Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Zweli Mkhize: Korona-held of gladdejantjie?

Dr. Zweli Mkhize was dikwels ’n ja-broer in die stryd teen MIV/vigs en hy is beslis ’n uitgeslape politikus – maar oor een ding is kenners seker: Hy is ’n held in die stryd teen Covid-19. Willemien Brümmer berig oor ’n dikwels omstrede loopbaan.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is ‘n held in die stryd teen Covid-19, maar hy bly ’n uitgeslape politikus.Foto: Leon Sadiki

“ ’n Toevallige held”.

Dít is hoe die politieke ontleder en skrywer dr. Ralph Mathekga die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, beskryf wat danksy Covid-19 ’n ereplek in die plaaslike heldegalery verwerf het.

Want ten spyte van staatskaping, rommelstatus en ’n land wat onder ons vorige president in ’n kleptokrasie verander het, het hy en pres. Cyril Ramaphosa tot dusver nog net goue sterre gekry in hul stryd teen die virus.

Mathekga gee hom agt uit tien vir sy rol tydens die pandemie.

“Dit maak sin, want hy’s ’n mediese dokter. Hy ken sy siektes, hy omarm die wetenskap en hy weet hoe om mediese joernale te lees.”

Krisisse maak óf dat mense uitblink of hulle word ’n resep vir ’n ramp.
Dr. Ralp Mathekga

Maar ons moet nooit vergeet dat hy ’n politikus is wat die kuns van oorlewing verstaan in ’n landskap besmet met bloed nie.

“Krisisse maak óf dat mense uitblink of hulle word ’n resep vir ’n ramp,” sê Mathekga.

“Hy skitter deur hierdie krisis, hy bly kalm en hy verstaan die virus. Dis amper asof hy sê: ‘Ek het dit nie gemaak tot in die topses van die ANC nie (ná die ANC-presidentsverkiesing by Nasrec in Johannesburg), maar ek gaan Suid-Afrika hierdeur lei.”

Hy aarsel. “Hierdie is ’n krisis wat leiers gaan vernietig maar dit gaan vir ander die geleentheid gee om as leiers na vore te tree. Ek dink hy het steeds die energie vir presidensiële ambisies – en mense soek helde in tye soos hierdie en hulle vergeet van ander oortredings.”

Aan die verkeerde kant van ’n veldslag

Mkhize spreek die nasie toe oor Covid-19 op dag vyf van die staat van inperking. Foto: Darren Stewart/ Getty Images

Dié sogenaamde “oortredings” is dalk nooit aan die groot klok gehang nie, maar as jy sy loopbaan fynkam was daar foute én oorwinnings.

Zwelini “Zweli” Lawrence Mkhize stam uit die trotse Mkhize familiegroep van Nkandla – as een van sewe kinders wat op ’n plaas in Willowfontein in Pietermaritzburg grootgeword het. Die base van die plaas het na bewering gesê dat hulle skool moes los en op die plaas moes werk, en die besluit dat hy sou aanhou leer het tot spanning gelei.

Hy studeer hierna medies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en op 26 word hy ’n dokter.

Maar as ’n suksesvolle jong swart dokter en aktivis is die lewe nie veilig nie, en in 1986 word hy ’n arts in ballingskap in Swaziland en later Zimbabwe.

Maar as jy dit vergelyk met ’n tyd toe 600 tot 900 mense ’n dag gesterf het weens vigs kan ons net wens dat hy en ander ’n fraksie van die energie wat hulle nou in die stryd teen die koronavirus bestee, kon bestee het aan MIV/vigs.
Zackie Achmat

In 1991 keer hy terug na Suid-Afrika waar hy onder meer aangestel word in die ANC se gesondheid-sekretariaat.

In 1994 word hy die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal – ’n pos wat hy vir ’n hele dekade sou beklee.

Dis die era van vigs-ontkenning toe oudpres. Thabo Mbeki bekend gestaan het as “Comrade Undertaker” en hy bevind hom aan die verkeerde kant van een van die grootste gesondheidsveldslae van die era: Om antiretrovirale medisyne (nevirapien) aan swanger MIV-positiewe vroue en hul babas te gee om te keer dat nóg ’n generasie met die MI-virus besmet word.

Teen 1999 is byna een uit elke vier swanger vroue in die land MIV-positief en derduisende babas kry jaarliks óf net voor geboorte of net daarna die virus.

’n Hofsaak in 2001 van die vigsdrukgroep die Treatment Action Campaign (TAC) probeer om Mbeki te dwing om die middels vryelik beskikbaar te stel aan swanger vroue – maar sewe uit die nege provinsiale regerings staan die saak teen.

Die destydse premier van KwaZulu-Natal, Lionel Mtshali (van die IVP), steun die TAC se aansoek, maar sy minister van gesondheid – Mkhize – staan dit teen.

Die aktivis Zackie Achmat, medestigter van TAC, onthou: “Hy’t geweet wat die regte ding was om te doen, maar hy het steeds ’n ja-broer vir sy party en sy president gebly.”

Soos Mathekga meen Achmat hy verdien die hoogste lof vir sy stryd teen Covid-19. “Maar as jy dit vergelyk met ’n tyd toe 600 tot 900 mense ’n dag gesterf het weens vigs kan ons net wens dat hy en ander ’n fraksie van die energie wat hulle nou in die stryd teen die koronavirus bestee, kon bestee het aan MIV/vigs.”

Wie kom eerste – pasiënte of politiek?

Mkhize in die tyd toe hy premier van KwaZulu-Natal was gedurende ’n reinigingseremonie in die Willowfontein sportstadion, sy geboorteplek. Foto: Siyabonga Mosunkutu

Nathan Geffen, ’n gewese tesourier by TAC en deesdae die stigter van GroundUp, skryf sy tweede vigsoortreding was toe die provinsie die Tara KLamp bekend stel – ’n toestel vir manlike besnyding wat nie goedgekeur is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) nie.

Dié klamp sny die bloedtoevoer na die voorhuid af sonder dat enige chirurgie nodig is sodat dit ná ’n paar dae veronderstel is om vanself af te val saam met die klamp.

Die toestel het die steun gehad van die Zoeloe-koning Goodwill Zwelethini – wat luidens berigte ’n motor gekry het by diegene wat die klamp verkoop het.

Eers in ’n ope brief aan Mbeki in 2016 erken Mkhize hy is nie 'sonder berou' oor die era van vigsontkenning nie.

Die Zoeloe weergawe van die Sunday Times het destyds berig dat ’n sakeman, Ibrahim Yusuf, die motor ter waarde van R1 miljoen aan die Zoeloe-koning gegee het. Yusuf, destyds ’n direkteur van Intratrek Properties wat die klampe verkoop het aan die regering in KwaZulu-Natal, het egter gesê hy het die motor aan Zwelethini gegee as ’n “teken van respek”.

Aldus Geffen was dit ’n tweede kans vir Mkhize (toe die premier in die provinsie) om pasiënte te kies bo die politiek, en weer eens het hy verbrou. Die gesondheidsdepartement in die provinsie het in 2010 duisende van hierdie Maleisiese plastiek-toestelle gekoop wat veronderstel was om te help om mans se vigsrisiko te verlaag.

Die mans wat dapper genoeg was om die klamp te probeer het egter gekla oor bloeding, beserings, infeksies, swelling, moeilike urinering en pyn – wat TAC genoop het om met ’n massiewe veldtog daarteen te begin.

Eers in ’n ope brief aan Mbeki in 2016 erken Mkhize hy is nie “sonder berou” oor die era van vigsontkenning nie. Hy sê sy teenstand teen die nevirapien-hofsaak was te wyte aan logistiek, en nie sy persoonlike oortuiging nie. “Ons argument was dat die regering eers die proewe oor die middels moes voltooi en dan self die behandeling moes uitbrei na alle sentrums en dus was die hofbevel nie nodig nie,” skryf hy.

Jacob Zuma ‘lite’

Mkhize, Gwede Mantashe en oudpres. Jacob Zuma klink ’n glasie tydens die bekendstelling van die ANC se verkiesingsmanifes by die Mbombela stadion op 11 Januarie 2014 in Nelspruit. Mkhize was eens op ‘n tyd bekend as Zuma se beskermling. Foto: Vathiswa Ruselo/ Getty Images

’n Ander klad op sy naam is natuurlik dat hy volgens sommige kommentators danksy Jacob Zuma tot die nasionale politiek toegetree het.

Julius Malema het in Oktober 2017 net voor die ANC-presidentsverkiesing getwiet: “Zweli Mkhize is Jacob Zuma lite, hy was nog altyd in die sentrum van sy kaskenades. Zuma het hom altyd oral gestuur om te onderhandel namens hom.”

Die skrywer, joernalis en rolprentvervaardiger Richard Poplak skryf in dieselfde jaar in Daily Maverick: “Hy is in ’n sekere sirkel van politieke operateurs die bekendste daarvoor dat hy een van die argitekte was van Zuma se wedstrydplan by die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in Polokwane (in Desember 2007) – ’n historiese oomblik wat vir altyd onthou sal word as Suid-Afrika se mees weerklinkende paleisrewolusie. Zuma was eens op ’n tyd Mkhize se ouer broer.”

Ná sy termyn as LUR vir gesondheid, word hy premier van KwaZulu-Natal (2009 tot 2013) – twee jaar ná Zuma se verkiesing as president.

In Desember 2012 word hy een van Zuma se topses toe hy by die Mangaung-verkiesingskonferensie vir Mathews Phosa opvolg as tesourier-generaal van die ANC.

Hy’s ’n uitgeslape politikus. Hy bly ’n bietjie van ’n . . . ek wil nie sê enigma nie en ek wil ook nie sê gladdejantjie ('smooth operator') nie, maar hy’s beslis nie ’n gewone politikus nie. Kom ons stel dit so: Hy verstaan die politiek.
Dr. Ralph Mathekga

Dis onduidelik presies wanneer daar onenigheid tussen Zuma en sy voormalige protégé ontstaan het, maar volgens Mathekga was Mkhize nog nooit ’n vurige kritikus van Nommer Een nie. “Daar was ’n tyd toe Zuma nie meer geluister het na sy voormalige bondgenote nie. Hy (Zuma) het nooit permanente vriende gehad nie, want enige iemand wat in die pad gestaan het van Zuma se begeertes en ambisies het vir hom ’n las geword.”

In dié tydperk duik sy naam ’n paar keer op in die konteks van staatskaping – soos hofdokumente wat hom volgens City Press geïmpliseer het by agteraf betalings omdat hy skynbaar transaksies gefasiliteer het met die Openbare Beleggingskorporasie (OBK).

Mkhize maak dit as ’n “kwaadwillige versinsel” af.

Achmat, ’n leier in die pendelaars-aktiviste groep UniteBehind, sê sy naam het ook ’n paar keer opgeduik tydens die sittings oor korrupsie en wanbestuur by Prasa.

Mkhize het aangedui dat hy oorweeg om Lucky Montana, voormalige Prasa-baas (wat vir Mkhize betrek het in sy parlementêre voorlegging), vir laster te dagvaar.

“Niks is bewys nie, maar dis kommerwekkend. En kyk, ons kan dít waarskynlik sê oor alle politieke partye – maar die mense wat die geld inbring moet die agteraf konkelwerk doen.”

Mathekga stem saam. “Dit is die probleem met Zweli Mkhize. Jy sien nooit die kruitdampe van die geweervuur nie, maar in die agtergrond hoor jy die skoot afgaan. So sy naam hou aan opduik, maar hy is nooit op die toneel van die misdaad nie, as jy dit so wil stel.”

Een ding is egter seker: “Hy’s ’n uitgeslape politikus,” sê Mathekga. “Hy bly ’n bietjie van ’n . . . ek wil nie sê enigma nie en ek wil ook nie sê gladdejantjie (“smooth operator”) nie, maar hy’s beslis nie ’n gewone politikus nie. Kom ons stel dit so: Hy verstaan die politiek.”

Uitgesluit uit die topses

Cyril Ramaphosa en Mkhize tydens oudpres. Jacob Zuma se laaste toespraak as president van die ANC by Nasrec. Mkhize het by dié konferensie ter elfder ure aangekondig dat hy homself nie meer gaan beskikbaar stel as adjunkpresident nie. Foto: Veli Nhlapo/ Gallo Images

Tydens die ANC se nasionale verkiesingskonferensie by Nasrec in 2017 verstom hy konferensiegangers deur ter elfder ure te onttrek as kandidaat vir adjunkpresident van die party al is hy genomineer deur 193 takke.

Dit was aldus Mathekga omdat hy die fout gemaak om na beide kante te speel. “Dinge het so vinnig gebeur dat voor hy dit geweet het hy hom buite die top ses-kompromis gevind het. Hy was op die lys van albei kandidate (dié van Ramaphosa én Zuma se eks Nkosazana Dlamini-Zuma) en dit is opsigself ’n uitdaging want dan kan beide groepe jou begin wantrou en dan vind jy daar’s vir jou geen waarborge nie.”

In Februarie 2018 word hy eers minister van samewerkende regering en tradisionele sake en toe in Mei verlede jaar stel Ramaphosa hom aan as minister van gesondheid. Vir kenners is dit ’n teken dat daar nou ’n “weergalose prioritisering van gesondheid is”. Dit aldus Mark Heywood, aktivis en tans redakteur van Maverick Citizen (deel van Daily Maverick).

Heywood sê kort ná die aanstelling Mkhize het presies wat sy voorganger, Aaron Motsoaledi, nie gehad het nie: “Die politieke outoriteit binne die ANC om die sweep te klap oor LUR’s vir gesondheid en om premiers te bel en te sê: ‘Sorteer jou probleme uit’ (“Sort your shit out”).

Stilte voor die storm

Mkhize tydens ’n media-konferensie oor Covid-19 op dag vyf van die staat van inperking. Hy het onder meer lof gekry daarvoor dat hy eerlik is oor die syfers en die sogenaamde stilte voor die storm. Foto: Darren Stewart/ Getty Images

In die tyd van korona sal hy aldus Achmat veral onthou word vir die fenomenale leierskap wat hy en Ramaphosa toon. “Die respons van ons regering – en veral van die president en die minister van gesondheid – was tot dusver ongelooflik,” sê hy.

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch, stem saam.

“Ek dink hy luister na die raad wat hy kry by kenners by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes (Nios) en hy dra dit baie mooi oor. Dit kom voor asof hy insig het in die omstandighede en hy boesem vertroue in oor die stelsel.”

Hy’s 'straight forward' en hy probeer nie die syfers kunsmatig verlaag nie.
Dr. Jantjie Taljaard

Hy en ander kenners is ook vol lof omdat Mkhize nie vir die publiek ’n rat voor die oë wil draai oor die syfers nie. Hy het onlangs gesê wat ons nou sien is dalk die stilte voor die storm, al help die inperking tot dusver om die verspreiding van die virus te keer.

“Hy’s straight forward en hy probeer nie die syfers kunsmatig verlaag nie,” sê Taljaard.

“Binne die volgende twee tot drie weke sal ons weet wat die waarheid is, veral as hulle begin met meer wydverspreide toetsing. Ons het tot ’n paar weke gelede net die hoërisiko mense getoets en dan tel jy net die hoërisiko positiewes op – maar ons sien nog nie die onverwagte ernstige siek mense wat inkom nie – wat goed is. Maar as jy kyk na die res van die wêreld gebeur dit binne ’n week, en dís hoekom hy dit sê.”

Die departement van gesondheid het ’n reuseveldtog van stapel gestuur om Suid-Afrikaners aan te moedig om tuis te bly.Foto: Mike Hutchings

Ten spyte van ’n hofaansoek teen Mkhize en ander in die arbeidshof deur die vakbond Nehawu oor die gebrek aan beskermende kleredrag in die stryd teen Covid-19, meen Taljaard die departement “doen alles in hul vermoë om genoeg persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die hande te kry”.

“Ons werk direk daarmee en al wat my kollegas by beroepsgesondheid doen is om te kyk hoe hulle meer in die hande kan kry en hoe dit spaarsamig gebruik kan word. Die res van die wêreld het reeds gewys daar is ’n tekort daaraan en ons werp alles in die stryd om dit in die hande te kry, so ek weet nie. Ek wil nie uitsprake maak nie, maar dit klink nie vir my heeltemal eerlik nie. Dis in my opinie baie laag om nou te kom met politiekery.”

Hy sê die groot probleem met dinge soos beskermende toerusting en ventilators is dat die wêreld se grense toemaak. “Ek weet ’n groot private hospitaalgroep het uit Duitsland en Saudi-Arabië duisende van hierdie beskermende toerusting bestel en op die grens het die regerings van dié lande dit gestop omdat hulle nie wou hê die PPE moes uit hul lande uitgaan nie. Die lande wil dit vir hulself hou.”

Hy het ook lof vir Mkhize nadat hy Vrydag in Khayelitsha was waar die virus in die gemeenskap begin versprei het. “Hulle (die departement van gesondheid) doen regtig moeite om met die mense te gaan praat waar daar risiko is. Daar was baie ongelukkigheid in Khayelitsha ná die eerste twee gevalle wat daar gediagnoseer is – want wanneer iemand in ’n township gediagnoseer word, is daar groot probleme met stigma. Mense reageer asof dit melaatsheid of die plaag is; hulle wil dit nie in hul gemeenskappe hê nie. Ek dink Mkhize en sy span doen baie moeite om dit te hanteer en om met die regte mense te gaan praat in die townships.”

‘Leer deur te doen’

Mkhize is ’n politikus wat die kuns van oorlewing verstaan in ‘n landskap besmet met bloed. Foto: Precious Gumede

Die een punt van kritiek is dat hy dalk meer moeite kan doen om sy LUR vir gesondheid in Limpopo, dr. Phophi Ramathuba, in toom te hou nadat twee dokters van Modimolle positief vir die virus getoets het. Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het met ’n regsproses begin nadat die dokters teen hul wil in isolasie geplaas is in die MDR-TB hospitaal in dié dorp. Dit lyk asof die departement in dié geval onder meer strydig opgetree het met die nasionale wet wat voorsiening maak daarvoor dat pasiënte wat positief toets en nie simptome het nie, in tuis-isolasie kan bly.

“Maar die ding wat my frustreer van al hierdie punte van kritiek – ook my eie – is dat ons nog nooit vantevore ’n situasie soos hierdie gehad het nie, so ons kan net leer deur te doen,” sê Achmat.

My advies vir Mkhize is dat hy moet rus. Hy moet seker maak dat hy nie uitbrand nie.
Zackie Achmat

En wat die toekoms inhou, weet niemand nie. Dis nog onseker presies hoe die regering se grootskaalse toetsing in gemeenskappe gaan werk en hoe akkuraat dié toetse gaan wees.

“My advies vir Mkhize is dat hy moet rus,” sê Achmat. “Hy moet seker maak dat hy nie uitbrand nie en indien die staat van inperking voortgaan ná die 21 dae sal ons moet besef dat voedselsekerheid dalk ’n groter nood gaan word as die gesondheidskrisis,” sê hy.

En wie weet wat die krisis wat hom aldus Mathekga ’n “toevallige held gemaak het in die kabinet” – vir sy ambisies kan beteken in die toekoms?

Wat seker is is dat hy eers baie fyn nadink voor hy sy volgende skuif maak. Hy swig nie voor paniek nie en hy bly kalm te midde van ’n virus-tsoenami.

As dokter maak hy nie ’n diagnose voordat hy sy pasiënt deeglik ondersoek het nie.

zweli mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.