Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat die kroegman gesien het

Roy Wiid (69) vertel aan Murray La Vita van die lewens wat hy in sy 45 jaar as kroegman voor hom gesien verkrummel het. Jy word soos ’n sielkundige, sê hy.

Roy Wiid agter die kroegtoonbank van Dias Tavern, waar hy 29 jaar lank kroegman was. Foto: Jaco Marais

“Ek gaan nou eers ’n doppie drink,” sê Roy en stap na die kroegtoonbank van Dias Tavern in Kaapstad.

Hy keer ná ’n paar minute terug met ’n bottel Drostdy Hof Premier Grand Cru (375 ml). Hy noem die drankie ’n Groen Mamba.

Dit is ’n Maandagmiddag skuins ná een en hy het pas per bus uit Goodwood opgedaag vir ons afspraak om oor sy 45 jaar lange loopbaan as kroegman te praat. Hy het aan die einde van Mei ná 29 jaar by hierdie gewilde Portugese restaurant en kroeg aan die voet van Tafelberg afgetree. Voor dit was hy ’n kroegman in The Fireman’s Arms, Kaapstad se tweede oudste kroeg.

Ek het op die spoorweë begin werk as arbeider in een van die werkswinkels in Soutrivier toe ek 16 of 17 jaar oud was.

Verskeie mense het Roy, ’n man met ’n mooi groot neus wat ’n bietjie aan dié van Gérard Depardieu herinner, gegroet toe hy die restaurant binnekom met Enrique Iglesias wat op die agtergrond sing en heruitsendings van sokkerwedstryde wat op ’n TV vertoon word. Die swart kelners spreek hom as “uncle Roy” aan.

“Ek het op die spoorweë begin werk as arbeider in een van die werkswinkels in Soutrivier toe ek 16 of 17 jaar oud was. In ’76 het ek by die Fireman’s Arms begin werk. Die man wat my daar touwys gemaak het, was Morris Skors,” begin Roy vertel nadat hy sy eerste sluk wyn geneem het.

“Die eerste dag toe ek daar aankom, het ek na die agterkant van die kroegtoonbank toe gestap en toe stop Morris my. Daar was twee groot waghonde in die kroeg – Butch en Vicky. Morris sê toe: ‘Wag, Roy, trek eers hierdie voorskoot aan. Ek het die voorskoot aangetrek en toe ek agter die toonbank inloop, het die honde op my afgepyl. Ek dog toe: O, Here! Dis my eerste en laaste dag in die Fireman’s Arms; hulle gaan my opvreet. Die honde het my besnuffel en toe weggeloop.

“Toe ek die volgende dag by die kroeg kom en vir Morris gevra waar my voorskoot is, sê hy: ‘Moenie worrie nie.’ Die honde het toe my reuk herken en geassosieer met die kroegreuk wat aan die voorskoot was.”

Nie meer tyd vir sokker

Iemand het dit ook aan my genoem dat Roy ’n belowende jong sokkerspeler was. Ek vra hom daaroor uit.

“Ja, ek het op skool provinsiale sokker gespeel, maar toe ek eers ’n kroegman was, was daar nie meer tyd vir sokker nie.”

Hy het op die grens van Woodstock en Distrik Ses grootgeword en was die middelste van nege kinders. Hy het in standerd sewe die skool verlaat.

“Ek moes gaan werk om my ouers se inkomste aan te vul en om te help om my jonger broers en susters deur die skool te kry. Die vier wat jonger as ek was, het almal matriek gemaak.”

Roy (regs) in sy dae as kroegman van The Fireman’s Arms. By hom is legendariese kroegfigure wyle Jumbo Jim (links) en Ivan The Terrible. Foto: Verskaf

Die Fireman’s Arms was soos ’n klub.

“Elke gereelde besoeker het ’n glasbierbeker gehad waarop hul name gegraveer was. As kroegman moes jy almal se name leer ken. So as jy inkom, moet ek jou bier vir jou in jou beker gee.

“Jy moes met jou oë steel. Waarneming is een van die belangrikste dinge agter die kroegtoonbank. Ek het vinnig geleer. As jy vandag ingestap het en ’n Castle bestel het, sou ek môre ’n Castle oopmaak wanneer jy inkom.

“Die ander belangrike ding is om kennis te neem van klante. As ek besig is en jy wag vir ’n drankie moet ek vir jou ’n teken gee dat ek jou binnekort gaan help. Ja, ek het vinnig geleer.

Geen vroue nie! As ’n vrou haar gesig by die deur ingesteek het, het die mans haar vreemd aangekyk.

“Ek het sportmanne met hul bekers bedien . . . Piet Pompies, die komediant. Hy het ’n pet shop gehad en hy het mense van perdevleis voorsien; hulle het dit by hom bestel.”

Vroue is destyds nie in die kroeg toegelaat nie, sê Roy.

“Geen vroue nie! As ’n vrou haar gesig by die deur ingesteek het, het die mans haar vreemd aangekyk. Later eers het die ladies bar gekom. Daarvoor moes fasiliteite geskep word – aparte toilette, matte, allerhande sulke dinge.”

Roy het nooit gedrink terwyl hy aan diens was nie.

“Morris het my ook geleer: Wees vriendelik met die klante, maar moenie fraternise nie. Moet ook nie buite die kroeg met hulle sosialiseer en byvoorbeeld saam met hulle partytjie hou nie; ook nie met die bestuur nie. Dit veroorsaak net moeilikheid.”

Gewoontes verander

Hy vertel van die menslike dramas wat oor die jare in kroeë voor hom afgespeel het.

“Jy sien mense se gewoontes verander. Hulle kom in die aand in en drink drie of vier pinte bier. ’n Paar maande later drink die persoon ’n bottel port. Nou begin jy agterkom iets is verkeerd.

“Daar was ’n sakeman van Houtbaai met twee lieflike kinders. En toe skei hy. Hy het die dag by die kroeg aangekom met ’n pak klere aan. Toe ek ’n opmerking daaroor maak aangesien hy nie gewoonlik ’n pak gedra het nie, het hy gesê: ‘Nee, Roy, ek is vandag geskei.’

Hy vertel van nog iemand wie se lewe hy voor sy oë sien verkrummel het.

“Hy het later álles verloor. Omtrent ses maande later is ek eendag op pad werk toe en ek staan by die bushalte en wag vir die bus. Aan die oorkant van die straat sien ek toe ’n man besig om stompies van die sypaadjie af op te tel. Toe was dit daardie einste man. Hy het stráf begin drink en toe álles verloor.”

Hy vertel van nog iemand wie se lewe hy voor sy oë sien verkrummel het.

“Die ou het altyd die smartste klere gedra; sakdoek in die baadjiesak. Hy sou inkom en nie groet of enigiets nie, net sê: ‘Gee my ’n bier.’ Dan haal hy ’n rol note uit sy sak; ’n ról! Wanneer hy die volgende bier bestel, sal hy weer ’n noot uit die rol haal, geen kleingeld nie.

“’n Paar maande later loop ek en my vrou in Woodstock en hier tap iemand my op my skouer en vra: ‘Hell, China, you haven’t got twenty cents for me?’ Dit was toe daardie einste smart ou van die kroeg!”

Hulle vertel alles

Roy en Chris Lilykou, wat by hom as kroegman in Dias Tavern oorgeneem het. Foto: Jaco Marais

Jy is soos ’n sielkundige.

“O hulle vertel vir jou alles! ’n Ou wat in die hawe op die sleepbote gewerk het, sou vieruur inkom – hy het Hansa gedrink – en dan vir my sê: ‘Roy, ek gaan net een drink.’ Sewe-uur die aand dan sit hy nog daar. Al waaroor hy altyd gepraat het, was sy werk. Dit was net werk, werk, werk; in die kroeg en sekerlik by die huis ook.

“Wat met hom gebeur het . . . Sy vrou kon nie swanger raak nie en toe skei hy van haar. Maar voor dit moes sy Groote Schuur toe gaan om ’n psigiater te gaan sien. Toe sê die psigiater vir haar hy wil graag ook haar man sien.

“Hy het toe aan die man gesê dis nie sy vrou wat behandeling nodig het nie, dis hý. Hulle is daarna geskei en sy het weer getrou en het binne ’n maand swanger geword.

Hy het met mense gesimpatiseer, maar het nie daarvan gehou om hulle raad te gee nie.

“Hoe kan jy huis toe gaan en net oor jou werk praat? En na ’n kroeg toe kom en vir ure net oor jou werk praat? Hierdie is ’n plek waar jy moet kom ontspan en van jou werk af wégkom.”

Hy het met mense gesimpatiseer, maar het nie daarvan gehou om hulle raad te gee nie.

“Daar was byvoorbeeld ’n customer wie se seun homself opgehang het. Dis sad, maar wat kan jy doen? Ek kan maar net sê ek is jammer oor die verlies.”

Hy onthou iemand anders.

“Johan, hy was ’n Afrikaner, ’n blerrie nice ou . . . Hy het twee seuns gehad en toe skei hy en sy vrou en hy is nie toegelaat om sy seuns te sien nie. Hy het homself geskiet.”

‘Daar is die deur!’

Moes hy soms weier om klante te bedien?

“O, ja! As jy dronk hier inloop, sal ek jou nie bedien nie. Ek sê: Daar is die deur! want al wat jy dan kry, is probleme. En as jy hier instap met krukke, mag ek jou nie bedien nie want as jy hier gaan val, gaan jy my die skuld gee. Of as jy in ’n rolstoel hier inkom. Ek hoef ook nie vir jou ’n rede te gee waarom ek nie vir jou gaan drank bedien nie.”

Die apartheidsjare was vir hom “regtig ’n verleentheid”.

Toe haal hy sy ID-boek uit en hy is wit! Dit was moeilik! Ek kon nie ophou verskoning vra nie.

“Toe ek net by die Fireman’s Arms begin werk het en nog moes gewoond raak aan dinge, stap daar ’n ou in; hy was baie donker. Ek sê vir hom: ‘Meneer, ek is jammer, ek kan jou nie bedien nie, dit is teen die wet.’ Hy antwoord: ‘Moenie worry nie; dit gebeur die hele tyd met my.’ Toe haal hy sy ID-boek uit en hy is wit! Dit was moeilik! Ek kon nie ophou verskoning vra nie.”

Eendag stap drie jongelinge by die Dias Tavern in.

“Hulle het daar gaan sit,” sê Roy en beduie na die punt van die kroegtoonbank agter hom. “Ek kon sien die een is oor die 20, maar die ander twee is minderjarig. Een van hulle vra toe: ‘Oom, gee vir ons drie Castles.’ Ek sê toe: ‘Vir jou kan ek bedien, maar nie julle ander twee nie.’

Hulle wil toe nog stry: ‘Nee oom, ons is ouer as 18!’ Ek sê: ‘Júlle ouer as 18? Sê vir my wanneer is julle gebore?’” Roy lag en beduie hoe hulle op hul vingers getel het. “O, Here! Hulle kon dit nie uitwerk nie! Kón dit nie uitwerk nie!”

’n Man stap by ’n kroeg in

Roy bestel nog ’n Groen Mamba, en dan praat ons oor grappe. Die kroeg is immers ’n plek waar grappe vertel word.

“Ja, hulle vertel vir my baie grappe – plénty! En ekself ken baie grappe.” Hy begin in die teenwoordige tyd praat, asof hy nog steeds die kroegman hier is. “Ek het ’n customer en dan vertel ek vir hom ’n grap. Sy naam is Harold. Ek vertel vir hom hierdie grap en dan gaan hy uit om te rook en ek kan hom van die kroeg af steeds hoor lag!

“Ja, ek is ’n goeie grapverteller. Ek het hierdie grap, maar ek weet nie . . .” Ons por hom aan om te vertel. “ ’n Ou kom by die kroeg ingestap en vra vir die kroegman ’n rum en Coke. Die kroegman sit ’n appel voor hom neer; ’n áppel. Die man sê: ‘Ek het jou vir rum en Coke gevra!’ ‘Maar vat net ’n hap,’ sê die kroegman. Die man neem toe ’n hap en sê: ‘Hey, dit proe soos rum!’ Die kroegman sê: ‘Draai dit om en vat nog ’n hap.’ Die ou sê: ‘Dit proe soos Coke, man!’

Ek is 69 en ek kan steeds agter hierdie kroeg werk en enige youngster, énige een, ’n go gee.

“Die volgende ou stap in en sê: ‘Gee my ’n double gin and tonic.’ ”

Roy beskryf hoe dieselfde met hierdie klant gebeur. Wanneer hy vertel wat met die derde man gebeur, raak die surrealistiese grap skreeusnaaks, maar te skunnig vir publikasie.

Ons gesels weer oor die belangrike rol wat Roy as kroegman in mense se lewens gespeel het.

“Ja, hulle geniet dit en ek geniet hulle geselskap. Maar as ek besig is, dan is ek besig. Ek is 69 en ek kan steeds agter hierdie kroeg werk en enige youngster, énige een, ’n go gee. Om tot mense te relate is belangrik. Ek hou van mense, maar moet my nie die moer in maak nie want dan sal jy my slegte kant sien; jy sál. Dit gebeur nie dikwels nie.” Hoe is hy dan? “Very bad! Jy weet jy kry hierdie youngsters en dan vra jy: ‘Kan ek julle help?’ Dan staan hulle daar en uhm en ah. Fok jou! I’m gone. Roep my as jy reg is om te bestel wat jy ook al wil hê.

“As ek by ’n kroeg instap – hiér, dit is wat ek drink. Finish en klaar!” sê hy en wys na die glas witwyn voor hom op die tafel. Moenie met jou uhms en ahs by my kom nie. En moenie vir my sê die diens en die kos was so goed maar dan vir my geen tip gee nie.”

‘Vra vir Roy

In ’n kroeg sien jy mense se gewoontes verander, sê Roy. Foto: Jaco Marais

In ’n stadium voel Roy lus vir ’n sigaret en ek gaan saam met hom buiten toe waar hy ’n Texan rook.

“Ek het mos daai plain gerook, maar toe vat hulle dit van die mark af,” sê hy en vertel my dan hy hou baie van lees.

“Dit is waar ek my opvoeding gekry het. Ek het baie gelees, veral Reader’s Digest. En ek luister radio. Ek is baie clued up; my algemene kennis is goed. Mense sê dikwels: ‘Ek weet nie, vra vir Roy.’ ”

Ons praat oor sy aftrede. Hy en sy vrou, Hanna, ontvang staatspensioene en daarbenewens bied hul kinders, onder andere ’n seun wat as kontrakteur in Saoedi-Arabië werk, aan hulle geldelike steun.

Maar daar was nie geld nie. Toe hy sterf, het ek ’n paar kouse, ’n keps en drie sakdoeke gekry.

“Vir ekstra geld maak ek pickled onions en verkoop dit. Dit het begin toe my pa longkanker gekry het en nie meer kon werk nie. Ek het vir hom die ingredients gekoop en hy het dit gemaak en verkoop. Dit het hulle gehelp om die foonrekening en ’n bietjie van die huur te betaal.”

Sy pa was ’n meester-teëllêer en ’n kondukteur op die Hanoverstraat-bus.

“Hy het teëls gelê toe die Groote Schuur-hospitaal gebou is en in die swembaddens in Newlands. Dít was sý werk. Hy het ook die mosaïekwerk by die stasie gedoen.”

Wat hy beskryf, is die afbeeldings van straattonele uit die koloniale Kaap: deftig geklede mans met pluiskeile op perde; koetse, waens, slawe wat ’n drastoel dra.

“Maar daar was nie geld nie. Toe hy sterf, het ek ’n paar kouse, ’n keps en drie sakdoeke gekry.”

Wanneer ons vertrek, gaan sit Roy by die kroegtoonbank. Dit is nou net hy daar. En oorkant hom Chris Lilykou, ’n jong Kongolees wat as kroegman by hom oorgeneem het.

“Hy is uitstekend. Sy diens is goed. Hy kom goed oor die weg met die klante. Hy herinner my aan myself toe ek jonk was,” sê Roy en bestel nog ’n doppie.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.