Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Kampioen op baan én in die klas
tennis
Ses balle in die lug – een vir elkeen van die onderskeidings wat Delien Kleinhans vir haar matriekeindeksamen behaal het. Kleinhans het in 2020 aan die Eunice High School for Girls in Bloemfontein matrikuleer. Foto’s: Mlungisi Louw

Van ’n kleuter met bokstertjies langs die baan tot ’n 18-jarige tennisster, wat reeds sewe internasionale titels agter haar naam het, is Delien Kleinhans van Bloemfontein se visier nou op kishoue in Amerika.

Delien, wat in 2020 met ses onderskeidings aan die Eunice High School for Girls matrikuleer het, gaan in Augustus met ’n tennisbeurs fisioterapie aan die Universiteit van Suid-Alabama studeer. Hier wil sy haar passie en tennistalent verder ontgin. Haar groot droom is  Wimbledon.

Tennis in haar bloed

Sy was reeds as klein meisietjie by haar afrigter-pa, Marnus, se tennisakademie langs of op die baan.

Hy is sedert 2000 die hoofafrigter van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se tennisspan. Met hom as afrigter was Kovsies al nege jaar agtereenvolgens die wenner van Universiteitsport SA (USSA) se gekombineerde toernooi en 12 jaar ná mekaar die nasionale kampioen.

Haar pa het haar ook help afrig.

“Dit was een van die grootste seëninge in my loopbaan tot dusver,” sê sy.

tennis
Delien Kleinhans se oë helder omtrent op wanneer sy oor haar grootste liefde, tennis, praat.

“Ons het streng onderskei tussen ons rolle op en van die baan af. Op die baan was ons speler en afrigter, maar wanneer ons by die hekkie uitloop, was hy weer my pa. Ons click en het regtig nooit vasgesit nie.” 

Eerste SA titel

Op 13, toe sy haar eerste Suid-Afrikaanse titel losgeslaan het, het haar pa haar die groot vraag gevra: Wil sy ernstig tennis speel, of net vir die pret?

Haar antwoord was: Sy wil tennis vir ’n loopbaan speel.

Benewens haar sewe internasionale titels was sy ook al vier keer – onder meer in 2019 en verlede jaar toe sy in matriek was – die land se ju­nior kampioen. Die 2020-toernooi was gedurende die matriekeksamen.

Een van haar medaljes waarop sy baie trots is, is die een wat sy ontvang het toe sy op 16 die o.21-kampioen in Suider-Afrika was.

As jong opkomende tennisster het haar skoolloopbaan baie anders as dié van haar maats verloop. Sy was baie van die skool afwesig om aan toernooie deel te neem: Soms vir ’n week, soms vir ses. Dit het haar egter nie gekeer om ses onderskeidings te kry nie.

Haar prestasies op die baan én op skool skryf sy toe aan dissipline en prioritisering.

Wanneer ander spelers tydens ’n toernooi ná ’n dag van wedstryde kon rus, moes sy saans nog ’n paar stelle teen die skoolboeke wen.

tennis
Met soveel passie wat jy in Delien Kleinhans se oë sien wanneer sy van tennis praat, met soveel fokus sien jy haar op die baan.

“As ek nie dissipline gehad het nie, sou ek dit nie gemaak het nie.”

In 2019 moes sy kies om in ’n toernooi in Pretoria te speel of om as baljoggie op te tree by ’n wedstryd waarin Roger Federer, een van haar helde, gespeel het.

“Ek was genooi om ’n ball girl te wees by die Match in Africa in Kaapstad, waar Federer teen (Rafa) Nadal gespeel het.

“Die keuse was vrek moeilik, maar ek het die keuse vir my loopbaan gemaak en gaan speel.” 

Terugslag en terugveg

Haar lewe en sportloopbaan tot nou toe was egter nie net maanskyn en rose nie. Sy ken ook terugslae en terugveg.

“In 2017 was ek in ’n tref-en-trap-ongeluk. ’n Kar het my raakgery terwyl ek gedraf het.

“My enkel is ernstig beseer. Dit moes geopereer word en hulle het sewe plate en skroewe in my enkel gesit.”

Sy het twee maande lank met krukke geloop, maar ná die derde maand was sy met haar raket terug op die baan.

“Ek het hard en pligsgetrou op my rehabilitasie gefokus, maar dit was werklik ’n wonderwerk.”

Delien het in die drie maande toe sy nie kon speel nie, opnuut ontdek hoe passievol sy oor tennis is.

Oor die skuif na Amerika toe, ervaar sy ’n warboel van emosies.

“Maar die opgewondenheid oorheers. Ek sien uit na die nuwe omgewing en geleenthede. En ek is nuuskierig oor hoe my loopbaan gaan groei en oor my tennis-toekoms.”

Meer oor:  Delien Kleinhans  |  Bloemfontein  |  Kampioen  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.