Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Witboy: ‘’n Virgin wat begin op nul’

Deon Maas vertel aan Murray La Vita hoe sy manlikheid ‘meer en meer onder druk geplaas word’ sedert hy in Berlyn woon.

Deon Maas gesels in Stellenbosch oor sy lewe in Berlyn. Foto: Jaco Marais

Vroeg in sy verblyf in die Berlynse voorstad Neukölln bevind Deon Maas hom op ’n Saterdagaand op sy eie in die woonstel wat hy met sy vrou, Veda Nieuwoudt Maas, deel. En skielik voel hy alleen.

“Almal vra altyd vir jou wat mis jy die meeste. Die logiese antwoord is gewoonlik dis een of ander vorm van kos of dis jou vriende of jou familie; en in my geval is dit my vriende en familie wat ek mis, want ek is nie ’n Marie-biscuit of ’n biltong-ou nie.

“Maar as jy terugkom Suid-Afrika toe besef jy wat jy eintlik mis, is familiariteit. As jy afklim by O.R. Tambo en jy moet jou selfoon aan die gang kry en jy weet jy gaan MTN toe en jy moet dít en dít vra en almal verstaan wat jy sê deur die gebruik van die koningin se Engels.

Ek het myself in ’n posisie bevind waar ek vir die eerste keer in jare actually bang was.

“As ek sê jy voel alleen dan bedoel ek dat elke vorm van familiariteit is van jou af gestroop; daar is niks wat jou gemaklik laat voel nie. Selfs iets so eenvoudig soos om op die bus te klim raak ’n proses om die doodeenvoudige rede dat jy altyd bang is iemand gaan vir jou iets in Duits vra en dan kan jy nie verstaan nie en jy weet nie wat die antwoord is nie.

“Ek het dit al hierso gesien. As jy met ouens praat wat vars van die boot af is van Pakistan of Bangladesj, dan besef jy hierdie mense is actually báng, want hulle verstaan nie hoe goed werk nie en hulle is nie goed met die taal nie. Dís die posisie waarin ek myself bevind het;  ’n posisie waar ek vir die eerste keer in jare actually bang was.

“Daar was nog nooit iets fout met my selfvertroue nie, en dis nie omdat ek bang was iemand gaan my oor die kop slaan nie; dit was ’n geval van: Wat as ek iets verkeerd doen en gaan ek myself embarass voor hierdie mense?”

Met spek, ja

Deon en Veda in die vliegtuig op pad terug Suid-Afrika toe. Foto: Verskaf

Die gesprek met Deon vind plaas in die restaurant van die Botaniese Tuin in Stellenbosch. Hy is in Suid-Afrika om sy jongste boek Witboy in Berlyn – avonture in die eerste wêreld, bekend te stel. Hy vra met groot geesdrif spek saam met sy eiers en roosterbrood, aangesien spek soos ons dit ken iets is wat nie vrylik in Berlyn (die stad waar hy en Veda en hul honde die afgelope twee jaar woon) beskikbaar is nie.

“Ek bly nou in ’n plek waar ek letterlik niemand ken nie . . . So die isolasie is fisiek, maar dis ook geestelik, want ewe skielik het jy niemand aan wie jy kan vertel van jou dag nie.

“Ek en Veda het nou hierdie ding waar . . . Sy werk baie hard en het ’n baie intense job [’n pos by ’n groot klerehandelaar], so as sy in die middag of die aand by die huis kom, dan gaan sit ons op die balkon en dan debrief ons mekaar oor ons dag en sy gaan af oor hierdie een wat dit gedoen het by die werk en ek is soos in: Bart het vanoggend ’n ander hond probeer byt.

“Hierdie tipe normale gesprek wat jy as deel van jou dag beskou, bestaan nie daar nie want jy ken niemand met wie jy die goed kan deel nie, en dís wat jou alleen laat voel.”

Ek het nodig dat alles wat my ego en identiteit as hierdie persoon in Suid-Afrika bepaal, moet gestroop word.”

Deon beskryf in sy boek aangrypend hoe hy van so te sê al sy besittings – insluitende boeke en musiek – ontslae geraak het en sy persoonlike argief verbrand het.

“Ek dink daar is ’n kans dat die proses sou gebeur het selfs al het ek Kaap toe getrek. Alles wat ons bymekaar maak in ons lewe reflekteer ego: die koerantuitknipsels wat jy hou van wat jy geskryf het of wat oor jou geskryf is; die DVD’s wat jy gehou het van televisiereekse wat jy gemaak het; die foto’s wat Cobus Bodenstein geneem het tydens Idols [waarvan hy ’n beoordelaar was] wat jy nog steeds op ’n disc het . . . Hierdie goed is alles net vir een rede daar en dit is vir jou eie ego.

“So ek het begin met hierdie hele proses toe Veda weg is, want sy is drie maande voor my Berlyn toe. Die proses om uit te vind wie is ek en wat bepaal wie ek is? En om deur daardie proses te werk, het ek op die punt gekom waar ek besef het ek het nodig dat alles wat my ego en identiteit as hierdie persoon in Suid-Afrika bepaal, moet gestroop word.”

‘Ek is ’n hondeloper’

“Ek bly nou in ’n plek waar ek letterlik niemand ken nie . . .” Foto: Jaco Marais

Hy raak aan ’n klein goue medaljon om sy nek en sê:

“Hier staan ‘ich’ op; ek is totaal gefassineer deur die ‘ek’-konsep op die oomblik. Ek het in Berlyn aangekom en vir die ouens in Berlyn wat my sien, is ek ’n hondeloper; hulle weet níks van my lewe wat ek voor Berlyn gehad het nie. So ek is ’n virgin; ek begin op núl. En daar is geen druk op my om enigiets hóéf te wees of enigiets hóéf te doen nie. Daar is geen verwagtinge nie; met ander woorde: Ek kan niemand teleurstel nie en niemand raak ontsteld as ek iets op ’n spesifieke manier sê nie. Daar is geen reaksie teenoor my omdat my naam Deon Maas is nie.

“Jy moet onthou: Ek het rooi hare gehad en ’n bril en sproete. In die army, waar almal in bruin aangetrek was, was ek die één rooikop, so ek is die ou wat die meeste gegaff is. So ek het nog altyd uitgestaan in ’n crowd – my hele lewe lank. Op skool was ek kleiner as almal; o, nou’t jy rooi hare in die army . . . So daar was ’n strewe na anonimiteit gewees wat verskriklik aangenaam was en wat nog steeds voortgaan.”

In Duitsland het Deon tot die besef gekom Afrikane is probleemoplossers.

“Daar is ’n sekere ritme en veiligheid in die chaos van Afrika. Ons bly op ’n kontinent waar daar ’n baie wye verskeidenheid van probleme is en waar jy konstant goed moet oplos . . . In Europa is daar baie wette en hierdie wette verhoed mense om hulle probleme op te los.

“Ek dink een van die redes waarom Suid-Afrikaners veral in Duitsland so in aanvraag is, werksgewys, is omdat ons probleemoplossers is. As ’n Suid-Afrikaner het jy nie ’n plan b en ’n plan c nie; jy het planne k, l en m, want daar is net soveel wat kan verkeerd loop.

“So, die realiteit van die saak is omdat ons op ’n kontinent bly waar alles nie heeltemal werk nie, is jou vermoë om probleme op te los beter ontwikkel.”

Sit gerus

Witboy in Berlyn het pas in Afrikaans en Engels (Witboy in Berlin) by Jonathan Ball Uitgewers verskyn.

Deon skryf hy het in Berlyn “die eerste keer besef hoe macho ek regtig is”. Ek pols hom daaroor.

“Toe ek met Idols begin het, het almal net outomaties aangeneem ek is gay omdat ek ’n bitch was en sekere maniërismes het . . . My hele lewe lank het mense so gedink, en as hulle uitvind ek is nié gay nie dan’s dit like: ‘Weet jy wat? Hy ís gay, hy weet dit nog net nie.’

“So nou is ek 57 jaar oud en ek dink ek het uitgefigure ek is nié gay nie. Maar ek het nog nooit énige vorm van machismo gehad nie. Die een ding wat ek as ’n tiener geleer het as ’n rooikop met ’n bril en sproete en puisies en skewe tande, is jy kan die jagtersinstink hê, maar as jy machismo is you’re not going to get laid . . . So ek het baie vroeg in my lewe geleer if you need to get laid you need to show your feminine side.

“Ek vind dat my manlikheid meer en meer onder druk geplaas word – wie ek natuurlik as ’n man is. Ek dink ek het my threshold bereik oor hoe ver ek as ’n man bereid is om te gaan, want ek gaan nie sit en pie nie. [Soos wat van mans in Berlyn verwag word.]

Hy skryf: “Dat mini-macho-me hier sowaar sal kan deurgaan as die soort machismo wat sommige mense selfs as bedreigend ervaar – en dít net omdat ek weier om te sit en pie.”

Bietjie nasietrots, asseblief

“Almal vra altyd vir jou wat mis jy die meeste.” Foto: Jaco Marais

Deon lees daagliks onder meer Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe en is dus heeltemal op die hoogte van wat in Suid-Afrika aan die gang is.

“Dit is vir my makliker om die positiewe goed te sien wat hier gebeur as wat dit vir baie ander mense is. Dis asof Suid-Afrikaners te naby aan die kak is om die blomme te kan sien. Ons het rêrig nodig om ’n bietjie terug te staan en ’n bietjie meer objektief na onsself te kyk.

“Ek dink baie van die kritiek wat in Suid-Afrika uitgespreek word, het ’n rassebasis. As die regering nie swart was nie, sou wit mense minder krities teenoor die regering gewees het en ek dink dat as wit mense hulleself meer as Afrikane beskou het, dan sou daar nie soveel ruimte vir kritiek gewees het van mense soos die EFF nie.

“So, vir die eerste keer sien ek Suid-Afrika op ’n heel ander manier. Die oomblik as jy jouself uit die dag-tot-dag slog uithaal dan sien jy dat hier baie groter en meer positiewe dinge in die land aangaan as wat die meeste mense gewoonlik dink . . .

“Ons as Suid-Afrikaners is baie krities oor onsself, ons land, ons vermoëns. Ons het nodig om ’n bietjie nasietrots te ontwikkel.”

Die terugkeer na Suid-Afrika twee dae voor ons onderhoud was baie emosioneel, sê Deon.

“Toe ons uit die vliegtuig uitklim toe staan daar hierdie swart mense . . . En ek het net begin huil.” Hy hou op praat want hy is weer oorkom deur emosie. “Dit was net soos in: Dit maak nie saak wat gebeur nie – ek is by die húis. Ek kan enige plek in die wêreld bly; ek kan enige taal leer; ek kan enigiets doen, maar die realiteit van die saak is: Hierdie is my huis; hierdie is waar ek altyd sal veilig voel en waar ek weet hoe alles werk.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Veda Nieuwoudt Maas  |  Deon Maas  |  Berlyn  |  Duitsland  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.