Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Wat wou NG Kerk nóg aan my doen?’

Al het die NG Kerk hom al verwerp lank voordat hy 37 jaar gelede as predikant “geskors” is, was hy nooit verbitterd nie, sê prof. Jaap Durand (85) aan Murray La Vita.

Prof. Jaap Durand praat in Stellenbosch oor sy verhouding met die NG Kerk. Foto: Jaco Marais

“ ’n Mens lag nou partykeer daaroor, maar die verrassing wat hulle vir my gehad het in Bloemfontein . . . Ek sit daar soos ’n fool. Ek het so ’n blou gestreepte hempie en ek dink nog hierdie broek aangehad. Ek het gout en ek het my skoene uitgetrek gehad. Sit ek daar so ewe.

“Wrágtigwaar, hier sê hulle ek moet vorentoe kom en hulle sê vir my die NG Kerk het my nou aanvaar.”

Durand, gevierde teoloog en skrywer, sit in die studeerkamer van die huis in Stellenbosch waar hy en sy vrou, Sonja, woon. Hy vertel die aangrypende verhaal van hoe sy ampsbevoegdheid as leraar in die NG Kerk verlede week in Bloemfontein herstel is.

Hy is in 1982 uit die amp van predikant ontslaan weens sy betrokkenheid by die Belydenis van Belhar en sy kritiek op apartheid.

Durand het aan die Universiteit van die Vrystaat ’n meestersgraad in filosofie behaal, waarna hy aan die destydse Universiteit van Stellenbosch teologie studeer het en later aan die Vrije Universiteit Amsterdam ’n doktorsgraad behaal het.

‘Lewenslange stryd teen onreg in alle vorme’

Durand en Verena Schoeman se boek Bloedbruide van Christus – vrouestemme in die eerste eeue, het pas by Bybel-Media verskyn.

Die flapteks lui: “Jaap Durand – wat bekend geword het vir sy lewenslange stryd teen onreg in alle vorme – het nógeens die gemarginaliseerdes raakgesien: Vroue wat vir hul geloof in Christus die hoogste prys betaal het. Weer is hy ’n stem vir die stemloses, ook vir hulle wat tussen die bladsye van geskiedenisboeke misgekyk of verswyg is en sodoende in vergetelheid verdwyn het.

“Dié publikasie [. . .] lewer ’n belangrike bydrae tot die gesprek oor die mishandeling van vroue deur magsisteme, dikwels in die naam van geloof. Hierdie boek is ’n begin. Daar is nog veel meer te sê.”

Die NG Kerk het hom lank voor 1982 verwerp.

“Ek het ’n proefskrif geskryf oor die eenheid van die kerk Una sancta catholica in sendingperspektief, en dít het toe gemaak dat ek reg van die begin af in omstredenheid gehul was omdat ek daarin baie sterk die eenheid van die kerk en die NG Kerk se verdeeldheid op rassegrondslag aangevat het.

“Terwyl ek nog in Amsterdam was, het die NG Kerk my gevra of ek na die sendingkerk in Port Elizabeth sal gaan, want ek het reg van die begin af besluit ek gaan sending toe.

“Toe ek in Suid-Afrika terug is, kry ek een aand ’n oproep waarin hulle vir my sê hulle is baie jammer die sendingraad van Port Elizabeth wil my nie hê nie, as gevolg van my proefskrif.

“Iemand uit die Kaap bel my toe daarna en vra of ek nie na Cala in die Transkei toe wil gaan nie . . . Ons gaan toe soontoe en daar het ek op die sendingstasie gewerk. Ons was toe ’n paar jaar daar en ek het Xhosa geleer.

“Later het die swart gemeente Kwazakhele in Port Elizabeth my beroep. Die mense het gedink ek is mal dat ek na Port Elizabeth, wat my nie wou gehad het nie, toe gaan.”

‘Geweldige kritiek’

Prof Jaap Durand ontvang in Bloemfontein sy bevoegdheidsverklaring van ds. Bertus Celliers. Foto: Charles Smith

In Port Elizabeth het hy van P.K. Mentz, voorsitter van die sendingraad, verneem daar is pogings om sy “hele predikantskap” ongeldig te laat verklaar.

“Terwyl ek in Port Elizabeth was, het ek die boek Swart man, stad en toekoms, geskryf wat baie groot probleme veroorsaak het. Ek het geweldige kritiek gekry omdat ek geskryf het oor die situasie van die swart man in die stad.

“My eerste botsings met die veiligheidsdiens het ook daar begin. Ek het die evangelis Vani in Kwazakhele besoek en toe kom sy vrou in en sê daar is mense wat sê hulle behoort aan die Mannesendingbond en hulle stel belang in wat ek in daardie gemeente sê. ’n Man kom toe ook in en sê dit is lede van die veiligheidsdiens wat buite in ’n motor sit.

Die wete dat die veiligheidsdiens in my belang stel, was vir my ontstellend.

“Die volgende dag het swart mense my uit Kwazakhele begin bel en gevra of ek weet wie by my was. Hulle sê toe dit is die mense wat met [Steve] Biko werk.

“Toe eers het ek besef met wie ek te doen het. Ek het dit toe nou maar aanvaar en besef dat ek ’n probleem het, maar wat doen ek daaromtrent?

“Die wete dat die veiligheidsdiens in my belang stel, was vir my ontstellend, maar my [eerste] vrou [Randu, wat op 51 aan kanker oorlede is] was baie meer ontsteld as ek. En sy was bang.

“Toe beroep die NG Sendingkerk by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) my na die teologiese fakulteit toe, maar hulle het gesukkel om goedkeuring van die regering te kry.”

Belydenis van Belhar

Durand met een van die rubberkoeëls wat in 1984 na hom gevuur is. Foto: Jaco Marais

Hy is uiteindelik wel aangestel as professor in sistematiese teologie en het in 1981 die viserektor geword.

“In een van die teologieklasse het ek vir die studente – [wyle] Russel Botman [voormalige rektor van die Universiteit Stellenbosch] was onder hulle – gevra: ‘Wat is julle teologiese beswaar teen apartheid?’

“Ons het toe ’n beskrywingspunt vir die sinode van die NG Sendingkerk opgestel, en dit was die voorloper van die Belydenis van Belhar.

“Die sinode het gesê dit moet in die vorm van ’n belydenis opgestel word. Toe vaardig die sinode ’n kommissie af, en ek en Dirkie Smit, wat toe in my plek gekom het as professor in sistematiese teologie, word afgevaardig om dit te skryf.

Ek het gelag en gevra: ‘Wat wil hulle nóg aan my doen?’

“Ons het oor die drie basiese punte besluit waaroor die Belydenis van Belhar moet gaan, en dit was oor die eenheid van die kerk, oor versoening tussen mense, en oor geregtigheid teenoor minderbevoorregte mense. Dirkie het dit toe geskryf.

“Bernard Combrink [destyds hoogleraar in teologie aan die US] kom toe na my toe, daar in die huis saam met my oorlede vrou . . . Sy moes ál hierdie dinge deurmaak. Hy sê toe vir my: ‘Jaap, ek sien die NG Kerk het jou status weggeneem.’

“Dis die eerste woord wat ek toe daarvan hoor. Niemand het my geroep of gevra nie! Die NG Kerk het my geskórs. Dit was pas ná Belhar. Met Belhar het hulle gevoel: ‘Nóú het hy te ver gegaan’ en toe neem hulle my bevoegdheid weg . . . 37 jaar gelede.”

Hoe het dit hom laat voel?

“Ek het gelag en gevra: ‘Wat wil hulle nóg aan my doen?’ Maar my vrou [Randu] was baie kwaad. Sy het gesê: ‘Hóé kan hulle dit aan jou doen?’ ”

Beyers Naudé

Die polisie brand in 1984 los op Durand en studente van die UWK. Foto: Verskaf

Hy het sy bevoegdheid in die NG Sendingkerk behou.

‘Laat die son op 16 Junie skyn’

Terwyl Durand viserektor van die UWK was, was hy ook verantwoordelik vir bouwerk op die kampus.

“Die biblioteek loop so met ’n sirkelgang op na boontoe sodat jy nie trappe hoef te klim nie. Met ander woorde, daar is ’n groot opening in die middel. En onder die biblioteek is ’n groot atrium en ’n lesingsaal.

“Toe sê ek vir die een argitek: Luister, in die Voortrekkermonument is daar die heldesaal met ’n koepel met ’n opening waardeur die son skyn en elke jaar op 16 Desember skyn die son om twaalfuur in die middel van die senotaaf . . . Kom ons maak ’n gaatjie in die vloer van die biblioteek sodat die son daar deurskyn as ’n herdenking van 16 Junie [1976, toe leerlinge in Soweto met protesoptrede begin het wat later landwyd na swart gemeenskappe versprei het].”

Hy lag.

“En hy doen dit waaragtigwaar . . . Hy sit daar ’n glassteen in. Niemand het dit geweet nie. ’n Rukkie gelede besoek ek UWK en ek sê vir hulle ek wil ’n bietjie gaan kyk in die biblioteek. Wragtigwaar lê daar ’n mat oor. Ek sê: ‘Vat daai mat weg.’ Toe hulle die mat wegvat toe sien hulle hier is die glas waar die lig deurskyn na die atrium onder.”

“Selfs terwyl ek viserektor was. Ek wóú dit behou en daarom het ek steeds klasgegee vir eerstejaars en ek het proefskrifte gemodereer. Daarom het ek my status of bevoegdheid nooit dáár verloor nie, al het die NG Kerk dit weggevat . . . ”

Beyers Naudé, wat ook deur die NG Kerk verwerp is en later deur die staat ingeperk is, het hom deur die jare ondersteun.

“Toe ek nog in Port Elizabeth was, het hy my besoek. Hy en sy vrou het my ook op Stellenbosch besoek. Ek was toe in die Rynse gemeente.

“Tussen hakies – ek het nou weer teruggegaan na die VGK toe – die VGK bestaan mos nou uit die ou bruin kerk en die swart kerk. Ek is terug na my roots toe; ek is saam met [dr.] Sipho Mahokoto in Kayamandi [in Stellenbosch].

“Daai seun van my, daai Jannie Durand, wat tans hoof is van Remgro, het die geld gegee vir ’n nuwe kerk. Ek het so ’n bietjie bygedra tot die liturgiese sentrum.”

Hy wys na ’n foto van ’n rooikopseuntjie teen die muur. Daarnaas is ’n foto van nog ’n seuntjie, sy jonger seun, Jaco, ’n direkteur van Spier. Teen ’n ander muur is ’n foto van sy dogter, Aninka Wessels, wat personeelhoof by Bidvest is.

Durand sê die NG Kerk se Sinode Wes-Kaapland het hom agt jaar gelede in ’n brief verskoning gevra.

“Hulle het gesê hulle is jammer dat hulle my status van my weggeneem het, maar hulle kan dit nie vir my teruggee nie, die algemene sinode moet dit vir my teruggee. En dít is wat nou gebeur het.”

Hy sug twee keer diep en sê bewoë: “Ek is so jammer dat my eerste vrou, wat baie swaargekry het . . . dat sy dit nooit kon ervaar nie.”

‘Nooit verbitterd’

Hy praat weer oor verlede week in Bloemfontein toe ds. Bertus Celliers in die NG kerk Berg-en-Dal die bevoegdheidsverklaring namens die Algemene Taakspan Predikantesake van die NG Kerk aan hom oorhandig het.

“Hulle lees toe vir my voor dat ek my bevoegdheid het en dat ek ná 37 jaar weer ingeskryf is in die bevoegdheidsregister. Dit het toe my afsluiting geword van my verhouding met die NG Kerk. Weet jy, ek was in die Rynse gemeente gewees, maar ek het baiekeer nog na die NG kerk toe gegaan. Ek was nooit verbitterd gewees nie . . . Ek was natuurlik baie ontsteld.”

Durand en Verena Schoeman van Bloemfontein het die naweek voor dié gebeurtenis in dieselfde kerk hul boek Bloedbruide van Christus – vrouemartelaars in die eerste eeue, bekend gestel. Daaroor sê hy: “Ek het ’n sagte plek vir mense wat swaarkry.”

‘Groot gif’

“Ek het geweldige kritiek gekry omdat ek geskryf het oor die situasie van die swart man in die stad.”Foto: Jaco Marais

Durand wys na ’n tafeltjie waarop ’n namaaksel van Rodin se beeld Die Denker staan.

“Toe ek by UWK was, het daar by die kweekskool in Stellenbosch mettertyd ’n bietjie van ’n beter gesindheid ontwikkel, en ek word toe sowaar na die kweekskool daar beroep.

“Ek het dit bedank; ek het dit nie aanvaar nie want ek het gevoel die UWK is die plek waar ons werklik iets kan doen . . . Ek het Stellenbosch nie vertrou nie.

“En toe gee die studente vir my as blyk van waardering daardie beeldjie. Jy kan nie glo hoe ’n mens voel nie. Terwyl daar groot gif teen jou uitgespoeg word, kry jy daardie tipe waardering.”

Toe stap ek na die polisie toe en terwyl ek stap toe begin hulle skiet.

Hy onthou skielik iets.

“My oorlede vrou is in 1976 afgedank as bibliotekaresse in die teologiese fakulteit van die UWK. Tydens die opstande het van die studente in die biblioteek by haar gaan skuil wanneer die polisie op die kampus was.”

Bo die tafeltjie hang ’n foto van Durand, met agter hom studente wat weghardloop.

“Dit was toe hulle op ons geskiet het by UWK met die opstande in ’84. Ek was só woedend gewees. Die studente het bymekaargekom daar in Modderdamweg voor die universiteit en toe kom ek en ek sien die polisie staan daar.

“Ek sê toe vir die studente: ‘Wag ’n bietjie, ek wil met die polisie gaan praat sodat ons nie hier ’n botsing kry nie.’ Toe stap ek na die polisie toe en terwyl ek stap toe begin hulle skiet. Hulle skiet toe met rubberkoeëls. Die studente het later vir my die rubberkoeël gegee; wag ek het hom hierso.” Hy bring die objek te voorskyn en sê: “Hy kan jou doodskiet, hoor.”

Spykers in sy boeke

“Die wete dat die veiligheidsdiens in my belang stel, was vir my ontstellend.” Foto: Jaco Marais

Op pad uit stap ons verby rakke boeke. ’n Hele ry van die groot teoloog Karl Barth se werke; die Verzamelde Werken van Oepke Noordmans; en die verskeie bande van die Theologische Wörterbuch zum Neuen Testament, staan onder meer daar.

Hy trek ’n boek, een van die bande van Herman Bavinck se Gereformeerde Dogmatiek, van die rak af. Merke is in die hoek van die boek sigbaar.

“Toe ek hier land uit Holland en hulle my laat weet Port Elizabeth wil my nie meer hê nie, toe is al my boeke al deurgestuur Port Elizabeth toe. En toe . . . Wat hulle gedoen het . . . Ek het dit gekrat in Holland; hulle het daardie bande om die kratte afgehaal en sommer net spykers ingeslaan.

“Dis nog ’n aandenking van toe ek uit Holland gekom het en hulle my nie meer wou hê nie. Hulle wou my glad nie meer gehad het nie . . . Toe het hulle nou ná 37 jaar gesê nou is ek oukei.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.