Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Woord-Smith van die Vrystaat

Môre, 1 Desember, is dit presies drie dekades gelede wat Volksblad en Netwerk24 se bekroonde nuushoof in Bloemfontein, Charles Smith, as joernalis by die koerant in Bloemfontein begin werk het. Sy glansboek, Nuusmakers, ’n skryf-en-fotoversameling van 30 jaar se stories oor mense, nuus en gebeure, is verlede week by die Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) bekend gestel.

Charles Smith voer ’n onderhoud met Hannelize Nell, dogter van die Tempe-slagoffer sers. Willie Nell (27). Hannelize is die dag ná haar pa se dood in 1999 gebore. Charles skryf al van toe af tot nou haar lewenstorie. Foto: Mlungisi Louw

Het hy skeinat en wiskunde beter verstaan op skool, het hy ’n argeoloog geword. Maar toe word hy joernalis, en ’n dekselse goeie een daarby wat die eerbewyse jaar ná jaar inryg. Vanjaar alleen is hy as Netwerk24 se joernalis en artikelskrywer van die jaar aangewys en het hy die FAK se Pres­tige-prys ontvang vir sy bevordering van Afrikaans.Krummelpap en inkDit het alles op die Smith-gesin se plaas Mispa, by Rouxville, begin. Hy skryf met die ink wat hy met sy krummelpap ingekry het, vertel Charles voor in sy Volksblad-boek Nuusmakers: Stories oor mense, nuus en gebeure oor 30 jaar.

In die plaashuis van pa Hendrik en wyle ma Grietje, aan wie die boek opgedra is, was rakke vol boeke. Die Volksblad en Na-tional Geographic het met die pos gekom.

“Vandat ek kan onthou, lees ek Volksblad. Ek het gehou van die idee dat jy alles van oor die wêreld heen voor jou kan oopslaan en lees. Die koerant het van kleins af ingesink.”

Daarby was National Geographic, met sy uitsonderlike foto’s, ’n reuse-invloed.

National Geographic se joernaliste het op assignments gegaan. Ek en my jonger broers (die landboukundiges Chris en Hendrik) het vir dae lank op die plaas op assignments verdwyn, op verkenningstogte na plekke. Ierland en Rusland was op die plaas en plekke in die populierbos het name gekry. Ons ander broer, Francois (die letterkundige en skrywer van Kamphoer), het gelees en atletiek geoefen.

“Ek dink hierdie verkenningstogte is wat ek ook in die joernalistiek probeer doen. Om plekke – vaal kolle op kaarte – te ontdek, maar meer nog mense, en om dit te skryf en te poog om dit te laat lyk soos daardie foto’s in National Geographic.”Beginjare

Op 1 Desember 1989 stap hy die eerste keer by die voordeur van Die Volksblad in.

“Ek het opgedaag met ’n check-baadjie van Awerbuchs – wat my ma gedink het ek moet dra – en ’n kakiebroek waaroor ek nou nog skaam is. Die eerste keer in jare het ek ’n das om my keel gekry.

“Mike van Rooyen is die eerste ou wat ek gesien het. Hy en ander joernaliste – van hulle knorrig – het lang sigarette gerook en op tikmasjiene gehamer.”

Foto:

Die stelsel waarmee berigte in buise met lugdruk in pype gelanseer en rondgestuur is en uiteindelik in die loodsettery van toeka beland het, het die jong beginnerjoernalis gefassineer.

“Alles het bymekaargekom, van die gehamer op die tikmasjiene tot die koerant ’n paar uur later op jou lessenaar land. Jy kon die ink voel. Dit was ’n wonderwerk in ’n paar uur.”Drie dekadesIn sy 30 jaar as joernalis het hy vyf jaar lank in Bethlehem verslag uit die Oos-Vrystaat gedoen, drie jaar lank uit die parlement en drie jaar uit Washington.

Hy het oor die Tempe-slagting geskryf. In die Lesotho-opstand is hy gekaap en het hy te voet deur die Caledonrivier gevlug. ’n AWB-boer het hom met ’n rewolwer teen die kop gedreig. Hy het oor te veel moorde en geweld geskryf.

Maar sy stories waarmee hy mense en plekke in woorde en foto’s skilder en die leser intrek om dit te beleef, staan uit. Stories oor die hier en nou, oor vergange dae, oor hoop en drome. Oor ’n jakkalsjagter van Putsonderwater; ’n boer wat sy trekker “doodskiet”; ’n vrou van 77 wat kaalvoet en alleen boer; oor skrywers, digters, boere, bokskampioene, myners en Vrystaatse cowboys; oor hardebaard-klubrugby; en oor ’n kerkie in Amerika waar dodelike ratelslange saam met die pastore die preekwerk doen.

Charles vertel nie bloot nie. Met sy stories raak hy ook mense aan en verander hy lewens. Seun Diphoko, die draadkar­bouer van Theunissen, se karre is al tot in Amerika in aanvraag. Die 11-jarige meisie M wat deur haar ouers mishandel en verwaarloos is, het weer hoop.

En met die Marleen Smith-projek op Facebook – ter herinnering aan sy joernalis-eksvrou wat in Junie tragies dood is – het hy ’n plek geskep waar mense uitreik na mekaar en mekaar ondersteun met hul eie stories oor depressie, angs, afhanklikheid, eensaamheid en boelies.

“Ons hoef nie altyd te wag vir groot instansies en organisasies om te help nie.”

Met dié projek het meisie K (15), wat as gevolg van boelies weggeloop het uit die skool en deur ’n polisieman uitgebuit is, se lewe weer koers gekry.

Uit en tuisDaar was ander beroepsgeleenthede, maar in Bloemfontein het hy gebly.

“Ek is ontvang en gebore by Volksblad. Ek weet hoe voel die Vrystaat. Ek ken mense hier, en ek weet hoe werk die storie hier.

“Een van die ander groot redes waarom ek gebly het, is Mike van Rooyen. Hy het dosyne jong joernaliste die beginsels van die joernalistiek geleer. As daar ’n Volksblad-stoetbul is wie se gene goud werd is, is dit Mike. Ná 45 jaar is hy elke dag op sy pos in die hof en kry hy die een scoop ná die ander.”

Vir Charles is dit lekker om as Netwerk24 se nuushoof in die nuusredakteurstoel te sit waarin sy mentor jare lank gesit het.

“Skryf is lekker, maar om mentor te wees vir die jonger geslag is ook een van die lekkerste goed.”

Al wat in die 30 jaar nie regtig vir hom lekker was nie, was die politiek-skrywery: Om uit die parlement te skryf oor politici se beloftes wat hy voor sy siel geweet het gaan niks van kom nie. Maar ten minste kan hy nou, as ’n gevestigde en gewilde skrywer, die regeerders op ’n Donderdag in Volksblad se Goeiemôre-rubriek bykom en “so ’n bietjie kwaad stook”.Argeoloog op papier

Ja, hy wou ’n argeoloog word. Dit is sy passie om alleen en in stilte op die plaas, waar hy deesdae self boer, fossiele en rotskuns te soek.

“En by die werk doen ek dit op papier, met die lekkerte om mense te ontmoet en stories te vertel.”

Oor die akkolades en joernalistiekpryse en sy naam wat nou saam met dié van bekende skrywers teen Naln se muur pryk, bly hy nederig.

“Ek is rêrig nie ’n skrywer nie. Ek is ’n nuusskrywer, op die beste ’n nuusverhaalskrywer. Dis ’n voorreg.”

Dit is Charles Smith, steeds op assignment, soos doerie tyd al op die plaas Mispa.) Nuusmakers (R300 en R50 koerierkoste) kan bestel word by aiden.meyer@24.com of Whats­App 066 390 6855.

Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.