Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wessel Oosthuizen is ná vyf dekades self ’n legende

In sy loopbaan van meer as vyf dekades is hy dikwels bekroon, maar die onlangse SAB-prys vir Aksiefoto van die Jaar beteken vir hom baie meer as enige ander prys, het Wessel Oosthuizen aan Gert van der Westhuizen gesê.

Wessel Oosthuizen op verlede naweek se Kaapstadse sewestoernooi saam met die Black Ferns se Risi Pouri-Lane. Foto: Wessel Oosthuizen

Tydens vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan kon sommige fotograwe net nie anders as om hul bewondering op sosiale media uit te spreek vir “oom Wessel” nie.

Hoe dan ook nou anders?

Oosthuizen draf nog elke Saterdag op en af langs die land (én soms die wêreld) se rugbyvelde en dis nie vreemd om soos onlangs op ’n Maandag in Beeld te sien dat hy die hooffoto’s op die voor- én agterblad geneem het nie.

En dit op die ouderdom van 76 jaar.

Vroeg vandeesmaand, skaars twee maande voor sy 77ste verjaarsdag, is Oosthuizen op die SAB sportmedia-toekenningsaand bekroon vir die Aksiefoto van die Jaar. Sy wen-inskrywing was ’n foto van Beauden Barrett wat Cheslin Kolbe afstamp in die Wêreldbekerwedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Die Aksiefoto van die Jaar. Die All Blacks se Beauden Barrett stamp die Springbokke se Cheslin Kolbe af in dié twee spanne se Wêreldbekerwedstryd in Japan. Foto: Wessel Oosthuizen

“Dis seker een van die grootste dinge van my lewe,” sê Oosthuizen oor dié prys.

Hy het al baie pryse gewen, onder meer dié as sportfotograaf van die jaar op een van Fikile Mbalula, oudminister van sport (en deesdae minister van vervoer), se jaarlikse prysuitdelingsaande wat meegebring het dat hy R130 000 in sy sak kon steek. “Maar hierdie R5 000 beteken vir my baie meer,” sê Oosthuizen met verwysing na die SAB-prys.

“Ek is net baie dankbaar dat ek dit nog kan doen en dat ek nog gesond genoeg is,” sê hy. Op ’n minder ernstige noot en met die spreekwoordelike vonkel in sy oog, voeg hy by: “En dat ek nog met die jong mense kan meeding.”

Tog dink Oosthuizen die wenfoto is dalk nie die beste een wat hy geneem het nie. Hy vermoed die een wat hy net daarna geneem het, en nie ingeskryf het nie, is miskien nog beter.

Dié foto van Beauden Barrett wat Cheslin Kolbe afstamp, is beter as die een waarmee hy die prys van Aksiefoto van die Jaar gewen het, glo Wessel Oosthuizen. Foto: Wessel Oosthuizen

Iets wat dalk nog meer verstommend is, veral vir ons leke, is dat hy die wenfoto geneem het met toerusting wat duisende rand goedkoper is as dié wat hy nog ’n jaar of twee gelede gebruik het.

Hy het ’n kleiner kamera gekry wat ligter is om te dra en sy duur lens met ’n goedkoper een vervang.

“Elke ou met ’n moderne kamera en ’n lens moet vandag ’n goeie foto kan neem. Anders is jy ’n kamera-eienaar en nie ’n fotograaf nie,” sê Oosthuizen waar ons cappuccino’s drink in ’n restaurant in ’n winkelsentrum naby sy huis aan die Wes-Rand. Voor hom staan ’n bordjie met ’n croissant waarop aarbeikonfyt gesmeer is.

Die verlede is ’n ander wêreld

Wessel Oosthuizen se gunsteling rugbyfoto: Elroy Bumper Gouws maak gereed om die bal by ’n lynstaan in te gooi in De Rust. Oosthuizen vertel: “Ek het net gery en gesien hier speel hulle en ek het stilgehou.” Foto: Wessel Oosthuizen

Te midde van ongekende Desember-koue in Johannesburg is Oosthuizen soos gewoonlik ’n onuitputlike bron van stories en staaltjies; nie net oor wat deesdae in die wêreld en die media aangaan nie, maar ook oor die dae toe die mediawêreld nog heeltemal anders gelyk het met sy tientalle koerante – én toe dinge natuurlik ook heeltemal anders as vandag gedoen is.

“Ek sou nooit hierdie reeks foto’s kon neem met my 1970-apparaat nie,” sê Oosthuizen nadat ek nie die versoeking kon weerstaan om hom (weer) uit te vra oor sy ikoniese foto’s van die eerste toets tussen die Springbokke en All Blacks 49 jaar gelede in Pretoria nie.

Die bekendste van dié foto’s is natuurlik die een waarop Frik du Preez en Albie Bates die All Black-skrumskakel Chris Laidlaw plattrek. Dié foto is steeds orals te sien. Dit is sy foto wat nog die “meeste gesteel is,” vertel Oosthuizen. ’n Foto waarvoor hy destyds boonop maar prysgeld van R100 gekry het.

Die foto waarvoor Wessel Oosthuizen vir byna die afgelope 50 jaar bekend is: Frik du Preez en Albie Bates trek die All Black-skrumskakel Chris Laidlaw plat in die eerste toets in Pretoria in 1970. Foto: Wessel Oosthuizen
Joggie Jansen loop Wayne Cottrell plat in die eerste toets van die reeks van 1970 tussen die Springbokke en die All Blacks. Foto: Wessel Oosthuizen
’n Afgryslike gesig vir hedendaagse televisie-skeidsregters. Dit lyk asof die Springbok-senter Mannetjies Roux op die All Black-kantman Tom Lister se bors spring tydens die eerste toets in 1970 op Loftus Versfeld. Foto: Wessel Oosthuizen

Dan is daar die een van Joggie Jansen se plettervat op Wayne Cottrell, iets wat volgens baie kenners ’n deurslaggewende invloed op die reeks van vier toetse gehad het. Die derde foto is die een waarop dit lyk asof die Springbok-senter Mannetjies Roux op die bors van die All Black-kantman Tom Lister spring.

“Jy moes toe nog jou film met die hand oorhaal. So, jy het maar een foto van ’n ding geneem.”

Jy moes seker ook ’n goeie oog gehad het om te weet wanneer om die knoppie te druk, wil ek weet.

“Jy moes ook geluk gehad het,” antwoord Oosthuizen. “Daai Frik-foto . . . daar is vier foto’s deur vier verskillende fotograwe geneem.”

Een is van die kant geneem, een van agter en een net toe Du Preez en Bates die duikslag begin uitvoer het. Oosthuizen het die perfekte oomblik vasgevang.

“Ek was net gelukkig dat ek die knoppie op die regte oomblik gedruk het.”

In die ou dae moes ’n fotograaf baie meer kieskeurig wees oor wat hy afneem.

Deesdae werk dit anders. “Ek sit partykeer langs ’n ou, veral die Oosterse fotograwe, dan hoor jy sy kamera gaan so prrrrrrrrrrrrrr . . . nou hoe lank sit jy nie in die aand om te edit nie?”

In die ou dae moes ’n fotograaf baie kieskeuriger wees oor wat hy afneem. Hulle moes op toer foto’s in die badkamer van hul hotelkamers ontwikkel en afdruk.

“Jy moes ’n landlynmasjien saamdra, jy moes ’n vergroter saamdra, jy moes papier saamdra, jy moes chemikalieë saamdra. Jy hoef gelukkig nie handdoeke saam te gedra het nie, want jy donder die hotel se handdoeke op!

“Jy moes natuurlik ook ’n paar skroewedraaiers en tangetjies hê, want dan skroef jy die hotel se prop waar die telefoon inkom af en konnekteer die landlyn se draadjies aan die hotel se draadjies. As jy oorsee was, het jy ’n reverse charges-oproep gemaak. Dan bel die kantoor jou en jy stuur jou foto en dan bel hulle jou weer en sê die foto is middeldeur gesny, jy moet hom weer stuur,” sê Oosthuizen en lag.

’n Glas melk in die kroeg

Só is dit in die ou dae gedoen. Wessel Oosthuizen ontwikkel films in ’n badkamer.

Sulke ongerief, en die spanning wat dikwels daarmee gepaard gegaan het, was vir Oosthuizen dubbel en dwars die moeite werd en hy is nog geen oomblik spyt dat hy ’n fotograaf geword het nie.

Maar Oosthuizen, een van sewe kinders, wou ná skool ’n ouditeur geword het. Hy is selfs vir ’n onderhoud na ’n firma in Pretoria.

Engels nie so goed nie

Wessel Oosthuizen was in 1988 in die destydse Bophuthatswana om foto’s van die mislukte staatsgreep te neem. Johnny Johnson, redakteur van The Citizen, het hom gevra om sommer ook ’n storie te skryf. “Ek het gesê my Engels is nie so goed nie. ‘I will fix it.’ Maar ek het ook nie notas geneem nie. ‘Write what you have seen.’ Ek het toe maar geskryf en Rosie, die tannie wat my storie oor die foon afgeneem het, het my Engels nog verder opgedonner. Johnson het die volgende dag saam met my deur die koerant geblaai. ‘We look better than any other paper.’ Hy het egter gesê ek ken nie militêre voertuie nie. ‘And your English is shit.’ ”

“Ek sit daar oorkant ’n ou met my Heidelberg Volkies-kleurbaadjie, kortbroek, skoene en lang kouse. Hy sê vir my: ‘Meneer Oosthuizen, jy stel belang om ’n klerkskap te aanvaar?’ Toe sê ek: ‘Ja, oom.’

“Hy het my onmiddellik uitgetrap: ‘Meneer Oosthuizen, jy is nou in die besigheidswêreld. Dis nie oom en tannie hier nie. Dis meneer en mevrou en juffrou.’ ”

Nodeloos om te sê, Oosthuizen is nie as ’n klerk aanvaar nie. Hy is later na die Lugmaggimnasium se fotografiese afdeling, waar hy in 1961 deur Louis Nel van Die Vaderland gewerf is.

“Ek het gedink ek gaan vir ’n jaar daar werk, baie geld spaar en dan universiteit toe gaan. Ná twee weke het ek geweet ek sal nooit . . . dis my lewe hierdie.”

Oosthuizen se beginsalaris by Die Vaderland was R60 plus ’n lewenskoste-toelaag van R29,50.

“Op 1 Januarie 1962 begin ek. Kan jy dink? ’n Suid-Afrikaanse middagkoerant op ’n vakansiedag. Teen twaalfuur sê die hooffotograaf, ou Fred Buys: ‘Nou gaan ons drink!’

“Ek kom van ’n plekkie met die naam van Val af en ek was nog nooit in ’n kroeg nie. Ek het in (die strokiesverhaal) Die Skim gesien as hy by ’n kroeg instap, bestel hy ’n glas melk. Toe die kroegman vra wat ek gaan drink, sê ek: ‘ ’n Glas melk.’ ”

“Dis nie ’n f****n kêffie hierdie nie!” onthou Oosthuizen Buys se verontwaardige reaksie. Die kroegman het gelukkig tot sy redding gekom en die kelner gevra om ’n glas melk in die kombuis te gaan haal. ’n Kollega het daarna voorgestel dat Oosthuizen kola tonikum en limonade drink, omdat dit nes ’n “dop” lyk.

Die Viëtnam-oorlog het my laat afsien daarvan om windgat te wees.

Hy drink dit vandag nog en sit nie sy mond aan alkohol nie. (Terloops, gesond soos hy is, eet hy ook glad nie groente nie, net kapok-aartappels saam met ’n steak as hy in ’n restaurant aansit.)

Oosthuizen se kroeg-ervaring het hom gelukkig nie van die koerantwêreld afgeskrik nie. Inteendeel, nadat hy agt jaar later bekendheid verwerf het met sy foto’s op die All Blacks se toer van 1970 in Suid-Afrika, was hy gereed vir ’n volgende stap in sy loopbaan: oorlogsfotograaf.

Hy is op eie koste Viëtnam toe en het vir ses weke daar gebly. Hy het net een keer aksie van naby gesien tydens ’n mortier-aanval. “Ek het myself gevra: ‘Is jy mal in jou kop?’ Net daar en dan het ek besluit dit is nie die moeite werd nie.

“Die Viëtnam-oorlog het my laat afsien daarvan om windgat te wees. Jy weet, jy is jonk en jy dink jy wil nou windgat wees . . . en dan kom jy aarde toe.”

Pollard se strafdoel

Wessel Oosthuizen tussen soldate in Viëtnam in 1970. Foto: Wessel Oosthuizen

Oosthuizen sou hierna nog talle politieke en ander opstootjies in Suid-Afrika meemaak soos die staatsgreep van 1988 in die destydse Bophuthatswana, maar sport het sy eerste liefde gebly: rugby, krieket, boks, atletiek, gimnastiek, motorwedrenne, tennis, gholf, sokker. Noem iets op en Oosthuizen het dit afgeneem.

‘Jan Hamman was die beste’

Sy groot vriend en eertydse kollege by Beeld, Jan Hamman, was die beste persfotograaf wat Suid-Afrika ooit gehad het, sê Wessel Oosthuizen.

Hy onthou Hamman ook nie net vir sy vaardighede met ’n kamera nie.

“Hy was die enigste ou wat ek geken het wat kon bestuur en terselfdertyd ’n hamburger eet, rook en kritiek lewer oor die rugbywedstryd waar ons foto’s geneem het!”

Hy was al op vyf Wêreldbeker-rugbytoernooie en gaan aanstaande jaar Japan toe vir sy sesde Olimpiese Spele. Hy was op al drie Wêreldbekertoernooie wat die Springbokke gewen het, sover hy weet die enigste Suid-Afrikaanse fotograaf wat dié eer te beurt geval het.

Hy het vanjaar net beplan om die Springbokke se eerste drie groepwedstryde by te woon omdat dit te duur sou wees om tot die eindstryd te bly.

Hy het in 2003 sy vingers verbrand toe hy die toernooi eers van die halfeindronde af bygewoon het en die Springbokke reeds by die huis was toe hy in Australië aankom.

Hy het in 2011 en 2015 weggebly omdat hy nie gedink het die Bokke van daardie jare sal veel regkry nie.

Hy het vanjaar sy wenfoto geneem en die Bokke se volgende twee wedstryde ook deur die kameralens van langs die kantlyn dopgehou voordat hy huis toe is.

Hy het die Bokke se wedstryd in die halfeindronde teen Wallis by sy huis op die televisie sit en kyk.

“Toe (Handré) Pollard daai strafskop oorskop en die eindfluitjie blaas, spring ek in my kar en jaag na Flight Centre toe. Die meisie agter die toonbank sê sy wil toemaak. ‘Nee, jy moet eers vir my ’n kaartjie kry Japan toe’.

“Sy sê vir my: ‘Néé, jy gaan nie terug nie?’ Ek sê vir haar: ‘Ek moet teruggaan.’ En toe is ek terug . . . ”

Sneeurugby in Rusland. Oosthuizen is baie lief vir Rusland en was al 17 keer daar. Foto: Wessel Oosthuizen
Meer oor:  Beeld  |  Olimpiese Spele  |  Wêreldbeker-Toernooi  |  Viëtnam  |  Rusland  |  Japan  |  Rugby  |  Fotografie  |  Joernalistiek  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.