Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Willie Hofmeyr: ‘Amper almal is korrup’

Daar is nou hoop dat iets aan korrupsie gedoen word, maar hy dink nie dit gaan ’n vinnige of maklike proses wees nie, sê Willie Hofmeyr aan Murray La Vita.

Willie Hofmeyr tydens ’n onderhoud in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die gesprek met Willie Hofmeyr begin by “die moeilikste jare van sy lewe” – sy verwydering as hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid in Augustus 2015 tydens die hoogbloei van staatskaping.

Ons sit op ’n Sondagoggend by ’n tafel in die leefvertrek van ’n huis in die Kaapstadse voorstad Kenilworth. Die huis vorm die kern van ’n kommune waar Hofmeyr se suster Beatie Hofmeyr en ’n paar ander “lefties” woon. Die 65-jarige Hofmeyr gaan ook moontlik hier kom woon noudat hy aan die einde van verlede jaar as hoof van die batebeslagleggingseenheid afgetree het. Hy was sedert April 2019 weer hoof van dié eenheid.

Daar is iets seunsagtigs aan Hofmeyr: Die groot blou oë agter die brillense, die verleë glimlag, die feit dat hy klein van postuur is. En waarskynlik ook dat hy (wat op sy dag ’n liga-tafeltennisspeler was) aanvanklik in ’n Bafana-sokkertrui en plakkies geklee is aangesien ons vroeg vir die onderhoud opdaag het en hy eers later, wanneer ’n portretfoto geneem word, ’n langmouhemp aantrek.

Dit was die moeilikste jare van my lewe . . . Om daar in die gebou te sit en te sien hoe dit wat jy opgebou het, afgetakel word.

“Dit was ’n moeilike tydperk . . . Ek dink die een ding wat die batebeslagleggingseenheid gered het, is die meeste van die senior mense was mense van integriteit wat die regte ding wou doen.

“Maar die mag om sake hof toe te neem was in die hande van die hoof van die NVG [adv. Shaun Abrahams] en in sy tyd het geen van die groot korrupsiesake hof toe gaan nie.”

Nadat Hofmeyr as hoof van die batebeslagleggingseenheid verwyder is, is hy aangestel as hoof van die NVG se siviele regsafdeling.

“Dit was die moeilikste jare van my lewe . . . Om daar in die gebou te sit en te sien hoe dit wat jy opgebou het – nie net in batebeslaglegging nie, maar in die NVG – afgetakel word en hoe dit ’n instrument raak vir die bad mense en vir staatskaping.”

Hy word ’n posbus

Willie Hofmeyr is nog nie seker wat hy gaan doen nie. Foto: Jaco Marais

Hofmeyr het al gesê hy is as hoof van die siviele regsafdeling tot ’n posbus gereduseer.

“In die regsafdeling het ons maar basies net regsdokumente bymekaargesit, met ’n aanbeveling aan die staatsprokureur. Ons het baie min van die belangrike werk gedoen. En die sake wat politiek sensitief was, het Shaun seker gemaak dat ek nie eens weet dat die sake gedoen word deur my personeel nie – hy het so ’n groepie mense gehad wat dit direk saam met hom gedoen het . . .

So, wat ek hoofsaaklik probeer doen het, was om mense buite die NVG te help – met raad – wat besig was om staatskaping te beveg.

“Maar omdat ek daar was, het ek van die goed begin bewus word, en die enigste sinvolle ding wat ek soms kon doen, was om vir mense buite die NVG ’n bietjie raad te gee oor hoe die proses en magte in die NVG werk.

“So, wat ek hoofsaaklik probeer doen het, was om mense buite die NVG te help – met raad – wat besig was om staatskaping te beveg. Onder sy leiding het die NVG by ’n punt gekom waar die eerlike mense binne die staat geteiken is – Anwa Dramat [voormalige nasionale hoof van die Valke] is aangekla, Shadrack Sibiya [voormalige hoof van die Valke in Gauteng] is aangekla, Robert McBride [voormalige hoof van die onafhanklike polisiedirektoraat (Opod)] is aangekla . . . genl.maj. Johan Booysen [voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal] is aangekla.

“Die doel was om hulle uit die stelsel te kry.”

‘Amper alles is korrup’

President se magte ‘moet ingeperk word’

Hofmeyr sê hy gaan formeel aan die Zondo-kommissie die voorstel maak dat die Grondwet gewysig moet word sodat die president se magte ingeperk word.

“Die gebeure van die afgelope jare het gewys hoekom dit belangrik is. Ek dink daar is ’n goeie kans dat so iets [’n wysiging] wel onder pres. Cyril Ramaphosa kan gebeur.

“Ek was destyds die een wat [namens die ANC] oor die NVG-deel van Grondwet onderhandel het.

“Die topdrie lae van die NVG word almal deur die president aangestel en almal sonder enige onderhoud of ander proses. Ek dink toe ons die Grondwet geskryf het, was ons ’n bietjie naïef gewees en ek moet daarvoor verantwoordelikheid aanvaar want ek was deel van daardie proses. Maar almal het Mandela in gedagte gehad as ’n president en van [Thabo] Mbeki se dae af het goed begin verkeerd loop.”

Ek pols Hofmeyr, wat later vanjaar voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gaan getuig, oor die stand van die ANC en hoe die party regeer.

“In alle demokrasieë waar ’n party vir ’n baie lang tyd aan die bewind is, raak sistemiese korrupsie ’n groot probleem. Dit is byvoorbeeld wat in die stad New York ook gebeur het wat vir 200 jaar deur die Demokratiese Party bestuur is. En waarmee ons nou te doen het [in die ANC] is ’n soortgelyke stelsel waar mense net te lank aan bewind is.”

Hy dink nie die wigte en teenwigte in die Grondwet, waarvan hy ’n medesamesteller was, is sterk genoeg nie – veral nie met die aanstelling van senior mense in die wetstoepassingstelsel nie.

“Ek dink daar word nou iets aan korrupsie gedoen, maar ek dink nie dit gaan ’n vinnige of maklike proses wees nie. Ek dink daar is net te veel invloedryke mense wat betrokke is.

“Wat Chippy [Crispian] Olver in sy boek oor Port Elizabeth [How to Steal a City] beskryf, is tiperend van hoe baie van die staatsinstellings bestuur is: Daar is baie min mense wat aangestel word wat nié korrup is nie en daar is omtrent geen transaksies wat nie korrup is nie. In sy boek wys hy daarop dat die geld ook maar vir die ANC gesteel is, of altans vir een faksie.

“Die boek is vir my ’n goeie voorbeeld van hoe ernstig en hoe sistemies korrupsie geword het.”

‘Ek het ’n fout gemaak’

“Ek was op ’n stadium baie, baie, baie skaam gewees en die politiek het my geforseer om my meer in ander mense se skoene in te dink.” Foto: Jaco Marais

Een van die groot ironieë van Hofmeyr se loopbaan is dat hy deel was van die NVG-span wat in 2009 onder die destydse waarnemende hoof Mokotedi Mpshe se leierskap alle aanklagte van bedrog en korrupsie teen pres. Jacob Zuma van die hofrol geskrap het.

“Ek dink dit is belangrik om die konteks te verstaan. Dit was net nadat Vusi Pikoli deur Mbeki afgedank is omdat hy die regte ding wou doen [deur genl. Jackie Selebi, voormalige kommissaris van polisie, te vervolg] en daar was ’n massiewe aanval op die NVG in daardie stadium.

“Die ses maande wat ek basies in alleenaanhouding was, was een van die moeilikste tye van my lewe.” Foto: Argief

“Toe ek nou eers na daardie tapes begin luister het en net sien hoe gemaklik Leonard McCarthy [voormalige hoof van die Skerpioene] en Bulelani Ncguka [voormalige hoof van die NVG] amper laggend besluit sekere persone moet nie vervolg word nie want hulle is Mbeki se ondersteuners en ander móét vervolg word want hulle is Mbeki se teenstanders, van wie Zuma nou een was . . . Vir my het dit net teen alles gegaan waarvoor ek gestaan het in die NVG, naamlik dat dit baie belangrik is dat ons polities neutraal moet wees.

“Maar ek aanvaar die bevinding [deur die appèlhof] dat dit nie saak maak hoe sleg aanklaers optree nie, dis nie ’n rede om vervolging te staak nie. Ek erken dat ek ’n fout gemaak het,” sê hy en sug.

Hy het later vir dié oordeelsfout probeer vergoed deur die vervolging van Selebi te beskerm teen die pogings om dit skipbreuk te laat ly.

Aanhouding en inperking

Hofmeyr se aktivisme het gedurende sy studie aan die Universiteit van Kaapstad op dreef gekom. Hy het by die swart vakbondbeweging betrokke geraak en is in 1976 vir vyf jaar ingeperk wat drastiese beperkings op sy bedrywighede tot gevolg gehad het.

Daarna was hy sedert die stigting in 1983 van die United Democratic Front (UDF) ’n lid van dié beweging en het hy mettertyd leiersposte daarin beklee.

’n Politieke lewe

Hofmeyr was van 1994 tot 1999 ’n parlementslid. In dié hoedanigheid was hy deel van die portefeuljekomitee oor justisie wat veral daarop gefokus het om die nuwe konstitusionele strukture in werking te stel en om die Waarheid-en-versoeningskommissie te vestig.

Ná 1994 was hy lid van die konstitusionele hersieningskommissie en in 1998 is hy aangestel as oudpres. Thabo Mbeki se parlementêre raadgewer. Mbeki het hom in 1999 aangestel as die spesiale direkteur van openbare vervolgings in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) waar hy die batebeslagleggingseenheid geskep het waarvan hy hoof was.

Hy is in 2001 aangestel as adjunk- nasionale direkteur van die NVG en van Augustus 2001 tot November 2011 was hy ook hoof van die spesiale ondersoekeenheid. Hy was tot Augustus 2015 hoof van die batebeslaglegginseenheid. In April 2019 is hy deur adv. Shamila Batohi, die huidige hoof van die NVG, weer in dié pos aangestel.

Aan die einde van November 2019 het hy afgetree ná 20 jaar in die NVG.

Hy is sowat 40 keer in hegtenis geneem. Hoewel hy een keer ’n skulderkenningsboete van R50 betaal het, is hy nooit tydens enige hofproses aan ’n misdryf skuldig bevind nie.

Hy is twee keer sonder verhoor aangehou – een keer vir ses maande in afsondering – en was in ’n stadium op ’n eetstaking van 28 dae.

“Die ses maande wat ek basies in alleenaanhouding was, was een van die moeilikste tye van my lewe . . . Jy weet, ’n mens ontwikkel maar coping mechanisms. Ek was alleen . . . Hulle het ’n aparte seksie in Pollsmoor oopgemaak net vir my dat ek alleen daar kan wees en nie eens kon skreeu om met ander mense te kan praat deur die venstertjies nie.

“Hulle het so ’n ou omie gehad wat heeldag daar saam met my gesit het en my opgepas het, ’n afgetrede bewaarder. Een van my coping mechanisms was om met hom te praat oor allerhande goed. Ons het oor dié tyd nogal ’n goeie verhouding opgebou. Hy was baie simpatiek en bekommerd oor my. Hy het regtig begin omgee oor my welsyn en dit was een van die goed wat my aan die gang gehou het daar.

“Die spotprenttekenaar Jonathan Shapiro is ook vir ’n rukkie daar aangehou – ek het hom goed geken van die dae toe ons saam tafeltennis gespeel het. Ek was ’n baie goeie tafeltennisspeler en toe ek ingeperk is in die laat jare sewentig het ek uiteindelik verlof gekry om tafeltennis te speel.”

Sy behandeling in aanhouding het later aanleiding gegee tot ’n eis om vergoeding teen die minister van justisie vir die onregmatige toestande waaraan hy blootgestel is tydens aanhouding. Hofmeyr v Minister of Justice is steeds die toonaangewende saak wat handel oor die regte van gevangenes in Suid-Afrika, soos uiteindelik finaal deur die appèlhof beslis is.

Mandela beter as ’n mite

“In alle demokrasieë waar ’n party vir ’n baie lang tyd aan die bewind is, raak sistemiese korrupsie ’n groot probleem.” Foto: Jaco Marais

Ons praat oor sy verhouding met oudpres. Nelson Mandela.

“Ek het baie tyd saam met Mandela deurgebring onder die UDF, en later onder die ANC was ek soort van die hoof events organiser in die Wes-Kaap met al sy openbare vergaderings in die Wes-Kaap. Ek moes die reëlings tref en was altyd een van die span wat hom vooraf gebrief het oor wat gaan gebeur en wat die boodskappe is wat belangrik is om oor te dra, en so aan.

“Vir my was dit een van die belangrikste tye in my lewe . . . Ek het altyd groot bewondering vir hom gehad, maar mens worry maar altyd whether the myth will live up to the reality. En met Mandela was dit een van die min kere waar die werklikheid inderdaad beter was as die mite.

“Hy het ’n paar swakhede gehad, maar hy was nederig en was gewillig om te luister na mense wat nie met hom saamstem nie. Partykeer kon jy hom oorreed en partykeer kon jy hom nie oorreed nie, maar jy het nooit gevoel dat jy jou politieke lewe in jou hande neem as jy van hom verskil nie.

“Dit was vir my net ongelooflik dat iemand wat só lank uit sirkulasie was op ’n manier . . . net die insigte wat hy gehad het en dat hy nie bitter of wrokkig was nie.”

Mandela het ’n merkwaardige vermoë gehad om iets in mense aan te raak deur wat hy sê en hoe hy dit sê. En hy het empatie gehad met mense.

“Ek was in ’n stadium baie, baie, baie skaam gewees en die politiek het my geforseer om dit te oorkom. Ek moes my meer in ander mense se skoene indink en hoe ’n mens empatie opbou en probeer verstaan waar mense vandaan kom. Dit is een van die goed wat ek by hom geleer het – om jouself in te dink in hoe die ander persoon dink.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.