Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat’s jou storie? ‘Ek móés oor swygreg skryf’

Sy boek XOV, sy afkorting vir kruisondervraging, handel oor die magtigste wapen in die hof se arsenaal om die waarheid oop te vlek, sê adv. Herbert Raubenheimer (71) as jy vra oor die aanloop tot sy roman.

Adv. Herbert Raubenheimer (71), regsman, skrywer, komponis en sanger. Foto: Charles Smith

Hoewel die boek fiksie is, is daar heelwat raakpunte met wat die Suid Afrikaanse publiek daagliks moet gedoog, verdra en verduur.

“Advokate word in die voet geskiet deur eienaardige kliënte, swak polisiewerk, besoedelde misdaadtonele, ’n uiters ondoeltreffende hofprosesstelsel wat misdadigers in watte toedraai, regsverteenwoordigers (en selfs regters) wat geregtigheid kniehalter met voortdurende uitstelle, asook ’n gefrustreerde publiek wat oorkookpunt bereik het en reg in eie hande wil neem. Die gatvollys hou aan en aan.”

‘Gebroke stelsel’

In sy bykans 40 jaar in die regsberoep as prokureur, advokaat en waarnemende regter, het hy gesien dat ons huidige akkusatoriese stelsel (waarby die sogenaamde grondwetlike swygreg ingesluit is) “uiters ondoeltreffend werk”, sê hy.

“Die prosedure tans is dat die beskuldigde woordeloos in die hof sit tydens sy saak en dat die staat, met moeite, elke jota en titel moet bewys in lang uitgerekte litigasie. Ek móés hieroor skryf. Hopelik is daar iemand daar buite wat die noodsaaklikheid kan insien dat ons wegbeweeg van hierdie verouderde en uitgediende Engelse model in ons howe. Daar is ’n werkbare alternatief.”

Hofstories

Raubenheimer kom van Molteno (waar hy in matriek was) in die Noordoos-Kaap en was in Huis D.F. Malherbe (die Malhuis) aan Kovsies. Hy was 20 jaar lid van die Vrystaatse balie en is nou reeds 20 jaar lid van die Kaapse balie. Hy het in die Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Kaap as regter waargeneem.

“Ek praktiseer steeds soos dit ’n 71-jarige betaam. Ek geniet my kamers.”

Hy sê sy sake was nie juis opspraakwekkend nie.

Hy is so ’n laaang, plat man met ’n hôg poephol.

“My kollegas onthou tog een saak in die Vrystaat. My kliënt was ’n Griekwa van Jacobsdal se omgewing. Hy’t die mooiste Afrikaans gepraat. Hy het gesukkel met my van. Hy kom soek my eendag. My een kollega sê hy moet beskryf hoe ek lyk. Hy maak gebare met sy hande en sê: ‘Hy is so ’n laaang, plat man met ’n hôg poephol.”

Daar is wel pragtige stories wat uit die howe spruit, vertel hy.

“In 1977, toe ek as advokaat begin praktiseer het, was die doodstraf nog van krag. Ons het na die doodveroordeeldes as swingers verwys. Baie kollegas wou nie aan swinger-sake as pro deo’s raak nie. Hul naam was kamma op die spel. Ek het ook hul sake gedoen. Ek het die geld nodig gehad. My eerste drie sake was almal swingers. In die teekamer het kollegas gespot en gesê: “If you do not want to go to jail, get Raubenheimer.”

Dit is wel “vreemd en frustrerend” om op te tree vir iemand wat jy voor jou heilige siel weet, is skuldig.

Dit is wel “vreemd en frustrerend” om op te tree vir iemand wat jy voor jou heilige siel weet, is skuldig, sê hy. Jy mag kamma nie regter speel nie en moet jou kliënt se instruksies uitvoer.

Die alternatief

“Dis juis hier waar ek ook die inkwisatoriese stelsel bepleit in teenstelling tot ons swygsame akkusatoriese stelsel. Eersgenoemde word met sukses in sekere Europese lande toegepas. Dit behels dat die regter, advokaat vir die vervolging en advokaat vir die beskuldigde as een span saamwerk en vrae stel om by die waarheid uit te kom.

“Tans is die regter ’n stil skeidsregter wat die wenner tussen die twee vingerswaaiende advokate aanwys doer onder in die arena. Onverstaanbaar klou ons aan die uitgediende argaïese Engelse reg. Afrika vereis iets meer dinamies en kragdadig. Ons hou al die verkeerde wêreldrekords as dit by misdaad kom.”

Hy verwys in XOV Kruisondervraging na Kaapse skurke in die onderwêreld. ’n Paar regsverteenwoordigers is onlangs vermoor in die bende- en dwelmoorlog. Is die advokate maar katvoet om vir die ouens op te tree?

“Dit raak soos met die destydse Grensoorlog, ’n snellergretigheid. As jou kliënt voel jy weet te veel of is te eties of vir watter onsinnige rede ook al, dan laat hy jou uithaal. Tuis in jou motorhuis of waar jy met jou kinders in die motor sit. Sonder aansiens des persoons. Dit is ’n sieklike vorm van geskilbeslegting. Wie wil nou wag vir trae howe?”

Sover is hy gelukkig ongedeerd.

“Ek het wegbeweeg van strafwerk. Siviele sake is hopelik veiliger.”

Komponis

Raubenheimer se vrou, Benita, was in 1969 hoofmeisie van Hoërskool Sentraal. Haar gesin het ’n fietswinkel in Extonweg in die stad gehad.

“Sy is een van daardie pragtige Venters,” sê Herbert. Hy het vir haar ’n roerende lied gekomponeer en dit self gesing toe sy Covid-19 opgedoen het en siek was. Sy het herstel,

“My liedjies kom oor baie jare. Meer onlangs het ek met my suster se dood die liedjie “Hemel bel”gekomponeer. In die ateljee was daar ’n hoorbare tranerigheid van my. Ek wil haar bel. Op YouTube het 700 luisteraars na my hartseer kon luister. Musiek is beslis ’n onderskatte terapie.”

Hy luister graag na ’n mooi melodie. “My voet moet onwillekeurig begin beweeg. My liedjies is al as ‘jazzy’ beskryf.”

Lees en skryf

Raubenheimer is uiteraard ook ’n groot leser. “Ek lees graag Afrikaans. Dit maak my vies dat boekwinkels ’n een meter lange rak aan Afrikaans gun. Ek het onlangs drie boeke van Zirk van den Berg gelees en geniet tans Chris Karsten se pragtige, beskrywende Afrikaans.”

Is hy aan die werk aan sy tweede roman? Sal dit ook die howe en die reg as tema hê?

“Iets broei in my kop. Ons land is so uniek en vol nuwighede. Ek hou van ’n draai in die howe waar die onvergenoegdes en onverkwiklikes dit uitwoed. Grendeltyd is skryftyd.”

Wat is die een geheim van die lewe wat hy, in die hof én buite die hof, geleer het? “Dis vir my ’n onding dat iemand mag swyg in ’n hof waar die waarheid moet seëvier. My beleid was om my kliënt te laat getuig. Kruisondervraging sal bepaal of hy die waarheid praat of nie. Wie is ek as advokaat om sensor te speel of te muilband?”

Meer oor:  Skryf  |  Boek  |  Roman  |  Advokaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.