. Hy en my ma, Charlotta, het gesorg dat ons werkboeke van die skoonste en die netjiesste was. Die skoolinspekteur het ons boeke as voorbeelde gebruik om te wys: Kyk, dit is die standaard waarna julle moet streef.”

Hy is gebrei deur ’n generasie van bruin onderwysers, bruin sakemense en kerkleiers wat uit hul pad gegaan het om hul gemeentes en gemeenskappe op te hef.

“Maar dan gaan jy dorp toe en jy moet by ’n spesiale venstertjie kos koop, want die ingang vir wit mense is jou nie beskore nie.

“Dan kom jy by die poskantoor en daar kronkel ’n lang ry bruin mense, maar die wit mense kry voorkeurdiens.

Hoekom ons kuns en musiek uit skole gehaal het . . . ek kan dit steeds nie verstaan nie.

“Maar jy het vir jouself gesê: Hierdie omstandighede sal nooit my menswaardigheid aantas nie.

Not a damn!

Musiek en kultuur is van die groot liefdes in Van der Rheede se lewe. “Miskien moet ek ’n landboukoor begin sodat ons kan leer om in harmonie saam te sing en saam te beweeg,” skerts hy.

Hy het ’n diep liefde vir Giacomo Puccini se operas, veral Madame Butterfly. Hy sluit sy oë in vervoering, of hy die note van “Un bel dì vedremo” (“Een mooi dag, sal ons sien”) kan hoor.

“My gunstelingklavierkomponis is Rachmaninoff; ek kan ure na hom luister, veral na sy ‘Concerto no. 2 in C mineur’.

“Kyk na die Renaissance, die tydperk toe mense ’n verligtheid van denke begin ervaar het. Wat het aanleiding gegee tot dit?

“Musiek! Dit was die kunste, dit was die skrywers, die denkers, die filosowe.

“Hoekom ons kuns en musiek uit skole gehaal het . . . ek kan dit steeds nie verstaan nie. Dis die tragiesste ding wat jy in enige samelewing kan doen: om sy mense kuns, kultuur en musiek te ontneem.”

Sy pa, vertel Van der Rheede, was baie gesteld op onafhanklike, kritiese denke.

“Ek sal nooit die dag vergeet toe hy my ’n lekker loesing gegee het nie. Ek het so ’n Engelse handboekie gehad, English Made Easy.

“Engels is mos ’n ander soort taal, veral vir ons plattelandse kinders. Uit daardie boekie leer ek ’n Engelse opstel uit my kop uit, getiteld ‘A Narrow Escape’.

“En sowaar, met ons Engelse eksamen is dit die tema.”

Hy skryf van English Made Easy se noue ontkoming, woord vir woord.

“My pa was egter ’n gesoute onderwyser, hy ken al die truuks en handboeke. Toe hy my Engelse opstel sien, herken hy die teks. My agterstewe het vir ’n paar dae goed gebrand!”

“Jy kan nie ander mense se werk soos ’n papegaai neerskryf nie,” het Christof vir klein Christo berispe.

“Jy moet skep! Jy moet vir jouself dink, jou verstand gebruik!” was sy pa se raad.

“Dis waardevolle lewenslesse wat soms met ’n goeie afranseling gepaardgegaan het,” sê hy.

Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Agri Sa  |  Christo Van Der Rheede  |  Toekoms  |  Politiek  |  Nuwe Aanstelling  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.