Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Vorentoe met ‘Noordwester’ , hoe dan anders

“Goeiemiddag, dis die Noordwester. Nee, oraait man, hoe gaan dit daar by jou?”

Frans Hugo (88) Foto: Anena Burger

Foon teen die oor in sy redakteurstoel groet die koerantman van die Hantam-Karoo, Frans Hugo.

Hy is 88 jaar oud, maar die vlam vir die koerantwese brand nog helder in hom.

In sy kantoor tussen die vragte papierwerk, op ’n ysige koue Hantamdag in Calvinia, herinner sy vlootblou keps en wyse oë, wat nie ’n roering mis nie, aan Ernest Hemingway se The old man and the sea (of dalk eerder the Karoo).Elke Donderdag, ’n eeu lank alSy hart klop nog warm vir die Noordwester, die Oewernuus en die Victoria West Messenger wat hy steeds elke Donderdag stoksielalleen met ’n wye draai deur die eindelose Nama-Karoo in die verre uithoeke van Calvinia tot in Prieska en Victoria-Wes gaan aflewer.

Pligsgetrou bring dié Afrikaanse gemeenskapskoerante plaaslike nuus aan die inwoners van dié uitgestrekte stuk aarde - en daarsonder kan die Karoonaars nie.

Die sentrale en suidelike Noord-Kaap sou sonder dié koerante – twee van hulle al ouer as ’n eeu – sekerlik soos die Bybel sonder die Psalms wees.

Die Victoria West Messenger is in 1875 gestig en bedien Victoria-Wes, Loxton en Vosburg terwyl die Noordwester in 1917 gestig is en Calvinia, Sutherland en ander omringende dorpe oor sy weeklikse dosis nuus van belang voorsien.

Frans Hugo (88), redakteur van die Noordwester, Oewernuus en Victoria West Messenger in sy kantoor. Foto: Anena Burger

Die Oewernuus is in 1993 begin druk en bedien Prieska, Marydale en Niekerkshoop.Van plaaskind tot koerantmanHugo, wat in Fraserburg as ’n plaasseun grootgeword het, kom al sy lewe lank in die koerantbedryf aan en het op 16-jarige ouderdom sy eerste proesel van ink en klad by Naspers in die Kaap gehad.

Maar die skrywersgogga het hom as jong seun reeds gebyt.

Celesté Kammies (34) werk al 15 jaar vir die Noordwester en sê sy geniet elke oomblik. Foto: Anena Burger

“Ag, maar man, ek is mos soos die meeste sulke mense, sodra jy aan die lees raak, wil jy skryf. Ek was maar as kind lief vir skrywe.”

Hy vertel hy was altyd die “ou wat die ander manne se vulpenne reggemaak het”.

“Maar man, dis maar ’n ding wat op ’n mens groei, jy weet.”

Hy het net steeds sy hande ’n bietjie vol met die “korre” wat hy moet leer om ’n berig te skryf.

“ ’n Mens leer mos om soos ’n koerantman te skryf. Skryf net in die eerste paragraaf waaroor die berig gaan. Die nuus.”

In die beginjare by Naspers, waar hy 18 jaar gewerk het, het hy by die handelsdrukafdeling geleer, sê Hugo.

“Aan die anderkant van die straat was die koerante en tydskrifte soos Huisgenoot. En as hulle daar vasval dan het hulle ons gevra om te kom uithelp.”

Dit was lekker herinneringe.

“By ou Heimie Spies het ons so geld geleen. As jy by die week gepay het en jy leen ’n pond by hom, dan moes jy hom daardie Vrydag twee pond teruggee,” vertel hy met ’n laggie.

Al het hy by Naspers ’n administratiewe pos beklee, het hy tog skouers geskuur met legendes in die koerantwese soos Piet Cillié, Frans van Zyl, Gawie Theron en Rykie van Reenen.

“Sy was ’n baie besonderlike mens,” sê hy oor Van Reenen.

“Jy weet, ek het nou met al daardie mense te doen gehad.”

Hy het later die setwerk van die Die Burger se Byvoegsel (vandag By) gedoen.

Janetta Saulse (55) werk al 27 jaar by die Noordwester. Foto: Anena Burger

Nog ’n lekker herinnering is die kuiertjies by die hotelletjie daar onder langs Die Burger. “Ek vergeet nou die naam van dié plek waar ons darem ’n dop gemaak het saam met die joernaliste en ander personeel.”Namibië en terug na SA

Nadat hy Naspers verlaat het, het Hugo vir tien jaar vir die Suidwester in die ou Suidwes-Afrika (Namibië) gewerk.

Dit was onstuimige tye met die Grensoorlog, maar in dié tydperk het hy reeds sy eerste gemeenskapskoerant op die been gebring toe hy die nodigheid daarvoor gesien het.

“Dit was omtrent ’n uitdaging om die soms dronk joernaliste se stories te ontsyfer.”

Dit was sy twee jonger seuns wat hom na Suid-Afrika laat terugkeer het.

“Ek wou hulle darem sien grootword. Nie soos die twee meisiekinders wat ek weens my werk skaars te sien gekry het nie.”

Terug in Fraserburg was hy vir ’n tyd lank die onderbestuurder van die koöperasie.

“Maar toe is daar een of ander boggerop in Williston en daardie mense vra toe vir my of ek nie na hulle toe wil kom as bestuurder nie.”

In Williston het Karel Antonis, wat die Noordwester destyds besit het gevra of ek nie belangstel “in die affêre nie.”

Hy was eers huiwerig en het aan Antonis gesê: “Maar ou Karel, ek het darem nou ’n lekker job waar ek met my voete op die tafel sit en absoluut f*kk*l het om te doen nie.”

Ja, vroumense is uiters geskik vir die joernalistiek . . . Nuuskierig.

In 1980 koop hy egter wel die Noordwester om vir sy dogters, wat nie meer in Suidwes-Afrika wou wees nie, ’n werkgeleentheid te skep.

“Maar hulle was skaars drie jaar hier toe hulle nie meer vir Calvinia kans sien nie en terugkeer Walvisbaai toe. En toe sit ek met die plek dat ek nou nog met hom sit,” lag hy weer te lekker.

Noordwester

Al die tyd by die Noordwester is heerlik en goed, nie net vir hom nie, maar ook vir die res van sy span. Die span is al jare saam met hom.

Van hulle werk al so lank as 40 jaar by dié koerant, Noordwester.

Daar was groot nuus, ja, soos die aanbreek van die demokrasie in 1994.

Daar was goeie tye en slegte tye, maar die beste bly die stories en berigte oor die Karoo-mense se goedheid.

Die weeklikse koerante is eers per trein na die onderskeie dorpe gestuur, maar namate die treindiens verdwyn het, moes Hugo self met aflewerings begin.

Op ’n keer op die grondpad vanaf Sodium na Vosburg hoor hy ’n gekletter onder die bakkie. Hy stop net duskant ’n vrou wat met ’n kind op haar heup langs die pad stap.

Celesté Kammies (34) en Janetta Saulse (55) gaan 'n kopié van die week se koerant na.Janetta werk al 27 jaar by die Noordwester en Celesté 15 jaar. Foto: Anena Burger

Toe hy om die bakkie loop om die bande na te gaan sê sy: “Nee, dis onder.”

Die vrou het flink onder die bakkie ingekruip en vasgestel die uitlaatpyp het gebreek.

“Het jy draad?” het sy gevra en die stukkende pyp weer aanmekaar gebind.

“Ek het daarna sommer nog ’n trip met die gelapte pyp gery voor ek hom laat regmaak het.”

Vir baie jare het hy man-alleen die koerant weekliks volgeskryf.

“Die koerant is toe nog met die setcaster gedruk. Dan druk jy een bladsy en dan pak jy weer die letters in die kas.”

Daarna het hy ’n linotype gekoop en later ’n rolpers in Amerika.

Dit het ’n gedoente afgegee toe hy en sy seun, Francois, die dag ’n fotosetter in Port Elizabeth koop en dié stuk masjinerie, wat met ’n vurkhyser gelaai is, om ’n draai van die vragmotor afval.

Die koerant is toe nog met die setcaster gedruk. Dan druk jy een bladsy en dan pak jy weer die letters in die kas.

“Toe daardie ding in die straat val, toe spring ons uit en laai hom net so op die bakkie. Net die twee van ons.”

Hy is ’n kranige leser van Volksblad en sê hy was die eerste intekenaar toe dit ’n digitale koerant geword het.

“Maar daar is darem maar niks wat by ’n papierkoerant kom nie.

Hy ken die joernaliste wie se berigte hy lees se skryfwerk en hy kan oor elkeen se kundigheid praat.

“Ja, vroumense is uiters geskik vir die joernalistiek . . . Nuuskierig.”

En wat hou die toekoms vir die Noordwester in?

“Ag nee wat, ons gaan maar voort. Hoe dan nou anders?”

Meer oor:  Joernalis  |  Redakteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.