Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Vyf dae van hel in Knysna

Clinton Manuel was drie jaar lank hoof van Knysna se brandweer. Hy vertel Sarie Marais-Nell van die nagmerrie wat op 7 Junie 2017 begin het.

2017:’n Lugfoto van ’n murasie in die Knysna-gebied ná die verwoestende brand. Foto: CHRISTOPHER VAN ZYL

Hy hoor die brandende bome links van hom knetter, voel die rooiwarm gloed daarvan. Hy voel hoe al die vars lug opgesuig word, sodat hy platval met sy baadjie styf oor sy kop getrek.

Die volgende oomblik trek die vlamme óp, die lug in; kompleet soos Halley se komeet.

Dis asof sy liggaam op die grond agterbly terwyl hy opstaan, en hy besef: Tot vandag toe was die sogenaamde thermal waves net boekekennis. Vandag beleef Knysna hierdie weghol­golwe.

Toe hy later vanaf die hooggeleë Simola-hotel afkyk en sien hoe vlamme Knysna Heights se huise verswelg, het hy gehuil.

“Ek moes dáár gewees en dit help voorkom het. Dis hoe ’n brandweerman is. Ons wil alles red. Wil niks verloor nie.”

Clinton Manuel (toe 49) se nagmerrie het om 02:00 begin toe hy ’n oproep oor ’n plantasiebrand in Kruisfontein aan Plettenbergbaai se kant van Knysna gekry het.

“Hoe keer jy ’n brand terwyl die wind so sterk is dat jy sukkel om jou kar se deur oop te kry?

“Dus fokus ons net op die ontruiming van die bosdorpie se mense. Weens warm, winderige toestande was voorbrande sedert Maandag onmoontlik.”

Die wind het skielik verander en die vlamme het gespring oor die N2 en die Eskom-kabels vernietig. Manuel ontbied versterkings uit Plettenbergbaai uit.

Iemand bel: “Lancewood brand.” Nou woed brande aan weerskante van Knysna.

“Ontruim, voorkom lewensverlies,” bly die opdrag. Toe versterkings vanaf Plettenbergbaai opdaag, is Bradley Richards en Ian Barnard onder hulle.

“Entoesiastiese jong manne wat ’n verskil wil maak.

“Ons het eers later begin verstaan hoe dié gevaarlike brande aanrol. Ons noem dit crowning: Eers sien jy brandende boomtoppe, waarna ’n blitsige vlammemuur volg.”

Brandskade in Knysna Heights.Foto: JACO MARAIS

’n Oproep om 06:00 berig dat Barrington brand; dis op pad na Elandskraal. Manuel ry Lancewood toe en stuur personeel na Barrington: “Evalueer sodra julle daar kom en bel my.”

Vinnig kom die nuus: Die Barrington-brand is reeds teen ’n ongekende spoed, soms 90 km/h, verby na Elandskraal.

“Ek deal nog met die Kruisfontein- en Lancewood-vlamme, toe die polisie my met dáárdie nuus bel: Die Johnston-gesin is dood: Tony en Madré Johnston en hul seuntjie, Michael, sterf op sy derde verjaardag. Brande woed nou buite beheer op ’n bergagtige terrein.”

Hierna ontvang Manuel stringe selfoonfoto’s en boodskappe: Die dorp brand.

Toe hy Knysna uit die ooste binnery, is sy eerste waarneming die aggressiewe vlamme-en-wolkedraak wat hemelhoog bo die wit brug staan.

Hy jaag na die smal Belvidere-toegangsroete waar huise reeds brand. Binne digte rookwolke – waar ’n mens skaars 3 m ver kan sien – gebeur ’n paar dinge gelyk: “Ontruim bly die refrein vir die drie manne by my. Om die vlamme te keer is geen opsie nie. ‘Elke man vir homself, maak vinnig.’

“Santa, ’n gewese brandweervrou, stop by my. Sy’t my ma gaan oplaai. Sy laaf my rooi oë. My oë en longe brand reeds sedert 02:30, maar ek jaag haar aan; sy moet haar kind uit hul huis ontruim.

“In my 13 jaar as brandweerman moes ek nog net een keer in ’n brandende huis inhardloop; om ’n baba te red. Daardie Woensdag sou ek en my kollegas dit herhaaldelik doen, al is ons beter vir veldbrande ingeoefen. Elke keer wanneer ons ’n dier of mens red, por dit die brandweerman in ons aan om daarmee vol te hou.

“Ek bel die NSRI; hulle moet bote oor die lagoon na die Belvidere-jetty stuur om inwoners te ontruim.”

“Maar die bote sukkel teen die wind. As laaste uitweg raak Knysna se treinbrug ’n ontsnappingsroete vir Belvidere se mense wat te voet oor die lagoon moet vlug.

“Met die Lancewood-brand in bedwang, kan my hele span en 30 vrywilligers in en rondom die dorp vlamme beveg. Weens die 27 brande in die Tuinroete kan slegs Oudtshoorn se waens kom help.”

’n BRANDBESTRYDER IN ’n PLANTASIE LANGS DIE n2.Foto: JACO MARAIS

Woonhuise in digbegroeide areas, asook die Belvidere-ouetehuis en die mense van Margaret’s View Point, bekommer hom. Hy bel sy manne: “Beskerm hulle. Indien nodig, ontruim hulle na die strand.”

“Ek bel lede van die 4x4-klub, reël viertrekvoertuie wat haweloses strandlangs by Brenton-on-Sea en Buffelsbaai sal red.”

Hierdie mense het bejaardes “soos visse op die strand” aangetref en in veiligheid geneem.*

“Teen 12:00 staan ek ’n oomblik hande op die knieë, evalueer die situasie. Ek besef ons beperkte mannekrag sal nooit dié omvangryke brand, aangevuur deur die wind en voorafgaande droogte, kan beheer nie.”

Manuel bel die provinsiale rampbestuurkantoor. Terwyl Wes-Kaapse nooddienste op ’n gereedheidsgrondslag vir reusebranders en oorstromings is, is die premier ook teenwoordig toe Manuel verduidelik: “Knysna brand. Aktiveer ’n Tipe 1-insident.”

“Dis die sterk punt van ons provinsie: Ons leer mekaar deurlopend op vergaderings ken, daarom bevraagteken niemand my daardie dag nie.”

Die Tipe 1-bepaling aktiveer die hele weermag en ramphulp op nasionale skaal; met min rompslomp rondom finansies.

Oor die volgende week sou meer as 1 200 brandweermanne van oor die land, 350 voertuie, vier vliegtuie en agt helikopters saamspan om dié skrikwekkende brande te tem.

Maar op 7 Junie sou die eerste hulp vanaf Oudtshoorn opdaag en eers vier ure later vanaf Hermanus. Indien brandende toegangsroetes dit toelaat.

Terwyl brandweerhoofde uit alle oorde bel – almal beloof hulp en stuur planne – verstar Manuel oor die tonele noord van die hoofweg, waar vlamme soos ’n boemerang vanaf Phantompas reg oor die wye Knysnarivier na die digbegroeide Welbedacht-woonbuurt spring.

Clinton Manuel en Helen Zille, die Wes-Kaapse premier.Foto: VERSKAF

Manuel jaag daarheen.

“Ons beleef tonele uit ’n gruwelfliek. Terwyl inwoners afhardloop hoofstraat toe, hardloop ons op, die woonbuurt in. Die Oudtshoorn-wa het pas opgedaag, maar ek weier dat sy water huisbrande blus. Al skel huiseienaars luidkeels. Minute later moet ons die water aanwend as ’n waterbrug waaronder vlugtendes deurhardloop; hoofstraat toe.

“Toe ’n vlammemuur finaal ontsnappingsroetes na die hoofstraat afsny, is daar ’n chaotiese uittog van mense. Iemand met slegs een skoen, sommiges tas in die hand. Vlugtendes spring by vreemdes in motors, hulle huil, bid, kla.”

Midde-in die chaos nog ’n oproep: Agter die vlamme is ’n groep mense vasgevang. “Spring in jul swembad, hou nat handdoeke oor jul koppe totdat die vlammemuur verby is,” is Manuel se raad. “Ons kon hulle eers twee dae later gaan haal.”

Knysna brand nou van drie kante af en hy besef: Die N2 is gesluit, maar in die hoofweg staan hoogs vlambare lorries; sommige met strooibale en petrolvoorraad. Hy bel: Ontruim die hoofweg; stuur alle voertuie na laagliggende dele. Sluit dringend die hoofweg se petrolpompe. Stuit die vlamme by Soutrivier voor dit die middedorp oorweldig.

“Ons ontruim aangrensende woonbuurte; vlug as die vuurtonge te kwaai raak. Simola, Green Pastures, Eastford. Ek ry vinnig by my Eastford-huis aan; draai gas-aansluitings toe en besef ek moet my huis groet.

“In kontras met die vlammehel wat aanrol, bespuit my bure hul huis met ’n tuinslang. ‘Vlúg! Volg my!’ raas ek. My selfoonbattery gee in.

“Met hoë revolusies en voertuig-lugversorgers op die hoogste verstellings, ry vlugtendes na die hooggeleë Simola-hotel, waar die gholfbaan en grasperke relatiewe veiligheid bied, en histerie hoogty vier. Geen kontak na buite, want die selfoontorings is buite aksie.

“Van hier kyk ek oor Knysna Heights en sien die volle omvang van die brandgolwe. Soos ’n onsigbare bomwerper trek dit oor woonbuurte, vuurballe plof lukraak neer. Só dat huise vlamvat terwyl ’n houthuis langsaan ongeskonde bly staan.

“Ek huil. Blink traanstrepe oor my roetgesmeerde gesig.”

Clinton Manuel moes verlede jaar vinnige en belangrike besluite neem. Daar was selfverwyt, het hy erken. Maar ook genade en dankbaarheid.Foto: VERSKAF

Manuel en sy manne volg ’n tydsame ompad om Knysna se dorp te bereik. “Diep in jou hart bid jy heeltyd. Dat die wind ophou tier. Vir geen verdere lewensverlies nie.”

In Knysna was hy sy gesig by ’n Oudtshoorn-brandweerwa en besef hier’s geen keer aan hierdie vuur nie. Hy meld by die operasionele rampsentrum aan. Ná 16 uitputtende ure en reeds op nege plekke deur vlamme vasgekeer, raak Manuel die operasionele bestuurder om Knysna en Plettenbergbaai as rampgebied te bestuur. Die draak moet gestuit en dakloses versorg word. Terwyl dit oor kilometers brand, moet hy besluit: Waar ontplooi ons die ekstra voertuie en helpers wat nou instroom?

Die hiërargie vir rampbestuur word in plek gestel vir logistieke, finansiële, lug- en ander reddingsaksies. Praktiese probleme ontstaan omdat inkommers nie die area ken nie, selfoontorings afgebrand het en radio-frekwensies verskil.

Toe vlamme daardie aand naby die Knysna-hospitaal woed, moet dakloses wat daar skuil, wéér vlug. Weens voortdurende veranderings in windrigting verskuif sommige gesinne daardie nag tot drie maal vir hul veiligheid.

Manuel bel die hospitaal: “Ontruim alle pasiënte.” Slegs een pasiënt (gekoppel aan lewensmasjiene) mag saam met ’n mediese en brandweerlid agterbly.

Informele huise naby die hospitaal brand, maar gewillige Hermanus-brandweermanne verdwaal op pad daarheen. Hoewel 180 tot 200 plakkershuise skade ly, blus en bedwing dié manne die vuur voordat dit dorp toe versprei.

Go George-busse begin hulp aanry en pasiënte en dakloses uitry George toe.

Manuel ontvang elke halfuur weer- en windverslae; die wind draai soms tot agt keer per dag. Só word verraderlike vuurpatrone grootliks beheer.

Geen slaap daardie nag nie. Waar slaap sy ma, wonder hy.

Reëlings vir kospakkies en veilige hawens vir slagoffers in skole, kerke en op sportterreine. Iemand onthou die Loeriefees-tente is reeds op Knysna; dit word opgeslaan as ’n mediese sentrum en ekstra huisvesting.

Oudtshoorn se weermag stuur mediese personeel. Waar gaan die honderde brandweermanne slaap?

Roep die toerisme-man in: Manuel sluit álle gastehuise en hotelle – slegs brandweermanne en noodwerkers van buite sal toegang hê tot die gerief van hierdie slaap- en stortplekke.

“Tussen al die trauma deur – ek onthou steeds daardie toerisme-man se ontsteltenis toe ek dié opdrag gee!”

Manuel vlieg Donderdag vroeg oor die brandgeteisterde gebiede, sodat hy kan sien waar nog brande woed en om min of meer te bepaal waar die brand begin het. Verder behels Donderdag se uitdagings die honderde vreemdes op die dorp: Vrywilligers wat kom help en bestuur moet word, verslaggewers, familielede en nuuskieriges.

Kommunikasielyne word opgestel, reëlings vir kragopwekkers want Eskom-krag is af; vir brandstof, werktuigkundiges en onderdele vir al die inkomende brandweerwaens. Gereelde oproepe na die provinsiale kantoor, want hier word nou baie geld bestee.

“Oproepe vanaf die polisie: Plek-plek weier inwoners om hul huise te ontruim, al dreig die vlamme. Huiseienaars vrees plunderaars wat soos sampioene opspring.

“Ek moes kwaai raak: Ek sal géén brandweerman toelaat om terug te gaan na gevaarlike gebiede vir mense wat nie betyds op kundige waarskuwings gereageer het nie.

“Iemand bel uit Belvidere: ‘Jou ma is veilig.’ Ek bel my vrou; steeds onseker oor my huis. Wat daarin is onvervangbaar? wonder ek te midde van al die nuus oor trauma, verliese en miljoene rande se skade. Seker net my brandweer-helmet met al die strepies wat sekere prestasies aandui – my war battled stukkie sentiment.”

Manuel stel dag- en nagspanne aan; nou kan die Knysna-brandweermanne soms rus.

Saterdagaand breek alle hel los: Die windrigting verander skielik wéér en dreig nou om alles wat oorgebly het, te vernietig. Terwyl ek manne na die nuwe voorpunt stuur, is hulle verbaas – dit wat die agterpunt was, is nou weer die gevaarkant.

Bradley Richards (24) en Ian Barnard word met ernstige brandwonde gehospitaliseer.

“Ek besef ek en die vierjarige meisietjie wat Woensdag deur die vlamme oorval is, was ongeveer op dieselfde tyd en plek. Daarom brand die selfverwyt lank en hard: ‘Ek moes gekyk, geweet, geréd het!’ ”

Manuel gaan kyk eers Donderdagnag na sy huis. Tussen die spookagtige geraamtes van afgebrande huise staan sy huis waarlik ongeskonde. Ontstelde bobbejane wat op sy stoep skuil, laat hom verbyhou. Eers blus hy die buurhuis se houtdek voor hy terugry vir ’n vinnige slapie; sommer in sy bakkie voor die operasie-sentrum.

Gemeenskapsleiers waak Donderdagnag weer in die operasionele kamer. Terwyl vlamme steeds onvoorspelbaar regeer, is elke leier se eie huis of gesin en emosies net soveel aangetas soos elke ander slagoffer s’n.

Party voel sedert Woensdag die voortdurende knop op die maag, die vrees, onsekerheid, die spanning. Terwyl ander hulle reeds oor die toekoms bekommer: Hoe gaan ons die honderde beskadigde strukture herstel? Met watter emosie gaan die inwoners hierop reageer? En die burgemeester wat elke nag stres: “Clinton, niemand van ons mense moet dakloos of honger wees nie.” ’n Geraamde 5 000 mense was uiteindelik dakloos gelaat.

Vrydag klop joernaliste aan met verwytende navrae: Kon die brande voorkom word?

“Met al die nood en logistieke reëlings en steeds dreigende vlamme kon ek waarlik nie op media-onderhoude fokus nie.”

Sy vrou en vriende ry uit Kaapstad vir ondersteuning, maar brande wat die N2 versper, stuit hulle by Sedgefield. Hier help sy kospakkies maak; enigiets om plaaslik te ondersteun.

Toe Manuel Vrydagaand begin foute maak, word hy gedwing om te gaan rus. Finansiële hulp vanaf provinsiale en nasionale koffers beloop miljarde rande; foute moet beperk word.

Bradley Richards sterf weens sy brandwonde. Die vierjarige dogtertjie se ma sterf. So ook John Blaauw (63), ’n vrywillige helper wat deur vlamme oorval is. Margate-brandweermanne wat naby was, wou instorm en Blaauw red, maar die vlamme was te oorweldigend.

Ons manne se dapperheid en vindingrykheid is ongelooflik erg getoets. Ons wás gereed vir brande. Maar voorbereid op hiérdie vuurdraak? Nooit.

Manuel sien sy ma eers weer Saterdagoggend. Sy moes elke nag by iemand anders oornag.

“Saterdagaand breek alle hel los: Die windrigting verander skielik wéér en dreig nou om alles wat oorgebly het, te vernietig. Terwyl ek manne na die nuwe voorpunt stuur, is hulle verbaas – dit wat die agterpunt was, is nou weer die gevaarkant. Windaangedrewe vlamme bedreig verskeie bosdorpies en Buffelsbaai van alle kante af. Buffelsbaai lê 20 km wes van Knysna tussen die see en digbegroeide hange. Skrikwekkende vlamme bedreig die enigste toegangsroete.

“My ergste oomblik breek aan toe ek moet besluit: Moet ons Buffelsbaai ontruim? As vlamme die 36 brandweermanne oorval – dis donker, sewe mense is reeds dood; hierdie is nie eens my span manne nie . . . Die risiko’s vir ontruim of vlamme afweer, is 50-50.

“Ek sit letterlik hande in die hare; die beker koffie voor my ’n skrale troos. Nege brandweerhoofde en ander kenners hou my afwagtend dop terwyl ek besluit: ‘Geen ontruiming. Hou die inwoners bymekaar; probeer die vlamme terugdruk. Indien nodig, help almal die see in, dan kom red ons seelangs.’ Terwyl ek in my agterkop wéét die wind bemoeilik seereddings. Dat die getye dalk nie saamspeel nie.

“Begrafnis-atmosfeer in die operasionele kamer. Almal vermy oogkontak; kyk weg as ek in hul rigting kyk. Riller-ure. Die burgemeester raak flou. Eers Sondag 04:00 kom die nuus: Buffelsbaai is veilig. Geen huise het gebrand en geen lewensverlies nie. Al het ’n spaartenk met water agteraan ’n voertuig aan die brand geslaan; al moes manne daai vlamme met Coke blus.

“Dit was ’n goeie besluit, al die spanning ten spyt. Of was dit ’n dwase beslissing, met geluk en genade aan ons kant?”

Die paraatheid en diensmotief van honderde reddingswerkers en vrywilligers van oor Suid-Afrika bly hom by: “Baie mense het reiskostes uit hul eie sakke aangegaan om hier te kom help. Al kon hulle in hotelle slaap, sou die Margate-brandweermanne elke nag op hul kit, langs hul voertuie slaap. Om vinniger by brandpunte te kom; 100% paraat te wees.

“Elke oggend as ons oor die uitgestrekte gebrande areas vlieg, vra die weermag-vlieënier dieselfde vraag: ‘Slegs sewe mense dood? Dit kon hónderde gewees het!’

“Ek wonder steeds: Was ons gedrag roekeloos? Of berekende waagstukke? Ons het geweet daar is onskuldige slagoffers agter daardie vlamme; dít laat brandweermanne deurdruk.

“Ons manne se dapperheid en vindingrykheid is ongelooflik erg getoets. Ons wás gereed vir brande. Maar voorbereid op hiérdie vuurdraak? Nooit.”

Nabetragting en die oorsaak

Manuel (nou 50) het intussen teruggetrek na Kaapstad, waar hy die hoof van Epping-brandweer se opleiding en ontwikkeling is.

Snags skrik hy wakker, natgesweet van die nagmerries oor die Knysna-ondervinding.

“Toe ons die vlamme ná die vyfde dag in bedwang gekry het, het ons emosies ingeskop. Ons was steeds waaksaam vir verdere brande (tipe-1-maatreëls het gegeld tot Julie), maar traanbuie en selftwyfel oor sekere beslissings begin ’n mens sulke tye straf.

“Gelukkig is berading altyd beskikbaar. Dalk was my beste eienskap daardie vyf akute dae dat ek moed gehou het. My manne het later gesê dat as ek moed verloor het, sou hulle nie kon voortgaan nie.

“Die vrygewigheid en samewerking van honderde Suid-Afrikaners was verstommend. Knysna se mense het mekaar ondersteun, van kospakkies tot brandstofgeld vir brandweerwaens – ek wens ek kon erkenning gee aan elke gebaar.

“Ek was verstom oor hoe baie mense se huise nie verseker was nie. As brandweerhoof was my moeilikste taak om die ware oorsaak vas te stel. Al gee ek gereeld opleiding daarin, al is ek ervare wat hierdie tipe analises betref, het ek weggeskram van daardie verantwoordelikheid, want politiekery en voortydige inmenging het die taak bemoeilik. My beslissing is 100% deur die plaaslike regering aanvaar: Dennebolle wat vlamgevat het; ’n ondeurdagte vuurtjie deur ’n rondloper te midde van ’n sterk wind. Sonder ’n gedagte aan al die skade wat dit sou veroorsaak.

“Faktore wat die brand vererger het, was die stormsterkwind (tot 100 km/h), die voorafgaande hitte en droogte wat ‘brandstof’ vir die vlamme was, die groot aantal plantasies om Knysna en die tipografie van die streek (vlamme gedy in hange en klowe). Toe hierdie faktore op Woensdag 7 Junie 2017 bymekaarkom, het Knysna tot dié Sondag sy grootste katastrofe beleef.”

  • Munisipale infrastruktuur van ongeveer R136 miljoen is vernietig en ’n geraamde R5 miljard se versekeringseise is ingestel. Met hul leuse, Knysna Rises, het Knysna-inwoners die dorp oor die afgelope 365 dae merkwaardig laat herrys en saam met die natuur begin herstel.
  • Op 10 Junie word ’n byeenkoms in die Pledge-natuurreservaat gehou ter herdenking aan die verliese wat gely is en ter ere van die heldedade in daardie vyf dae. (Stuur ’n e-pos na dayofappreciation@-gmail.com met enige navrae.)
  • ’n Koffietafelboek, Knysna Fire Stories,is in sy tweede oplaag. Stuur ’n e-pos na @knysnafirestories.co.za vir meer inligting.
Meer oor:  Knysna-Brande  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.