Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wie was al dié mense in Senekal?
Nick Serfontein oor Senekal II: “Dit was totaal ongevraagd, dit was ongeorganiseerd en ongehoord. Die bikers is nie boere nie, wat soek hulle daar? Dis tipies van mense wat als met die vuis probeer regmaak en dit doen die beeld van die boere in Suid-Afrika geweldige skade aan.” Foto: Deon Raath

Die onsinnige konfrontasie tussen kakie en rooi in Senekal het die goeie werk van die régte boere in Suid-Afrika soos ’n cowboy-fliek laat lyk, het die megaboer Nick Serfontein aan Willemien Brümmer gesê.

"Nou vrá ek vir jou hoeveel van die mense wat verlede week in Senekal was, was bona fide boere – wáre boere?”

Aan die woord is Nick Serfontein, Suid-Afrika se boer van die jaar. Dié megaboer wat die wêreld aan die hart gegryp het met sy Thuma Mina-brief aan pres. Cyril Ramaphosa.

Moenie ’n fout maak nie, soos baie ander Suid-Afrikaners is hy óók nou “half gatvol”. Maar hel, nee, wat ’n week gelede in Senekal gebeur het, “was soos ’n cowboy-fliek”.

Sy stem is ’n rasper. “Dit was totaal ongevraag, dit was ongeorganiseerd en ongehoord. Die bikers is nie boere nie. Wat soek hulle daar? Dis tipies van mense wat als met die vuis probeer regmaak en dit doen die beeld van die boere in Suid-Afrika geweldige skade aan. Al wat dit gedoen het, was om vir Malema ’n klomp suigstokkies te gee. Ek is nie ’n politikus nie, maar ek dink die manier om Malema te hanteer, is om hom te ignoreer.”

Hy skep vinnig asem.

“Maar wat ek wou sê, is die Senekal-storie móét waarskynlik gebeur het en dit sal waarskynlik in die geskiedenis opgeteken staan as ’n keerpunt in veral misdaad wat gepaardgaan met plaasmoorde in Suid-Afrika. Dis jammer dat die pragtige jong man (Brendin Horner) met sy lewe moet geboet het om dit te laat gebeur. Maar sy standbeeld gaan daar wees wat ons gaan eer en dit gaan waarskynlik ’n keerpunt wees.”

Ons gesels oor die foon. Hy op sy grootword-plaas Liebenbergstroom op die pad tussen Kroonstad en Heilbron met sy legendariese Bonsmara-stoetery waar hy saam met apartheid (1948) gebore is. Die ingenieur wat boer geword het en nou die voorsitter is van die veelbekroonde Sernick-groep.

Ná ’n onlangse retina-operasie sit hy met sy kop omlaag, so ’n ge-Zoomery is buite die kwessie. “Weet jy hoe moeilik is dit om heeltyd op jou maag te slaap? En jy kan nie jou kop draai nie, jy moet heeltyd afkyk.”

Ons is terug by Senekal – ’n oploop van gebeure wat gelei het tot ’n testosteroon-belaaide konfrontasie tussen kakie en rooi wat juis die bloed, sweet en trane wat Serfontein oor die laaste jare probeer insit het om die regering te oortuig boere is progressief en welwillend, “bespotlik” gemaak het. Hy sug.

“Die gebeure kan ’n ou opdeel in Senekal I(A) en (B) en dan Senekal II”. “Ek dink Senekal I(A) was ’n spontane en vreedsame samekoms. Ek kon nie daar wees nie, maar ek het ’n branded trok gestuur waarop daar groot geskryf staan ‘Sernick’ (’n samevoeging van sy van en naam) om my solidariteit te gaan bewys daar. Maar wat daarna gebeur het toe die hof bestorm is, is waansinnig.”

Die groot culprit hier in al die goeters is die regering.

Die werklike leiers onder die boere, sê hy, gebruik hul verstand. “Ondanks die EFF se bespotlik rassistiese gedrag het hulle Vrydag 100% eerste gekom. So wat is die doel daarvan?”

Maar die eintlike sondaar, sê hy, is nie noodwendig die opruiende rooies óf “daai ouens met die bakarms in uniforms nie. “Die groot culprit hier in al die goeters is die regering.”

Hy raak opgewerk. “Ek sal enigiemand uitdaag om vir my net één staatsdepartement te wys wat werk. Ek is ’n groot voorstander van help waar jy kan. Ek loop nie heeldag en kritiek uitspreek nie, maar ek is ook ’n groot kritikus van die regering en ek sê my sê. In my brief van 2018 het ek vir Ramaphosa gesê die regering jaag aan met grondhervorming. Ek het gedog hy gaan my necklace en toe gebeur dit nie.”

Hy lag saggies.

“Maar die feit is misdaad is buite beheer in Suid-Afrika en veral op die platteland met sy sagte teikens; die polisie is buite beheer en party van hulle is deel van sindikate. Die minister (Bheki Cele) is ’n totale cowboy, ek weet nie of jy dit kan skryf nie, maar hy ís. Kyk hoe het hy patrollies verbied tydens Covid-19. “

Nick Serfontein, megaboer van Edenville in die Noord-Vrystaat en Suid-Afrika se boer van die Jaar, het twee jaar gelede die wêreld geroer met sy beroemde Thuma Mina-brief aan pres. Cyril Ramaphosa.

Sy stem is swaar. “Vat jy nou maar die boere van Suid-Afrika weg, dán sien jy hoe lyk ’n mislukte staat, want dan is jou voedselsekerheid weg, jy verloor nog ’n miljoen jobs, jy verloor buitelandse valuta, want 50% van ons landbouprodukte word uitgevoer – en grondhervorming is kas toe, want jy gaan nie grondhervorming in Suid-Afrika kry sonder die hulp van kommersiële boere en die private sektor nie.

“En dan het ons groot moeilikheid. Daar is soveel boere wat dit besef en graag iets wil doen, maar hulle weet nie wat nie, hulle weet nie hoe nie en hulle vra vir ons, want die regering het nog die hele tyd ’n antagonisme teenoor kommersiële boere in Suid-Afrika gehad, tot en met Covid-19, toe ons skielik goed genoeg was.”

‘Verskroeide aarde’

Sedert 2 Mei 2018, toe hy sy brief aan Ramaphosa geskryf het waarin hy by die president pleit om kommersiële boere te “stuur”, was daar al baie olie op die vuur.

En magtig, sy glas was nog altyd “halfvol eerder as halfleeg”.

Sernick se program vir opkomende boere is ’n voorbeeld van wat kán: Minstens 660 swart beesboere het al deeltydse opleiding gekry en 40 swart boere is reeds suksesvol gevestig met die gedagte dat hulle binne twee jaar volwaardige kommersiële boere sal wees.

Dié program word deur die staat se amptelike werkskeppingsfonds beskou as een van sy vlagskipprojekte en van dié opkomende boere is deel van Sernick se waardeketting, met aandele in van die maatskappye.

In dieselfde tyd het die “aanslae op kommersiële boere” egter al hoe meer opgehoop.

Eers nooi die president hom om deel te wees van sy adviespaneel oor grondhervorming en toe word hy en Dan Kriek, destydse president van Agri SA, “gedwing” om ’n minderheidsverslag uit te reik wat die belangrikste aanbevelings van die agt ander lede van die paneel verwerp. Vir dié oud- siviele ingenieur (hy was ’n medestigter en voorsitter van die Bigen Africa Group) was die adviespaneel een van sy “grootste nagmerries”. Maar hy het sy rug styf gemaak en besluit “al moet hulle my as ’n lyk uitdra hierso, gaan ek vasskop”. Hy sug. “Daardie nege maande het my oud gemaak”.

Die openbare verhore oor die verandering aan art. 25 van die Grondwet “waar die verkeerde vrae vir die verkeerde mense gevra is”, was nog olie op die vuur, en tóé kom die moordende droogte. . .

Net so is die ekonomie en staatsondernemings kas toe en hier in die Vrystaat sit ons vandag met ’n verskroeide aarde, letterlik en figuurlik.

Hy klink of hy ’n aftelrympie opsê. “En tóé ervaar ons hoe die platteland in die Vrystaat se infrastruktuur soos domino-steentjies inmekaar val, ek bedoel 60 uit die 62 dorpe in die Vrystaat se rioolstelsels werk nie, die riool loop in die spruite af, dis krimineel. Voeg daarby dat ons deur die Zondo-kommissie moes uitvind hoe die land kaal gesteel is.

“Met die onbeheerde uitbreking van bek-en-klouseer stop vleisuitvoer en die vleisprys val kas toe.”

Hy sug.

“Net so is die ekonomie en staatsondernemings kas toe en hier in die Vrystaat sit ons vandag met ’n verskroeide aarde, letterlik en figuurlik. Daar was dié week in die Vrystaat soveel veld- brande . . . en van die brande is opsetlik gestig. En met ’n veldbrand in die Vrystaat dié tyd van die jaar mét ’n westewind, moet jy weet hoeveel hulpbronne jy van al die boere nodig het en watter verwoesting dit veroorsaak.”

Hy praat al hoe vinniger.

“Nou, jy weet, die probleem is natuurlik die politici se groot ontkenning van al die goed wat gebeur, die miskenning van wat die boere in dié tyd doen. Ek het die afgelope drie maande 20 000 etes vir mense in Edenville wat honger is gegee. Dit was hul enigste maaltyd, en dis maar ’n druppel in die oseaan van wat boere doen. En dís die regte boere in Suid-Afrika.”

Nie volksmoord nie

Moenie ’n fout maak nie, die “veediefstal-storie is besig om die landbou totaal te ontspoor”, sê hy. “En die swart boere word swaarder getref as ons, want hulle het nie die hulpbronne om in die nag patrollie te ry en kameras op te sit en dié soort goed nie.”

Hy skud sy kop. “Ek probeer beesboere oplei om wetenskaplik te boer en die een ding van beesboerdery is jy moet jou produksiegroepe apart hou. Jou jong verse en jou groot koeie moet jy apart hou, jou koeie met kallers moet jy apart hou van die dragtige koeie – maar hulle kan dit nie doen nie. Elke aand moet hulle hul beeste kraal toe bring. As hulle hulle los, word hulle gesteel.

“Jy sien, die meeste opkomende boere in Suid-Afrika is veeboere. As hulle nie met vee kan boer nie, kan hulle nie boer nie en hulle sal nie kan boer as die veediefstalle aanhou nie.”

Maar nee, hy dink beslis nie plaasmoorde is volksmoord nie en hy dink die gogga-maak-vir-baba-bang-bewerings oor onteiening sonder vergoeding wat skynbaar in Zimbabwe-styl kan gebeur, is ongegrond.

“Ek sê nie dit (art. 25 van die Grondwet) gaan nie verander nie, maar ek dink nie regtig dit gaan ’n verskil maak nie. Dit is alles net politiek. Ek sê vir alle boere, en ek doen dit self: ‘As jy grond langs jou in die hande kan kry, koop dit’.”

Sou dit ’n doel dien dat ’n organisasie soos AfriForum nou by die Verenigde Nasies (VN) wil geraas maak oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding?

Hy sug. “Ek weet nie wat die VN gaan doen nie, ek weet nie wat (pres. Donald) Trump gaan doen nie, ek sien geen nut in dié goed nie. Ek sê altyd in Suid-Afrika moet ons ons eie probleme oplos. Die private sektor is sterk genoeg om die dinge te laat gebeur.”

Volgens hom is plaasmoorde ’n kombinasie van politiek, ras, haat en misdaad. “Dis ’n ding van ek het nie en jy hét, so ek gaan jou goed steel. Baie van die ouens maak geld daaruit, baie van die ouens is honger, maar dis nie ’n volksmoord-storie nie, ek glo dit nie. As jy met ons opkomende boere praat, dan sê hulle vir ons: ‘Ntate, ons kan nie sonder julle leef in Suid-Afrika nie, ons kán nie,’ so dis nie waar nie.”

Nick (regs) saam met sy suster, Estie, en broer, Jannie, op hul grootwordplaas Liebenbergstroom. Nick was hier ongeveer agt jaar oud. Sy broer, ’n mediese dokter, is op 27 aan breinkanker dood.
’n Draaipunt?

Die oplossing vir landbou in die toekoms, sê dié megaboer, wat bekend geraak het as “koning van die waardeketting” oor sy plaas-tot-vurk-filosofie, is ’n one stop shop. Hy het presies twee jaar gelede op die grondberaad in Bela-Bela gesê dis wat nodig is en nou is Agda, die agentskap vir landbou-ontwikkeling waarvan hy die eerste voorsitter is, amptelik gestig.

“So lank as wat jy nie suksesvolle grondhervorming in Suid-Afrika kry nie, gaan daar onrus wees, daar gaan politiek wees en grond gaan ’n ras-ding wees.

“Maar Agda is ’n apolitieke ding wat deur die private sektor gedryf word. Agri SA en daai ouens doen wonderlike werk, maar nou het jy ’n Agri SA, ’n TLU SA en ’n Saai wat meestal die wit boere verteenwoordig, en ’n Afasa, wat die swart boere verteenwoordig. Om te dink jy gaan al daai organisasies bymekaar kry en laat saamwerk, is naïef. Agda se doelwit is baie eenvoudig: Kom ons werk vir landbou in Suid-Afrika.”

Kuier met Malema?

Is dit nie tog belangrik dat boere soos hy moet aanhou om vir die res van die wêreld te wys ons is nie almal so nie?

Hy aarsel, ’n boer met ’n plan.

“Ek weet nie of ’n ou daaraan moet dink om tog vir Julius Malema ’n slag te nooi om te kom kyk wat hier aangaan nie. Ek weet nie of Malema iets wil hoor nie en die vraag is of hy hom enigsins daaraan sal steur, maar jy het my nou aan die dink gesit . . .”

En is dit nie tyd dat ons in dié wye en droewe land meer na mekaar begin luister nie?

Watter verskil maak die ouens wat die blerrie rubbish in Senekal gemaak het?

“Ek het al dikwels vir mense gesê: ‘Verstáán julle apartheid? Verstaan julle waar Ramaphosa vandaan kom? Ramaphosa is as kind saam met sy ouers deur die army met ’n Bedford-lorrie in Louis Trichardt opgelaai en hy is gaan dump in Venda.’ Hoe sou jy gevoel het as dit aan jou gedoen is? Ramaphosa (die president antwoord nog gereeld sy WhatsApps) is ’n bedrewe politikus. Wat hy sê en wat hy regtig bedoel, is twee verskillende goed. Maar onthou, hy speel ’n ongelooflike fyn spel, en as jy kyk wat het hy die laaste tyd reggekry . . .”

Vir dié megaboer wat begin het met 250 ha (op krediet), bly sy motto dat jy ’n boom moet plant waaronder jy nooit gaan sit nie.

“As jy nie ’n verskil maak in die lewe nie, is jy nie relevant nie. Watter verskil maak die ouens wat die blerrie rubbish in Senekal gemaak het? Hoeveel van daardie mense en bikers het van Sondag af vier dae en vier nagte lank help vuur slaan wat in die Vrystaat aan die brand gesteek is?”

Hy dink ’n bietjie na. “As ek kyk deur watter hel boere die laaste tyd gegaan het en steeds gaan en wat hulle bereik het en hoe positief hulle is, dan sê ek: Dís die plek waar ek wil wees.”

Sy stem is hoopvol, al klink hy ’n bietjie moeg. “Ek dink ons kan dit doen. Ons moet net die slegte deel van die Senekals uit ons lewe kry en landbou verlos van politiek.”

  • Willemien Brummer is ’n artikelskrywer van Netwerk24.
Meer oor:  Nick Serfontein  |  Onderhoud  |  Senekal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.