Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
WB-toernooi nog altyd sy droom

Die Wêreldbeker-kriekettoernooi is steeds een van die grootste sportgebeurtenisse op aarde en dit was nog altyd sy droom om daaroor verslag te doen, het Tinus van Staden aan Gert van der Westhuizen gesê.

Van Staden klim Saterdag op ’n vliegtuig na Londen waar hy tot 14 Julie vir Netwerk24 en die Afrikaanse koerante verslag gaan doen oor die 12de Wêreldbekertoernooi wat vanjaar in Engeland en Wallis gehou word.

Hy is juis besig met ’n storie oor dié toernooi toe ek hom van agter sy lessenaar met die belofte van ’n kafeteria-cappuccino weglok om by ’n kliptafel in ’n warm winterson daaroor te gesels.

Sommige mense dink dalk dat die Wêreldbeker-toernooi uitgedien is in ’n tyd waarin T20-krieket besig is om te oorheers, maar volgens Van Staden bly dit die groot hoogtepunt op die kriekekalender.

Die soortgelyke toernooi vir T20-krieket het maar net nie dieselfde status nie, sê die 24-jarige Van Staden wat van 2015 oor veral krieket en rugby skryf nadat hy as sportverslaggewer by Volksblad in Bloemfontein begin werk het.

Die Proteas se strategie bekommer hom, sê van Staden. Foto: Simon Sonnekus

Die formaat van vanjaar se toernooi sal ook baie doen om ondersteuners opgewonde te maak. Dit is die beste formaat vir ’n Wêrelbeker-toernooi, sê Van Staden.

Elkeen van die tien spanne speel een wedstryd teen sy nege teenstanders. Spanne kry twee punte vir ’n sege en albei kry een punt elk as ’n wedstryd om die een of ander rede nie voltooi kan word nie. Die vier spanne met die meeste punte ding in die halfeindronde vir ’n plek in die eindstryd mee.

Wie dink hy is die gunstelinge om te wen?

Vyf spanne om dop te hou

Engeland

Indië

Australië

Suid-Afrika

Pakistan

“Almal praat van Engeland en Indië, maar ek het net so ’n gevoel dat dit nie een van hulle gaan wees nie. Indië maak te veel staat op Virat Kohli.

"Daar word in die algemeen mak blaaie voorberei, maar as dit dalk bewolk is en hulle speel teen spanne met uitstekende boulers soos Suid-Afrika of Australië, kan hulle dalk ontbloot word,” sê Van Staden. “Tog bly Indië ’n volwasse en intelligente span wat goed daarmee is om teikens te jaag.”

Hy sê Engeland het ’n ongelooflike kolflys.

“Hulle het van nommer een tot nommer 11 spelers wat ’n wedstryd kan wen. Die Engelse word goed deur Eoin Morgan aangevoer.”

Australië kan nie afgeskryf word nie – veral nie met die (balpeuteraars) David Warner en Steve Smith weer in hul geledere nie.

Hy dink egter die tuisspan se strategie kan hom pootjie.

“Hulle probeer om so vinnig as moontlik soveel as moontlik lopies bymekaar te maak en daarom teken hulle gereeld tellings van meer as 300 aan. Maar hulle kan ook maklik crash and burn. As ek reg onthou, was hul telling twee jaar gelede in die derde wedstryd van die reeks teen Suid-Afrika in ’n stadium iets soos 24/5.”

Vyf spelers wat 'n verskil kan maak

Jos Buttler (Engeland)

David Warner (Australië)

Virat Kohli (Indië)

Jason Holder (Wes-Indiese Eilande)

Rashid Khan (Afganistan

Dan is daar natuurlik ook die Aussies.

“Australië kan nie afgeskryf word nie – veral nie met die (balpeuteraars) David Warner en Steve Smith weer in hul geledere nie. Niemand praat juis van Australië nie, maar dit is ’n span wat weet wat om te doen om te wen.”

Australië het die Wêreldbeker immers al vyf keer gewen, sê Van Staden om sy punt te bewys – meer as enigiemand anders.

Is dit vanjaar die Proteas se beurt?

Pakistan, die Wes-Indiese Eiland en selfs Nieu-Seeland kan ook nie afgeskryf word nie.

En dan is daar Suid-Afrika. Kan die Proteas uiteindelik vergoed vir al die hartseer van die verlede en uiteindelik die Wêreldbeker wen?

Hy glo nie die Suid-Afrikaners gaan met die beker terugkeer nie, sê Van Staden. Hulle het ’n baie goeie boulaanval, maar AB de Villiers se afwesigheid laat ’n groot leemte. Die Proteas se kolfstert is te lank en Suid-Afrikaners gaan daarom te swaar op hul boulers steun – ’n strategie wat hulle volgens Van Staden duur te staan kan kom.

“Hulle sê dit openlik: ‘Dit maak nie saak hoeveel lopies jy slaan as jy die beste boulaanval by die toernooi het nie.’ Maar wat gebeur as jy vir 180 uitgeboul word?

Hy hou daarvan om baie stories te skryf, sê Van Staden. Foto: Simon Sonnekus

“Ons het ’n baie goeie span, maar fokus hulle genoeg daarop om 350’s te kry? Hul strategie maak my baie bekommerd.”

Dit tel wel in die Proteas se guns dat hulle kolwers soos Aiden Markram, Quinton de Kock en Faf du Plessis het. “Dis ouens wat vir jou ’n toernooi kan wen. Boonop het hulle nie in die laaste klomp eendagreekse te swak gevaar nie. Hulle het wel met 1 – 5 tuis teen Indië verloor, maar Sri Lanka in Sri Lanka geklop, met Australië (weliswaar sonder Warner en Smith ) in Australië klaargespeel en Pakistan geklop.

Vyf Proteas wat ’n verskil kan maak

Kagiso Rabada

Imran Tahir

Quinton de Kock

Faf du Plessis

Andile Phehlukwayo

“Dit help ook dat niemand van ons as ’n gunsteling praat nie. Ek dink dit sal ’n bedekte seën wees as ons ons eerste wedstryd teen Engeland verloor. Dit sal die druk op Engeland vererger terwyl ons steeds onder die radar sal wees.

“Ons tweede wedstryd is teen Bangladesj en daarna speel ons teen Indië, ’n wedstryd wat enige kant toe kan gaan, en die Windies. Ons speel eers in die laaste wedstryd voor die halfeindronde teen Australië.”

Lesers se oë in Brittanje

Teen dié tyd sal Van Staden dalk al genoeg van treine en krieketwedstryde gehad het. Hy sal in die loop van die lang toernooi van Londen na Southampton reis en dan na Cardiff en Birmingham voordat die Britse hoofstad weer sy (tydelike) tuiste word. Daarna moet hy nog die Proteas se wedstryde in Durham en Manchester bywoon, maar dit sal nie die einde van sy reise wees nie. Die halfeindstryd wag op hom in Manchester of Birmingham en die eindstryd op Lord’s in Londen.

Die vooruitsig van so ’n taai program skrik hom nie af nie, sê Van Staden. Hy was nog nooit in Brittanje nie en sien baie daarna uit om dié deel van die wêreld beter te leer ken, al is dit meestal net deur die vensters van treine.

Tussendeur sal hy nog gereeld stories oor die toernooi moet skryf, maar ook dít sal nie ’n te groot uitdaging wees nie – veral nie vir ’n man wat deur van sy kollegas ’n werkslaaf genoem word nie.

“Ek weet darem nie daarvan nie,” sê ’n verleë Van Staden laggend.

Tinus van Staden sê hy gaan sy droom uitleef deur oor vanjaar se Wêreldbeker-toernooi vir Netwerk24 en die Afrikaanse koerante verslag te doen. Foto: Simon Sonnekus

“Ek hou daarvan om te werk en baie stories te skryf. Ek sal myself seker moet pace, maar dit gaan moeilik wees in ’n omgewing waar die adrenalien vloei. Dit is so ’n groot voorreg om dit te kan doen. Dit was nog altyd my droom.”

Van Staden wil lesers se oë (en ore) by die Proteas in Brittanje wees.

Ek wil vir hulle vertel dat Faf geswets het toe ’n bal hom in ’n netoefening getref het. Ek wil vertel van interessante ondersteuners.

“Ek wil sintuiglik probeer skryf. Daar is so baie stories in krieket om te vertel. Kyk byvoorbeeld na Afganistan. Dit is ’n oorloggeteisterde land en hy speel nou al in sy tweede Wêrelbeker-toernooi. Dink net wat dit vir Afganistan se spelers sal beteken as hulle ’n wedstryd wen en $40 000 as beloning vir die wenspan in die sak kan steek.

“Ek wil nie algemene goed skryf nie. Ek wil goed skryf wat ek weet omdat ek daar is. Ek probeer altyd om so te skryf, al gaan ek net Wanderers of Pretoria toe vir Protea-oefeninge en -wedstryde.”

Wou nog altyd sportjoernalis wees

Van Staden sê krieket is sy gunsteling-sportsoort.

Hy het op skool rugby en krieket gespeel, maar moes in 2010 op 16-jarige ouderdom sy rugbystewels ophang weens aplastiese anemie. Dit beteken sy rugmurg was “dood” en sy bloedplaatjies was gevaarlik min – sewe pleks van die normale 150 tot 400.

“Ek was ’n maand lank in die hospitaal en hulle moes liters en liters bloed intap. Ons afrigter (by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein) het my daarna toegelaat om saam op die rugbytoer te gaan en hoewel ek nie kon speel nie, kon ek ’n paar storietjies daaroor skryf.”

My sterkpunt is my ywer en my 'sledging'. En my 'knuckleball'.

Hy het gaandeweg ’n liefde vir skryf en die joernalistiek ontwikkel. Iets wat seker nie vreemd is as ’n mens in ag neem dat sy pa, Christo, ook ’n joernalis by Volksblad in Bloemfontein is nie.

Van Staden het as skoolseun ook ’n draai by dié koerant se kantore gaan maak om te kyk hoe sport-joernaliste soos Hendrik Cronjé werk.

Hy onthou nog hoe hy op ’n keer saam met Jóhann Thormählen by ’n Cheetah-oefening was.

“Raymond Rhule (die Springbok-vleuel) het agterna met Jóhann gesels en sy hand geskud. Ek het gedink dit is nogal cool.”

Hy wou nooit ’n ander joernalis as juis ’n sportjoernalis word nie, sê Van Staden.

Krieket het ook in sy bloed gebly. Hy was kaptein van Sentraal se tweede span en speel deesdae dan en wan vir Pirates. Maar omdat sportskrywery hom veral oor naweke besig hou, het hy in die onlangse verlede maar net twee keer vir dié klub in Johannesburg uitgestap.

Van Staden sê hy wil graag lesers se oë by die Proteas in Brittanje wees. Foto: Simon Sonnekus

Volgens Van Staden is hy ’n veelsydige speler wat nie goed kan kolf óf boul nie.

“My sterkpunt is my ywer en my sledging. En my knuckleball.”

Krieket hou hom ook op ander maniere besig. Hy is besig met ’n honneursgraad in geskiedenis en sy skripsie handel oor die gevolge van die herrie rondom Basil D’Oliveira in die laat jare 60 wat die weg vir Suid-Afrika se sportisolasie gebaan het. Hy beplan om dit ná die Wêreldbeker-toernooi klaar te maak.

Maar eers gaan hy sy droom uitleef en verslag oor dié toernooi doen. ’n Droom wat soveel soeter kan wees as die Proteas nou net ook hul kant bring . . . 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.