Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Wit mense moenie stilbly’

Die beskouing dat wit mense weens hul bevoorregte posisie nou hul mond moet hou, is onsin, het John Steenhuisen, DA-hoofsweep, aan Murray La Vita gesê.

John Steenhuisen tydens ’n onderhoud in sy kantoor in Kaapstad. Foto: Murray La Vita

Die gesprek met Steenhuisen in sy kantoor neffens die parlement begin by ’n speletjie.

“Toe ek ’n kind was, het ek die speletjie troefkaart gespeel. Jy het kaarte met vliegtuie en motors en so aan gekry. In elke pak was daar ’n troefkaart wat al die ander kaarte in die pak getroef of gewen het. Ras het ongelukkig in Suid-Afrika die troefkaart geword. So, as jy nie met iemand oor die feite kan redeneer nie; as jy nie hul argument kan hanteer of rasioneel daarop reageer nie, word die raskaart uitgepluk en dit word gebruik om die argument of die persoon stil te maak.

“Voorbeelde hiervan is die president wat vir my in die parlement gesê het ‘shut up’ en mnr. (Julius) Malema (EFF-leier) wat vir my gesê het ek mag nie in die parlement praat nie omdat ek wit is. Maar ek is nie iemand wat maklik stilbly nie en ek sal nie toeaat dat iemand my stilmaak nie.

“Ras word as ’n swartskaap gebruik wanneer jy jou eie tekortkominge wil verbloem, wanneer jy geen rasionele teenargument het op dit wat gesê word nie, en wanneer jy geen idees van jou eie het om aan te voer nie; dán pluk jy eenvoudig die raskaart uit en gebruik dit om enige argument wat iemand anders probeer maak te troef.

“Dit maak nie saak of dit waar is of nie. Of daar bewyse is dat jy al ooit in jou lewe iets gedoen het wat rassisties is of nie, maak nie saak nie. Dit word gebruik om die debat te beëindig omdat die persoon wat met jou debatteer nie wil hê die debat moet verder gaan nie, omdat hulle nie in staat is om te antwoord of om ’n teenargument aan te bied nie.”

Dit gaan oor haat

Hy sal hom nie deur Julius Malema laat stilmaak nie, sê Steenhuisen. Foto: Lindile Mbontsi

Die EFF is ’n tipiese Fascistiese beweging, sê Steenhuisen.

“Die klem op uniforms, die opperbevelvoerder . . . En haat – dit gaan oor haat. Jy mobiliseer haat teenoor ’n groep en jy gebruik dit vir politieke mobilisering. En, om eerlik te wees, dit is al wat die EFF nou oor het. (Oudpres. Jacob) Zuma is weg. Sy beleidsplatform is heeltemal onder hom uitgeruk deur wat in Venezuela gebeur het en wat dit duidelik maak dat indien die EFF se beleid ooit hier toegepas sou word, sal ellende, armoede en wanhoop toeneem.

“Ál wat hulle oor het, is ras. En ál waarteen hulle mense kan mobiliseer, is teen mense van ’n sekere kleur. Ek dink dit is nou belangriker as ooit om nie ’n benadering van jammer dat ons leef in te neem nie, maar om ferm op te staan en te sê: ‘Ons is Suid-Afrikaners. Die aanhef tot ons Grondwet is baie duidelik: Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon.

“Ek hoef nie verskoning te maak omdat ek wit is nie. Ek het ’n bydrae om te lewer. En, ja, ons kom uit ’n pynlike en verdeelde verlede. En, ja, daar was onteiening en verskriklike behandeling van mense, maar jy stel dit nie reg deur dieselfde rassehaat te perpetueer nie.

Ek behoort nie in ’n hoek in gedwing te word en beveel te word om te sit en my mond te hou net omdat ek ’n ligter velkleur as mnr. Malema het nie.

“Ek dink mense soos Hendrik Verwoerd en P.W. Botha sou baie trots gewees het op Julius Malema want hý, meer as enigiemand anders, is daartoe in staat om rasse teen mekaar te mobiliseer.

“So, ja, ek kan wit wees en uit ’n bevoorregte agtergrond kom, maar ek wil daardie agtergrond gebruik om reg te maak wat verkeerd is met Suid-Afrika sodat ons meer geleenthede vir mense kan skep.

“Ek behoort nie in ’n hoek in gedwing te word en beveel te word om te sit en my mond te hou net omdat ek ’n ligter velkleur as mnr. Malema het nie. Ek is, net soos hy, ’n Suid-Afrikaner. Ek het ’n bydrae om te lewer net soos wat hy het, en ek gáán dit doen.

“Ek dink hoe meer minderhede ineenkrimp en ’n houding van ’n jammer dat ons lewe inneem, hoe meer bemagtig dit mense soos Malema. Wat ons almal – wit, swart, bruin, Indiër – behoort te doen, is om rassiste aan die kaak te stel . . . Ons moet mense wat diskrimineer aan die kaak stel en ons moet hierdie demagoë en Fasciste in die EFF aan die kaak stel en hul agenda ontmasker vir wat dit is – ’n haatgedrewe agenda wat daarop ingestel is om ’n sekere doel te bereik, naamlik mag teen elke prys sodat hulle kan voortgaan om netwerke kan skep waardeur hulle hulself en hul vriende baie, baie ryk kan maak.”

‘Sê wat jy moet’

Steenhuisen in aksie in die parlement. Foto: Nasief Manie

Die beskouing dat wit mense weens hul of hul voorsate se bevoorregte posisie hul woorde moet tel – as hulle enigsins praat – is onsin, meen Steenhuisen.

“Jy moet sê wat jy nodig vind om te sê – die Grondwet verskans daardie reg. Die oomblik dat jy daardie benadering van jammer dat ons leef begin inneem, sal jou mening toenemend na die rand toe geskuif word. Jy moet sentraal wees en aan die debat deelneem. Dít is nie te sê jy moenie die pyn van baie mense in ag neem nie, maar dít is nie gelyk aan om stil te bly nie. Jy móét ’n stem hê. Élke stem moet gehoor word as ons die land vorentoe wil neem. En elkeen wat ’n bydrae kan lewer, móét daardie bydrae na die beste van sy of haar vermoë lewer. Ek is toevallig in die politiek en my bydrae is deur wat ek sê en doen en ek sal voortgaan om dit te doen – ek sal nie vir mnr. Malema of mnr. (Cyril) Ramaphosa of enigiemand anders toestemming vra om dit te doen nie . . .”

Watter soort persoonlikheid moet ’n mens hê om, soos hy, te weier om stil te bly en voort te gaan om homself in moeilike omstandighede uit te spreek?

So, wat my dryf, is om die DA in ’n magsposisie te kry waar ons ons program en beleid in werking kan stel en Suid-Afrika kan verander.

“Jy moet absoluut glo aan jou program en dat dit waarvoor jy veg, ’n verskil gaan maak en dinge gaan verander. Jy moet ook ’n taamlik dik vel hê . . . Die meeste politici het dun velle; ons maak asof dinge ons nie raak nie, maar sommige dinge maak baie, baie seer . . . Om in die parlement ’n verkragter genoem te word [Malema het verlede week gesê hy is weens verkragting aangekla] is uiters kwetsend. Dit is nie lekker dat jou vriende en familie daaraan blootgestel word nie. Maar, nou ja, dit is ’n robuuste omgewing en jy moet sterk wees en dit kan vat.

“Jy moet natuurlik ook ’n goeie ondersteuningstruktuur hê – familie en vriende. Hulle is ook baie belangrik want hulle, veral my vriende, is my grootste kritici. Hulle hou my nederig en sorg dat ek myself nie te ernstig opneem nie.

“So, wat my dryf, is om die DA in ’n magsposisie te kry waar ons ons program en beleid in werking kan stel en Suid-Afrika kan verander.”

Wat Malema se uitlatings betref, sê Steenhuisen later:

“Ek daag hom uit om dit buite die parlement te maak. Ek wag vir daardie dag want dan sal ’n lekker geleentheid hê om geld in te samel vir volgende jaar se verkiesing; ek sal hom dagvaar.”

’n Moeilike jaar

Dit is hoogs onwaarskynlik dat pres. Cyril Ramaphosa nie van staatskaping, en wie daarby betrokke was, geweet het nie, sê Steenhuisen. Foto: Jaco Marais

Hy praat oor die “verskriklike jaar” wat die DA tot dusver gehad het.

“Ons het baie laagtepunte gehad. Die De Lille-kwessie byvoorbeeld. Dit was ’n werklik onaangename, slordige, ongemaklike tyd wat gepaard gegaan het met baie persoonlike venyn en vitrioel, en ek dink dit was ’n moeilike tyd vir die party.”

Meen hy die party het daardeur steun verloor?

“Miskien op kort termyn, maar ek sou graag wou dink dat mense uiteindelik sal insien die DA het twee keuses gehad: Hy kon dit onder die mat invee en hoop dit kom nooit op die lappe nie. Maar die geskiedenis wys vir ons in Suid-Afrika bly dinge nie onder die mat nie – die ondersoek na staatskaping is ’n goeie voorbeeld daarvan.

“Ons is nie perfek nie, ons het foute begaan, maar dit is die eerste keer dat ons te doen het met ’n senior mens op ’n hoë vlak teen wie sulke verskriklike aantygings gemaak word.”

Ek hoop kiesers sal uiteindelik besef hulle is veiliger by ’n party wat sy eie mense verantwoordbaar hou.

Sy is onder meer daarvan beskuldig dat sy aanstellings op ’n onregmatige wyse beïnvloed en/of gedoen het en dat sy nie haar pligte as burgemeester na wens uitgevoer het nie.

“Ek hoop kiesers sal uiteindelik besef hulle is veiliger by ’n party wat sy eie mense verantwoordbaar hou tot dieselfde mate as wat hy die ANC-regering verantwoordbaar hou.”

Hy meen die ANC is vandag tot die kern verrot juis omdat die party herhaaldelik blind was vir vergrype.

“Die wapenskandaal, Sarafina, Virodene, Inkandla, Travelgate . . . Uiteindelik het almal iets van mekaar geweet en die organisasie het net heeltemal verrot en verlam geraak.”

Oor Ramaphosa is hy nie ooroptimisties nie.

Wat vir hom verbysterend is, is hoe geskok Ramaphosa oor staatskaping is.

“Ek koop nie die idee dat Cyril die ‘long game’ speel en dat hy wag tot ná die verkiesing voordat hy sekere dinge doen nie. Ek kan jou nou al sê die ANC gaan ná die verkiesing in ’n swakker posisie wees. Die 63% wat Zuma behaal het, gaan daal na 55 tot 57%. Dit gaan vir hom bloed in die water laat beland in sy eie party.

“Ek koop ook nie hierdie mite dat ons almal vir Cyril moet stem en sodoende sy hand versterk nie. Vir eers: Jy beloon nie ’n party wat die ekonomie op die rotse laat beland het nie; jy beloon nie ’n party wat 10 miljoen mense werkloos gelaat het nie; jy beloon nie ’n party wat mynwerkers in Marikana vermoor het nie. Tweedens: Jy stem nie vir kandidate nie; jy stem vir ’n party. Die laaste drie ANC-presidente is uitgeskop voordat hulle hul termyn voltooi het.

“So daardie mense wat dink hulle is slim deur vir Cyril te stem en die ANC te versterk, kan baie maklik vind daardie stemme word in die toekoms teen hulle gebruik wanneer (David) Mabuza (adjunk-president) en Malema in een of ander vorm van samewerking teen Cyril optree.”

Wat vir hom verbysterend is, is hoe geskok Ramaphosa oor staatskaping is.

“Jy dien nie vyf jaar in ’n kabinet as tweede in beheer van die land en weet nie wat daar aangaan nie. Dit is hoogs onwaarskynlik dat hy nie van die staatskaping, en wie daarby betrokke was, geweet het nie.”

Voorspellings vir verkiesing

“Ek hoef nie verskoning te maak omdat ek wit is nie. Ek het ’n bydrae om te lewer.” Foto: Murray La Vita

Steenhuisen meen die EFF se steun sal in die 2019-verkiesing groei, maar nie tot die vlakke wat mense voorspel nie.

“Dit sal gebeur weens gebrekkige ANC-beleid, wat ’n teelaarde geskep het vir populistiese beleid. As ek na jou toe kom en vir jou sê: ‘Sien jy daardie bank? Dis vol geld, ek gaan dit vir jou gee.” Of ek sê vir jou: ‘As ons hierdie ekonomie aan die gang wil kry, moet ons gunstige omstandighede vir beleggings skep.’ Wat gaan vir jou die aantreklikste aanbod wees as jy níks het nie?

“Ek dink die ANC en die EFF gaan by mekaar toenadering soek. Ek sal nie verbaas wees nie as daardie verhouding teen die ANC se 8 Januarie-verklaring al geformaliseer gaan wees wat samewerking in metro’s en nasionaal betref.”

Ek pols hom oor die DA se vooruitsigte in volgende jaar se nasionale verkiesing.

In die post-Zuma-era gaan dit eenvoudig nie meer goed genoeg wees om te sê die ANC is gemors nie.

“Ons moet vertroue herbou en weer met kiesers in aanraking kom. Maar ons moet ook ons aanbod van ‘Een Suid-Afrika vir almal’ baie versigtig aanbied. Soos ek al gesê het: Ons het in politiek beweeg van ’n analoog-era na ’n digitale era. In die post-Zuma-era gaan dit eenvoudig nie meer goed genoeg wees om te sê die ANC is gemors en mnr. Zuma is korrup nie; ek dink almal weet dit.

“Dit is uiters noodsaaklik dat die DA aan mense ’n leer van geleenthede voorhou en dit vir elke kiesers duidelik maak hoe hulle met daardie leer uit die posisie van wanhoop waarin hulle is, kan klim na welvaart en geleenthede.

“Die party wat vir mense kan wys hoe ons die ekonomie aan die gang kan kry en werk kan skep; die party wat vir mense kan wys hoe ons die onderwysstelsel kan regmaak; die party wat wys dat hy misdaad kan beveg . . . dít is die party wat die oorhand gaan kry in die komende verkiesing.

“Ek dink as ons ons boodskap goed kan oordra en die leer van geleenthede met ons kiesers kan deel, behoort ons veel beter te vaar as wat baie van ons kritici verwag.”

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  John Steenhuisen  |  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.