Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Braaimeester en sy toestelle
raau
Sammy Amm (63) van Bloemfontein by enkele van die braaitoestelle in sy versameling. Hy het 41 verskillende braaitoestelle waarop hy gereeld heerlike kos maak. Hy het die versameling oor die afgelope 40 jaar opgebou en sê hy is nog lank nie klaar versamel nie. Foto’s: Mlungisi Louw

’n Passie vir braai is deel van Suid-Afrikaners se DNS en allerlei geheime resepte en toortoestelle is deel van die meesters se braai-arsenaal.

’n “Magiese versameling” van 41 braaitoestelle wat oor 40 jaar versamel is, plaas Sammy Amm (63), ’n afgetrede sakeman en baasbraaier van Bloemfontein, in ’n ander braaiklas. Veral omdat hy elke braaitoestel inspan.

En, sê Amm, hy is nog lank nie klaar versamel of gebraai nie. Sy liefde vir kos en ’n goeie oog vir ’n winskopie spoor hom aan.

Om verskillende kleinode en skatte te versamel en winskopies te jag is van kindsbeen af deel van sy wenresep.

Hy het as jong seun eers seëls versamel.

“Daarna was dit veteraan-motors en langspeelplate van rockgroepe. Totdat dit eendag in die 1980’s braaitoestelle geword het.”

braai
Braaigereedskap en alles wat daarmee gepaardgaan.

Of dit groot of klein braaitoestelle, Webers, halwe dromme, ingeboude braaiplekke, spesiale braaiers vir hoender of braaiers vir espetadas is, daar is ’n bakgat braaier vir elke dis en alle okkasies in dié braailekker versameling.

“Ek het seker al duisende braaiers gesien en die wonderlike ding is, daar is duisende wat ek nog móét sien,” sê Amm. Hy meen sy versameling braaiwonders is ver van volmaak of klaar.

Amm doen al jare lank sake op veilings, waar hy vir winskopies uitkyk.

Ná sy aftrede is goeie pryse steeds in sy visier, maar nou veral vir verskillende en interessante braaitoestelle.

Die eiesoortige stokperdjie en sonderlinge versamelstukke spruit uit sy liefde vir samesyn en onthaal.

“Om verskillende braaiers te versamel is nie iets wat ek eendag besluit het om te doen nie. Dit het net gebeur en nou is ons hier.”

Amm sê hy en sy vriende het in die 1980’s ’n tradisie gevestig om weekliks saam te braai.

braai
Ana, Sammy se vrou, deel sy passie vir kook, kosmaak en braaitoestelle. Sy sê dis ook nie vir haar vreemd om sommer laatnag ’n vuurtjie vir ’n middernaghappie aan te steek nie.

“Donderdagaande, die begin van die langnaweek, dís wanneer die braai begin het.

“Ons het toe ook op Versoeningsdag in Desember ’n spitbraai gehou wat ’n jaarlikse instelling geraak het. Elke braaitradisie het met elke geleentheid so vergroot dat ons in ’n stadium halt moes roep. Elke vriend het sy vriend genooi en só het ons die hele Reidstraat (in Westdene) volgestaan en gekuier en gebraai.”

Vir dié braaimeester is daar net iéts aan braai, kosmaak en samesyn wat die kernbehoeftes van die mens saamsnoer en bevredig.

“Die grotmanne van ouds het altyd saam om ’n vuur in die wildernis gesit en eet. Dís waar hulle gesels en na aan mekaar geleef het. Al het die wêreld baie verander, bly die basiese behoeftes van die mens dieselfde. Ons moet eet en ons het mekaar nodig.”

Vanselfsprekend gaan Amm se gehegtheid aan braaitoestelle en die versameling daarvan gepaard met sy liefde vir kosmaak, veral kos op die kole.

Vir die skryf van dié artikel het hy nie net sy braaitoestelle vertoon en elkeen se storie vertel nie, maar uitgehaal en gewys. ’n Feesmaal is voorberei sodat ’n mens kon sien, beleef en proe wat sy braaitoestelle kan optower.

Sy huis laat jou welkom voel. En die kos voer jou op ’n kulturele wêreldreis mee. As jy die smullekker baba-ganoesj van jou vingers aflek, verbeel jy jou jy is in die Midde-Ooste.

Dit is ’n Libanese dis wat Amm met gebraaide eiervrug, olyfolie, knoffel en ander speserye optower – ’n tipe doopsous met gerookte geure wat baie lekkerder as die kitsdoopsous in supermarkte is.

Hy beproef graag geregte van verskillende kulture en werk sy eie smaaklike koskinkels daarby in.

braai
Vriende is altoos welkom in Sammy Amm se huis. Hy sê daar is min ander plekke waar mense so lekker kuier as om ’n braaivleisvuur. Hier by Sammy (regs) is Frikkie du Toit (links) en sy pa, Frik du Toit.

Tydsduur is nie ’n faktor in Amm se braaiure en -gewoontes nie.

“Soms word ek elfuur in die nag wakker met ’n lus vir ’n gebraaide worsie, dan steek ek gou die vuurtjie aan en braai ene.”

Dis nie ongewoon dat hy vyf uit die sewe aande ’n week braai nie.

Frik du Toit, ’n makelaar in die stad en jare lange vriend, sê sy braaivriend se versameling en sy deernis daarvoor is merkwaardig.

“Kyk, enigiemand kan nou 50 braaiers by Kloppers gaan koop, maar dit sal nie dieselfde wees nie.

“Sammy se versameling is met die hand uitgesoek. Hy braai self op elke braaitoestel en pas dit goed op. Dis ’n tydlose versameling wat met passie en presiesheid bymekaargemaak is.”

“Sy versamelings weerspieël sy persoonlikheid,” sê Du Toit.

“Hy is ’n berekende ou wat dink voor hy praat en wie se passie vir ’n winskopie amper groter as sy passie vir braaitoestelle is.”

Amm sê hy wil vir nog baie jare kosmaak, na rock-musiek luister en mense leer ken terwyl vuurwarm kole op die agtergrond knetter.

Vra jy hom watter braaitoestel die beste is, antwoord hy sonder om te dink met ’n skalkse glimlag: “Die volgende een.”

Meer oor:  Braai  |  Braaivleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.