Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat's jou storie: Hy kom gee aan SA’ners identiteit

Sy liefde vir Suid-Afrika se mense, wat hy koester en kosbaar vind, maak dat die een boek ná die ander oor Suid-Afrika en sy mense uit die pen van dr. Bart J.H. de Graaff verskyn.

Dié Nederlandse historikus, joernalis en teksskrywer van die stad Middelburg in Nederland skryf boeke waarvoor hy maande op ’n keer in Suid-Afrika navorsing kom doen. Mense reken dikwels hy het Suid-Afrikaanse skrywers in hul eie land voorgespring met die pragstories wat hy skryf.

Dr. Bart de Graaff, Nederlandse historikus, joernalis en teksskrywer, en sy vrou, dr. Conny Wattel, ’n mediese dokter, by die ingang van Middelburg in Nederland, waar hulle woon. Foto’s: Marietjie Gericke

Die vraag is egter of dit met net soveel spitsvondigheid, deernis, begrip en fyn woordspel geskryf sou wees soos wat De Graaff dit kan doen.

De Graaff kom juis einde Oktober weer na Suid-Afrika om sy nuwe boek oor die Barend Barends-Griekwas van die Noord-Kaap, waarvoor hy hordes onderhoude op band gevoer het, in Daniëlskuil bekend te stel. Die boek sal later aan skole in die Noord-Kaap en aan biblioteke beskikbaar gestel word. Die titel gaan waarskynlik Die vergete kaptein van Daniëlskuil wees. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Stichting Zuid-Afrikahuis, die Algemeen-Nederlands Verbond (Den Haag), die Karoo Development Foundation en die Noord-Kaapse toerisme-owerheid finansier die boek, sê hy.

“Daardie Griekwas het letterlik voor my begin huil nadat ek vir hulle identiteit kom gee het,” vertel hy. “As ’n mens so verarm is en jy niks anders het om op trots te wees nie, is identiteit vir jou geweldig belangrik. Daardie mense voel nou trots om Griekwas genoem te kan word en nie meer Boesmans of Kleurlinge nie. Hulle het nou ’n identiteit, hulle moet net gaan werk.”

De Graaff sê sy eerste boek, 1 599 km tussen Amsterdam en Gouda, was vir hom ’n ontdekkingstog van Nederlandse dorpsname wat ook in Suid-Afrika dorpsname is, waar hy na die stories van die mense in daardie dorpe in Suid-Afrika kom luister het. Hy het onder meer na die stories van mense van albei Middelburgs in Suid-Afrika kom luister, terwyl hy en sy vrou, Conny, in Middelburg, Nederland, bly waar hulle – soos hy dit noem – “skool-sweathearts” was. Hulle het in ’n heerlike stad grootgeword en “loop staat het”, soos van die mense ook in Suid-Afrika praat.

Dit is waar hy heeltyds skryf tussen sprokiesmooi geboue waarvan baie uit die Middeleeue kom. Conny is ’n mediese dokter met haar eie praktyk 3 km van hul huis af.

De Graaff vertel hy het vir sy eerste boek nie minder nie as 5 000 km deur Suid-Afrika gereis om na Suid-Afrikaners se stories in dorpe met dieselfde name as dié in Nederland te luister. Sy seun, dr. Han de Graaff, ’n narkotiseur in Nederland, het hom na baie van daardie plekke gebring.

Hy het sedert sy skooldae ’n groot liefde vir Suid-Afrika.

“Ek het al op skoolvlak werkstukke in geskiedenis en aardrykskunde oor Suid-Afrika gemaak omdat ek so nuuskierig oor die land was.

“Op skoolvlak het ek byvoorbeeld ’n werkstuk oor apartheid gedoen waar ek gevra het of apartheid ’n Suid­-Afri­kaans­ gebore fenomeen was en of dit Hollandse invloed gehad het.”

Die pragtige Stadhuis in Middelburg, Nederland.

In sy pleknaamboek, wat ook uit nuuskierigheid gebore is, skryf hy: “Zuid-Afrika is een land van vertellers. Van mensen die de van oudsher overgelewerde lieg- en lagstories, lekkerkry- en hartseerstories, doorgeven aan wie ze maar wil horen.”

Hy skryf ook: “De kaart van Suid-Afrika verandert snel. Veel namen die herinneren aan het koloniale- of apartheidsverleden zijn al verdwenen. Nederlandse plaatsnamen zijn tot nog toe onveranderd gebleven, al is de vraag hoelang dat nog zal duren. Maar zolang ze nog bestaan kan een reis door Zuid-Afrika voor Nederlanders een feest van herkenning zijn. En van misleiding. Want er is natuurlijk een wêreld van verschil tussen het Delft hier en het Delft daar. Tussen Amsterdam in Noord-Holland en Amsterdam in Mpumalanga.”

Hy skryf ook in die nawoord van die boek dit is nie vir Nederlanders om in te meng in die debat oor naamsverandering in Suid-Afrika nie. Hy sê dit is begryplik dat swart Suid-Afrikaners nie daagliks herinner wil word aan apartheidsleiers soos die gebore Amsterdammer Hendrik Verwoerd of Daniël Francois Malan of Pieter Willem Botha nie.

De Graaff sê ook vir sy lesers dat nie alle dorpe waarvan die plekname op toeristebordjies as Nederlandse plekname aangedui word, ewe interessant in Suid-Afrika is nie, behalwe vir die­gene wat in die toeristenaambordjies belangstel. Maar in die boek gaan dit oor die verhale agter die pleknaambordjies.

Dit is meestal die verhale van bobaasvertellers en sieners. Van historici en politici. Van gewone mense wat trots op hul dorp is en ook van diegene wat dit juis nie is nie.

Terug in Nederland is hy dikwels as radiodeskundige oor Suid-Afrika gebruik en het hy dokumentêre rolprente oor Suid-Afrika begin skryf. Dit het gehandel oor van die AWB se Eugène Terre’blanche tot by die !Khomani, San en Boesmans.

Oor die “take aways” in Haarlem in Suid-Afrika skryf hy byvoorbeeld die dorp het nooit self ’n gevangenis gehad nie. As iemand ’n wetsoortreding begaan het, is hy eenvoudig in ’n sel aangehou totdat die polisieagent van Uniondale een keer per week te perd daar ’n draai gemaak het. Dan is die vermeende wetsoortreder se polse voor sy bors met ’n tou vasgemaak. Die tou is dan aan die saal van die perd vasgemaak. “Daar moes de ongelukkige gevangene dan een kleine dertig kilometer achter­aan tot by Uniondale lopen. Of draven,” skryf hy.

Gaan kuier ’n mens egter in Nederland vir De Graaff en sy vrou in Middelburg, sowat drie en ’n half uur se treinreis uit Amsterdam, ry jy deur baie van die dorpe en stede waarvan soortgelyke name in Suid-Afrika is, soos Amersfoort, Haarlem, Utrecht, Delft en Dordrecht. Laasgenoemde lewer veral ’n verrassing op omdat Dordrecht in Nederland in ’n waterparadys lê waarop groot skepe op die mere tussen dele van die stad vaar, terwyl Dordrecht in Suid-Afrika ’n taamlik droë Karoodorp is.

Ander kosbare boeke oor Suid-Afrika wat al uit De Graaff se pen gevloei het, is Nederlands als Poort naar Afrika(oor taaldoofheid of juis nie taaldoofheid nie, dat dit nie lank vat voordat jy iets van Afrikaans verstaan nie); Zeeuwen aan de Kaap (mense wat sedert 1652 van die Nederlandse provinsie Zeeland na die Kaap geëmigreer het); en Ik, Yzerbek (oor die Khoi-Khoin-gemeenskappe in Suider-Afrika – Suid-Afrika en Namibië), wat Protea in 2017 as Ware mense vertaal en uitgegee het.

Vir laasgenoemde boek het hy meer as 80 onderhoude in Suid-Afrika en Namibië gevoer en dié lande drie keer besoek.

De Graaff het ’n doktorsgraad verwerf met sy proefskrif “Die mite van die stamverwantskap: Nederland en die Afrikaners, 1902 tot 1930”. Hy was ’n jaar lank vir voorafstudie aan die Universiteit Stellenbosch.

Terug in Nederland is hy dikwels as radiodeskundige oor Suid-Afrika gebruik en het hy dokumentêre rolprente oor Suid-Afrika begin skryf. Dit het gehandel oor van die AWB se Eugène Terre’blanche tot by die !Khomani, San en Boesmans.

Hy was baie jare lank die sekretaris van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging en was ook tot in 2012 redakteur van dié organisasie se maandblad.

  • Marietjie Gericke, spesialisjoernalis van Volksblad en Netwerk24, is tans op besoek aan Nederland as genoot by die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.
Meer oor:  Amsterdam  |  Profiel  |  Onderhoud  |  Skrywer  |  Suid-Afrikaners  |  Identiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.