Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Waarom wit mense my bang maak’

Dit is tyd dat wit mense stilbly en luister, sê Haji Mohamed Dawjee aan Murray La Vita.

Haji Mohamed Dawjee vandeesweek tydens ’n onderhoud in Seepunt. Foto: Jaco Marais

Sy sit op ’n Dinsdagoggend in die hoek van die Winchester Mansions Hotel in Seepunt se kroeg vir my en wag. Haar arm is in ’n swart hangverband ná ’n onlangse operasie weens ’n ou tennisbesering.

Haji Mohamed Dawjee (34) het buitengewoon pragtige amandelvormige bruin oë. Haar hare is kort en om haar nek is ’n swart-en-wit keffiyeh soos die van die Palestynse Bevrydingsorganisasie.

Ons het afgespreek om hier te ontmoet omdat sy en haar vrou, Rebecca Davis, wat ook ’n joernalis en skrywer is, in Seepunt woon. En omdat dit teen die see is en ons nou die vars, verkwikkende soutbries deur die oop deure kan inadem.

In die voorwoord tot Haji se boek Sorry, not sorry – experiences of a brown woman in a white South Africa, wat pas by Penguin verskyn het, skryf Ferial Haffajee, die gesoute joernalis en voormalige redakteur van City Press, Haji is “ . . . South Africa’s answer to a young Salman Rushdie”. En: “This set of essays will discomfort, and you will find yourself shouting back at the author when she is particularly incendiary [opruiend]. But you will come away edified and challenged and in touch with a generation that questions shibboleths with charm and ease.”

Ek het op ’n punt gekom waar ek hierdie innerlike stryd gehad het waar ek so wóédend was vir my familie en vir my ouers dat hulle my nooit geleer het om dapper te wees in die aangesig van wit mense nie.

Die onderhoud begin by die openingsin van die essay “Why I’m down with Downton Abbey”. Sy skryf: “I am afraid of white people.”

“Dit is ’n vernederende ding en dikwels ’n verleentheid om as mens van kleur aan jouself te erken dat die vrees vir wit mense só werklik is en so histories ingebore is by ons mense. Ek hou daarvan om aan ons te dink as mense wat sonder dat ons ’n keuse het riviere van pyn oorsteek. Ons mense kom hierheen met vrees en daardie vrees gaan nie weg nie. Dit bly by ons. Dit bly in die baarmoeder van ons ouers en ons grootouers en ons word daarmee gebore.

“Die pyn leef voort weens die soms onkundige taal wat ons families en ons mense gebruik . . . Ten einde te oorleef en vooruit te kom in die lewe vind ons dit soms nog nodig om met geboë hoofde te leef. As ons nie die nodige insig het nie, dink ons dít is ’n vervullende manier om deur die lewe te kom.

“Ek het op ’n punt gekom waar ek hierdie innerlike stryd gehad het waar ek so wóédend was vir my familie en vir my ouers dat hulle my nooit geleer het om dapper te wees in die aangesig van wit mense nie. Hulle het my slegs van die gevolge geleer. Ek het lank daaraan gedink en tot die gevolgtrekking gekom soms is om te verduur om stil te wees. So, dalk is dit nie onkunde nie, maar die teenoorgestelde: Dalk is dit dapper en intellektueel en serebraal. Maar die vrees is steeds daar.”

‘Downton Abbey is lekker’

“Wat my teen die bors stuit, is liberale wit mense wat die hardste stemme is in die stryd van mense van kleur.”Foto: Jaco Marais

Sy sê dat sy ook in Duitsland, ’n oorwegend wit land waar “ook die meeste van die blouboordjiewerkers wit is”, hierdie vrees ervaar het; dít ondanks die feit dat sy ’n middelklasmens is.

“En daar is geen sin vir trots en geen sin vir dapperheid nie. So ons krimp ineen [cower] in die aangesig daarvan en ons praat wanneer daar met ons gepraat word. En wanneer ek van trots praat, praat ek nie van arrogant nie; ek bedoel net jou begrip en jou wete dat jy verdien om iewers te wees; te hóórt. En dat jou bestaan net soveel waarde het as enigiemand anders s’n.”

Ek dink stilte is só traumaties. Dit is tóksies. Dit is gif wat in jou gemoed leef sonder om huur te betaal.

Haji skryf sy is lief daarvoor om na die televisiereeks Downton Abbey te kyk “ . . . because it is a series about white aristocrats with their white slaves and it makes for pretty cathartic viewing. Plain and simple. But, despite all my Shadenfreude-fuelled feistiness when I have the protection of a screen, put me in front of a white person in real life and I cower. This isn’t my own insecurity, I’ve learnt. It’s an actual pathology.”

Sy verwys na die sielkundige en skrywer Monica Williams wat bevind het rasgegronde trauma is patologies en moet behandel word. Williams praat van die posttraumatiese stres van rassisme.

“Ek glo vas hierin. Ek ly aan chroniese depressie as ’n kliniese toestand, maar as ek daaroor kan praat as ’n rasgegronde trauma dan . . . Ek dink daar ís ’n verband weens daardie stilte en die woede en hartseer en emosies wat jy as kind deurmaak en vir jouself hou . . . Ek dink stilte is só traumaties. Dit is tóksies. Dit is gif wat in jou gemoed leef sonder om huur te betaal.”

‘Wit mense moet nou luister’

Wat kan aan al hierdie dinge gedoen word? Hoe kan dit beter word?

“Wat my teen die bors stuit, is liberale wit mense wat die hardste stemme is in die stryd van mense van kleur. Daar was ’n tyd en ’n plek daarvoor, toe dit ’n nut gehad het, toe óns nie die geleenthede gehad het om vir onsself te praat nie, maar ek dink daardie tyd is nou verby. Dit is nou tyd vir wit mense om te luister en vir mense van kleur om te praat.”

Al die wit trane en wit weerloosheid en broosheid . . . ek verstaan dit tot ’n mate en miskien kan hulle nie daarvan wegkom nie, maar ek voel: Bly nou net stil daaroor; ek is moeg daarvoor.

Sy het ’n probleem met wit skrywers soos Max du Preez en Antjie Krog.

“Ek dink hulle gaan nou al vir te lank aan en neem te veel ruimte in beslag. Al die wit trane en wit weerloosheid en broosheid . . . ek verstaan dit tot ’n mate en miskien kan hulle nie daarvan wegkom nie, maar ek voel: Bly nou net stil daaroor; ek is moeg daarvoor.”

Iets waarvan sy ook nie hou nie is wanneer mense “swart” in die oorkoepelende, swartbewussyn sin van die woord gebruik en alle mense van kleur daarby insluit.

“Soveel as wat ek dit haat wanneer wit mense hierdie gesprekke oorneem en aan die voorpunt van die proteste is en die groter stemme in die media en op televisie is, vind ek dit ook so disrespekvol en so kras en uitbuitend wanneer bruin mense ’n swart stryd aanneem, want ons ís nie almal dieselfde nie en ons kom nie almal van dieselfde plek nie en die ervarings van ons voorouers is nie almal dieselfde nie. Ek het nie die reg om sekere ervarings as my eie op te eis nie. Byvoorbeeld: na my wete was geen vrou in my familie ooit ’n huiswerker nie.”

So ek hou nie daarvan om myself as Indiër te kategoriseer nie; ek hou daarvan om van ’n bruinheid te praat.

Haji het in die Pretoriase buurt Laudium grootgeword. Dit is as ’n Indiërbuurt gevestig toe die apartheidsregering ingevolge die groepsgebiedewet Indiërs van hoofsaaklik Marabastad af soontoe verskuif het. Haar ma is Indiër en haar pa, ’n professor in tandheelkunde aan die Universiteit van Pretoria, is van gemengde – Indiër en onder meer Kaaps-Maleise – afkoms.

“So ek hou nie daarvan om myself as Indiër te kategoriseer nie; ek hou daarvan om van ’n bruinheid te praat. En ek vind hier in die Kaap erkenning en aanvaarding en liefde en spirituele konneksie by die Kaaps-Maleise mense meer as wat ek by enige Indiërgemeenskap in Suid-Afrika vind. Maar ek moet byvoeg, toe ek Indië besoek het, was dit soos ’n werklike tuiskoms en tuiste.”

‘Die vrees is eg’

“Ten einde te oorleef en vooruit te kom in die lewe vind ons dit soms nog nodig om met geboë hoofde te leef.”Foto: Jaco Marais

Dink sy daar is “mense van kleur” wat nié bang is vir wit mense nie?

“Ek dink daar is mense van kleur wat by ’n punt gekom het waar hulle dit dalk nie meer ervaar nie, maar die vrees is eg en dit bestaan wel. Ék het nog nooit ’n mens van kleur teëgekom wat sê hulle het dit nog nooit ervaar nie. Dit is dikwels iets waaroor daar nie gepraat word nie want dit is vernederend.”

Daar is baie dinge waarvoor ek Nelson Mandela respekteer, maar ek het voel ook bitter teenoor hom want ek dink glad nie hy het mense van kleur gered nie, ek dink hy het eerder wit mense in vele opsigte gered.

Sy glo nie in die konsep van die reënboognasie nie.

“Dit is soos die slagspreuk van ’n advertensie wat aan ons verkoop is op ’n tydstip toe ’n ekonomie desperaat was vir gelykheid vir ’n verskeidenheid redes. Daar is baie dinge waarvoor ek Nelson Mandela respekteer, maar ek het voel ook bitter teenoor hom want ek dink glad nie hy het mense van kleur gered nie, ek dink hy het eerder wit mense in vele opsigte gered.

“Winnie Mandela was vir baie jare die vergete heldin van hierdie land en sy mense. Ek dink sy is meer van ’n redder as hy.”

My oupa, wat ’n kleremaker was, was so lief vir Afrikaans dat hy op die ouderdom van 40 na die onderwyskollege in Laudium gegaan het. Hy het toe ’n Afrikaans-onderwyser geword.

Hoewel ek aangeneem het Haji praat Engels, vind ek teen die einde van die onderhoud uit sy is ook Afrikaans magtig.

“Ja, maar ek praat ’n bruin Afrikaans. My oupa, wat ’n kleremaker was, was so lief vir Afrikaans dat hy op die ouderdom van 40 na die onderwyskollege in Laudium gegaan het. Hy het toe ’n Afrikaans-onderwyser geword,” sê sy met iets wat soos trots klink in haar stem.

“Ek het vir lank geglo Afrikaans is die taal van die onderdrukker, en in sekere opsigte word dit so gebruik, maar Afrikaans is tot ’n groot mate ook ’n bruinmenstaal; veral hier in Kaapstad. En ons vergeet dat daar meer mense van kleur is wat Afrikaans praat as wit mense.

“Ek het die Groot Verseboek van hom geërf. Die Junievakansie was altyd baie lank en dan het hy vir my gedigte daaruit gelees. Een wat ek spesifiek onthou, is ‘Die Melkkantien’ . . .”

Dit is ’n gedig van Elisabeth Eybers. Die eerste strofe lui:

Wat soek sy hier waar alles glim, die vrou,

verweer en afgewater, kneukels rooi,

soos die tamatiesap waarom hulle klou?

Tussen die kelnerinne, opgetooi,

met jong gesigte, almal leeg en hard,

wat soek sy hier, so afgesloof en stroef,

in haar verrimpelde gelaat die smart

van anders en alleen wees saamgeskroef?

’n Woordreis vir wit mense

“Ek hou nie daarvan om myself as Indiër te kategoriseer nie; ek hou daarvan om van ’n bruinheid te praat.”Foto: Jaco Marais

Haji hoop wit mense sal haar boek lees en dat dit vir hulle ’n “woordreis” sal wees. Hoe voel sy daaroor dat die boek wit lesers kan vervreem? “Vervreemding is insigself ’n opvoeding,” sê sy.

Dan praat ons oor die titelverhaal “Sorry, not sorry” wat ’n “manifes” bevat wat my vraag eintlik omvattend beantwoord. Sy skryf onder meer: “I am not sorry about refusing to prioritise white feelings when it comes to conversations about structural racism.” En: “I am not sorry that my raised voice offends you or that you suffer an emotional disconnect because of it.”

Hoe het sy gevoel toe sy dié “manifes” geskryf het? Was dit bevrydend? Het sy gevoel of sy meer beheer (agentskap) kry?

En die opofferinge wat ons maak, is ons stories en ons kan daardie stories vertel en niemand kan dit ooit van ons wegneem nie. So nou moet ons die stories vertel en ons moet hulle uitleef.

“Dit wás bevrydend en ek kon voel hoe agentskap in my groei, maar meer as enigiets anders was dit ’n uitstorting van róú woede. In baie opsigte kan die manifes dalk as redelik selfsugtig gesien word want al die punte wat ek maak, is herinneringe aan myself oor hoe ek my beskouing van myself en my verhouding tot ander mense moet verander. Maar ek hoop ander mense van kleur sal hulle ook hiermee kan vereenselwig.

“Bowenal hoop ek dit dien as ’n herinnering aan die mediabedryf en aan mense van kleur dat ons nie kapitaal of geld of grond of geleenthede gekry het nie, maar wat ons ontvang het, is ons ervarings en talente. En daar is dinge wat ons kan doen wat ander mense nie kan doen nie. En die opofferinge wat ons maak, is ons stories en ons kan daardie stories vertel en niemand kan dit ooit van ons wegneem nie. So nou moet ons die stories vertel en ons moet hulle uitleef.”

Haji moet haas; haar ouma in Pretoria is baie siek en sy is op pad lughawe toe want sy wil haar gaan besoek – moontlik ’n laaste keer. Haar afskeidswoorde is:

“Ek sal mense nie smeek om hierdie boek te koop nie, maar ek hoop werklik dat hulle sal. En ek hoop dit maak hulle ongemaklik en ek hoop dat dit hulle tot ’n mate vermaak. Maar wat ek veral hoop, is dat dit aan hulle ’n mate van insig bied in die emosie en empatie waarvoor hulle dalk bang is en wat hulle nog nie voorheen verken het nie. Ek hoop nadat hulle dit gelees het, sal hulle die moed hê om verder te delf.”

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Antjie Krog  |  Max Du Preez  |  Wit Mense
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.