Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Wat het van die waarheid geword?’

Ons het die pad na die waarheid byster geraak, sê prof. Herman Wasserman, wat aan die hoof staan van ’n internasionale ondersoek na “inligtingswanorde” in lande soos Suid-Afrika, aan Murray La Vita.

‘Ons weet nie meer waar om daardie waarheid te gaan soek nie.’ Foto: Lerato Maduna

“Van die peilings wat ons gedoen het, wys dat die probleem eintlik baie groter is in Afrikalande as in ander dele van die wêreld. Die vermeende blootstelling aan fopnuus en disinformasie is baie hoër as in soortgelyke peilings in Amerika,” sê Wasserman, ’n professor in mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad.

Hy en hoofsaaklik ’n Amerikaanse kollega Dani Madrid-Morales het die afgelope paar jaar navorsing gedoen oor betrekkinge tussen China en Afrika.

“Daaruit het ons ook begin belangstel in hierdie aspek van disinformasie waarna mense aanvanklik meer geredelik verwys het as ‘fake news’ of fopnuus, maar deesdae is dít ’n problematiese term, deels omdat dit so ’n bewapende term geraak het deur ouens soos Donald Trump.”

Wat baie kommerwekkend is, is baie mense ... gee geredelik toe dat hulle inligting wat hulle wéét vals is, versprei.

Die onderhoud met Wasserman vind per Zoom plaas. Naas sy skerp intellek en sin vir humor is die opvallendste aspek van sy uitstraling sy empatiese ingesteldheid – sy begrip vir die weerloosheid, vrees en pyn wat dikwels onderliggend is aan menslike gedrag.

Die vertrekpunt van die onderhoud is die internasionale studie oor inligtingswanorde in die globale suide wat pas onder sy leiding begin het.

“Ons het die laaste paar jaar ’n paar peilings in Afrikalande gedoen om te kyk hoe groot is die probleem hier en hoe lyk die probleem. Dit is op die oomblik ’n ongelooflike brandende kwessie, so daar word internasionaal baie werk daaroor gedoen. Dis ’n baie breë veld, maar ons het spesifiek gekyk na hoe verstaan ’n mens dit in die maatskaplike konteks van Afrika en hoekom deel mense dit; hoekom gebruik hulle dit; waarby vind hulle aanklank?

“Wat baie kommerwekkend is, is baie mense in die ses Afrikalande [Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië, Ghana, Kenia en Nigerië] waarin ons peilings gedoen het, gee geredelik toe dat hulle inligting wat hulle wéét vals is, versprei. So, hulle doen dit dikwels willens en wetens.”

Perspektiewe uit die suide

Die peilings is gedoen nog voordat die Covid-19-pandemie posgevat het.

“Dit was al ’n groot probleem in Afrika en in ander plekke in die globale suide, maar desnieteenstaande is die meeste akademiese navorsing gefokus op die globale noorde.

“Ons het dus doelbewus probeer om dit aan te vul en ander perspektiewe vanuit die suide te gee. En op grond hiervan het ek meer betrokke geraak by die onderwerp oor die laaste paar jare en hierdie spesifieke studie is ’n uitvloeisel daarvan. Dit word deur die Kanadese organisasie International Development Research Centre befonds.

Buiten al die fopnuus en disinformasie 'is ons ook in ’n omgewing waar ons totaal oorweldig word deur inligting'.

“Hulle stel daarin belang om agter te kom wie werk in hierdie ruimte om dit te beveg. Mense beveg dit op verskillende maniere – jy het fact checkers wat feite nagaan, en dan het jy mense wat meer in die ruimte van haatspraak werk. Ander bevorder weer mediageletterheid, of spits hulle toe op beleidskwessies.

“Ons kyk na Latyns-Amerika, die Midde-Ooste, Asië en Afrika. Daar is ’n paar organisasies wat aktief is daar en met wie ons al saamwerk en hulle sal vir ons help om in daardie streke die navorsing te koördineer.

“En aan die einde van die jaar, wanneer die projek klaar moet wees, sal ons hopelik dan nou minstens ’n tipe oorsig hê van wie in die ruimte werk en wat hulle doen, en sal ons dit dan evalueer. Van daar af sal ons hopelik verder gaan en meer doelgerigte navorsing en projekte doen.”

‘Vertroue in media daal’

Buiten al die fopnuus en disinformasie “is ons ook in ’n omgewing waar ons totaal oorweldig word deur inligting”. “Die Wêreldgesondheidsorganisasie praat van ’n infodemie. En in die konteks van die pandemie is dit inligting wat die meeste van ons baie moeilik kan sif en op ’n ingeligte manier mee kan omgaan – behalwe as jy nou ’n immunoloog of ’n viroloog is, is dit die eerste keer dat jy van dié goed hoor.

“Ons word die afgelope jaar al absoluut gebombardeer met syfers en inligting oor entstowwe ensomeer, so mense weet nie meer wie en wat om te glo nie.

“Dít hang nou saam met ’n klomp ander probleme, soos dat die vertrouensvlakke in die media internasionaal skerp gedaal het – deels weens etiese misstappe.”

Dit is lande wat deur kolonialisme en apartheid uitmekaar geskeur is en daardie polariserings bestaan nog steeds.

In Suid-Afrika was daar onlangs die Satchwell-verslag wat die uitkoms is van ’n ondersoek na media-etiek en -onafhanklikheid, onder voorsitterskap van afgetrede regter Kathy Satchwell.

Dit is op versoek van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) gedoen. Die ondersoekers het onder meer bevind daar is “sistemiese probleme wat etiese optrede regoor die medialandskap bedreig”.

“Dít dra daartoe by dat mense nie aldag meer weet of hulle die hoofstroommedia kan glo nie, én daarmee saam is daar mense soos Trump en ander wat doelbewus daardie vertroue verder probeer ondermyn.”

Dít het gelei tot ’n “geweldige polarisering” in samelewings.

“Waarom dit belangrik is om te kyk na kontekste soos Suid-Afrika en ander Afrikalande en die globale suide, is omdat daar in dié lande histories rééds groot polarisering is. Dit is lande wat deur kolonialisme en apartheid uitmekaar geskeur is en daardie polariserings bestaan nog steeds.”

Verskuilde agendas

Die laer vlakke van vertroue in die media én in regerings het gelei tot sinisme.

“Die regering word so konstant aangeval en gekritiseer, dikwels ten regte, maar dikwels ook as ’n tipe knierefleks. Die beskouing bestaan dat daar ’n verskuilde agenda is agter wat ook al die regering doen.

“Dít is die post-waarheid omgewing waarin mense sinies is oor inligting. Hulle weet nie wie en wat om te vertrou nie en nou glo hulle maar net wat hulle wil.

“So, dit is nie dat daar nie meer iets soos feite bestaan nie; ons het die pad na die waarheid byster geraak. Ons weet nie meer waar om daardie waarheid te gaan soek nie . . . Daar is so ’n magdom interpretasies dat jy nie eintlik meer weet waar om te gaan kyk nie.

In ’n gepolariseerde land soos Suid-Afrika is daar die idee dat jy nie aan iemand anders iets verskuldig is nie; jy moet net na jouself kyk; jy het jou eie regte as individu.

“En dan is dit nou natuurlik ge-weaponise en in die konteks van ’n pandemie is dit lewensgevaarlik. Die interessante ding is ook hoe die pandemie blootgelê het hoe dún ons sosiale kontrak is.

“In ’n gepolariseerde land soos Suid-Afrika is daar die idee dat jy nie aan iemand anders iets verskuldig is nie; jy moet net na jouself kyk; jy het jou eie regte as individu.

“Ek probeer nie individuele vryheid onderspeel of ondermyn nie, maar die pandemie het wel tuisgebring hoe broos hierdie bande tussen mense is. In ’n omgewing soos ons s’n dra jy jou masker vir iemand ánders; nou wié is daardie iemand anders en het jy ’n verhouding met daardie iemand?

“Ek dink die sinisme en die kritiek wat partykeer so in overdrive gaan, kan verval in ’n antagonisme, en dat dit soms oorgaan in ’n tipe van arrogansie, is problematies in hierdie omgewing.”

‘Só versprei dit’

‘Die eerste goed wat gebeur het toe die eerste geval van die koronavirus in Afrika gevind is, is dat mense begin grappe maak het daaroor.‘ Foto: Lerato Maduna

Wasserman praat oor die navorsing wat gedoen is oor die verspreiding van disinformasie met betrekking tot die pandemie.

“Ons het in ons navorsing vir mense gevra: ‘Wat motiveer jou om waninligting te lees en dit dan aan te stuur?’ In al hierdie lande is een van die belangrikste redes wat mense gee dat hulle dit doen uit ’n misplaaste sin vir verantwoordelikheid.

“Hulle sê: ‘Ek kry nou hierdie ding oor hierdie wonderkuur; ek twyfel of dit waar is, maar laat ek dit net gou aanstuur, net vir in geval dit dalk waar is.’

“En só versprei dit en só vat dit pos. Die ander een is dat mense dit doen vir pret, iets om oor te giggel. Daar is natuurlik ook ’n tradisie en ’n geskiedenis in veral Afrika waar humor en skindernuus en grappies – daardie informele netwerke – ’n baie progressiewe rol gespeel het in omgewings waar die media deur die staat beheer is. Die rol van satire is in Afrika enorm belangrik.

Mense is onseker, mense is bang, en die ding van disinformasie en van fopnuus in die algemeen, is dit het ’n emosionele impak.

“Die eerste goed wat gebeur het toe die eerste geval van die koronavirus in Afrika gevind is, is dat mense begin grappe maak het daaroor. Daar was oral, byvoorbeeld op Twitter, grappies. Hoekom is dit so? Jy moet of lag of jy moet huil, so jy lag maar. En dít skep natuurlik ook ’n terrein vir hierdie disinformasie om verder te floreer.

“So, in die konteks van die pandemie is dit lewensgevaarlik en ontsaglik onverantwoordelik om sulke inligting te versprei, maar ’n mens moet ook probeer verstaan hóékom dit mense aangryp.

“Mense is onseker, mense is bang, en die ding van disinformasie en van fopnuus in die algemeen, is dit het ’n emosionele impak. Wanneer jy mediageletterdheid met mense doen, sal jy vir hulle sê: ‘Luister, as jy ’n ding op WhatsApp kry en dit maak jou kwaad of dit maak jou dadelik verskriklik hartseer, of jy het een of ander emosionele reaksie, dan moet jy vir jouself vra: Hoekom reageer ek só?’”

‘Waak teen sinisme’

Disinformasie word beveg deur slegte inligting uit te roei en goeie inligting te bevorder.

“Hoe doen ’n mens dit? Die een manier is natuurlik om te korrigeer en as sosialemedia-gebruikers het ons álmal daardie verantwoordelikheid.

“Die media het natuurlik ’n groter verantwoordelikheid vanweë hul rol in die samelewing, maar ons almal is kurators op ’n manier en het ’n verantwoordelikheid net in terme van of jy byvoorbeeld iets op WhatsApp aanstuur.”

Maar waak teen ’n klimaat van sinisme waar jy ’n gevoel skep van niks gaan ooit reg verloop nie en hierdie regering kan niks reg doen nie.

Legitieme kritiek teen regerings en ’n kritiese ingesteldheid, is iets waarmee die media “absoluut nie moet ophou nie”.

“Ja, vra al die vrae oor die entstowwe. Waar kom dit vandaan? Wie gee dit vir ons? Is daar genoeg? Maar waak teen ’n klimaat van sinisme waar jy ’n gevoel skep van niks gaan ooit reg verloop nie en hierdie regering kan niks reg doen nie.”

Want daardie sinisme is wat mense laat besluit om te glo net wat hulle wil. En dan beweeg jy weg van die “konsensus-gedrewe benadering tot wetenskap en inligting”.

‘Dít was ’n skok’

‘Ons is in ’n omgewing waar mense in alternatiewe werklikhede beweeg.’ Foto: Lerato Maduna

Twee goed in die laaste maande van Donald Trump se presidentskap het hom “met sy eie naïwiteit” gekonfronteer, sê Wasserman.

“Die bestorming van die kongresgebou en die hoeveelheid steun wat hy hier in Suid-Afrika het. Laasgenoemde het my heeltemal verras. Ek het gedink dat daar mense was wat hom aanvanklik gesteun het as ’n tipe contrarianism of as ’n grap. Maar dat mense ná al hierdie jare van sy verwoestende en rampspoedige bewind . . . Suid-Afrikaners wat kom uit ’n samelewing waar ons gesien het wat se skade doen rassisme, wat se skade doen haat – dat húlle dan heeltemal openlik, nie net om die vleisbraaivuur nie, verklaar: ‘Ek steun hierdie ou’, was vir my nogal ’n skok.

“Dit was nie net ’n skok omdat mense hóm steun nie, maar dit is ’n skok omdat dit vir my sê wat dit verteenwoordig in óns samelewing. Hoekom sien soveel Suid-Afrikaners in hom ’n spreekbuis of ’n simbool wat húlle hoop en húlle angs en húlle vrese en drome, of hulle haat en hulle vooroordele, verwoord?

“Hier het jy iemand wat rassisties is, misogynist is, wat gespot het met mense met gebreke . . . Wát sê dit van hoe jy na jou mede-Suid-Afrikaners kyk?

Ons is nou al verby ’n stadium waar mense gemanipuleer word deur vals inligting; ons is in ’n omgewing waar mense in alternatiewe werklikhede beweeg.

“Trump self is dalk weg, maar die probleem van Trumpisme wat in Amerika gaan bly voortbestaan as ’n gevaar, juis ook in hierdie omgewing van disinformasie, maar wat nou ook posvat in hierdie populisme in Suid-Afrika, is ’n ongelooflike bron van kommer.

“En dan die bestorming van die kongresgebou. . . Iemand het gesê wat dít vir ons wys, is ons is nou al verby ’n stadium waar mense gemanipuleer word deur vals inligting; ons is in ’n omgewing waar mense in alternatiewe werklikhede beweeg.

“Ons is in ’n omgewing waar ’n klomp mense kan glo, ondanks alle feite tot die teendeel, dat Trump die verkiesing gewen het. Hulle glo so sterk daarin dat hulle voel hulle moet die kongresgebou oorneem.

“Dít sien ’n mens, of jy nou praat oor die pandemie en of jy nou praat oor entstowwe, dat mense in heeltemal afsonderlike werklikhede beweeg.

“Ek dink dikwels dalk leef ons as akademici en joernaliste ook in borrels en is dit belangrik dat ons uit dit uitkom en daardie mense nie net verwerp nie, maar probeer agterkom: Wát gaan hier aan?”

‘Ons móét standpunt inneem’

‘Ons sal maar moet begin besef ons móét standpunt inneem.’ Foto: Lerato Maduna

Die wig wat die pandemie tussen mense ingedryf het, kom weer ter sprake.

“’n Mens sien dit maar in jou eie omgewing waar party mense nie daarin glo om maskers te dra nie. En jy is dan in daardie ongelooflik ongemaklike situasie, net soos met ’n rassistiese grap om die vleisbraaivuur, lag jy nou maar verleë of bly jy stil? Of sê jy vir die persoon: ‘Nee, ek kan nie hiermee saamgaan nie.’

“Ons sal maar moet begin besef ons móét standpunt inneem. Maar hóé jy dit doen . . . Dit moet ’n férm standpunt wees, maar ek dink daai standpunt moet ook empaties wees. Weer eens: Gaan ontmoet mense daar waar hulle is en probeer hulle verstaan. Dit sal dalk meer suksesvol wees om te probeer uitvind waarom mense weerstand bied teen die feite en dán standpunt in te neem . . .

“Dit laat my dink aan die line van Leonard Cohen: ‘There is no decent place to stand in a massacre . . .’ Ek dink hierdie pandemie tóéts ons en vra vir ons: Gaan dit oor mý en mý individuele regte of gaan ek optree in die openbare belang? Dit is ’n morele vraag wat hierdie pandemie aan almal van ons kom stel het.”

Verset begin deur vir jouself ’n vraag te vra en dan die vraag vir iemand anders te vra.
Remco Campert

Indien ek teenoor Wasserman in sy kantoor gesit het, sou ek teen ’n muur die plakkaat kon sien waarop dié gedig van Remco Campert verskyn:

Jezelf een vraag stellen

Daarmee begint verzet

En dan die vraag

Aan een ander stellen

Met ander woorde: Verset begin deur vir jouself ’n vraag te vra en dan die vraag vir iemand anders te vra.

Waarde van verbeelding

‘Jy kan net ’n storie met die nodige empatie vertel as jy jouself in ’n ander persoon se skoene kan verbeel.‘ Foto: Lerato Maduna

Wasserman het sy beroepslewe as joernalis by Die Burger begin waar hy onder meer in die kunsredaksie gewerk het. Buiten sy talle akademiese publikasies is hy ook die skrywer van kortverhaalbundels. Is fiksie vir hom as gevierde akademikus met noemenswaardige internasionale aansien, nog belangrik?

“My doktorsgraad was in letterkunde, dus is letterkunde en literatuurkritiek ’n fundamentele deel van my opleiding en steeds ’n belangrike belangstelling van my. Dit klink nogal ironies, dat iemand met ’n formele opleiding in die lees van fiksie hom nou met die bekamping van fopnuus besig hou!

“Maar ek dink dié skoling, asook my jare as resensent, het my ook gehelp om tekste krities te kan lees, te kan onderskei tussen goeie satire enersyds, en onsin en propaganda andersyds.

Die verbeelding is ’n onderskatte vaardigheid is vir enige beroep, maar veral vir joernaliste.

“Fiksie, satire en parodie vertel natuurlik dikwels die waarheid op ’n meer treffende manier as niefiksie. Om krities te kan lees is ’n vaardigheid wat ook belangrik is vir die joernalistiek en die bestudering van laasgenoemde.

“Daarby sou ek wou voeg dat die verbeelding ’n onderskatte vaardigheid is vir enige beroep, maar veral vir joernaliste – daarmee bedoel ek nie joernaliste moet feite opmaak nie, maar ten grondslag van die etiek lê die morele verbeelding. Jy kan net ’n storie met die nodige empatie vertel as jy jouself in ’n ander persoon se skoene kan verbeel.

“Dink maar aan hoe die pandemie ons uitdaag om onsself in die skoene te plaas van diegene wat siek is, weerloos is, arm is, bang is, en ons gedrag daarvolgens aan te pas. Daardie morele verbeelding is ook nodig vir etiese joernalistiek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.