Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Zille is bedreigde, onseker mans se swartskaap’

Die swart DA-leiers wat aanvoer hulle het die party weens Helen Zille verlaat, moet werklik so onseker van hulself wees as hulle so bedreig en geïntimideer voel deur ’n vrou met Zille se ondervinding, sê John Steenhuisen in ’n wydlopende onderhoud aan Murray La Vita.

John Steenhuisen: “Ek dink ons moet van die agtervoet af terugkom op die voorvoet en dít doen jy deur te wen in die arena van idees.” Foto: Lindiwe Mbontsi

Die Zoom-onderhoud met John Steenhuisen, tussentydse leier van die Demokratiese Alliansie (DA), vind plaas ’n dag nadat die DA se beleidskongres Sondag geëindig het.

As vertrekpunt pols ek hom oor van die kritiek op beleide wat op dié “geskiedkundige” kongres aanvaar is.

Volgens prof. Bheki Mngomezulu, politieke ontleder by die Universiteit van Wes-Kaapland, is dit “baie naïef” van die DA om beleid te aanvaar waarin ras en geslag nie oorweeg word nie in ’n land met ’n geskiedenis soos Suid-Afrika s’n. Hy sê die party “speel ’n gevaarlike spel van ontkenning wat hulle duur te staan gaan kom”.

“Dit is werklik onverantwoordelik van mense om kommentaar te lewer oor kwessies sonder om die dokumente daaroor te lees. Enigiemand wat die dokumente lees wat uit die naweek se beleidskongres kom, kan onder hoegenaamd geen illusie verkeer nie dat ons erken ons kom uit ’n verdeelde verlede. Dat dit wat mense ontneem is, is op grond van ras gedoen, en dat ras ’n kwessie in Suid-Afrika is, maar rasgegronde beleid is nié die oplossing daarvoor nie,” sê Steenhuisen.

Wat dus die ware naïwiteit is, is wanneer jy aanhou om rasgegronde beleide bo op rasgegronde beleide te skep en dink jy gaan só oplossings vind.

“Jy los nie ’n vergiftingsprobleem op deur meer gif te drink nie. Jy stel nie die nalatenskap van rasgegronde beleide reg deur verdere rasgegronde beleide nie.

“As jy die beste getuienis daarvan wil sien . . . Ek dink die éintlike naïwiteit word openbaar deur diegene wat dink hierdie rasgegronde beleide is in der waarheid breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging. Hulle is dit nié.

“Dít is waarom ons van 3 miljoen werklose Suid-Afrikaners na 10 miljoen gegaan het. Dít is hoekom daar 30 miljoen Suid-Afrikaners is wat onder die broodlyn van R991 per maand leef en van wie 99,8% swárt Suid-Afrikaners is.

“Wat dus die ware naïwiteit is, is wanneer jy aanhou om rasgegronde beleide bo op rasgegronde beleide te skep en dink jy gaan só oplossings vind. Ons het ’n nuwe paradigma wat fokus op bemagtiging deur die gebruik van ’n middeletoets waardeur begunstigdes geïdentifiseer word sodat ons werklik kan begin om die regstelling van ongelykhede aan te pak wat in die land moet plaasvind.”

‘Vuil woord’

Die middeletoets waarin kwesbaarheid eerder as velkleur die deurslag gee en waardeur begunstigdes geïdentifiseer word deur aanduiders soos inkomste, geografiese ligging, netto bates, getal afhanklikes en toegang tot basiese dienste, is iets waarvoor Steenhuisen hom sterk beywer het.

“En die ironie is dat nierassigheid genoem word in die ANC se aanhef tot die Grondwet. Nou word daar gemaak asof dit ’n vuil woord is wat deur die DA geskep is.

“Die party beweeg al die afgelope ruk in daardie rigting, maar dit is sekerlik iets waarvoor ek ’n kampvegter was. En juis omdat breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging misluk het. Ons het nuwe idees nodig as ons die land vorentoe wil neem; dit gaan nie help om met die ou, bedompige idees voort te ploeter nie.

“Ons móét iets anders doen. Ons kan nie voortgaan met ’n ekonomie waar ’n baie, baie klein elite toegang het tot al die geleenthede nie en wat herhaaldelik die begunstigdes is van hierdie beleide en programme van die regering nie en mense toenemend na die buite-ekonomie toe stoot.

Ek is nou al vir meer as 30 jaar in hierdie party en dit was by verre die mees inklusiewe beleidskongres met insprake van alle vlakke van die party af.

“Dit is nie reg en regverdig nie én dit gaan die land op maatskaplike gebied uitmekaar skeur, want jy kan nie 30 miljoen mense vir altyd in armoede vasgevang hou en nie een of ander vorm van maatskaplike reaksie verwag nie.”

Die land is op ’n brandende platform.

“Hierdie mense moet dus uit armoede gelig word en geleenthede moet aan hulle gebied word; ons moet al die moontlike doen om diegene te help wat regeringshulp nodig het en ons moet ophou om die klein elite te bemagtig.

“Ek is baie trots daarop om myself met daardie beleid te vereenselwig. Maar die beleid is die naweek met ’n oorweldigende meerderheid deur die beleidskongres aanvaar.”

‘Nou is daar ’n keuse’

Herman Mashaba, leier van die nuut gestigte party Action SA. Foto: Felix Dlangamandla

Hy sê dit was ’n geskiedkundige kongres.

“Ek is nou al vir meer as 30 jaar in hierdie party en dit was by verre die mees inklusiewe beleidskongres met insprake van alle vlakke van die party af. Elke liewe lid van die DA kon ’n bydrae lewer en dit daar aanbied.

“Dit is net jammer dat van die mense wat nou te kenne gee dat hulle nie met die besluite tevrede is nie, baie min, indien enige, bydraes gelewer het.

“Ek dink ons moet van die agtervoet af terugkom op die voorvoet en dít doen jy deur te wen in die arena van idees. En beleide gee aan jou daardie onderbou wat jou in staat stel om op die voorvoet te kom en die stryd van idees te wen.”

Wat nou al vir ’n geruime tyd in die DA afwesig is, is daardie helder blou water, daardie ondubbelsinnigheid. En ek dink ná hierdie naweek het ons dit.

Steenhuisen meen ná die DA se beleidskongres is daar nou vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n baie duidelike onderskeid tussen die DA en sy mededingers in die politieke landskap.

“En ek dink dis ’n goeie ding; nou het Suid-Afrikaners ’n keuse. Hulle kan stem vir partye wat groter staatsbeheer wil hê; wat geld uit die sakke van burgers wil vat en hulle knegte van die staat wil maak. Óf jy kan stem vir ’n party wat vertroue het in die mense van Suid-Afrika en glo dat hulle weet wat vir hulle die beste is. Ons het ’n bevoegde staat nodig wat sy rol en plek in die ekonomie en in die land verstaan.”

Dit is ’n keuse tussen die DA aan die een kant en die ANC en EFF aan die ander kant.

“Wat nou al vir ’n geruime tyd in die DA afwesig is, is daardie helder blou water, daardie ondubbelsinnigheid. En ek dink ná hierdie naweek het ons dit.”

‘Politieke selfvernietiging’

John Moodey, voormalige DA-leier in Gauteng wat aspirasies gehad het om DA-leier te word, maar onlangs uit die party bedank het te midde van ’n ondersoek na beweerde ernstige wanoptrede waaraan hy homself skuldig sou gemaak het. Foto: Elizabeth Sejake

Daar is diegene wat meen die DA is meer daarop toegespits om die kiesers wat hy in die vorige verkiesing aan die VF Plus afgestaan het terug te wen as om nuwe kiesers te wen.

“Dit sou absolute politieke selfvernietiging wees vir ’n party om dít te wil doen omdat daar so ’n klein minderheid van mense in die land is. Natuurlik wil ons ag slaan op die lesse wat ons in die laaste verkiesing geleer het. Verkiesingsuitslae hoef nie fataal te wees nie solank jy net lesse daaruit leer en luister na wat kiesers sê.

“Kiesers het vir ons ’n baie sterk boodskap gestuur en daardie kiesers kom van oor die hele spektrum. Daar is kiesers wat voorheen vertroue in die DA gehad het en dit verloor het omdat die DA uitgechicken het en drooggemaak het met betrekking tot van die sleutelkwessies in die land, soos plaasmoorde, taalregte, en breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging.

Ek wil nie vir altyd ’n party lei wat altyd vir tweede plek baklei nie of daarvoor baklei om die amptelike opposisie te wees nie.

“Maar noudat die party duidelik opstaan vir daardie kwessies, hoop ons uiteraard om daardie kiesers terug te wen. En om óók – dis nie die een óf die ander nie – die vertroue te wen van kiesers wat in die laaste verkiesing die boodskap gestuur het dat hulle die DA nog nie genoeg vertrou om vir hom te stem nie.

“Dít is hoe die politiek werk. Ek wil nie vir altyd ’n party lei wat altyd vir tweede plek baklei nie of daarvoor baklei om die amptelike opposisie te wees nie. Ek wil hierdie party lei na ’n posisie waar hy op nasionale vlak regeer en die kern is van ’n nuwe meerderheid in Suid-Afrika.”

Politieke weerhaan

Die DA gaan dít nooit regkry deur “ ’n klein kampie of ’n laer te word nie”.

“Dit beteken egter ons moet duidelik en ondubbelsinnig wees oor wié ons is en oor die soort toekoms waarvoor ons vir Suid-Afrikaners veg.

“Ons moet kiesers dus onder dáárdie vaandel byeenbring en aan hulle die sekerheid gee dat dit nie ’n party is wat soos ’n weerhaan saam met die politieke winde van die tyd beweeg nie, maar een wat stewig op die Suid-Afrikaanse politieke landskap staan as ’n wegwyser wat baie duidelik die weg na die toekoms aandui.

“Dít is wat kiesers nou meer as ooit nodig het terwyl ons een van die grootste ekonomiese depressies in ’n lang tyd binnegaan waardeur talle Suid-Afrikaners tot by die rand van oorlewing gedryf gaan word.

“Hulle het ’n party wat kan opstaan en ’n duidelike alternatief kan bied tot hierdie verskriklike, destruktiewe, werkverwoestende en ellendeskeppende pad waarop die huidige regering ons geplaas het.”

‘Vermy moddergooiery’

Mbali Ntuli wat teen Steenhuisen om die pos as DA-leier meeding. Foto: Argief

Mbali Ntuli, wat teen Steenhuisen om die leierskap van die DA meeding – die nuwe leier word einde Oktober gekies – het vroeër gesê die tyd vir sterkman-politiek is nou verby.

“Ek staan nie téén enigiemand in die wedloop om die leierskap van die DA nie. Ek staan vír ’n stel idees wat baie duidelik uiteengesit is in die manifes wat ek geskryf het en wat op my webwerf votejohn.co.za beskikbaar is vir almal om te sien.”

Dit sluit in dinge soos om mense “van Eskom te bevry”; die stryd teen misdaad te verskerp, en om ’n ekonomie te bou wat “mag aan die mense” gee.

Ek kon ’n party lei en die talente van die skadukabinet inspan om seker te maak dat ons standpunt baie duidelik oorgedra word.

“So, ek gaan beslis nie in ’n moddergooiery betrokke raak met mense in my eie party nie want ek dink mense is siek en sat daarvoor om te kyk hoe die DA sigself uitmekaarskeur. Ek sal eerder op ’n stel idees en platforms fokus wat ek dink die DA moet gebruik en aanvaar om ons weer op die politieke voorvoet te kry.

“Wat ek wél sal sê, is dat ek nog altyd in al my leierskapsposte in die party geglo het ’n leier se rol is nié om die sterkman te wees wat skreeu en bevele uitdeel nie, maar eerder om die individuele talente van elke spanlid te erken en tot uiting te laat kom in die nastreef van ’n gemeenskaplike doelwit.

“Dít is die kuns van leierskap. En ek dink dít is hoekom ons so goed gevaar het met die hantering van die koronaviruspandemie [veral in die Wes-Kaap]. Ek kon ’n party lei en die talente van die skadukabinet inspan om seker te maak dat ons standpunt baie duidelik oorgedra word.”

‘Gerieflike swartskaap’

Helen Zille en Mmusi Maimane tydens die nuuskonferensie op 23 Oktober 2019 waar Maimane as DA-leier bedank het. Foto: Argief

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, word beskou as ’n figuur wat daartoe bygedra het dat leiers soos Mmusi Maimane, Herman Mashaba, en onlangs John Moodey, die DA verlaat het. Ek pols Steenhuisen hieroor.

“Dit moet mans wees wat werklik onseker van hulself is as hulle só bedreig en geïntimideer is deur ’n vrou met Helen se ondervinding. Ek dink dit sê meer oor hulle as oor enigiemand anders.

“Ek dink ook sy is ’n gerieflike swartskaap omdat die media en ander probeer het om hierdie narratief om Helen te skep wat wesenlik onwaar is.

Helen het ’n bewese geskiedenis. Sy is nie sonder foute nie, maar niemand in die politiek is sonder foute nie.

“Mashaba [voormalige Johannesburgse burgemeester wat pas die politieke party Action SA gestig het] is ’n sprekende voorbeeld. Ses maande voor sy vertrek uit die party was hy op Twitter met sy arms om Helen Zille en het hy gesê sy is een van die groot Suid-Afrikaners en as enigiemand haar rassisties noem, is húlle ook rassisties.

“Helen het ’n bewese geskiedenis. Sy is nie sonder foute nie, maar niemand in die politiek is sonder foute nie. Ons het almal as leiers blinde kolle. Ek dink een van Helen se blinde kolle was Twitter en die toksisiteit van Twitter en ons kon tot ’n vergelyk kom en nou is sy nie meer op Twitter nie.

“Maar ek dink vir Moodey en Mashaba en Maimane was sy ’n baie gerieflike swartskaap waaragter hulle hul eie tekortkominge wou wegsteek.”

‘Dis absurd’

Zille se twiet in Junie waarin sy onder meer geskryf het daar is tans meer rassistiese wette in Suid-Afrika as wat daar tydens apartheid was, word tans binne die DA ondersoek.

“ ’n Paar partylede het daaroor gekla en dit is toe deur my na die federale regskommissie verwys en ek verstaan daar sal in die loop van vandeesmaand ’n verhoor wees. Almal in die party word oor dieselfde kam geskeer; dit is ook waarom hierdie uitlatings oor ’n sogenaamde suiweringsproses in die party heeltemal absurd is.”

Bewerings doen die ronde dat daar ’n uittog van senior DA-lede op hande is omdat hulle deur die party ondersoek word met die oog op klagte teen hulle.

Die hele punt van politiek is om ’n tuiste te vind waarin jy tuis voel.

“Die meerderheid van die leiers na wie in die media verwys word binne die konteks van hierdie suiweringsproses, het openlik hul steun aan my toegesê in die leierskapswedloop. Hoekom sou ek súlke mense uit die party wou werk?”

Oor bewerings dat daar senior DA-lede is wat op die punt is om die party te verlaat en by Mashaba se Action SA aan te sluit, sê Steenhuisen:

“In enige politieke party of organisasie wat deur ’n proses van herontdekking gaan, gaan daar natuurlik mense wees wat gelukkig was met die status quo – toe ons die wiebelende blou jellie was wat alle dinge vir alle mense wou wees – omdat dit hulle gemaklik laat voel het.

“En om nou op te staan vir ’n stel waardes en beginsels soos nierassigheid en bemagtiging op grond van middele, gaan dalk vir hulle ongemaklik wees. En dis in orde. Die hele punt van politiek is om ’n tuiste te vind waarin jy tuis voel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.