Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
UV-prof: Van honger kind tot wiskunde-foendie

Van ’n kind in flenterklere wat dikwels honger opgestaan en weer honger gaan slaap het, tot een van die mees gerekende wetenskaplike navorsers ter wêreld. Hoe het prof. Abdon Atangana (35) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) dít reggekry? Verslaggewer Marita Herselman en fotograaf Mlungisi Louwhet met dié akademiese reus oor sy aangrypende lewensverhaal gesels.

Prof. Abdon Atangana aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) by van sy eerbewyse. Foto: Mlungisi Louw

In sy kantoor by die Instituut vir Grondwaterstudies op die Bloemfontein-kampus sien jy met die intrapslag die eerbewyse – teen die mure, op die lessenaars. Vir werk wat dikwels die verstand van ander te bowe gaan.

Prof. Abdon Atangana, ’n kenner in toegepaste wiskunde, is besonder trots op ’n eerbewys wat hy in 2019 ontvang het toe hy ’n hoogs aangehaalde navorser en een van die top-1% in wiskunde in die wêreld was.

Hy was ook verlede jaar op die lys van die wêreld se top-1% wetenskaplike navorsers op die lys van die Clarivate Web of Science – op 35 die jongste wiskundige om dié eer te ontvang.

Atangana se uitrusting lyk eksoties, weelderig. Mense dink hy het ryk grootgeword, maar hy kry van oor die wêreld klere as geskenke en hoef dit nooit te koop nie, vertel hy.

Arm jare

Atangana, een van vyf kinders, het sonder ’n pa in Elig-Mfomo, ’n klein dorp in Kameroen, by sy bestaansboer-ouma, wyle Ngono Adelaide, grootgeword. Daar was dikwels nie kos nie. As laerskoolseun moes hy daagliks 8 km skool toe loop. Op hoërskool hy is dikwels skooltoegang geweier omdat sy mense gesukkel het om die skoolgeld te betaal. Maar elke keer het die hoof hom maar weer toegelaat, want hy was die slimste in wiskunde, chemie en fisiese wetenskap in sy klas.

Prof. Abdon Atangana is een van die mees gerekende wetenskaplike navorsers ter wêreld. Foto: Mlungisi Louw

“Wanneer jy vir drie dae nie kos het nie, is die enigste ding in jou kop om met die superwese waarvan jy gehoor het te praat.

“Soms het ek vir God gesê ek kan nie so aangaan nie. Een keer ná so ’n gesprek het ek geld opgetel.”

Op hoërskool het hy begin wonder: Waarom is daar nie name soos syne langs die wiskundige formules nie? Waar is die mense van Afrika se name?

Hy wou aan Lycee de Nkol Eton matrikuleer, waar die ministers en sportsterre se kinders skoolgaan. Maar die skoolgeld was vir sy familie onbekostigbaar.

Baie het vir sy ambisie gelag, en hy moes hoor: “Jy is arm.”

“Ek het vir God gesê: ‘As mense hul seuns daarheen stuur, stuur my soontoe, want ek is U seun.”

En so het hy by die Lycee de Nkol Eton aangeklop.

“Ek het sleg gelyk. My klere was stukkend. Ek het vir die skoolhoof gesê ek wil vir matriek registreer. Ek het vir hom gesê as hy vir my ’n plek in die skool gee, sal ek self betaal.”

Hy is ’n plek gegee, maar is drie dae kans gegee om te betaal. Sy oorlede ma, Ngono Antoinette, het in ’n kroeg gespog oor haar slim seun se toelating en dit het ’n ouerige man aangespoor om vir haar die presiese bedrag geld wat nodig was in die hand te stop. En so het hy matriek aan die spoggerige Lycee de Nkol Eton geskryf en is hy na die Universiteit van Yaoundé I vir ’n graad in wiskunde.

Prof. Abdon Atangana in sy kantoor by die Universiteit van die Vrystaat se Instituut vir Grondwaterstudies op die Bloemfontein-kampus. Foto: Mlungisi Louw

Wonderwerk

As student het hy sowat 20 km van die universiteit af by sy oudste suster, Eleme Catherine, gewoon. Soms het hy by vriende oorgebly. Dikwels het hy deur die nag gestudeer.

En toe gebeur nog ’n wonderwerk. “Een van die talle wat ek al beleef het.”

’n Man wat gesê het hy is sy oom het hom per brief na ’n familievergadering genooi.

“Dit was ’n groot huis met ’n groot mat. Op 22 het ek die eerste keer in ’n huis met ’n mat gestaan.”

Dit was die huis van sy pa se broer, dr. Pierre Ndzengue, wat kort ná hul ontmoeting as ambassadeur in vier lande aangestel is en nou in Japan woon.

“Só het ek onverwags die seun van ’n ambassadeur geword.”

Prof. Abdon Atangana werk nie vir eerbewyse nie, maar om die volgende generasie Afrika-kinders trots te maak. Foto: Mlungisi Louw

Suid-Afrika

Atangana kon toe kies waar hy wil studeer. As Frans-sprekende het hy Suid-Afrika gekies om Engels te leer en sy nagraadse studies aan die UV te voltooi.

“Met my aankoms 11 jaar gelede hier was dit vir my vreemd. Ons het nie wit mense in Kameroen nie, en ek het nie geweet van swart of wit nie. Op die eerste dag van my honneurskursus in wiskunde het ’n dosent vir my gesê nog geen swart student het sy eksamens geslaag nie. Ek was uiters geskok.”

En toe presteer Atanga so goed aan die UV dat hy as hoogleraar aangestel word.

Ons het ook waarde. God is onpartydig en regverdig en hy het ons almal gawes gegee.

Hy sê sy prestasies is egter nie om aan die groot klok te hang nie.

“Ek is trots daarop, maar ek kyk vorentoe. Ek veg vir die kinders van Afrika. Want as jy nie enige formule kan vind wat vernoem is na ’n wiskundige uit Afrika nie, begin jy jouself afvra waarom jy ’n mens is. Dan begin jy werk om die volgende generasie Afrika-kinders trots te maak.”

Om as ’n seun van Kameroen in Suid-Afrika te bly, is egter dikwels moeilik.

“Prof. Danie Vermeulen (dekaan van die Instituut vir Grondwaterstudies) is een van die mense wat my my waarde laat besef en welkom laat voel het. Hy het vir my gesê die universiteit kan my nie verloor nie.

“Ek was skrikkerig om in die land te bly, veral as gevolg van xenofobie. Wanneer ek stad toe gaan, wil hulle my in hegtenis neem. Hulle dink ek is ’n Nigeriër.”

Ook op reis na kongresse in die buiteland is hy al telkens verneder. Al is hy dikwels die hoofspreker op die kongres en is daar ’n kar wat iewers daar buite spesiaal vir hom wag.

“Jy het geen idee hoe dit voel wanneer jy vlieg, Engeland bereik en hulle jou van die vliegtuig verwyder net omdat jy van Afrika is nie.”

Dit het ook al in Siprus en China gebeur.

“Nie omdat jy ’n misdaad gepleeg het nie. Net omdat jy van Afrika is en mense glo Afrikane het geen waarde nie.

“Ons het ook waarde. God is onpartydig en regverdig en hy het ons almal gawes gegee.

“Afrikane – swart, wit, Indiër, wat ook al – moet weet: Ons is een. Ons moet opstaan en veg vir die toekoms van ons vasteland . . . nee, land. Afrika is ’n land.”

As skoolseun het Atanga gesoek na name soos syne langs wiskundeformules.

Vandag staan sy naam geskryf langs 16 wiskundeformules.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.