Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Suzanne Venter gesels met Elzabé Zietsman en Aggie Mabaso
Ziets se Aggie Mabaso: A tot Z beteken formidabel!

Sy is “my linkerkant, my regterkant, my voorkant, my agterkant, my bokant en my onderkant”. So sê Elzabé Zietsman oor die vrou wat so lekker lag aan haar linkersy in haar huis in Brixton, Johannesburg.

Elzabé Zietsman en haar vriendin Agnes Mabaso in die restaurant Zietsies in Brixton, Johannesburg. Foto: DEON RAATH

“Ek is Agnes (Aggie) Mabaso,” stel sy haarself voor.

“Hei, sy praat k*k, ounooitjie,” tjip Elzabé in. “Haar van is nie net Mabaso nie. Dis Mabaso Ndweni Zietsman,” sê sy terwyl Aggie se wange blink van die lag.

Borrelend. Soos ’n pot wat prut . . . dan wikkel die deksel . . . en skielik kook hy oor.

Die Aggie-lag.

In ’n klas van sy eie en selfs aansteekliker as Schuster se Shorty se “hehehe”.

“Dis die son wat opkom as Aggie smile,” sê Elzabé.

En dis dié sonskyn saamgeklits met Ziets se hardegatgeit en ’n stywe skeut groothartigheid wat die A-tot-Z-vennootskap ’n wenresep maak.

Al 20 jaar lank.

Ek kan ruiterlik erken dat ek dit nie sou maak as dit nie vir Aggie was nie.

’n Verhouding wat gegroei het van Agnes, skottelgoedwasser, en Ziets, kabaretster, tot linker- en regterhand wat saam kos maak, kinders grootmaak, huil, lag en suffer, maar altyd opstaan met ’n smile.

En nou boks hulle saam teen die aanslae van Covid-19. En die pes het hulle hárd kom bliksem die laaste jaar en ’n half. Maar platslaan sal hy nooit nie, want dié vroue ken van werk en plan maak.

Skouer aan skouer vertel hulle aan die anderkant van die rekenaar se skerm hoe Elzabé drie weke gelede moes ingee en ’n finale koopkontrak teken om haar heiligdom, die Zietsies-gastehuis en -restaurant, of eerder, “kos, kooi en konsert” in Brixton, Johannesburg, te verkoop.

“Dis nou agt maande sedert ons besluit het om die huis in die mark te sit en die aanbod wat ek moes aanvaar, is tragies. Ek kry so R200 000 meer as wat ek in 2006 betaal het. Ek het minstens ’n miljoen bestee om hom op te knap. Maar ek het nie ’n keuse nie. Ek moes dit vat. Dis baie swaar,” sê Elzabé.

Haar mondhoeke trek in die rigting van haar ken.

Aggie luister, dié keer sonder om te lag.

Agnes Mabaso het die koek skelm vir Elzabé Zietsman se verrassingspartytjie vir haar 60ste verjaarsdag gebak.

“Agnes en James (haar man) se harte is ook gebreek. Ek het nou die dag die somme gaan doen. Ons het die hele 2020, in een jaar, soveel verdien as wat ons in 2019 in ’n maand gemaak het,” sê Elzabé.

In die twee jaar voordat Covid-19 toegeslaan het, was dit klaar moeilik om kop bo water te hou.

“Ek het net geen meer reserwes gehad nie. Om Zietsies te verkoop was nie eens ’n besluit wat ons moes neem nie. Dit was so duidelik soos daglig.”

Dit was doodeenvoudig nie moontlik om die bedryfskoste sonder gaste te dra nie.

“Ons het dit almal gesien kom. Maar ons het gedink dit sal weggaan. Maar dit het nie so gebeur nie,” sê Agnes.

Elzabé het nog altyd vier maniere gehad om ’n inkomste te verdien. “Ek het ’n gastehuis, ’n eetkamer, ek act en ek sing. En toe is al vier weg. Gone.”

Vir die rol van Magda in die kykNET-sepie Getroud met rugby is sy baie dankbaar. Sy was veronderstel om net ’n paar weke lank op stel te wees, maar toe is die karakter so gewild dat sy vier jaar later steeds daar is.

Aggie sê dis vir haar en James, wat ook vir Elzabé werk, sleg dat hulle haar nie nou kan help nadat sy hulle 20 jaar gelede “gered” het nie.

“Nonsens, man, julle doen nie niks nie. Hulle werk al ’n jaar en ’n half vir net die helfte van hul salaris,” voeg Elzabé by.

Vir haar sestigste verjaardag op 20 Januarie vanjaar is Elzabé Zietsman verras met ’n partytjie in haar geliefde Kingston Frost Park in Brixton Johannesburg. Die meeste van die 16 kinders wat sedert 1986 in haar pleegsorg was, en hul kinders was ook daar. In ’n tyd wat sy soveel laagtepunte beleef het, was dit vir haar baie spesiaal.

Hul paaie het in 1997 gekruis toe Aggie vir vriende van Elzabé, die aktrise Marion Holm en die sangeres Lize Beekman, in Johannesburg gewerk het.

Dié twee het later Kaap toe getrek en Elzabé van Kensington in Johannesburg na Aucklandpark. Dit was 2001. Die vrou wat toe vir haar gewerk het, Bella Manana, het besluit om ’n sangoma te word en Elzabé het met ’n soektog na Aggie en haar smile begin.

Sy het geweet sy, James en hul dogtertjie, Thoko, bly êrens in Brixton en het die strate op en af gery en rondgevra.

“So by die derde of vierde keer het iemand in die straat vir my gesê hulle weet van wie ek praat en my na haar toe gevat,” vertel Elzabé.

Aggie met haar olifantgeheue kan die dag goed onthou.

“Ek het ook werk gesoek. En toe sien ek hierdie kar. En hierdie vrou met die bruin hond in die kar. Ek het haar en die kar goed geken. Die hond was Oliver en ek was van Pick n Pay af op pad huis toe. Toe sien ek vir haar en sy het my ook gesien en gesê: ‘Ek het vir jou oral gekyk en gesoek.’ Dit was so lekker,” sê Agnes en lag.

Elzabé het ’n restaurant by haar huis gehad en Aggie het aanvanklik skottelgoed gewas. Maar toe raak die werk meer en Aggie kom werk meer.

“Dit was ’n organiese proses. Toe ek weer sien, het sy vasgegroei aan my linkersy,” sê Elzabé.

“Dié vrou het my alles gegee. Werk. Liefde. ’n Huis. Alles,” sê Aggie.

In 2006 het Elzabé die tweeverdiepinghuis teen die koppie in Beverley­weg 1, Brixton, gekoop wat die afgelope 15 jaar bekend gestaan het as Zietsies. ’n Vierster-gastehuis, so stylvol en karaktervol soos sy eienaar met ’n houtdek van waar jy die hele Johannesburg kan sien.

Agnes moes baie meer van die verantwoordelikhede in die kombuis oorneem, want daar was nie geld vir nog ’n kelner nie en Elzabé moes die vloer beman.

“In ’n stadium toe besef ek: Nou het ek die hele sirkel voltooi. Ek het as student begin werk as ’n waitress en nou is ek wéér ’n waitress. Toe het Agnes die hele kombuis so onder my gat uitgesteel,” spot Elzabé.

Vir James, Aggie en hul drie kinders wat vier geword het met die laatlam Palesa se geboorte in 2009, het sy eers ’n woonstel op die perseel ingerig en later ’n huis in Brixton gekoop, so drie blokke van Zietsies af, waar hulle steeds bly.

“Dis hul pensioen,” sê Elzabé.

Self het sy die laaste 35 jaar 16 kinders in verskillende stadiums in pleegsorg gehad. Tussen 2011 en 2012 het Naledi, Thomas en die tweeling Sholan en Sholene by Zietsies ingetrek.

“En dan was daar Agnes se Fanelo. Daar was in ’n stadium vyf tieners in die huis. Ek weet nie hoe ons hulle grootgekry het nie. Dit was maar samewerking.

“Ek dink die enigste rede hoekom ek nooit opgesluit is vir moord nie, is omdat Agnes my laat bedaar het.

“Ek het nie besef watter groot werk dit was toe ek al daai kinders ingeneem het nie. Ek kan ruiterlik erken dat ek dit nie sou maak as dit nie vir Aggie was nie. Ek sou hulle doodgebliksem het,” sê Elzabé.

En dan skyn die son weer en die lag volg.

“Dit was nie almal van hulle nie. Dit was eintlik net een,” sê Aggie.

Ja, stem hulle. Daai Thomas was genoeg vir ses. Nou is hy besig met sy finale jaar by die Academy of Sound Engineering in Johannesburg en Fanelo is deel van Kaapstad Ballet, spog hulle.

Met al die kinders in die huis was dit te moeilik om weg op te tree en Elzabé se laaste groot kabaretproduksie was in 2013 by die KKNK. In 2020 sou sy uiteindelik ná sewe jaar weer haar buiging op die verhoog in Oudtshoorn maak – op Donderdag 26 Maart . . .

“Maar toe kondig die president die vorige Sondagaand die lockdown aan. Needless to say, hy is nou nog nooit opgevoer nie en lê hier in die pienk kas agter my en wag. Bruce Little het die kabaret geskryf en dis ’n belangrike stuk werk, want dit gaan oor gender-based violence en femicide.

“Ons het navorsing daaroor gedoen en die ding wat my verskriklik hard in die maag geslaan het, is dat kenners oor die wêreld heen saamstem dat ’n mens niks anders aan die probleem kan doen as om daaroor te praat nie.”

Tussen al die uitdagings deur het Elzabé op 20 Januarie vanjaar 60 geword. Tien jaar nadat sy ’n nier vir haar susterskind geskenk het en 17 jaar nadat sy ophou drink het omdat sy nie gehou het van die mens wat drank van haar gemaak het nie.

“Hoe die f** het dit gebeur?” het die wilgerlat van amper 2 m wat steeds kan hoogskop met daai lenige paar bene op Instagram gevra.

Suzanne Venter

Wat net ’n gewone dag sou wees, het uitgedraai in ’n hoogtepunt.

“Aggie het skelm ’n koek gebak en ’n vriendin, Sophia Weltz, het my laatmiddag by die huis kom haal en gesê ons moet met die honde gaan stap in Kingston Frost-park (langs Zietsies),” vertel Elzabé.

Sy is bekend in die gemeenskap vir die werk wat sy doen om die park in stand te hou.

“Toe ek daar kom, het Sophia skelm kontak gemaak met Aggie en die mense na aan my en hulle het geld ingesamel en 140 aalwyne gekoop en geplant as geskenk vir my,” vertel Elzabé opgewonde.

“Onder in die park was daar ’n klomp vlaggies. Hulle het elektrisiteit aangelê en daar staan almal toe met hul maskers en my pianis speel op ’n elektriese klavier en my een seun is op die saxofoon. Daar was ongelooflik baie van my kinders en kleinkinders daar. Dit was wonderlik.”

Sy sê die belangrikste lewensles wat sy tot dusver geleer het, is om nie ’n asshole wees nie. En sy hou niks daarvan om so baie plooie te hê nie.

Never mind ’n gewone rosyntjie, ek lyk soos ’n rosyntjie wat in die son gelê het. Ek is so jaloers op Aggie se mooi donker vel, kyk hoe fantasties lyk sy op 48, met ’n vel so sag soos ’n baba se boudjies,” spot Elzabé.

Dan hoor ons Aggie se lag weerklink in die kombuis waar sy besig is met die voorbereiding van die aandetes wat hulle binnekort moet gaan aflewer vir hul nuwe onderneming, A tot Z, regte kos. Die plan wat hulle gemaak het om terug te slaan teen korona.

Saam maak die twee regte kos, van koekies tot beskuit tot etes wat per WhatsApp by Elzabé bestel kan word en in die nabye omgewing afgelewer word.

Sy weet nie wat sy sonder Aggie sou doen nie.

“Sy speel ’n ongelooflike belangrike rol in my lewe. Sy is my alles. Ek like dit f***l as sy die dag af het,” sê Z oor A.

Want al kom die aanslae van links, regs, voor, agter, bo en onder, saam sal hulle altyd staan.

Meer oor:  Elzabé Zietsman  |  Sangers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.