Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Zapiro: ‘Die land is op ’n helse plek’

Ons is in diep moeilikheid, die land is op ’n “helse plek”, sê die spotprentkunstenaar Jonathan Shapiro, oftewel Zapiro, aan Murray La Vita.

Jonathan Shapiro praat in sy ateljee in Kaapstad oor sy lewe en werk. Foto: Jaco Marais

Jonathan Shapiro (61) vroetel in sy ateljee in Kaapstad rond op soek na sy bril. Hy is bysiende. En ook, volgens sy eie erkenning, ’n effense warhoof.

Die onderhoud met Shapiro vind plaas ’n paar dae voordat hy tot ’n Franse ridder geslaan is. Hy het verlede week in Kaapstad Frankryk se belangrikste kultuureerbewys ontvang toe Aurélien Lechevallier, die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, namens pres. Emmanuel Macron die Chevalier des Arts et des Lettres (ridder in die orde van kuns en lettere) aan hom toegeken het.

Daar is iets heel gepas aan dié toekenning as ’n mens in ag neem dat dit ’n Franse sportprentkunstenaar is wat bepalend was in Shapiro se besluit om argitektuur vir spotprente te laat vaar.

Hy is ’n ‘vriend van Frankryk’

Shapiro word nie net vir sy werk erken nie, maar ook omdat hy “nog altyd” ’n voorstander van vryheid van spraak én ’n vriend van Frankryk was.

“Frankryk wil erkenning gee aan ’n kunstenaar, ’n vriend, maar ook ’n vryheidsvegter wat die Franse Republiek se waardes deel,” sê Lechevallier in die mediaverklaring.

Shapiro het aan Netwerk24 gesê hy is geheel en al oorbluf deur die erkenning.

“Wat ’n ongelooflike eer! Ek het nooit verwag dat mense buite Suid-Afrika of Suider-Afrika so noukeurig dophou wat ek hier probeer doen nie.”

Die Franse se respek vir spraakvryheid – ook vryheid, gelykheid en broederskap – vuur hom ook aan om ’n fakkeldraer en voorstander vir spraakvryheid te bly.

“Ek het argitektuur studeer en ek het geweet ek doen dit om twyfelagtige redes. Enersyds omdat ek ’n spotprentkunstenaar wou wees – ek het dit geweet sedert ek ’n kind was – maar ek het nie die selfvertroue gehad nie.

“So, ek het gedink ek moet vir een of ander beroep kwalifiseer deels om my ouers tevrede te stel en deels vir myself. En ook om diensplig te vermy.”

In die “donker dae” van apartheid het hy nie geweet hoe om ’n spotprenttekenaar te wees nie.

“Ek was as kind geïnteresseerd in strokiesprente soos Tintin en Peanuts. Iewers langs die pad het ek ’n bietjie meer polities geraak.”

Hoewel sy hart nie in die argitektuurstudie was nie het dit aan hom die vermoë gegee om “in metafore te dink”.

“In jou vierde jaar van studie het hulle jou aangemoedig om te reis en om in die veld van argitektuur te werk. Ek het toe besluit om ’n paar spotprentkunstenaars te besoek wanneer ek reis en aan hulle ’n paar vrae te vra. Wie ek in gedagte gehad het, was Hergé [van Tintin-faam] in België en [Albert] Uderzo [medeskepper van Asterix] in Frankryk.”

Strokiesprent-oomblik

“Die meeste van die tyd het ek soos hierdie wandelende spotprentkarakter gevoel.” Foto: Jaco Marais

Hy het Frankryk in 1981 besoek en Uderzo se adres in ’n register in die George Pompidou-sentrum gekry.

“Ek het verdwaal en dit het begin donker word – dit was in die herfs . . . Vyf voor elf kom ek toe by sy blyplek uit. Daar staan ek met my rugsak – ’n 21 jaar oue bebaarde en bebrilde student – voor die gebou met die deurklokkie waarlangs die naam A. Uderzo verskyn.”

Hy het vir vyf minute staan en huiwer.

“Dit was soos in ’n strokiesprent.” Hy beduie. “My hand wat na die klokkie toe beweeg en dan weer terug. Ek wat myself vir myself sê: Ek kan dit nie doen nie. En dan weer: Dit is die één geleentheid wat ek het. So het ek gerasionaliseer totdat ek om elfuur die blooming deurklokkie gedruk het.

Uderzo het daarvan gehou en my aangemoedig. Toe ek daar uitstap, was ek só begeester.

“En hier maak hý die deur oop . . . geklee in ’n pak! Ek sê toe vir hom: ‘Hi, ek is van Suid-Afrika . . . Ek is verskriklik jammer dat ek so laat hier opdaag, maar ek het verdwaal. Ek is ’n groot bewonderaar van jou . . . Ek weet jy het bewonderaars regoor die wêreld . . . Ek wil ’n spotprenttekenaar word en ek wil net vir jou ’n paar vrae vra.

“Hy sê: ‘Entre!’, en nooi my in hierdie groot apartement in. Ek besef toe hy praat nie Engels nie. ’n Vrou, wat ook baie elegant geklee was, kom by die imposante trappe afgestap. Hy begin toe met haar in Frans te praat en niemand sê vir my iets in Engels nie.”

Op daardie oomblik kom hul dogter ingestap en sy is Engels magtig.

“Sy het toe vir die volgende 10 tot 20 minute as tolk opgetree. Hy vra toe of ek enige tekeninge by my het. Ek het ’n A4-grootte-portefeulje in sulke plastiekskedes in my sak gehad met karikatuursketse. Hy het daarvan gehou en my aangemoedig. Toe ek daar uitstap, was ek só begeester. Dit was vir my ’n baie groot ervaring.”

Diensplig wink

“Ek het geweier om ’n wapen te dra en moes toe hierdie ding dra.” Foto: Jaco Marais

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy aan sy ouers gesê hy is nou daarvan oortuig dat hy ’n spotprentkunstenaar wil wees. Hy het in 1982 grafiese ontwerp aan Michaelis, die Universiteit Kaapstad se skone kunste-departement, begin studeer, maar is opgeroep om in Julie van daardie daar diensplig te gaan doen.

“Ek geweier om ’n wapen te dra en moes toe daardie ding in die hoek dra.” Hy staan op en gaan haal ’n kru nabootsing van ’n geweer wat uit hout en staal bestaan. “Voel hier; dis ’n bietjie swaarder as ’n R1-geweer,” sê hy en hou die objek na my uit. “Ek was op Voortrekkerhoogte en uit die 700 troepe was ek die een wat hulle veral geteiken het; ek is as die basis se kommunis beskou al was ek nie in daardie stadium by enige politieke beweging betrokke nie . . . Ek was die ‘sleg mens’ van die basis.”

Om met daardie nagemaakte geweer rond te stap, was vir Shapiro om soos ’n “wandelende spotprentkarakter” te wees.

“Diensplig het my politiek gerig. Dit was ’n katarsis. Ek is tuis min of meer politiek bewus gemaak deur my ma [die politieke aktivis Gaby Shapiro] en deur my ervarings op universiteit, maar ek was apaties.”

Was hy getraumatiseer deur die ervarings tydens diensplig?

“Dit klink nou of ek dit afgelag het, maar daar was ’n paar kere dat ek amper in duie gestort het. Die een keer toe hulle my deur ’n truuk sover gekry het om ’n geweer op te tel, het ek amper gecrack; ek het amper begin huil.

“Maar meestal het ek soos hierdie wandelende spotprentkarakter gevoel en asof ék nou besig was om hulle te satiriseer. En dít het my deur baie onaangename ervarings gedra.”

Tronk toe

Shapiro is in 1988 deur die veiligheidspolisie in hegtenis geneem.

“Terwyl ek in Pollsmoor in aanhouding was, is een van die eerste dinge wat hulle vir my gevra het: ‘Hoekom teken jy ons as varke?’ My antwoord was: ‘Ek teken wat ek sien.’ Hulle het my dadelik in eensame aanhouding geplaas, ook omdat ek nie aan hulle die antwoorde gegee het wat hulle wou hê nie.

“Ek was daar omdat hulle my net ’n ander Jonathan Shapiro, Jojo, verwar het. Hy is nou al dood, maar hy was ’n fantastiese karakter. Hy was in die Obs[ervatory]-tak van die UDF en ek was in die Claremont-tak. Hulle het my in hegtenis geneem omdat hulle gedink het ek is in die Mandela-verjaardagkomitee – 1988 was mos sy sewentigste verjaardag.

Mense dink Zapiro is swart

Al is Zapiro so na aan Shapiro, ’n algemene Joodse van, het mense nie ’n benul gehad van sy herkoms nie.

“Selfs nóú nog sal mense my ontmoet en sê: ‘Ek het gedink jy is swart!’

“Dit is vir eers die naam, maar tweedens – aktivisme het my politieke denke sedert die 1980’s gedefinieer. Ek het altyd probeer om my as Suid-Afrikaner, en nie as wit Suid-Afrikaner nie, uit te druk.

“Dit is baie moeilik want my ervaring is nié die ervaring van die meeste, van swart Suid-Afrikaners, nie. Maar ek het probeer om op ’n sekere manier – nie op ’n reënboognasie-manier nie – oor dinge te praat, en mense het daarop gereageer.”

Hy onthou hoe Harry Belafonte se agent hom ’n paar jaar gelede gebel het en gevra het of hy die groot Amerikaanse ster wil ontmoet. Belafonte het toe op ’n Kersdag by sy huis opgedaag.

“Hy het daar gesit,” beduie Shapiro, “en nadat ons ’n paar minute lank gesels het, het hy gesê: ‘Ek wil iets beken: Ek het ’n swart man verwag. God het ’n sin vir humor.’”

“So ek was in die tronk en het skielik besef al die mense saam met wie ek aangehou word, is baie senior. Weet jy saam met wie is ek aangehou? Bulelani Ngcuka – dit was die eerste en enigste keer wat ek hom ontmoet het. Voor die Hefer-kommissie het hy getuig een van die mense saam met wie hy aangehou is, is die spotprentkunstenaar Zapiro – ek is die enigste mens wat hy genoem het.

“Ek het gedink: Jislaaik, ek het nie eens geweet hy weet wie ek is nie. Maar dit is die vreemde ding van om ’n spotprentkunstenaar te wees – almal weet wie jy is.”

In die sel langs hom was Willie Hofmeyr, wat hy deur tafeltennistoernooie leer ken het toe Willie ’n verbode persoon was wat net met een mens op ’n slag kon praat en dus slegs met hom of die skeidsregter kon praat.

Hy beskryf hoe hy in sy laaste dae van aanhouding as vergunning strandrakette (beach bats) gekry het en hy en Hofmeyr in ’n leë binneplein van die tronk met die rakette en ’n bal gespeel het.

“Ek het hierdie spotprentoomblikke in my lewe ervaar en dít is wat ek volgende wil doen – ek wil hierdie stories teken, want hulle is vir my snaaks. Vir my is die storie alles en dít is hoekom ek nou ’n bietjie van ’n talking head geword het buiten my werk as spotprentkunstenaar.

“My hele ervaring as aktivis en later in die media was een van om uitgesonder te word. Ek het hierdie Zapiro-persona gevestig wat deels aan Karina [Turok, sy vrou] te danke is.”

Toe word hy Zapiro

Die voorblaaie van Shapiro se twee jongste boeke. Foto: Jaco Marais

Hy het op hoërskool die bynaam Zap gehad en het ook sy vroeë spotprente met dié naam geteken.

“Sy het een dag oor my skouer gekyk terwyl ek besig was om ’n taamlik hardcore tekening te maak van iemand wat deur die polisie geskiet word. En toe sê sy: ‘Weet jy, dis ’n baie lighartige handtekening vir die ernstige goed wat jy nou teken.’

En so het hy in 1984 Zapiro geword wat oor die jare vir onder meer Sowetan, Cape Times, The Star, The Times, Sunday Times en Mail & Guardian gewerk het en deesdae vir Daily Maverick teken.

Hy het oor die jare talle plaaslike en internasionale pryse ontvang en sy werk is regoor die wêreld uitgestal.

Die Mandela-era en daarna

“Ons kan ons weg terugvind van die afgrond af, ons het dit al so dikwels gedoen.” Foto: Jaco Marais

Tydens die Mandela-era het dit vir hom gevoel of hy “deel is van dit waarheen dinge op pad was”.

“Ek het deurentyd in die openbaar erkenning gekry van mense soos Trevor Manuel of Kader Asmal. En ook Madiba. Hy het my een keer in 1998 uit die bloute gebel . . . Hy het gesê hy is baie ontsteld omdat my spotprente nie meer in die Argus gaan wees nie.

“Die enigste manier waarop hy hulle elke dag kon sien wanneer hy in die Kaap was, was in die Argus. Dít was die enkele grootste erkenning van wat ek probeer het om te doen.

Ek het Zuma in 2002 al geïdentifiseer as die een ou in die ANC vir wie ’n mens versigtig moet wees.

“Van daar af het ek beweeg na ’n posisie waar ek meer van ’n teenstander geword het in Mbeki se tyd, veral rondom kwessies soos die wapentransaksie en MIV/vigs.

“Ek het Zuma in 2002 al geïdentifiseer as die een ou in die ANC vir wie ’n mens versigtig moet wees. Vyf jaar voor die Polokwane-kongres het Zuma by die ANC-kongres in Stellenbosch opgedaag en ek het hom geteken op ’n sonnige Bolandse dag met een reënwolkie bo sy kop.

“Van toe af het ek gevoel soos iemand wat deel was van die ANC en toe iemand wat as ’n teenstander en uiteindelik as ’n vyand beskou word. Dit was ’n verskriklike skuif. Natuurlik was ek mettertyd nie meer ’n ANC-lid nie. Ek was steeds ’n aktivis, maar my hart was waar die ANC eens was en waar die UDF was. Ek was eintlik van 1994 af baie krities oor die ANC.”

‘In diep moeilikheid’

“Ek het Zuma in 2002 al geïdentifiseer as die een ou in die ANC vir wie ’n mens versigtig moes wees.” Foto: Jaco Marais

Die ANC se onvermoë om krities te wees teenoor Zuma was vir hom verskriklik.

“Nou het jy vir Cyril [Ramaphosa]. Verlede jaar het ek hom in die spotprent op die omslag van my boek uitgebeeld as hierdie superheld met die dun beentjies. Die titel van my nuwe boek is Which Side is Up? en daar is op die omslag ’n spotprent van ’n speelkaart met Cyril as koning en onder hom Ace Magashule as ace [aas] met ’n swaard wat hy in Cyril se hart steek.

“Die slegte deel van die ANC is heeltemal verrot en die goeie kant is nie heeltemal goed nie. Ek dink ons is in diep moeilikheid. Ek plaas my hoop op mense soos Cyril en Pravin Gordhan, maar daardie hoop beskaam baie dikwels.

Ek wil die ANC sien split. Ek voel al vir 15 jaar so.

“Ons is op ’n helse plek . . . Ek dink wel simboliese dinge soos die rugby en die Wêreldbeker is ontsettend belangrik, maar die Wêreldbeker het baie minder reënboogpotensiaal as die vorige twee.

“Ek wil die ANC sien split. Ek voel al vir 15 jaar so. Ek dink nie die ANC soos hy nou daar uitsien . . . Ek verfoei daardie ander faksie so baie.”

Indien hy gedink het daar is geen hoop meer nie, sou hy opgehou het met sy werk as spotprentkunstenaar.

“Ek sê altyd in toesprake of waar ek ook al met mense praat, ons kan ons weg terugvind van die afgrond af, ons het dit al so dikwels gedoen. Maar jy kan nie aanhou om dit te doen nie . . .”

Meer oor:  Anc  |  Udf  |  Jonathan Shapiro  |  Jacob Zuma  |  Willie Hofmeyr  |  Cyril Ramaphosa  |  Bulelani Ngcuka  |  Nelson Mandela  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Diensplig  |  Spotprente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.