Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Werklike boosheid’ in die lykshuis

Waarmee hy soms in die lykshuis te doen kry, laat hom dink hy is in ’n Mad Max-fliek, skryf die forensiese patoloog Ryan Blumenthal in Autopsy. Murray La Vita het met hom gepraat.

Ryan Blumenthal het al meer as 9 000 outopsies uitgevoer. Foto: Walla Films

Hoe het die feit dat ’n skoolseun se tas met al sy boeke en notas kort voor die matriekeksamen verdwyn het, daartoe gelei dat hy ’n forensiese patoloog (’n mediese speurder) geword het wie se werk daartoe gelei het dat van die grootste misdadigers in Suid-Afrika aan die pen ry?

Ryan Blumenthal (46) beantwoord dié vraag in sy boeiende boek Autopsy – Life in the Trenches with a Forensic Pathologist in Africa wat pas by Jonathan Ball verskyn het.

Blumenthal, wat al ophou tel het hoeveel outopsies hy al uitgevoer het (9 000 of meer), verkies om nie veel oor homself bekend te maak nie.

“Dit is my persoonlike reis. Jy kan sê ek is ’n akademikus by ’n voorste Suid-Afrikaanse universiteit. Ek het die boek geskryf omdat mense soveel vrae het oor hierdie veld en omdat dit so omhul is in misterie. Ken jy Anthony Bourdain se boek Kitchen Confidential – Adventures in the Culinary Underbelly? Ek wou iets soos dít skryf oor die wêreld van die lykshuis.

Wie is hierdie helde wat drie-uur in die oggend na sterftonele toe gaan en dit dan moet prosesseer ... ?

“Ek wou die sluier lig. Mense het géén idee wat ’n natuurlike dood is en wat ’n onnatuurlike dood is nie; wat gebeur wanneer iemand vermoor word of in ’n motorongeluk sterf – wat is dan die proses?

“Mense het ook so baie vrae soos: Wat gebeur ná die dood met die liggaam? Vertel ons van ontbinding. Vertel ons oor vlieë. Vertel ons oor die vinnigste manier om te sterf. Wat is die slegste reuke? Vertel ons van troeteldiere op sterftonele. Vertel ons van tronke.’

“Ál hierdie vrae moes beantwoord word. En daar is soveel werklike helde in hierdie land. Ons hoor elke dag in die nuus hoeveel mense sterf en hoe hulle sterf, maar dít is waar dit eindig . . . Niemand weet wat daarna gebeur nie. Wie prosesseer hierdie sake? Word hulle opgelos? Wie is hierdie helde wat drie-uur in die oggend na sterftonele toe gaan en dit dan moet prosesseer; bewyse moet vind en die mense wat hierdie onregverdighede gepleeg het agter tralies kry?

“Niemand praat daaroor nie, so ek het net gedink ek moet dit belig.”

Ontnugter

Voordat hy ’n patoloog geword het, was hy ’n algemene praktisyn.

Ek wou slagoffers help, regte slagoffers, en die meeste pasiënte wat ek gesien het, was nie regte slagoffers nie. Hulle was nie onskuldig nie

“Ek het in die Kaap gewerk en in die bos in plekke soos Phalaborwa en Maphutha Malatji, en daarna ook in Brittanje. Ná ’n ruk het ek ontnugter geraak, want ek het ’n dokter geword om mense te genees en ek het besef ek doen baie min daarvan – ek doen meer skadebeheer as enigiets anders.

“Ek wou slagoffers help, regte slagoffers, en die meeste pasiënte wat ek gesien het, was nie regte slagoffers nie. Hulle was nie onskuldig nie. Hul toestande was die gevolg van onverantwoordelike optrede soos om ongesond te eet, te veel te drink en rook, rond te slaap, te jaag in hul voertuie. En dan moes ék hul probleme – die gevolge van hierdie leefstyle – onmiddellik vir hulle oplos.

“Ek het toe mettertyd die veld van forensiese patologie betree waar ek baie meer op my gemak voel – ek voel of ek nou doen wat ek veronderstel is om te doen.”

‘Jy bly ’n dokter’

Mis hy nie die interaksie met lewende pasiënte nie?

“Dit bestaan steeds. Jy is steeds ’n dokter en jy is steeds in die mediese veld. Daar is steeds baie kontak met die lewendes: naasbestaandes, speurders, regsmense. So jy kán nie wegkom van die lewendes nie.

“Daar is niks so stil soos ’n druppel bloed nie.” Foto: Walla Films

“Selfs as die pasiënt sterf . . . Ek gee altyd die voorbeeld van die 22-jarige man wat op die sokkerveld gesterf het. Toe ek die outopsie op hom uitvoer, blyk dit sy kroonslagare is hééltemal verstop. Ons het toe vasgestel dit is familiale hipercholesterolemie en het toe sy hele gesin saam met sy dokter laat inkom en lewens gered deur iemand wat gesterf het. Ons het almal laat toets en dié toestand is toe by van sy naasbestaandes gediagnoseer.”

‘Absolute wreedheid’

Wat hy daagliks in die lykshuis sien, is “werklike boosheid”.

“Ek bedoel ek het al moorde gesien wat meer as moorde is . . . absolute wreedheid. Daar is mense wat wakker word met die gedagte om boosheid te pleeg.

“So, ek moet sê dít is wat my dryf – die slagoffers van sulke mense is wérklike slagoffers; hulle het nie dít verdien nie.

“Ek is nie ’n ryk ou nie. Ek doen nie hierdie werk vir geld nie, maar die ontasbare vervulling wat jy kry wanneer jy ’n slegte mens vastrek, is iets wat ek nie aan jou kan beskryf nie. Ek bedoel . . . Ons het al wérklik bose mense gevang, en dít is nou éérs bevredigend.

Die basiese toerusting waarmee outopsies uitgevoer word. Foto: Walla Films

“Daar was byvoorbeeld een van die gevaarlikste misdadigers in Suid-Afrika, wat ek in my boek Meneer X noem.

“Maar wat ek ook in my boek bespreek, is verspreidende [distributive] geregtigheid – waarom sal een ongeregtigheid vir jou erger wees as die volgende een? Ek wou ook dít tuisbring.

“Ek begin daardie hoofstuk ‘On equality in death’ met Thomas Noguchi, wat bekend staan as ‘the coroner to the stars’. Hy het die outopsie op mense soos Marilyn Monroe, Sharon Tate en Robert Kennedy gedoen.

Ons behandel alle dooies dieselfde, maar die publiek doen dit nie.

“Toe ek hom ontmoet, het ek vir hom gevra: ‘Wow, meneer Noguchi, hoe was dit om die outopsie op Marilyn Monroe uit te voer?’

“Sy antwoord was: ‘My boy, it was a pain in the neck.’ Mense stel baie belang in hoëprofielsake, maar hulle stel nie belang in die boemelaar wat op straat gesterf het nie.

“Die outopsie is presies dieselfde. Ons behandel alle dooies dieselfde, maar die publiek doen dit nie. En dan het jy ook die situasie dat taakspanne byeengebring word vir sekere gevalle maar nie vir ander nie.”

Beroemde lyke

Is dit nie tóg anders om die naakte, dooie liggaam van ’n bekende mens of ikoon – iemand wat jyself dalk bewonder of aangehang het – voor jou op die blad te hê nie?

“Ek is net ’n akademikus en ’n ‘nerd’ en ’n leergierige mens.” Foto: Walla Films

Al wat Blumenthal bereid is om in reaksie op dié vraag te sê, is:

“Kyk, ek het in my tyd ’n aantal hoëprofieloutopsies gedoen. Ek het al aan ’n president gewerk van ’n ander land – dís al wat ek bereid is om te sê. En dan was daar byvoorbeeld die liggaam wat in ’n vlak graf ontdek is waarvan die identiteit aanvanklik onbekend was maar dit mettertyd aan die lig gekom het dat dit een van die hoofde van een van die grootste maatskappye in Europa is.

“Wat betref die publiek se morbiede belangstelling in sekere sake – óns kan nie ook daardeur op sleeptou geneem word nie; ons het ons protokolle en ons standaard bedryfsprosedures en ons sal doen wat ons moet doen om by die waarheid uit te kom.

“Die eintlike kwessie is dat nie alle lykshuise gesofistikeerde toerusting het nie. In ontwikkelde lande is dit die norm, maar hier in Afrika is dit dikwels nie die geval nie. Is dít nie ook ’n ongeregtigheid nie?

“Ek bespreek in die boek die ekonomie van gesondheidsorg en hoe middele verdeel word. Ek skryf ook oor wat ’n góéie outopsie is. Jy kry gourmet outopsies en dan kry jy peek-a-boo outopsies.”

‘Stil druppel bloed’

Outopsies stel hom en sy kollegas bloot aan die gevaar om besmet te word. Hy skryf ’n enkele druppel bloed kan jou lewe in gevaar stel; “daar is niks so stil soos ’n druppel bloed nie”.

Hulle moet dus die grootste moontlik voorsorg tref om hulself daarteen te beskerm – veral ook nou in die koronaviruspandemie, sê Blumenthal.

“Ons is noodsaaklike werkers en ons is aan die frontlinie. Maar ek dink nie ’n dooie mens is so aansteeklik soos ’n lewende mens wat asemhaal en hoes en só spoeg versprei nie.

“Jy kán nie wegkom van die lewendes nie.” Foto: Walla Films

“Maar van wat ek hoor, is dit verskriklik. Ek het die afgelope week vyf kollegas verloor en ander het Covid onder lede. So dit is ’n werklikheid en dit is angswekkende tye. Ons betree elke dag onder Gods genade die lykshuis.

“Sedert die uitbreek van die pandemie is ons wel minder besig, maar ons hanteer baie meer selfdoodgevalle, gevalle wat verband hou met verslawing, en vreemd genoeg baie meer geraamtes en ontbinde liggame. Mense wat alleen geleef het en niemand het hul liggame ontdek nadat hulle gesterf het nie.”

‘Leergierige nerd’

Hy sê weer hy probeer om sy private lewe so geheim as moontlik te hou.

“Ek is net ’n akademikus en ’n nerd en ’n leergierige mens en ek wil net die wêreld ’n veiliger en beter plek maak. Ek dink waarom ek ook dié boek geskryf het, is om in ’n sin ons werklas ligter te maak deurdat dit ook as gesondheidsgids vir die publiek kan dien.”

Die boek bevat ’n hoofstuk getiteld “Ten lessons for the living from the dead”.

“Dis basiese goed soos: Moenie die noodlot tart nie. Pas jouself beter op. Gee ook meer om vir ander mense. Moet jou nie vergryp aan dinge nie.

“As jy jouself neerslagtig wil maak, gaan sit op ’n Maandagoggend in die lykshuis by die foon. Mense bel om te hoor waar hul geliefdes is wat die Vrydagaand uitgegaan het sonder om te sê waarheen of hoe laat hulle tuis gaan wees. Dit verstóm my dat mense dit nie doen nie.

“Wat die tart van die noodlot betref – mense doen hoërisiko goed. Ek dink as mense ag slaan op die tien lesse of stukkies raad wat ek in die boek deel, is hul kanse beter om nie by ons op die dissekteerblad te beland nie.”

Towerkunsies

Blumenthal was op sy dag ’n kulkunstenaar wat oor naweke towerkunsies in restaurante uitgevoer het om vir sy studie te help betaal.

“Ja, dit was my stokperdjie. Ek was altyd gefassineer deur waarom en hoe mense geflous word. Dit gaan ook oor die oplos van raaisels. ’n Towerkunsie is niks anders as raaisel of ’n manier om iemand te flous of kul nie.

As jy ’n towenaar of kulkunstenaar wil uitvang, moet jy al sy metodes ken.

“En in die forensiese wetenskap . . . Jy kry slim en geslepe moordenaars wat ’n moord wil wegsteek. Die denke is baie soortgelyk aan dié van ’n kulkunstenaar. As jy ’n towenaar of kulkunstenaar wil uitvang, moet jy al sy metodes ken.

“So daar is baie ooreenkomste tussen die teorie van handbedrieëry [sleight of hand] en die oplos van raaisels en misdade.

“Daar is ’n nerd-kwaliteit aan kulkunstenaars. Waarom hulle so is, bly vir my ’n raaisel, maar ek dink dit is om mense gelukkiger te maak; om hulle te laat dink, en om ’n mate van skeptisisme te skep.”

Nee vir boelies

In die loop van ons Zoom-onderhoud het Blumenthal die woord nerd vier keer gebruik. Is dit iets waarmee hy graag geassosieer wil word? Hoe sien hy die konsep?

Amulette of gelukbringers soos dié word dikwels aan liggame gevind. Foto: Ryan Blumenthal

“Wel . . . nerds word gewoonlik geboelie en ek is nie mal oor boelies nie. Een van my groot dryfvere in die lewe is om boelies te probeer stuit. Ek het al by skole daaroor gepraat en ek het al ’n boek daaroor geskryf: Mentalist Martial Arts – Conflict Resolution Through Misdirection.

“Dit kom neer op die nerd-boelie-verhouding en slagoffers en om te praat namens diegene wat nie vir hulself kan praat nie. Dis ’n baie persoonlike deel van my reis.”

Nou kom die verhaal ter sprake van sy tas met al sy boeke in wat ’n dag voor die matriekeindeksamen gesteel en weggesteek is.

“Ek was ’n groot nerd en ek was baie angstig daaroor. Ek het toe die skoolterrein platgeloop op soek na my tas. Uiteindelik het ek in die skoolhoof se kantoor geëindig en is daar aankondigings oor die interkom gemaak.

“Jare later het ek gaan sit en hieroor gedink: Hoekom doen mense sulke dinge? Ek het besef my persoonlike stryd teen onregverdigheid, wat my gelei het tot wat ek nou doen, is daardie dag wakker gemaak.”


Uithouvermoë is belangrik

Blumenthal skryf dit neem ’n spesiale soort mens om ’n forensiese patoloog te wees.

“Ek is nou al vir omtrent 20 jaar in hierdie veld. Jy kan nie glo hoe baie mense begin in hierdie veld en verlaat dit dan weer nie. Mense doen uiteraard hierdie werk vir hul eie redes; ek sou nie weet hoekom hulle uittree nie.

“Maar dit is ’n veld waarin jy uithouvermoë moet hê. Dit is hard. Jy moet die regte ingesteldheid hê. Dit is ’n roeping. Jy word élke liewe dag aan die dood en sterfte blootgestel.

“Ek is soms baie besorg wanneer polisielede skielik die veld betree en by hul eerste sterftoneel aankom. Hulle is nie, soos ons, toegerus met die wetenskap nie. Ons is opgelei en geprogrammeer om die wetenskap te sien in wat gebeur het. Maar as jy ’n polisieman is wat vir die eerste keer by so ’n toneel kom en jy het nie die wetenskaplike agtergrond of opleiding nie, kan dit baie moeilik wees.”

Meer oor:  Ryan Blumenthal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.