Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wag voor Rian se mond is deesdae wakkerder

Hy het deur die jare baie geleer oor die trefkrag van woorde en deesdae is die wag voor sy mond baie wakkerder, het Rian van Heerden aan Gert van der Westhuizen gesê.

Rian van Heerden sê die wag voor sy mond is deesdae wakkerder. Foto’s: Felix Dlangamandla

Wat is die een woord waaraan ’n mens dadelik dink as jy die naam Rian van Heerden hoor?

Omstrede.

Dis asof van Heerden – radio- en TV-persoonlikheid sowel as rubriekskrywer en werkolis – niemand koud laat nie.

Óf jy haat hom, óf jy is gek oor hom.

Dit was weer duidelik uit reaksies op sy boek, 16 dinge wat ek nié moes sê nie, wat onlangs deur Tafelberg uitgegee is en waarvan uittreksels op Netwerk24 lesers aan die praat gehad het.

“Ja,” lag Van Heerden, “daar is baie dinge waaroor ek nie spyt is nie. Dit is eerder ’n geval van ander mense wat ontsteld was oor wat ek gesê het.”

Baie van die goed het meer van 'n impak op ander mense gehad as op my.

Daar is byvoorbeeld die keer toe hy besluit het om aan die wêreld te vertel dat hy gay is.

“ ’n Vriend van my se buurvrou was baie ontsteld. Sy het by sy huis ingehardloop: ‘Jissie, kyk nou wat het hy gedoen! Ek het gedink hy sal eendag beskikbaar wees vir my!’

“Baie van die goed het meer van 'n impak op ander mense gehad as op my.”

Die manier waarop mense op die gay-erkenning reageer het, was vir Van Heerden nogal vreemd.

“Ek kon dit eerlikwaar nie glo toe ek dit op die voorblad van die Sondagkoerant sien nie.

Ek dink nog steeds wie openlik is daaroor. Mense is altyd baie subtiel daaroor.

“Ek het dit nie gedoen om te sê: nou gaan ek baanbrekerswerk doen nie. Dit was ook nie my doel gewees om een van die eerstes te wees wat uit die kas geklim het nie.

“Dit was wel vir my vreemd hoe min mense dit in daardie stadium gedoen het. Ek dink nog steeds wie openlik is daaroor. Mense is altyd baie subtiel daaroor.

“Daar was geen rumours oor my nie, hoewel daar seker geskinder is omdat ek vir so lank single was.

“Ek het gedink my brief sal mense motiveer om uit die kas uit te kom, maar dit het nie eintlik gebeur nie. Ek kyk baie keer na hierdie Afrikaanse musiekvideo’s dan weet ek mos. Dan hang die sanger met ’n meisie rond en sing: ‘Ek is so lief vir jou’ . . . it is not true.”

Drie verhore op een dag

Van Heerden erken wel dat hy aan die begin van sy loopbaan mense wou skok; hulle twee keer te laat dink oor goed.

“Dit het gegaan oor hoe ’n mens in die koerant kan kom. Dit was mos die groot ding gewees: hoe kan ons soos Howard Stern (die Amerikaanse shock jock) wees.”

Almal kan help om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak, sê Rian van Heerden.

Hy het soms nogal goed daarin geslaag om mense die josie in te maak, vertel Van Heerden waar ons op die stoep van ’n restaurant in Midrand gesels. 'n Glas met gewone kraanwater staan voor hom op die tafel.

Hy onthou byvoorbeeld die dag toe hy in nie minder nie as drie verhore was oor omstrede goed wat hy oor die lug kwytgeraak het.

Gelukkig vir hom het een van die beswaarde groepe nie opgedaag nie, maar dit kon hom steeds nie red van die “tien moerige omies met hul oranje dasse” wat wel op hom gewag het nie.

Is dit nog omstrede in 2018?

Vandag kan hy, en self miskien van die eertydse beswaardes, daaroor lag.

“Is dit nog omstrede in 2018? Soos ek aan die boek gewerk en goed neergeskryf het, het ek vir myself gesê: ‘Jis, ons was darem destyds vreeslik omstrede, maar as jy dit teen vandag se standaarde meet, kom jy agter dit is nie omstrede nie.’ ”

Daar is wel een ding waaroor Van Heerden werklik baie spyt is. Die dag toe hy sy humeur verloor en ’n luisteraar toegesnou het: “Jy is breindood. Gaan boek jouself in by die Nuwe Hoop-skool!”

Dis te laat om sy gewraakte woorde ongedaan te maak, sê Van Heerden skielik ernstiger. “Dit is die ding waaroor ek die meeste spyt is, dit verseker ek jou. Ek het gedoen wat ek kon om te vergoed daarvoor.”

Beïnvloed die stille meerderheid

Rian van Heerden sê daar is altyd gemengde reaksies op wat hy doen en sê.

Vandag sal so iets nie sommer weer gebeur nie. Van Heerden het, soos die jare verbygegaan het, agtergekom dat radio ’n baie magtige medium is en dat dit gebruik kan word om mense te help.

“Ek het beslis baie geleer oor die trefkrag van woorde. Ek het baie meer van ’n besef dat elke keer as jy daai mikrofoon aansit . . . dit klink asof ek enigiets sê wat in my kop opkom, maar dis nie noodwendig waar nie. Ek dink die wag voor my mond is net ’n bietjie meer wakkerder as wat hy ooit was. Hy aktiveer vinniger, hy reageer vinniger.

“As ek kyk na alles wat ek doen, was daar nog altyd gemengde reaksie. Ek het nog nooit in my lewe ’n ding gedoen waaroor daar net een mening was nie, daar was altyd gemengde reaksie. Ek kyk nou na Skelmpie. Skelmpie lok verskriklik gemengde menings uit en daar is lekker debatte. Dit is presies hoe dit moet wees.”

Nydige kommentaar ontstel Van Heerden deesdae ook nie so baie nie.

Ek het myself gedwing om te besef dat ek ook ’n opinie het en dat my opinie ook geld. Almal het ’n opinie en almal se opinie geld.

Mense wat komplimente en beledigings uitdeel, is mense wat tyd het en hulle is beslis in die minderheid. Jy moet eerder probeer om die stille meerderheid te beïndruk, sê Van Heerden.

“In Suid-Afrika swaai die pendulum nou regs en dan links,” verduidelik Van Heerden. “Dit hang af van wie wat skree. Dan swaai almal daai kant toe en dan swaai ons weer terug. So mense verander baie vinnig van mening.

“Dis die silent majority wat geswaai moet word. Baie mense het nie genoeg selfvertroue om hul menings te lug nie.

“Ek was beslis deel van die silent majority, maar ek het myself gedwing om te besef dat ek ook ’n opinie het en dat my opinie ook geld. Almal het ’n opinie en almal se opinie geld. Dis my en jou besluit of ons dit vir ons gaan laat geld.”

Suid-Afrikaners bou aan nuwe toekoms

Daar is baie dinge waaroor Rian van Heerden nie spyt is nie.

Die wag voor Van Heerden se mond het darem deesdae ’n effens makliker werk omdat hy nie meer by ontbytradio betrokke is nie, maar in die middae oor Jacaranda uitsaai.

Humeure ruk maklik in die oggende handuit. “Wie is in ’n goeie mood as hulle werk toe gaan? Niemand nie,” beantwoord Van Heerden sy eie vraag.

“Jy sit daar en jy dink aan die dag wat voorlê en die verkeer wat voorlê en jy is nog moeg van gister. Maar wie is nie in ’n goeie mood as jy teruggaan huis toe nie? Die hele vibe het verander. In die middag bly mense kalm. Ons geniet onsself in die middag.”

Van Heerden het in elk geval nie tyd om hom oor kritiek te verknies nie. Daarvoor is hy te besig, hy het nie eens tyd vir stokperdjies nie.

Desember is vir my ’n verskriklike tyd. Dis vir my dooie tyd, jy weet jy kan niks doen nie, want alles is toe.”

“Wat is ’n stokperdjie? Wat maak ’n mens met dit? As ek tyd het, probeer ek uitkom by mense by wie ek moet uitkom. Ek wil spesiale tyd saam met spesiale mense deurbring.

“Ek het ’n baie sterk bewussyn van tyd, ek is intens bewus van tyd en wat ek daarmee doen. Desember is vir my ’n verskriklike tyd. Ek weet mense sien uit daarna, maar ek sien op daarteen. Dis vir my dooie tyd, jy weet jy kan niks doen nie, want alles is toe.”

Van Heerden erken hy is eintlik ’n werkolis, hy gee glad nie om as mense hom daarom as ’n vervelige kêrel bestempel nie.

Dit behoort mense seker nie te verbaas nie dat Van Heerden genoeg tyd kon inruim om verlede jaar sy MA-graad in sielkunde te voltooi. Selfgelding (assertiveness) was die onderwerp van sy verhandeling. Hy het ondersoek ingestel na wat die vlakke van selfgelding is van mense wat die werksomgewing betree en hoe hulle onder meer wil hê hul base met hulle moet praat.

Die voorblad van Rian van Heerden se boek.

Buitendien is Suid-Afrika volgens Van Heerden die perfekte land as jy nie verveeld wil rondsit met niks om te doen nie.

“Die ongelooflike ding van Suid-Afrika,” sê hy en wys na ’n nabygeleë restaurant waar werkers kap en boor en rommel in kruiwaens wegry, “is dat dit onder konstruksie is.

“Dis eintlik een groot construction site. Dis ongelooflik om deel te wees van die konstruksie van ’n nuwe toekoms.

Dis die lekker ding om deel te wees van ’n land in wording. Daar is nog so baie om te doen.

“Ek was in Switserland en die een ding wat my opgeval het in Zürich was hoe alles werk en hoe mooi skoon dit is. Toe sê ek vir myself: Hoe ongelooflik vervelig moet dit nie wees nie? Alles is uitgesorteer, daar is niks om nog te doen nie.

“Dis die lekker ding om deel te wees van ’n land in wording. Daar is nog so baie om te doen. Ek het onlangs vir ’n vriend gesê die doel van die lewe is om die wêreld ’n klein bietjie van ’n beter plek agter te laat as toe jy hier aangekom het – al is dit net in jou eie omgewing, in jou eie buurt, in jou eie gesin.

“Ons kan dit hier doen,” sê Van Heerden met verwysing na Suid-Afrika. “Ons almal kan ’n rol speel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.