Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat’s jou storie: Rugby het Wessel ‘gekies’

Die noodlot het Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege se suksesvolle rugbyspan, in 2010 terug by sy alma mater in ’n onderwyspos laat beland.

Nege jaar later kyk hy nie terug nie.

Grey word tans as die voorste­ skolespan in die land bestempel. En met goeie rede, hy het immers die laaste paar weke gerekende teenstanders soos Paarl-Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl in die stof laat byt. Sedert die Bloemfonteiners se nederlaag in 2017 teen Selborne College (19-20) is die span boonop in die laaste 29 wedstryde onoorwonne.

Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege se eerste rugbyspan, het in 2004 begin afrig. Foto: Mlungisi Louw

Agter dié sukses is Du Plessis, ’n 34-jarige boorling van Bloemfontein, wat sedert 2014 Grey se hoofafrigter is. Om presies 12:00 kom hy om die hoek gestap, geklee in ’n kortbroek en T-hemp met ’n Grey-wapen op.

“Ek het begin werk as bourekenaar, en in 2010 het die boubedryf so ’n bietjie platgeval en ek het hier begin skoolhou. Ek het skoolgegee tot 2014 en toe ’n rugbypos by die skool oopgegaan het, het ek aansoek gedoen,” vertel Du Plessis, wat onder meer wiskunde onderrig het.

Sedert hy in 2014 die leisels oorgeneem het, spog Grey met ’n indrukwekkende 82 oorwinnings in 93 wedstryde, met slegs agt nederlae en drie wedstryde wat gelykop geëindig het, volgens schoolofrugby.co.za.

Voordat hy homself as bourekenaar aan Kovsies bekwaam het, het Du Plessis, wat self aan Grey gematrikuleer het, eers ’n draai in Australië en Engeland gemaak “om geld te verdien om verder te studeer”.

In sy speeldae het hy as flank die Vrystaat op die Cravenweek-toernooi (2002) verteenwoordig en in Londen het hy amateurrugby vir die Engelse klubspan Wasps gespeel.

“Ek het as ’n student begin afrig in 2004 – ek het by skole klinieke gaan aanbied. Ek het outjies geleer om die bal te vang en aan te gee. My eerste ordentlike afrigtingspos was in 2006 by Grey as voorspelerafrigter van die o.16A-span.

Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege se rugbyspan sê die belangrikste ding is dat ’n afrigter vir sy spelers moet omgee en hulle leer ken. Foto: Mlungisi Louw

“Ek het nooit gedink ek gaan ’n afrigter word nie, ek het meer geglo ek gaan dalk ’n speler wees, maar almal glo dit maar as hulle jonk is,” sê Du Plessis.

Die rugbybloed loop dik in sy are. Sy broer, BC, is ’n spelersagent wat die Pumas en Oostelike Provinsie in sy speeldae verteenwoordig het.

In 2012 is Du Plessis as voorspelerafrigter by Grey se eerste span betrek, voordat hy in 2014 die leisels oorgeneem het.Hoe rig ’n mens af?“Ek dink nie daar is ’n resep vir afrigting dat jy net ’n knoppie gaan druk en ’n boek gaan lees nie. Jy moet baie boeke lees, maar die eerste ding wat jy moet doen, is jy moet mense verstaan.

“Die belangrikste ding is dat ’n afrigter vir sy spelers moet omgee en hulle leer ken. As jy hulle harte verstaan en hul motiewe en weet wie hulle as mense is, weet jy hoe om hulle te bestuur,” sê Du Plessis en sy oë trek op skrefies.

“ ’n Speler is nie iemand wat dit ingewikkeld wil hê nie, hy wil weet wat hy moet doen en hy wil dit geniet. Die ding as ’n afrigter is om nie spelers die heeltyd voor te skryf nie, maar iemand toe te laat om die natuurlike talent wat hy het in jou stelsel te laat uitleef.”

Hy probeer soveel as moontlik kennis uitruil met afrigters soos Franco Smith (Cheetahs), Swys de Bruin (Leeus), Jake White (voormalige Bok-breier) en het selfs al geselsies met Eddie Jones (Engeland) aangeknoop.

“By almal kry jy iets en jy hou dit in jou agterkop. Party dinge werk, ander werk net vir een seisoen, die volgende seisoen dalk nie. Maar dit is tog dinge wat jou rugbykennis verbreed en dit is belangrik om met al daardie ouens om te gaan en op die uiteinde jou eie rugbyfilosofie te ontwikkel,” sê Du Plessis.Hoekom is Grey so suksesvol?Die vraag oor die rede vir Grey se sukses duik deesdae gereeld op in geselsies oor skolerugby. Daar is tog meer as ’n handvol skole wat oor talentvolle spelers en goeie hulpbronne beskik. Tog is daar iets wat Grey bo ander spanne laat uitstaan.

Groen soos die gras daar onder. Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege se eersterugbyspan, met ’n uitsig op die skool se rugbyveld. Foto: Mlungisi Louw

“ ’n Ou kan baie oor rugbyfilosofie sê, maar ons ouens wat in Grey was, het dalk so bietjie ’n ander filosofie as ander spanne. Die span kom altyd eerste, en ek dink dis waar Grey se sukses ook soms lê.

“Saam met dit is talent ook daar, maar harde werk is belangriker as talent. My filosofie van die spel is om spelers te leer om aan te pas.

“Maar ek voel tog as ’n ou van die veld af gelukkig is en hy waardes in sy lewe het, dink ek sal hy op die veld die regte beginsels toepas en ook ’n spanman wees.

“Dit is spesiaal om vir Grey se eerste span te speel. Dit gee ons ’n voordeel en dit plaas ekstra druk op teenstanders as hulle weet hulle speel teen Grey,” sê Du Plessis.

Die senter Helgard Müller en die stut Wian du Preez, albei oud-Springbokke, is deel van sy afrigtingspan.

Hoewel Du Plessis nie ’n vyfjaarplan het nie, is daar tog ’n begeerte om eendag ’n beroepspan af te rig.

“Almal van ons wil tog op die hoogste moontlike vlak presteer soos wat ons kan. Ek het klaar rugby as ’n loopbaan gekies, so ek moet myself ontwikkel en op die hoogste vlak probeer wees.

“Ek is tog iemand wat dink jy kan nie vir ewig skolerugby afrig nie, maar op die oomblik geniet ek dit en voel dit nie of ek werk nie.

“Maar ek dink nie ’n ou moet te vroeg spring na plekke nie, dit is nie so maklik om veral in Suid-Afrika in senior rugby in te stap en resultate te kry nie.

“Indien jy te vinnig na ’n plek spring omdat jy ongeduldig is, kan jy jou vingers verbrand,” sê Du Plessis.

Wanneer hy nie op die oefenveld is of besig is om planne te maak om teenstanders uit te oorlê nie, hou hy daarvan om in die natuur te wees, met ’n visstok of jaggeweer in die hand.

“En dan natuurlik vriende, dis altyd lekker om met vriende te gesels en te hoor wat dink en doen hulle. Ja, en dan lekker eet. Soos enige Suid-Afrikaner is braai maar lekker.

“Maar op ’n ernstige noot is dit belangrik om jou geestelike lewe skerp te hou,” sê Du Plessis.

“Ek het ’n wonderlike vrou, Carla, wat my ondersteun as dinge dalk nie goed gaan nie. Ek en sy deel graag, maar ’n ou het maar familie en vriende wat jou ondersteun.

“Die belangrikste is maar om met die Liewe Vader te praat.”

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Wessel Du Plessis  |  Wat's Jou Storie  |  Profiel  |  Rugby  |  Rugbyafrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.