Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wolfe se woorde ‘soos ’n warm bad’

Die legendariese joernalis en skrywer Tom Wolfe is Maandag op 88-jarige ouderdom in ’n hospitaal in Manhattan dood. Jo Prins het met ’n paar kenners gepraat oor Wolfe se impak op ’n hele generasie van joernaliste en skrywers.

Tom Wolfe toe hy in 2005 die Universiteit Washington and Lee se kampus in Lexington, Virginië, besoek het. Foto: AP

Tom Wolfe het hom aangesluit by Norman Mailer, Truman Capote en Hunter S. Thompson in die Groot Leeskamer in die hemel – vaarwel Tom Wolfe, die uitvinder van New Journalism.

Só het die skrywer en politieke kommentator Max du Preez Dinsdag op Twitter gereageer op die nuus dat Tom Wolfe in die VSA dood is.

Du Preez het aangesluit by letterlik honderde mense op sosiale media wat oor die jare heen volslae aanhangers was en geword het van Wolfe se spesifieke brand van joernalistiek en skryf.

Maar om te sê Wolfe was net ’n skrywer of joernalis sou dinge aansienlik onderspeel – soos met Hunter S. Thompson kan ’n mens veel eerder van Wolfe se aanhang praat as ’n kultus.

Teen die tyd dat die tagtigs oor ons gespoel het, was die invloed opmerklik, heel dikwels in publikasies soos 'Vrye Weekblad', 'Die Suid-Afrikaan', 'Stet' en dikwels in kortverhale.

Die skrywer Kerneels Breytenbach sê Wolfe se invloed op hom was nogal groot, veral in die 1970’s.

“Ek het al Wolfe se versamelings soos The Kandy-Kolored Tangerine-Flake Streamline Baby verslind, en danksy sy en EW Johnson se versameling The New Journalism die sprong gemaak na Hunter S. Thompson, Truman Capote, Micheal Herr en dies meer.

“Teen die tyd dat die tagtigs oor ons gespoel het, was die invloed opmerklik, heel dikwels in publikasies soos Vrye Weekblad, Die Suid-Afrikaan, Stet en dikwels in kortverhale. Nie dat joernaliste presies só wou skryf nie, maar ons manier van onderwerpe benader het beslis daarby baat gevind.”

Wolfe se eie skryfwerk was vreeslik verleidelik, totdat jy self so iets probeer doen het. Niemand kon hom dit werklik volledig nadoen nie.

Breytenbach sê hy dink hier veral aan mense soos André le Roux se onderhoude met Karel Schoeman en Suzanne van Wijk.

“Ek self het in my koerantwerk meer aanklank by sy bundel From Bauhaus To Our House gevind, hoofsaaklik omdat ek spesifiek in daardie dinge belanggestel het.

“Wolfe se eie skryfwerk was vreeslik verleidelik, totdat jy self so iets probeer doen het. Niemand kon hom dit werklik volledig nadoen nie. Behalwe miskien Hunter S. Thompson. Maar enigiemand wat ’n essay begin met 57 herhalings van die woord ‘hernia’ skep vir joernaliste ’n voorbeeld van hoe mens woorde vir jou kan laat werk.

“Thompson het dieselfde effekte gebruik, maar sy waansin het hom meestal gepootjie. Wolfe is dit natuurlik altyd verwyt dat hy ’n joernalis is wat eintlik romansier wou wees, en hy het toe die hibridiese roman The Right Stuff gebruik om uiteindelik by Bonfire of the Vanities en A Man In Full by die roman self uit te kom.

“Ek het Bonfire in sy eerste weergawe in Rolling Stone gelees, en dit was ’n openbaring om te sien hoeveel hy daarvan kreatief kon herskryf vir Bonfire. ’n Les vir alle skrywers.”

Tom Wolfe saam met die Amerikaanse president George W. Bush toe hy die National Humanities-medalje in 2002 in Washington ontvang het. Foto: Reuters

Breytenbach meen Elsa Joubert het in Afrikaans met Die swerfjare van Poppie Nongena die naaste aan New Journalism gekom en dat Jacques Pauw met die openingsgedeelte van The President’s Keepers Wolfe se truuks verbluffend goed aangewend het.

“Ek sien soms in Murray La Vita se onderhoude dieselfde gevoeligheid vir woorde, semantiek en geïmpliseerde konteks, soos ’n mens by uitnemendheid in Wolfe se skryfwerk vind.”

Die skrywer Eben Venter sê weer Wolfe het van “binneuit ’n kultuurmilieu” geskryf, of dit nou oor die New Yorkers op Fifth Avenue was in Bonfire of the Vanities, of oor die blommekinders van San Fransisco met LSD-tablet op die tong, in The Electric Kool-Aid Acid Test.

“Is dit nog storie of is dit al ’n nuwe soort joernalistiek?

Acid test was my eerste Wolfe. Sy taal daarin só taaloorskrydend dat ek die trippy kontrakultuur van die 1960’s kon smaak. En dis die ding van Wolfe, al skryf hy ook van binneuit ’n milieu, skep hy steeds sy eie Wolfe-wêreld van begin tot einde. Dit het hy reggekry met sy slim ingekleurde woorde waarin jy kan wegglip soos in ’n lekker warm bad – en só open sy kort, knap kunsgids, The Painted Word.”

Hy het joernaliste geïnspireer om te skryf met die stilistiese noukeurigheid van romanskrywers.

Louise Viljoen, professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, sluit hierby aan en sê vir haar lê die groot waarde van Wolfe se werk ook in die bydrae wat hy gemaak het met sy spesifieke weergawe van New Journalism in sy vroeë versamelings essays en rubrieke.

“Hy het saam met die ander die grondslag gelê vir die verbeeldingryke kombinasie van feite met fiksie wat later so ’n sterk neerslag in die werk van Afrikaanse skrywers gehad het.

“Ek dink hy het joernaliste geïnspireer om te skryf met die stilistiese noukeurigheid van romanskrywers en romanskrywers geïnspireer om hulle materiaal te vind in die nuus waarmee hulle dag vir dag omring word.”

Viljoen sê sy het in een van die gedenk-artikels gelees dat Wolfe gesê het: “Nothing fuels the imagination more than real facts do.”

“Die wyse waarop die New Journalism die interaksie tussen feit en fiksie hanteer het, het lesers as ’t ware opgelei om die verskille én raakpunte tussen hulle te hanteer en veral te respekteer. Daarsonder sou ons dalk blind gewees vir die blatante leuens waarmee ons daagliks en op ’n globale skaal in die openbare lewe te doene kry.”

Tom Wolfe in sy huis afgeneem tydens ’n onderhoud oor sy jongste boek The Kingdom of Speech. Foto: AP

Die skrywer Schalk Schoombie sê weer dit was gewoon bevrydend om Wolfe te lees. “Opwindend, besielend, ondergrawend...

“Ek het die eerste maal, soos vele lesers, met sy werk kennis gemaak toe ek The Bonfire of the Vanities gelees het, daardie galbitter, satiriese ode aan die oordaad van die tagtigs. Die fliekweergawe met Tom Hanks kon nie daaraan reg laat geskied nie, want wie kan Tom Wolfe naboots of kanaliseer – in fleurige beskrywings, sappige dialoog, egosentriese stemtoon?

“Hy het skroomloos die eie belewenis en perspektief vermeng met die feitelike; subjektiwiteit gevier met bitsige sosiale kommentaar en snydend-snaakse waarnemings van menslike dwaasheid en ambisie.

Ek het geweet ek was nie die nuus nie, maar ek was dáár, ek het dit immers aanskou, ’n ooggetuie wat nie sy invalshoek en teenwoordigheid hoef te ontken of verdoesel nie.

“Sy joernalistiek was vir my so opwindend aweregs soos sy fiksie – en die een het die ander gevoed. Dit het my aangemoedig om fyner te kyk en luister, al my sintuie in te span, om die tydsgees met ’n knippie sout te neem, om die gesindheid en tegnieke van ’n romanskrywer op niefiksie toe te pas.”

Schoombie sê vir die eerste keer kon hy dit waag om skaamteloos “ekkerig” te wees, om “ek” sommer in die eerste sin te gebruik.

“Ek het geweet ek was nie die nuus nie, maar ek was dáár, ek het dit immers aanskou, ’n ooggetuie wat nie sy invalshoek en teenwoordigheid hoef te ontken of verdoesel nie. Bevrydend, inderdaad! Weg met droë verslaggewing met ’n verskuilde agenda, het ek gedink.

Tom Wolfe in November 1986. Foto: AP

“Wolfe, wat al die bang varkies se grashuisies met sy skroeiende asem kon wegblaas, het ook nuwe lewe in my eie skryfwerk geblaas. Voor jy terugbons na balans en baksteenhuisies, moet jy tog eers kreatief raak en wyd verken ...

Joan Hambidge, professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, meen weer The Bonfire of the Vanities en A Man in Full is lang, uitgesponne romans wat gewoon net nie werk nie.

“John Updike, John Irving en Norman Mailer het die laaste roman met die grond gelyk gemaak en dit word beskou as een van die grootste polemieke in die letterkundige geskiedenisse.

“Geld en sukses is geen waarborg vir ’n goeie roman nie. Hy het op sy beurt hulle die ‘Three Stooges’ genoem.”

Hambidge sê sy herlees gereeld Radical Chic & Mau-Mauing the Flak Catchers (1970).

“Ek dink Hennie Aucamp sou beweer het hy was eerder kortverhaalskrywer en essayis as romanskrywer.”

Meer oor:  Joernalistiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.